Die waarheid is te soet (vir ’n honger man)

Dinsdag 6 Januarie 1998

Iemand sit ’n moerse stuk sjokoladekoek voor jou neer. Jy sê nee dankie.

Die ou vra, “Jy hou nie van sjokoladekoek nie?”

“Natuurlik hou ek van sjokoladekoek!” antwoord jy sonder om te huiwer. “Dis my gunsteling!”

“Maar jy’s nie nou honger nie?” probeer die ou weer.

“Nee, nee! Ek vrek van die honger!” protesteer jy luidrugtig.

“Oukei, ek het dit. Jy wil eers iets behoorliks eet voor jy weglê aan die nagereg?”

“O nee,” antwoord jy, “niks is lekkerder as ’n stuk sjokoladekoek as ek regtig honger is nie!”

“Nou’s ek verward,” sê die ou. “Jy hou van sjokoladekoek – in fact, jy sê dis jou gunsteling, en jy’s honger. Wat is die probleem?”

“Kan jy nie sien nie?” fluister jy dan agter jou hand. “Dis net te goed om waar te wees …”

______________________

Versoening met die monster

Sondag 4 Januarie 1998

Wat is die terme waarop ’n Alleenloper hom- of haarself kan versoen met die samelewing? Oftewel, wat is die reëls van die spel … oftewel, as ’n wese van die buitenste ruim in my kamer land en hy vra my wat hy nodig het en wat hy moet doen om in te pas in die samelewing (vermoedelik dan as ’n mens), wat sou ek sê?

1) Geld.

2) Oortuiging dat dit die moeite werd is om in te pas.

3) Siende dat jy elke oggend wakkerword en dan vir sestien tot agtien ure lank “dinge doen” – en weldra leer dat dinge makliker raak indien jy patroon, rigting, selfs sin en betekenis kan sien aan die string dae wat jy aktief is as ’n lid van die spesie Homo sapiens – is dit waardevol om te verstaan wie jy is, en te weet wat jy wil doen met jou lewe.

Geld, waarvoor?

1) Woonplek – ’n gemaklike, veilige ruimte wat kan dien as jou lêplek, jou stoorplek en jou herberg

2) Kos, klere en basiese benodighede

3) Vermaak vir as en wanneer jy dit nodig het

4) Pensioenpaaiemente – indien jy oud raak

5) Mediese fonds – vir as jy siek raak

6) Versekering – vir as jy besittings het wat gesteel kan word

7) Simbole van Stabiliteit – dinge soos ’n adres en ’n telefoon

Amper vergeet ek van iets waarsonder jy skaars kan oorleef, waarsonder jy nie veel van ’n kans staan om ’n produktiewe bestaan te voer nie! Selfvertroue! Natuurlik benodig jy ’n goeie selfbeeld! Natuurlik het jy nodig om te glo in jouself en in jou vermoë en potensiaal om een helder oggend kamp op te slaan op die Hoë Grond!

______________________

Nuwe dinge, en ou dinge

Dinsdag 30 Desember 1997

Nuwe dinge, soos moderne tegnologie, is vir my simbole van die toekoms – die onbekende waar niemand nog ooit was nie, met geen sekerhede of bakens nie, waaroor daar geen stories is nie; die duisternis wat ons binnejaag.

Ou dinge is simbole van die verlede – die bekende, waaroor dinge opgeteken is, waaroor steeds geskryf word; ’n wêreld vol stories waarvan almal weet. (En nou kan ek nie verder skryf aan hierdie nota nie omdat die ou, oorverhitte trein – tegnologie van ’n vroeër tyd – my siek maak met sy geskommel.)

Donderdag 1 Januarie 1998

My eerste redelik intelligente gedagte van die jaar het gespruit uit ’n gesprek om en by halfdrie vanoggend in die Urban Bar: Die probleem met die middelklas, het ek aangekondig aan ’n groep mense om ’n tafel, is dat dit ’n relatief moderne verskynsel is. Dit het nie genoeg waardevolle tradisies nie.

