Icarus joernaal, inskrywings # 4 & 5

# 4

[Ek het vir die langnaweek Hong Kong toe gegaan om saam met my ouer suster te kuier (wat vriende in die stad besoek het). Die kuiertjie was nie te veel versuur deur ʼn argument wat ons gehad het oor wat ek doen met my lewe nie.]

DINSDAG 6 APRIL 1999

M. se argument was dat ek probeer om anders te wees. Dat ek net een lewe het, en dat ek my kanse beter moet gebruik. Dat ek net een keer jonk is, en dat ek nie my lewe moet sien in die lig van die geskiedenis nie. Dat ek nie Napoleon is nie.

Sy sê ook dat ek myself te veel isoleer. Ek het nie vriende nie, en ek maak myself los van die wêreld waarvan ek juis nóú deel moet wees. Hoekom moet ek deel wees van hierdie wêreld? Omdat ek jonk is, en omdat ek net een keer ʼn kans het om jonk te wees. Sy reken ook dat ek beter keuses kon gemaak het in my lewe, en dat ek nooit net een opsie gehad het nie.

Ek dink haar grootste oorweging vir hierdie argumente was dat sy glo ek ongelukkig is. Sy’t al hierdie dinge uitgedink omdat sy probeer het om vir my te sê, “Dit hoef nie so te wees nie,” en “Jy kán gelukkig wees.”

# 5

DINSDAG 13 APRIL 1999

Die afgelope tien jaar, hierdie hele dekade van my lewe, is oorheers deur die stryd om een of albei van twee probleme te oorkom, naamlik eensaamheid en gebrek aan geld. Daar was bitter weinig tyd in die afgelope dekade wanneer my bestaan nie fundamenteel oorheers is, en steeds oorheers word, deur een of albei van hierdie kwessies nie.

My belangrikste oorweging om in 1991 Stellenbosch toe te gaan, was om die probleem van eensaamheid te oorkom. Om Pretoria toe te gaan in ’96, gebrek aan geld. Om Korea toe te gaan, gebrek aan geld. Die besluit om in Korea te bly in ’97 was grootliks om te verhoed dat ek weer sonder ’n inkomste sou wees. Net ʼn jaar later het eensaamheid my egter gedring om terug te gaan Suid-Afrika toe. Die besluit, na ses weke terug in Suid-Afrika, om Johannesburg toe te gaan, is gemotiveer deur die beginsels van “Belonging and Commitment” – beginsels wat ek geformuleer het om eensaamheid te oorkom. En die besluit om Taiwan toe te kom? Weereens gebrek aan geld.

Ek het nog nooit werklik die eenvoudige patroon gesien nie.

As jy my voorheen gevra het wat my beskouing van ʼn ideale lewe is, sou ek gesê het om te bemin, en om bemin te word; om finansiële sekuriteit te hê; om die mag te hê om keuses te kan maak en keuses te kan uitoefen. Hierdie insig laat my met ’n duidelike opdrag: Los die probleme van gebrek aan geld en eensaamheid op, en jy sal ’n ander uitkyk op die lewe hê. Dit sal van jou ’n beter mens maak, ’n mens wat die lewe meer sal waardeer, wat aan die lewe sal wil bly, en wat dimensies van jouself en van die lewe en van ander mense sal ontdek wat jy nooit voorheen geken het nie.

______________________

Icarus joernaal, inskrywing # 1

SATERDAG 6 MAART 1999

Wat ek bedoel met arriveer in die metafoor van die pad, is dat ’n mens op een of ander tyd uit die woud kom. Na weke wat jy deur skemerdonkerte gestap het op eindelose voetpaadjies, en geleef het op wilde vrugte en bessies, sien jy onverwags een oggend lig. Net voor die middaguur bereik jy die rand van die woud. Jy vind jouself op ’n pad wat loop oor golwende heuwels, langs koel riviere, deur groen valleie …

’n Mens raak moeg van stap en stap en stap. Jy raak moeg daarvan om te probeer om jou weg te vind. Sou dit wees hoekom sommige mense tevrede is met die idee van ’n voorstedelike bestaan? Dalk het hulle moeg geraak van voetpaadjies, van slaap onder bome, van weghardloop van dinge wat hulle bedreig het. Dalk het hulle die einde van die woud bereik, en besluit om rustig te raak op ’n lappie oop grond – op ’n plek waar hulle veilig voel.

