Blonde meditasie

SONDAG 30 JANUARIE 2000

Die hele episode het begin toe ek die Saterdagoggend ’n oproep kry van W., ’n plaaslike besigheidsvrou wat my gehelp het om werk te kry toe ek in Taiwan aangekom het. Sy’t pas teruggekeer uit Suid-Afrika, sê sy toe, met ’n Suid-Afrikaanse vrou wat nou gaan werk vir ’n vennoot van haar in ’n naburige stad. Maar die vrou het ’n paar klein probleempies, en kan ek asseblief saam met haar en haar man gaan om met die vrou te gaan gesels. Ek is natuurlik opgewonde. Ek het altyd gedink dit sal lekker wees as daar ’n paar ekstra mede-landgenote in die omgewing is. En W. het genoem dat die vrou blond is …

So piekel ek toe saam om die vrou te gaan ontmoet.

Die oomblik toe ek haar sien, weet ek iets is verkeerd. Haar hande bewe, sy’s bleek, en sy is duidelik oorstelp om iemand te sien wat haar moontlik kan help. Sy verduidelik toe hoe ongelukkig sy is met haar werksituasie, en hoe sy nie gemaklik is daarmee om saam met haar baas en sy familie te woon in dieselfde huis nie. En dié en daai beloftes wat gemaak is, is nog nie nagekom nie.

Ander mense sou dalk dollar simbole voor hulle oë sien flits het (daar’s baie geld te make as jy ’n “foreign teacher” kan voorstel aan ’n skool wat een soek). Terwyl sy praat, sien ek die Ruiter in Swart. Ek sien hoe my mond in ’n goed geoliede Colt verander, hoe ek ’n paar argumente afvuur in die rigting van die rampokkers, en hoe ek teen sononder saam met die Blonde Vrou op die trein sit terug Fengshan toe.

Na ’n hele middag van argumente voer, kom ons toe op die punt waar W. se vennoot, “Honest” Jimmy, ’n voorstel maak: As ek waarborg dat hulle nie die geld sal verloor wat hulle betaal het om die vrou hier te kry nie, sal hulle haar in my sorg “vrylaat”.

Vir ure al praat ek toe namens die vrou, en ek besef toe as ek nie instem nie, my hele poging om haar te help so belaglik soos ’n leë Colt sal wees by ’n skietgeveg. Ek stem toe in: Ek waarborg dat, as sy nie vir hulle gaan werk nie, ek persoonlik seker sal maak dat hulle die NT$40 000 sal terugkry wat hulle op haar gespandeer het.

Die vrou gaan pak toe haar sakke, en ’n paar minute later is ons daar weg.

Terug in Fengshan bel ek toe my vriend O., die enigste ander Suid-Afrikaner wat ek op daai stadium geken het in Taiwan, en lig hom in oor die groeiende getal landgenote in ons dorp. Vyftien minute later toe staan hy in my sitkamer, en terwyl hy nog bladskud, oortref hy amper my eie heldedaad deur in te willig om sommer self vir haar die NT$40 000 te leen, en te help om vir haar ’n nuwe werk te kry.

Die vrou was op die punt om trane van vreugde te stort. Twee helde! In een dag!

Sondag maak ons toe ’n paar oproepe, en ek ry die hele stad plat met haar agterop my scooter om vir haar ’n alternatiewe betrekking te organiseer. Teen die aand se kant het ons ’n paar afsprake gemaak met skole wat sy Maandag sou besoek. Ons gaan sien toe weer vir O., en hy krap, volgens belofte, die kontant uit sy laai.

Maandag oor middagete neem ek toe die vrou na W. toe, om haar in te lig dat ons vir my landgenoot ’n ander werk gekry het, en, soos ek dit verstaan het, om vir W. en haar vennote die veertig duisend te gee. W. se man, wat geen woord Engels kan praat nie, luister toe aandagtig na wat ons te sê het, en na W. soos sy vertaal. Toe hy meen ons het klaar gepraat, staan hy op, en begin sonder verdere versuim op ons te gil met ’n passie waaroor ek nie geweet het hy beskik nie.