Kan dae soos Kersfees en Nuwe Jaar en verjaarsdae vergelyk word met byvoorbeeld voorouertradisies, legendes van die kryger, of optogte wat al vir die laaste 700 jaar ’n gebeurtenis herdenk op dieselfde wyse? (Om net ’n paar voorbeelde te noem.)

’n Betekenisvolle persentasie van die jonger lede van die Internasionale Middelklas is ook ontnugter deur dit wat hulle aangebied word, en beskou dit nie as die moeite werd om voort te bou daarop nie.

———–

Nota bygevoeg op 7 Julie 1998: Die jonger lede van die middelklas het self niks gedoen om die relatiewe gemak en sekuriteit te verdien wat hulle gebied word nie. Hulle het nie die spreekwoordelike “huis” gebou van sy fondasie af nie. Dit laat sommiges onseker voel oor hulleself, en oor hulle eie vermoëns. Baie ouers verstaan dit nie. Baie jonger lede van die gemeenskap ook nie.

Vrydag 2 Januarie 1998

’n Spesifieke taal hoef nie universeel gepraat te word, en dus universele waarde te hê, om waardevol te wees vir mense wat dit gebruik om hulle daaglikse behoeftes te vervul, en om te kom van punt A tot punt B nie.

______________________

Die sleutel tot sukses

Maandag 29 September 1997

Om goed te voel oor jouself, is om gemotiveerd te wees. Om gemotiveerd te wees, is om aktief te wees. Om aktief te wees, stimuleer ambisie. En as ambisie gestimuleer word, word dinge bereik.

Geld is nie die enigste maatstaf vir sukses nie. Daar is persoonlike ontwikkeling, die manier hoe jy kyk na die wêreld om jou, hoe jy kyk na jouself en na jou verhouding met die wêreld, en om dan te oorweeg waartoe jy in staat is, en hoe jy hierdie potensiaal kan realiseer. In terme hiervan is my tyd in Korea sover ’n groot sukses gewees.

Donderdag 18 Desember 1997

Kriteria vir ’n plan: mobiliteit, omgewing, skuld, maar die belangrikste van alles – selfvertroue. Selfvertroue is alles. Sonder selfvertroue slaan ek toe. Sonder selfvertroue raak my bene lam … raak ek traag en lusteloos.

Ek het nodig om aan die gang te bly. Ek het ’n idee nodig om aan te glo. Ek moet altyd werk aan iets, sodat dit my selfvertroue lewendig kan hou.

As ek selfvertroue het, dan lééf ek, dan doen ek dinge, dan’s ek in staat daartoe om vorentoe te beweeg. Sodra my geloof in iets kwyn, slaan ek neer soos ’n voël wat deur die vlerk geskiet is.

Wat ook ’n groot probleem is, is dat geld en selfvertroue hand-aan-hand gaan met my. Om geld te hê, is om keuses te kan uitoefen. En om iets te wíl doen plus om dit te kán doen, is gelyk aan selfvertroue. Om iets te wíl doen plus om dit nie te kán doen nie omdat jy nie geld het nie, is gelyk aan selfvertroue wat neus eerste grond toe duik. Dis ’n eenvoudige berekening.

______________________

IDEALISTE en hul konflik

Maandag 24 November 1997

Ek is ’n idealis, maar ek leef in ’n wêreld vol korrupsie, onreg, en ongelykheid, met on-ideale verhoudings tussen mens en mens, mens en natuur, en selfs die mens met hom- of haarself. In hierdie wêreld wil ek streef na volmaakte geluk, volmaakte liefde, ’n volmaakte lewe, selfs die perfekte beroep vir myself. Hierdie strewe na volmaaktheid in ’n wêreld wat ver van volmaak af is, lei noodwendig tot innerlike konflik – ontnugtering versus hardnekkige geloof in die goeie, in die moontlikheid van iets beters.