Nou, ek kan maar kleinburgerlike kultuur kritiseer soveel as wat ek wil, maar dié mense het ten minste ’n lewe! Hulle gee nie voor hulle lewens is moerse opwindend nie. Hulle werk jaar in en jaar uit vir dieselfde maatskappy, of vir soortgelyke maatskappye. En selfs as hulle een voorstad verruil vir ’n ander een, word dieselfde basiese leefstyl gehandhaaf. Hulle wag nie meer vir hulle lewens om te begin nie. Hulle het op ’n punt gekom waar, as hulle stilstaan en dink daaroor hulle sou sê: “It’s not the life of a rock star, but it’s my life.” Hulle sê ook: “Ek leef, vandag. Dit mag dalk nie alles wees waarvan ek gedroom het nie, maar at least lééf ek vandag. Ek wag nie vir môre, in die hoop dat ek dán ’n meer glorious en exciting bestaan gaan voer nie.”

Ek, aan die ander kant, droom altyd van môre. Môre gaan ek begin leef, en dit gaan die lewe wees wat ek vandag sou wou leef, maar dit kom nou net eers môre. Ek vind dit hoogs problematies om te sê: “Well, this is it, this is home. Ek hoop jy’s gemaklik, want jy gaan heel moontlik vir ’n lang tyd hier wees.” As ek terugkyk oor die laaste paar jare toon ek altyd hierdie neiging om te sê: “As jy nie dink dis fantasties nie, moenie worry nie. Hierdie plek is nie eintlik huis nie. Môre … of binnekort gaan ek my werklike huis bereik. En dit gaan ’n great plek wees …”

Die vraag is nie of ek een of ander tyd wil settle nie; die vraag is vir wát wil ek settle. Ek is nie ’n avonturier nie. Ek is iemand wat net nie vasgevang wil wees in ’n plek waar ek nie werklik wil wees nie.

Ek glo solank jy die energie en die wil het om te werk vir iets waarvoor jy graag wíl settle, moet jy nie gemaklik raak met enige iets minder nie. ’n Mens gaan heel moontlik altyd moet settle vir minder as jou nommer een ideale lewe, maar jy kan realisties wees, en steeds eindig op ’n goeie plek.

______________________

Nuwe insigte, Februarie 1999

Maandag 15 Februarie 1999

Om vry en onafhanklik te wees, het ek meer as een keer die afgelope paar maande geskryf, is my groot ideaal.

Oppervlakkig beskou het dit gegaan daaroor om nie meer finansiële verpligtinge teenoor enige skuldeisers te hê nie. Maar dit het dieper gestrek as dit: Ek wou géén verpligtinge hê nie. My ideale lewe was dié van ’n losloper, ’n steppenwolf. Geen verbintenis nie, geen verpligtinge teenoor enige iemand nie.

So ’n jaar gelede het ek “commitment” en “belonging” geïdentifiseer as fundamenteel goeie idees, ook vir myself. Wat ek nie besef het nie, was dat ek twee perde in die resies gehad het. En ek het altwee probeer ry. Ek wou belong-and-commit, maar ek wou ook vry-en-onafhanklik wees. Wat ek blykbaar nie aanvanklik begryp het nie, was dat jy nie jouself tot iets kan verbind, en terselfdertyd “Vryheid!” kan roep nie; dat jy nie êrens kan behoort, en ook wil beweer dat jy onafhanklik is nie.

Die idee van ’n gesin van my eie was iets wat ek nooit lekker kon inwerk in my ideale leefstyl van vry-en-onafhanklik nie. Nou, dit sou nie ’n probleem gewees het as ek nie so gesmag het na hierdie basiese vreugdes van die lewe nie.