Ek word toe eers effens bleek, en die vrou word effens bleek, en in die paar oomblikke van stilte wat volg op die uitbarsting probeer ek my bes om uit te werk wat ons verkeerd gedoen het. W. verduidelik toe dat dit nie was wat hulle van my verwag het nie. Omdat hulle my gevra het om saam te gaan, was ek veronderstel om aan húlle kant te wees. En hulle het al baie vir my gedoen, en hulle is my vriende, en ek ken nie eens die vrou nie, en hoe kon ek hulle so verraai het.

Soos ek dit toe verstaan, was ek veronderstel om die Sondag te gebruik om die vrou te oortuig dat W. en haar vennote eintlik goeie mense is, en dat om vir hulle te werk die regte ding sal wees om te doen. En dat Meneer S., W. se man, nou kwaad is vir my omdat ek my hulp aan die verkeerde kant verleen het.

Die situasie neem toe ’n selfs ernstiger wending. Ek word ingelig dat ek geen bystand meer van hulle moet verwag in my aansoek om my werks- en verblyfspermit te hernu nie. Dat hulle selfs verder sal gaan en my aansoek sal verhinder – op onwettige wyses indien nodig.

Ek wil toe nog vir hulle sê maar as dit oor die geld gaan, die vrou hulle nou kan terugbetaal. Sy self sê egter niks. Eers later het sy my ingelig dat sy haar “opsies oopgehou” het. (Haar plan was blykbaar om die veertig duisend te leen van ’n skool waar sy gehoop het om ’n werk kry, en dan vir O. sy geld terug te gee.)

Die volgende paar dae was stresvol. Ek moes sekere dokumente vervang, en die enigste mense wat my kon help was die einste mense wat ek vervreem het – W. en haar man, die gillende Meneer S. Hulle het geweier om enige bystand te verleen, soos per dreigement.

Die Blonde Vrou het intussen by O. ingetrek, omdat sy van opinie was dat die atmosfeer in my woonstel “negatief” geraak het. Beide ek en O. was teen dié tyd bewus daarvan dat sy ’n ietwat esoteriese uitkyk op die lewe het. Sy’t gereeld haar sterre bestudeer, haar kaarte uitgepak op die bed om te sien hoe die situasie gaan uitwerk, en gereeld op haar kussing gesit om kontak te probeer maak met die Stiltes Wat Waarheid Openbaar. Die atmosfeer in my woonstel was dus meer as die verwagte resultaat van ’n spannende situasie; dit was negatief op wyses wat ’n gewone sterfling nie sou verstaan nie.

Teen die volgende week het ek genoeg gehad. Ek bel haar toe en sê vir haar dat sy vir W. en haar man die veertig duisend moet gee, sodat ek die dokumente kan vervang wat ek nodig het. Sy lig my toe ongeërg in dat sy nie van plan is om vir hulle die geld te gee voordat hulle nie vir haar die vliegtuigkaartjie gegee het wat hulle in Suid-Afrika vir haar gekoop het nie.

Ek verduidelik toe dat ek háár gehelp het om uit ’n slegte situasie te kom, en dat die minste wat sy vir my kan doen is om haar besigheid met hulle af te handel. Haar antwoord was dat sy nie haarself gaan benadeel ter wille van mý nie, en dat sy my inderdaad nie gevra het om haar te help nie. En om te illustreer dat sy haar sê gesê het, plaas sy toe die gehoorstuk terug op die mikkie voor ek die punt verder met haar kon beredeneer.

Teen die einde van daai week is O. Suid-Afrika toe vir ’n vakansie, hopende dat die vrou intussen ’n werk sal vind sodat hy sy geld kan terugkry.

Minder as ’n week later was sy ook op ’n vliegtuig terug Suid-Afrika toe – met ’n kaartjie wat sy met die veertig duisend gekoop het.

Hy’t later te vertelle gehad dat sy met hom in kontak was in die Kaap. Sy’t vir hom ’n tjek gegee vir die geld wat sy by hom geleen het, en dadelik vir hom gevra of sy dit nie weer kon leen sodat sy kan teruggaan Taiwan toe nie. Hy’t vriendelik die versoek geweier.

