MAANDAG 21 JUNIE 1999
Miskien was ek nie gemaak vir vreemde lande nie. Miskien was ek bestem om net ’n gewone ou te wees wat vir die regering stem en ’n skoon kredietrekord het. En wat dink die nuwe shopping mall is die beste ding sedert grassnyers. Maar nou sit ek hier in Chiang Kai-Shek se China, en ek dink dis orraait om op ’n Sondagaand dumplings te eet in plaas van oorskiet braaivleis en koue aartappelslaai. En ek gee voor dis ’n lekker job om te kyk hoe kleuters prentjies van Mickey Mouse inkleur, terwyl ek hulle een vir een vra, “What colour is this?” en dan maak asof ek opgewonde raak as hulle sê “Yellow!” as dit eintlik pers is.
[…]
Steppenwolf. Ek is nog steeds die moer in vir die vrou wat my kopie van [Hermann Hesse se] Steppenwolf gesteel het in Korea. Ek het dit so sorgvuldig deurgelees, en al die dele onderstreep wat op my van toepassing was. Ek het gedink: dis ek, hierdie Steppenwolf, die alleenloper wat dink almal wat by kroeë uithang en probeer om die lewe te geniet, is oppervlakkig.
[…]
Ek is moeg vir alleenwees. Ek hou nie daarvan om actually daaraan te dink nie, maar wat van as ek doodgaan, hier in Taiwan? Ek leef asof ek nog ’n miljoen jare het om lief te wees vir mense! Asof alles kan wag tot die hele Asië se kinders vlot Engels kan praat!
Klink ek ’n bietjie af? Wel, ek het weer vanaand dumplings geëet. Daar is alternatiewe, maar nêrens kan ek braaivleis en aartappelslaai kry nie. So of dit nou pizza, McDonald’s of dumplings is, it’s all the same.
ek hoort nie hier/in hierdie land van vreemde skrif en woorde nie/ek hoort nie hier/in hierdie land waar ek so vreemd is nie/soveel om voor te leef/soveel om te voel/soveel om nog te weet …
* * *
Maandag het nugterheid gebring. Ek kan nie teruggaan Suid-Afrika toe nie, want ek sal binne enkele maande platsak wees.
[…]
Nee, het ek besluit, hierdie tweede ballingskap sal vir drie jaar duur. Ek sal my skuld afbetaal, vir my nog electronics koop, en volgende jaar Europa toe gaan.
* * *
Ek is ietwat bekommerd oor myself. Ek het geen motivering vir enige iets nie. Ek wil net die heeldag voor die TV lê en dink aan niks. Ek wil nie dink aan geld, of hoe om geld te maak nie. Ek wil nie eers dink aan die boek wat ek nog wil skryf nie.
[…]
[Ek het ’n groot escapist geword teen my laaste jaar op hoërskool.] Ek het my onmiddellike omgewing gehaat, maar eerder as om die beste daarvan te maak, het ek gedroom van beter plekke. Of at least ánder plekke.
Miskien was dit tog nodig, anders sou my lewe dalk beroof gewees het van die bietjie avontuur wat ek al beleef het. Hel, as ek daaraan dink, as ek destyds [in 1991] gelukkig was in Pretoria sou ek moontlik nou getroud gewees het, en in ’n huis êrens in die suburbs gewoon het! Ek sou nou – of at least dié tyd van die nag – knus langs my vrou gelê het met my hand op haar een bors. En ek sou môre-oggend in my kar geklim het en met ’n mengsel van oggendverkeer en ligte popmusiek in my ore, gery het na een of ander kantoorgebou vir my daaglikse arbeid. Sou ek gelukkig gewees het? Wie weet. Ek sou heel moontlik gevoel het ek hoort êrens, en ek sou sekerlik nog steeds gedroom het. Waaroor – sal ek nie kan sê nie.
Maar nou sit ek hier, in die Republiek van Chiang. Dis al weer drie-uur in die oggend (Dinsdag dié keer), en ek probeer my lewe uitsorteer op die rekenaar wat ek verlede week kontant gekoop het. Agter my, op die TV, flits die beelde van ’n movie uit Hong Kong. Ek moet gaan slaap, want al begin my eerste klas eers môre-middag half-vyf, wil ek ontbyt gaan koop by McDonald’s. En hulle gee net ontbyt tot elfuur.
* * *
Saterdag 26 Junie, net na middagete (sê ek met ’n lepel ontbytpap in my mond). Ek kan nie volgende jaar teruggaan Suid-Afrika toe nie. Ek sal nie genoeg geld hê nie, en geloof alleen gaan weer nie genoeg wees nie.
[…]
Geld is die bottom-line. As ek genoeg geld het, is die plan goed. As ek nie genoeg geld het nie, en net baie geloof en hoop, is die groot ontnugtering altyd op die horison.
Nee wat, kom ons wees baie ernstig hieroor. As my skuld afbetaal is, en ek het genoeg geld vir ten minste een jaar se voltydse studie, goed. Indien nie, is dit net nie goed genoeg nie. Ek is jammer, maar selfs die domste donkies stamp hulle tone net soveel keer teen dieselfde klip.
(Sondag 20 Junie tot Saterdag 26 Junie 1999)
______________________