Ek is nie die baas van hierdie wêreld nie

WOENSDAG 21 MAART 2001

Ek voel ietwat verward op die oomblik.

Vir die rekord moet ek sê ek dink dis simpel dat daar hierdie verwagting is dat almal moet weet wat vir hulle belangrik is en wat hulle uit die lewe wil hê teen die tyd wat hulle klaarmaak met hoërskool, en op die laatste teen die tyd wat hulle klaar gestudeer het. En indien dit wat hulle wil doen, wat vir hulle belangrik is, en wat hulle uit die lewe wil hê, nie lekker strook met wat gewoonlik voldoende finansiële belonings meebring nie, moet hulle weet hoe hulle dit wat hulle wil doen, gaan versoen met die wêreld waarin hulle leef – waar elkeen op eentonige reëlmaat hul pond vleis na die offertafel toe moet bring.

Burgers van die establishment hoop – en verwag – dat almal wat gradueer uit die Skole van Middelklas Opvoeding en Kultuur met oorgawe hulle plekke sal inneem, sodat ’n ordelike en siviele samelewing kan voortgaan om ordelik en beskaafd te wees. Teen dié tyd weet die Wyses van die huidige inkarnasie van Beskaafde Gemeenskap egter dat ’n sekere persentasie van middelklas kandidate van vroeg af reeds paaie sal opsoek wat nie heeltemal ooreenstem met wat vir hulle uitgelê is nie. Die Wyses weet óók die meeste paaie loop na Rome – nie almal hoef ’n konvensionele beroep te volg om hulle deel by te dra tot die handhawing en uiteindelike ewolusie van hierdie samelewing nie. En vir dié wat aandring om steeds nie ’n bydrae te maak nie, is daar genoeg plek in tronke, op straat, en in tuistes vir haweloses.

Siende dat ek nog nooit sterk gevoel het oor ’n lewe in die tronk of op straat nie, poog ék ook maar om op een of ander manier my pad te vind Rome toe.

“Waar lê die verwarring dan?” mag jy vra.

Ek sou orraait wees op my eie, en ek weet watse pad ek kan loop om te kom waar ek moet – en die pad loop selfs deur die tipe landskap waaruit ’n mens so nou en dan inspirasie kan put. Maar diepgesetelde behoeftes wat die bestaan van ’n miljoen generasies verseker het, dikteer dat ek iemand moet vind om die pad mee te deel. En, soos ons almal weet, maak die volgende geslag kort voor lank hul verskyning, ongeag of jy al jou domein afgemerk het of nie.

Verward is ek, want wil ek hê die kinders moet blonde hare en Chinese name hê, of sal ek verkies dat ook hulle moeder se taal dieselfde bekende klanke sal wees as waarmee ek grootgeword het? En as dit dan nie hier is nie, dan daar … en dán wat moet Pappa doen om kos op die tafel te sit?! En Sussie wil ’n grassnyer hê, en Kleinboet ’n paar hoë hakskoene! En die vrou wil alweer ’n Huisgenoot koop?! En al wat ek wil doen is om te skryf. En goeie bliksem, hier kruip nog een nader! Vrou, wanneer het dit gebeur? Ek het dan skaars tyd om te skeer! Ek dink nie hierdie Babilon was ooit vir my bedoel nie … maar nou’s dit te laat want hulle downsize al weer! En ek strike al amper veertig en al wat ek wou doen is … maar toe skielik wil ek nie meer alleen wees nie! En ek sit toe nog op ’n eiland in die Verste Ooste, en ek dog toe die oupa en ouma sal seker ook hulle kleinkinders wil sien van tyd tot tyd! En toe’t ek nie meer ’n keuse nie … ek moes my beddegoed oprol en loop.

Ek is nie die baas van hierdie wêreld nie. So is die reëls, so is die spel.

______________________

Wat mense doen

WOENSDAG 28 FEBRUARIE 2001

Die dinge wat mense doen vir geld. En dan, die dinge wat mense doen vir ander redes.