Is volmaakte geluk moontlik? Is volmaakte liefde moontlik? Is dit moontlik om altyd die tipe indrukke te maak op mense wat jy sonder uitsondering agterna kan bestempel as akkuraat, volgens die beskouing wat jy het van jouself? Is perfekte geloof ’n bereikbare teiken waarna ons moet streef? Is volmaakte verhoudings moontlik? Is dit altyd moontlik om tot jou volle potensiaal te leef?

Ek – die persoon wat hierdie vrae vra – is ’n idealis, so ek sal graag “ja” wil antwoord op bogenoemde vrae. Wat moet ek anders doen – opgee op dit waarna ek streef, en maar net aanvaar dat volmaaktheid ’n onbereikbare ideaal is? Moet ek maar altyd tevrede wees met wat ook al aangebied word, of wat ek ook al op daai oomblik het?

Die probleem, of ek dit wil aanvaar en of ek wil voortgaan om in ontkenning stroom-op te bly swem, is dat die wêreld tot oorlopens toe gevul is met onvolmaaktheid. Dit forseer my om ’n onaangename feit in die gesig te staar: Hierdie posisie van ’n idealis in ’n on-ideale wêreld lei in vele gevalle tot verwarring, eensaamheid, isolasie en depressie. Dat so ’n persoon ’n sekere onvermoë sal vertoon om te “deal” met die on-ideale wêreld, ’n onvermoë om in ’n produktiewe, kreatiewe, en wedersyds voordelige verhouding te verkeer met die wêreld, is geen verrassing nie.

Een opsie vir die idealis is om terug te trek – te retireer – na ’n “kleiner”, makliker manipuleerbare wêreld waar hy meer op sy gemak sal voel omdat sy sensitiewe natuur nie so maklik ontstel sal word deur die kruheid, die onreg, die oënskynlik gereelde en herhalende afwesigheid van geregtigheid nie; waar die vuil, melaatse hande van die on-ideale wêreld nie sal gryp na hom nie – waar hy veilig sal voel.

Sommige idealiste neem die persona aan van die sogenaamde “Loner” – die Alleenloper, maar ek reken dit is tot ’n groot mate net deel van ’n kosmetiese oplossing. Die oorspronklike probleem is steeds daar: die innerlike konflik wat die persoon ervaar vanweë die kloof tussen sy of haar verwagtinge van hoe dinge behoort te wees, en hoe dit werklik is.

* * *

Hoe gaan mens te werk met so ’n ontstellend onvolmaakte wêreld? Aanvaar jy dit maar net? Vlug jy na die boesem en wagtende arms van fundamentalistiese godsdiens waar al die antwoorde vir jou gedikteer word, en as die vooraf verpakte antwoorde nie goed genoeg is nie, word daar maar net gesê, “God het ’n plan met alles” of “God is in beheer”? Word jy ’n voortvlugtende pleger van geweld as ’n bewustelike of onbewustelike reaksie op al die onvolmaaktheid, en om die spot te dryf met die feilbare pogings van mense om dit te hanteer op die enigste manier wat hulle ken? Of trek jy jou kar in die garage in na ’n lang dag en raak gemaklik op die rusbank vir ’n aand voor die TV? Word jy Stalin of Gandhi? Jesus Christus of Julius Caesar? Quit jy, of commit jy? Commit tot wat? Ek gaan myself mal maak! Tyd vir tee en ’n sigaret …

———————

[Vir die idealis om die persona aan te neem van die “Alleenloper”, is in werklikheid meer as net ’n kosmetiese oplossing.

Om ’n “Alleenloper” te wees, bied in vele gevalle aan die persoon ’n tydelike toevlug. Dit is ’n maatreël wat die persoon in staat kan stel om te doen wat hy of sy móét doen – om ’n verhouding uit te werk met die wêreld wat sinvol, produktief en hopelik wedersyds voordelig sal wees.]

______________________