Dit dring toe tot my deur dat om ’n vrou lief te hê, en om saam met haar kinders te verwek, veel meer van ’n inperking sal wees op my vryheid en onafhanklikheid as om finansiële verpligtinge te hê teenoor skuldeisers.

Toe ek dít besef, was dit asof ’n gewig van my skouers gelig is. Ek het verlig gevoel. Ek kon ontspan, omdat ek toe geweet het dat algehele vryheid en onafhanklikheid nie is wat ek wil hê nie! As dit is wat ek wou bereik, was dit moontlik! Dis nie ’n illusie nie. Dis nie ’n droom wat nooit vervul kan word nie. Dis ’n droom wat ek nie wil hê nie! Dis ’n pad wat ek nie werklik enduit sou wou loop nie, omdat ek dan aan niks verbind sou wees nie, en nêrens sou behoort nie. En ek wíl myself verbind aan iets. Ek wíl myself toewy aan iets. Ek wil na iets streef, en ek wil voel ek behoort êrens.

In Johannesburg sou ek nie maklik hierdie insig kon wysraak nie, omdat vryheid en onafhanklikheid daar konkrete korttermyn ideale, selfs begeertes was, wat ek verwar het met ’n lewensideaal. Ek het nodig gehad om Taiwan toe te kom, om te besef dat as ek vry en onafhanklik wil wees, dit iets is wat ek kán doen, dat dit ’n ideaal is wat verwesenlik kan word. Ek moes weet dat dit ’n lewe is wat ek kan nastreef en realiseer, as dit is wat ek wíl doen. Maar dit is nie.

Natuurlik wil ek steeds my skuld afbetaal, so gou as moontlik. Ek haat dit om onder die swaard van skuld te leef. Ek glo om iemand geld te skuld, is om iemand se slaaf te wees. Dis nie dieselfde as om iemand lief te hê, en om ’n finansiële verpligting teenoor die persoon te wíl nakom uit liefde nie.

In finansiële terme wil ek definitief steeds vry en onafhanklik wees. Maar ek wil ook ’n ander ideaal realiseer – ek wil êrens behoort. Ek wil ’n huis hê in die volle sin van die woord. Ek wil lief wees vir ’n vrou, en bemin word deur haar.

Ter afsluiting dan van hierdie notaboek, wat sy eerste ink geproe het tien maande gelede in Stellenbosch, en wat Johannesburg met my meegemaak het, die volgende: Ek wil myself toewy aan ’n ideaal waarvan die verwesenliking reeds begin het, naamlik om ’n skrywer te wees. En ek wil bemin, en bemin word, en sodoende êrens behoort.

I am committed. And one day, I will also belong.

______________________

Laaste gedagtes voor Taiwan … Eerste gedagtes in Taiwan

Laaste gedagtes voor Taiwan

Dinsdag 29 Desember 1998

Ek sit hier en wonder of daar nie alternatiewe was, al die pad terug in April nie. Nie uit spyt nie, net soort van as ’n noodsaaklike mental exercise.

Is ek spyt oor enige iets? Die versoeking is groot om te sê “ja”, but it wouldn’t hold up to rigorous scrutiny. So, nee. Hier volg die redes. Ek het die belangrikste stap denkbaar geneem om my skuldeisers in die gesig te staar. Enkele dae na my terugkeer [uit Korea] was ek besig om versoening te onderhandel. Ek het al die belangrikste kennisse en vriende gesien, en kennis gemaak met ’n paar nuwes. Ek het ses weke by die huis gespandeer, en toe vir ses maande lank gewerk vir ’n maatskappy wat hoofsaaklik toegespits is op wins. Ek het eerstehands ervaar wat ek nog altyd gedink het van corporate life. Ek het in Johannesburg gewerk en gewoon vir ses maande lank, wat my onkunde oor die plek ’n doodsknal gegee het. Ek voel werklik meer ingelig, en meer ervare danksy hierdie tydperk. Ek het ook baie plekke gesien, en dinge ervaar wat ek gemis het tydens my “isolasie” in Korea.