Ek het net een keer weer van haar gehoor sedert haar ontsnapping. In ’n bisarre, kriptiese e-mail het sy onder andere haar verbasing uitgespreek oor hoe dinge uitgewerk het.

* * *

Die episode het my laat dink aan ’n paar dinge. Jy ontmoet iemand in nood. Jou eerste instink is om die persoon te help. Edel, reg? Ingewikkeld soos die situasie is, bring dit jou in die moeilikheid by ander mense. Drie dae later is jou senuwees klaar. Jy besluit om stappe te doen om jou eie situasie te verbeter, en die persoon wie jy probeer help het, steek haar vinger in jou oog. Sy’s verbaas dat jy enige iets van háár verwag. En om sout op die wond te gooi, herinner sy jou daaraan dat dit immers jóú keuse was om betrokke te raak. En dan gooi sy die telefoon in jou oor neer.

Al wat jy kan doen, is om op jou stoel te gaan sit en deur vyftig TV-kanale te flits opsoek na iets anders om aan te dink.

Ek vind myself toe op my eie meditasie kussing, gereed om gevul te word met Insig Wat Geopenbaar Word Aan Een Wat Homself Bejammer. Bene gekruis, hande in die hare, wonder ek toe: Hoekom is ek op my eie?

Dit is sekerlik so dat ’n mens, tot ’n baie groot mate, verantwoordelik is vir jou eie situasie. Was dit nie immers tóg my keuse om betrokke te raak by die Blonde Vrou se situasie nie? Die konklusie moet dan sekerlik ook wees dat ek verantwoordelik is vir my eie isolasie, my eie eensaamheid. (Wat ’n vreemde woord is dit nie! “Eenheid” is goed, “saamheid” is goed. Maar is “een” en “saam” nie teenoorgesteldes nie? Alleenheid. Dis ’n beter woord: Al-een. Al-een hier, en al-een daar. Al-een wat soos ek is, wat soos ek dink, wat hierdie partikulêre sorge dra. Al-een in hierdie woonstel. Al-een agter hierdie rekenaar. Al-een-heid.)

Soos almal ontmoet ek soms nuwe mense. Maar dis asof ’n hoër hand net die mense oor my pad bring wat nie troos en uitkoms vir hierdie skynbaar ewigdurende lot kan bring nie. En hierdie hoër hand weet waarmee ek hierdie week weer gekonfronteer is: my eie nietigheid – hoe swak, en magteloos ek werklik is.

Ek het sover al ’n paar dinge uitgewerk in my lewe. As ek voorlopige konklusies moet maak, lyk die groter prentjie nie rooskleurig nie. Dit wil blyk asof die goddelike regter van my vader en moeder se religie nie werklik betrokke is by die wêreld wat hy volgens oorlewering geskep het nie. Is dit dan almal vir hulleself? Ook hieroor is daar nie duidelikheid nie.

So hier sit ek, vasgevang in ’n paradoks: Op die oog af geen regverdigheid nie, maar moenie waag om te doen wat jy wil nie, “because karma is gonna get you”. En as dit nie karma is nie, dan een of ander vorm van geregtigheid om die skale weer gelyk te maak.

Ek is moeg vir hierdie legkaart waar geen van die stukke pas nie. Ek sit nou al vir jare met ’n hamer onder my tafel, want pás wil die stukke wragtig nie pas soos legkaarte moet nie. En ek sê maar vir mense dat my ambisieuse poging om sin te maak van alles op my eie, goed vorder. Ek sny my stukke fyn, en my legkaart is nog nie so groot soos wat dit was toe ek geglo het soos ’n kind nie, maar dit kom aan. En hierdie keer is dit mý legkaart.

Maar elke keer as ek terugkeer na die tafel met my legkaart op, het die stukke uitmekaar gebeur! Dis dan wanneer ek die hamer te voorskyn bring. Want as dit dan nie hierdie stukke is op hierdie manier nie, hoe dan? Want god alleen weet ek kan nie sonder ’n legkaart nie! Ek moet op een of ander manier sin maak van die wêreld buite my venster. Maar ek is moeg vir retoriek en argumente! Ek is moeg vir teologie, en filosofie, en slim verduidelikings!

Gee my net ’n bietjie troos, for once! Soos die kelnerin in die padkafee op die Roger Waters CD wat vra of die ou koffie wil hê, en dan verskoning maak omdat sy hom miskien wakker gemaak het, of te hard gepraat het.

Ek werk aan planne wat moontlik oor twee of drie jaar vir my ’n orraait lewe sal gee. Dit spreek tog van hoop, dan nie?

Of is dinge soos dit maar nog altyd was? ’n Mens raak ouer, jy leer meer van die lewe, miskien kan jy oor ’n paar jaar iets koop wat jy nou nie eens van weet nie, en die lewe gaan voort. En dis nooit so goed soos wat jy die heeltyd vir jouself vertel het nie. Tog, ons roei voort soos ’n span dwase tot ’n golf ons êrens teen ’n kus te pletter gooi, of tot ons dryf tot in die middel van ’n enorme oseaan.

Miskien het Nero die regte idee gehad. In plaas daarvan om Rome te probeer te red, het hy viool gespeel. Miskien moet ons meer dans, en meer musiek maak. Miskien moet ons nóg meer dink. Miskien moet ons aanhou mediteer tot ons onsself verbeel die hele tafel is gevul met ’n legkaart waar ál die stukke pas. “Watse mooi, kleurvolle prentjie is dit nie!” sal ons uiteindelik kan uitroep. ’n Bottel-blonde antwoord op die vaalheid van ons werklikheid.

Ek raak toe aan die slaap op my meditasie kussing, en droom van ’n blonde vrou wat op die straathoek staan en tweedehandse viole verkoop. En ek droom ek leen geld by “Honest” Jimmy, koop vir my een, en gaan speel vir W. en haar man terwyl O. hulle by die straat afjaag met brandende vliegtuigkaartjies in sy hand.

______________________

30 Desember 1999

(Icarus joernaal, inskrywing # 22)

Ek sit in kamer 1102 in die New Cathay Hotel in Hong Kong. Dis 30 Desember 1999.

[Nota op 31/07/2022: Eerlikwaar, hierdie stuk teks is nie goed genoeg vir publikasie nie. As ek terugdink aan daai aand, sou ek dit waarskynlik toe al kon voorspel het. Ek het geen motivering gehad nie. Ek het geen inspirasie gehad nie. En ek dink fisies en emosioneel was ek nie op ’n goeie plek nie. Ek het geen selfvertroue gehad om ’n behoorlike stukkie teks te produseer nie. Die redakteur binne my het die skrywer binne my egter gedwing: “Dis die einde van die jaar, én van die dekade! Jy móét eenvoudig iets skryf!” Hierdie afgewaterde bakkie sop is die jammerlike resultaat. Ek sien eerder ’n gaping in die einde-van-die-jaar stukke, as om hierdie power poging die lig te laat sien. Of … hou die eerste paragraaf, en die laaste paragraaf, en sit hierdie verduideliking in die middel.]

Mag die lewe vorentoe mooi wees; en indien nie altyd mooi nie, vrugbaar; en indien nie altyd vrugbaar nie, wel … laat daar ten minste altyd lewe wees!


1999 – Twee dae voor die einde van die wêreld
1999 – Boot in Hong Kong
1999 – Hong Kong in die nag
2000 – Ten minste vyf mans in ’n foto
2000 – Hong Kong, eerste oggend van die nuwe jaar

______________________

(Onder andere) Die woonstel

WOENSDAG 13 OKTOBER 1999

Ek reken dit sal my R111 296.29 kos om terug te gaan Suid-Afrika toe, myself te vestig, ’n kar te koop, al my studieskuld af te betaal, en die heeldag in ’n park rond te lê. Aan die ander kant kan ek vir myself ’n yskas en ’n wasmasjien koop, en vir ewig hier bly.

Ek kan nie slaap in die aande nie. Of eerder, ek raak al hoe meer onwillig om bed toe te gaan. Ek kry nagmerries, dan staan ek vyfuur in die oggend op, en dan verslaap ek.