Maar, dit is om ’n mooi prentjie te skets ter wille daarvan om nie spyt te wees nie. Ter wille van eerlikheid, moet ek ook die anderkant van die verhaal skets.

In terme van mag – wat ek oudergewoonte definieer as die vermoë om keuses te kan maak, keuses te kan uitoefen, en om nie afhanklik te wees van ander nie – was ek ’n big time loser die afgelope sewe of agt maande. Big time. Ek stel myself inderdaad in die verleentheid om steeds te probeer om terug te baklei, om steeds my waardigheid te wil verdedig.

Die waarheid is dat ek tans meer magteloos is as wat ek ooit tevore in my lewe was. Vir al die belangrikheid wat mag, onafhanklikheid, waardigheid en trots vir my gehad het agt maande gelede, is dit ironies dat ek soveel verloor het op al hierdie terreine! Vir hierdie rede, en hierdie rede alleen, sou ek kon sê dat ek spyt is dat ek nie reeds einde Junie probeer het om weer ’n teaching job te kry in die Ooste nie.

Maar, daar’s geen sin in spyt nie, so ek gaan nie tyd daarop mors nie. Ek het gedoen wat ek gedoen het. Ek het ’n paar dinge geleer, en ek was ’n paar keer neergevel teen die grond. But at least I came out for the fight, of hoe? Al was dit half teësinnig, en al lyk ek nie exactly soos ’n held op die oomblik nie.

Wat’s volgende?

Ek het gesien, vir as ek vergeet het, hoe lyk finansiële magteloosheid. Nie weer nie. Nie as dit van my afhang nie. Hierdie jaar was na alles een van die verrykendste jare van my lewe, al gaan ek dit gewond en beseerd, en swak gewapend uit. (Mens kan amper sê ek het die jaar ingegaan soos ’n Duitse soldaat in 1939, en ek gaan dit uit soos ’n Russiese soldaat in 1917.) ’n Verlore jaar was dit nie, daarvoor het ek veels te veel baklei, en te veel skermutselings oorleef. Die res van die duisend myl reis wat ek begin het, sal voortgaan. Two steps forward, one step back. Maar ek sál voortgaan.

Lank lewe my eie rewolusie!

Eerste gedagtes in Taiwan

Woensdag 27 Januarie 1999

Fengshan City, Kaohsiung County

Op die onderwerp van toewyding: Wanneer jouself toewy aan Een Saak, Een Ding, moet dit elke dag deel van jou lewe wees, anders vervaag die toewyding. Jy moet jouself op ’n daaglikse basis, aktief – nie noodwendig uitsluitlik nie, maar aktief – daaraan toewy.

Later meer oor Fengshan City, Taiwan …

______________________

Nie ’n volmaakte lewe nie, maar …

Woensdag 2 Desember 1998

Iemand met my agtergrond – middelklas, tersiêre opleiding – het basies twee opsies. Die een is om ’n betrekking by ’n maatskappy of instelling te aanvaar en finansiële sekuriteit te probeer bewerkstellig; die ander een is om ’n eie besigheid te begin. Ek is nie bereid om vir ’n maatskappy of instelling te werk op die langtermyn nie. Dis net hoe dit is. Ek het ook weereens gevind dat ek myself nie kan verbind aan ’n besigheid van my eie nie. Dit sal beperkte bevrediging bied vir ’n kort rukkie, maar wat dan?

Wat is die ander opsies? Een is Foreign English Teaching: eenjaarkontrakte; goeie kontantvloei; nie nodig om op skuld en krediet te leef nie; relatiewe goeie lewensomstandighede; jy’t nie ’n kar nodig nie; jy’t nie nodig om ’n goeie kredietrekord te hê om ’n telefoon te kry nie; jy leef in ’n vreemde land met ’n vreemde kultuur; lewenservaring van ’n ander aard; en uiteindelik, finansiële bemagtiging.

’n Volmaakte lewe? Nee. In meer opsigte as wat jy op jou een hand kan aftel, is dit ’n slegte lewe. Maar dit is ’n lewe waarin jy jouself kan bemagtig – op meer as een gebied.

______________________