My TV het nou net in fokus gekom … op ’n Koreaanse movie. Ek mis die kos in Korea, en die winters. Miskien sal ek teruggaan eendag. Miskien sal ek volgende jaar New York toe gaan … en Europa … en miskien Suidoos-Asië. Maar eers moet ek vir my ’n yskas en ’n wasmasjien koop.

Dit sneeu in hierdie movie. Ek mis dit – die sneeu, die koue. In Taiwan is dit warm die hele jaar deur. Ek het ’n ernstige probleem met hierdie hitte. En my woonstel het so te sê geen vensters nie. Ek het nog altyd gehou van ’n plek met baie vensters – groot vensters, baie vars lug, miskien elke nou en dan so ’n laat herfsbriesie wat inwaai … ja, ek sal in die hoek van die balkon sit op ’n rottangstoel, en dan sluimer ek in …

Net so voor die lug grys begin raak, met ’n kouer wind wat begin optel, stap ek binne toe. Ek trek ’n trui aan, en drentel kombuis toe. Ek besluit op pannekoek vir aandete, draai dan na die hoek met ’n halfdosyn blikke en ’n paar potjies om ’n vars pot koffie te maak – my gedagtes op ’n ander plek.

Na ’n paar minute gaan sit ek op ’n groot rusbank. Ek trek my notaboek nader, en kyk vlugtig oor iets wat ek vroeër begin skryf het. Nog besig om te oorweeg waarheen ek op pad is met die storie, strek ek oor na die CD-rak en trek iets van die laat sestigs uit.

Ek hoor ’n klop aan die deur.

Sy’s jammer om te pla, sê sy, sy wou net die boek terugbring wat sy die ander dag geleen het. Sy aarsel vir ’n oomblik. Die aroma van kookwater wat drup op vars gemaalde koffie perkoleer uit die kombuis.

Ek sê dankie vir die boek, en maak ’n opmerking oor pannekoek en koffie en aande soos dié.

Sy glimlag. “Hoekom nie?” antwoord sy dan.

______________________

Oor die aardbewing, September 1999

DINSDAG 21 SEPTEMBER 1999

[Uit ’n e-pos aan ’n vriendin]

“Ek is oukei, net so ’n bietjie dronk in die kop. Ek het pas in die bed geklim, toe voel ek hoe my binneste roer. Ek het gereken dis óf ’n hartaanval, óf ’n aardbewing.

Dit was nogal skrikwekkend. Dit het gevoel asof ’n baie sterk wind waai, maar die gordyn het net effens beweeg. Die mure, en derhalwe die hele woonstel, het geskud. Ek het maar op die punt van die bed gesit en gewag vir die ervaring om verby te gaan. Toe het ek my ma-hulle gebel om te sê ek het pas my eerste groot aardbewing oorleef. Ek was nog besig om met my ma te praat toe die vloer weer begin roer.

Dis nogal iets om te ervaar as die sitkamer waarin jy soveel ure al gespandeer het, skielik optree asof dit ’n skip is.

My ma het dit natuurlik glad nie amusant gevind nie. Ek sê toe vir haar sy moenie bekommerd wees nie; dis nie so erg nie. Dit was eers toe [’n vriend van Johannesburg], en direk daarna my suster, my drie ure later bel om te vra of ek oukei is, dat ek begin besef het dit was veel erger op ander plekke.

Om alles te kroon, vanmiddag toe ek in ’n klas staan (op die derde verdieping), toe’s daar weer so ’n roering. Van toe af voel ek maar ’n bietjie dronkerig.

My woonstel is gelukkig op die grondvloer. Ek het met ’n vrou gesels wat op die sestiende verdieping van ’n woonstelgebou bly, en sy sê die meubels het geskuif, en van die vensters het gebreek.

[…]

Anyways, dankie vir die besorgdheid.”


Een van die meer dramatiese foto’s van die aardbewing:

Bron: Ho Si-minn | Wikipedia

Lees hier meer oor die aardbewing van 21 September 1999.

______________________

Icarus joernaal, inskrywings # 13 ~ 15

SATERDAG 14 AUGUSTUS 1999

# 13

Die lewe is ’n stryd na ’n Hoër Bestaan. Jou daaglikse lewe is ’n proses waar jy óf vooruitgaan na hierdie beter bestaanstoestand, óf waar jy al verder afdwaal. Die konkrete betekenis van hierdie Hoër Bestaan verskil van persoon tot persoon. Om te definieer wat jóú spesifieke Hoër Bestaan is, is deel van jou stryd.

# 14

Is dit nie waar nie dat die mens, sonder om noodwendig daaraan te dink, konstant besig is om te verander, en dinge beter te probeer doen as hy of sy agtergekom het ’n spesifieke manier van dinge doen berokken hulle skade, of bied nie aan hulle vervulling nie, of is doodgewoon nie goed genoeg om ’n onderneming suksesvol te voltooi nie? Natuurlik kry jy mense wat keer op keer dieselfde foute maak. Hulle stryd sal net soveel langer, en soveel moeiliker wees.

* * *

Die man sit op sy stoep en rook ’n sigaret. Hy dink aan die lewe, en vra homself Die Vraag. Hy’t die oorleweringe en doktrines van sy jeug laat vaar, en kyk nou na sy eie lewenservarings en al die kennis wat hy sover opgedoen het, en poog om daarin te soek na ’n antwoord. Hy sal dit vind: in sy eie ervaringe, in sy kennis, in homself, en in ander mense. Want net soos hý soek, uit die wese van sy natuur en gedryf deur sy instinkte, so soek ander ook.

Niemand beskik oor volmaakte kennis nie, maar luister na ’n honderd mense, en jy sal ’n honderd brokkies inligting kry wat deel vorm van die geheel. Baie brokkies kennis sal oorvleuel, en daar is vele wat slegs resiteer wat aan hulle geleer word. Daar’s ook biblioteke vol boeke van mense wat generasies of eeue gelede kennis van die Waarheid gehad het, al het hierdie kennis deur die generasies, of oor die eeue heen, soms vergete geraak.

Soms sal jy iemand vind – deur ’n persoonlike ontmoeting, deur ’n storie of ’n artikel of ’n nuusberig te lees, deur ’n film te kyk of deur iemand se musiek te luister – wat lank genoeg sy of haar eie ervaringe gekontempleer het ten einde te beskik oor wat genoem kan word, Dieper Kennis. Op dieselfde wyse, indien hy ernstig is oor sy soeke, sal ook die man op die stoep vrede vind oor wat sý lewe beteken.

# 15

Ek weet nie van “God” nie. Dit beteken nie ek glo nie aan “God” nie. Al wat ek sê is dat alles wat ek gedink het ek weet van “God”, deur mense aan my gegee is. Eers jare later het ek uitgevind dat baie van hierdie mense óf nie my vertroue in hulle woord waardig was nie, óf hulle het ook maar net aan my vertel wat aan hulle vertel is, en wat hulle besluit het om te glo om hulle eie persoonlike redes.

Feit is, ek het nog nooit vir “God” gesien nie – as “God” gesien kan word in die konvensionele begrip van die woord, so ek moet luister na ander mense se opinies of leerstellings oor “God”. Die probleem? Hierdie mense het ook nog nooit vir “God” gesien nie. Hulle glo net wat aan húlle geleer is om te glo. Of hulle baseer hulle geloof op ’n kombinasie van wat aan hulle geleer is en persoonlike ervaring – wat steeds beteken hierdie persoon se waarheid is subjektief.

Nog ’n ding: kennis – of “waarheid” – wat van geslag tot geslag oorgelewer word, bly nie eers altyd dieselfde nie! Soos kulturele praktyke verander en soos die res van die mens se bestaanswêreld verander, word subtiele verstellings gemaak aan doktrines en persoonlike oortuigings.

Ek sê dus nie ek glo nie aan “God” nie, ek sê net ek weet nie van “God” nie. Ek weet wat ánder glo hulle weet, maar ek kan nie net in iets glo omdat ander so glo nie. Ek moet self die waarheid leer ken, op my eie tyd en op my eie manier.

______________________