Ons almal het geld nodig, maar die maniere wat ons kies om ’n bietjie kapitaal bymekaar te skraap, verskil. Sommige mense produseer goed en verkoop dit aan ander; sommige mense dra by tot die vervaardiging van artikels wat deur ander mense verkoop word. Sommige mense koop dinge op een plek en verkoop dit dan op ’n ander plek teen ’n wins. Ander mense bou of ontwerp huise en ander geboue; ontwerp of bou brûe, damme, paaie en ander infrastruktuur; versier ander mense se huise; knip hare; maak huise en ander geboue skoon; reis na die ruimte; leer ander mense dinge wat hulle nie geweet het nie; bestudeer allerhande onderwerpe en word dan betaal vir hulle studies; vlieg vliegtuie tussen stede en lande; seil skepe en bote oor riviere, mere en/of oseane; verkoop produkte namens ander mense of besighede; regeer oor miljoene mense; verskaf administratiewe dienste aan besighede, instellings, of aan die regering; soek en arresteer kriminele; verdedig kriminele en soms onskuldiges in howe; verskaf ander regsdienste aan mense; dien as geregsdienaars in howe en maak besluite aangaande die skuld of onskuld van mense; hou wag oor kriminele in tronke; steel ander mense se besittings en verkoop dit vir kontant of ruil dit vir iets anders en verkoop dan daai items vir kontant; vermoor sekere mense teen ’n fooi; lei of dien in ’n weermag of enige ander militaristiese organisasie ter verdediging van ’n nasie of gebied; dien as huursoldate in konfliksituasies; luister na ander mense as hulle praat oor hulle probleme en probeer dan advies gee; dien as gidse op toere; skryf stories of gedigte of essays of artikels, en verkoop dan wat hulle geskryf het – of probeer om dit te verkoop; vertaal stories of ander materiaal wat ander mense geskryf het; skep oudiovisuele weergawes van stories; bespeel musiekinstrumente of sing vir die vermaak van ander; komponeer musiek of skryf liedjies en verkoop dan hulle werk; reguleer die verkeer; jaag karre, motorfietse, trokke, bote of enige ander masjienaangedrewe voertuie of vaartuie in kompetisie met ander mense; beoefen ander sportsoorte op ’n professionele vlak in kompetisie met ander atlete; bereken die inkomste en uitgawes van individue of besighede om die owerhede tevrede te stel dat die mense eerlike besigheid doen; adviseer ander mense oor hoe om geld te maak; ontvang geld van individue of besighede namens die regering; ontvang geld van individue of besighede namens kriminele organisasies; vermaak ander mense deur grappe of stories te vertel, of deur in sirkusse op te tree, of deur karakters te vertolk in films of toneelstukke; herstel dinge wat gebreek is; berei kos en drinkgoed voor vir ander mense om te geniet; bedien kos en drinkgoed aan ander mense; verseker die gladde bestuur van ’n besigheid of instelling namens ander mense of die regering; bemark ander mense, produkte of besighede; verskaf seksuele dienste aan meestal mans; dans kaal of halfkaal vir die plesier van geklede mans en somtyds vrouens; verskaf ’n wye reeks dienste aan ander mense of besighede in die naam van ander besighede of die regering; lewer pos af; neem foto’s en verkoop kopieë daarvan; ontwikkel foto’s vir ander mense; verskaf inligting deur middel van massakommunikasiemedia; verskaf inligting op geheime wyses; ondersoek ander mense of gebeure en rapporteer hulle bevindings teen ’n fooi; verskaf gesondheidsdienste aan mense; verf huise of ander geboue; ontwerp tuine of ander landskappe, of hou tuine of ander landskappe in goeie kondisie; ontwerp materiaal wat mense se aandag sal trek vir kommersiële of ander doeleindes; verkoop hulle organe, sperm, of veilige hoeveelhede bloed; ondergaan mediese toetse teen vergoeding; versorg of beskerm fauna en/of flora; tree op as bemiddelaars tussen partye met botsende agendas; bied hulle gespesialiseerde dienste of kennis aan mense op ’n vryskutbasis; onderhandel vir die vrylating van gyselaars; neem mense gyselaar of ontvoer mense en laat hulle dan weer vry vir groot hoeveelhede geld; ontwerp produkte wat deur ander vervaardig sal word; teel lewende hawe of kultiveer groente of vrugte om dit op markte of langs die pad te verkoop; blus vure; verskaf gesondheidsdienste aan diere; maak jag op diere of vang vis of ander see-organismes en verkoop wat hulle doodgemaak of gevang het; tree op as afrigters van atlete ter voorbereiding van kompetisie, of van diere ter voorbereiding van vermaaklike aksies vir die genot van ander mense; neem goed wat mense nie meer wil hê nie plus ou koerante en vrot kos en sulke goed uit woonbuurte na afgebakende areas buite die dorp of stad; kultiveer blomme en/of bome en verkoop dit; vervals dokumente of produseer namaaksels van ander waardevolle artikels; tree op as tolke tussen sprekers van verskillende tale; restoureer huise of ander geboue, of ou motorkarre of meubels, en verkoop wat hulle gerestoureer het; vervoer siek of beseerde mense na hospitale of klinieke; versorg siekes of bejaardes; versorg kleuters of jong kinders vir kort periodes gedurende die dag of soms in die aand; bestuur huishoudings vir ander mense; verskaf arbeid aan boere; bou, teer, of hou paaie in stand; of vervoer goedere en/of mense per trok of trein van een plek na ’n ander. En sommige mense spandeer hulle dae deur materiaal te selekteer wat deur ander mense geskryf is sodat dit uiteindelik gepubliseer en verkoop kan word teen ’n wins.

Mense spandeer ook tyd aan ander dinge, maar vir ander redes as finansiële kompensasie. Hulle versamel seëls; plant bome of blomme; sny die gras; verf hulle huise; komponeer musiek; of hulle skryf joernale, dagboeke, briewe, en ander privaat stukke literatuur wat nie bedoel is vir kommersiële publikasie nie. Mense lees ook boeke, koerante of ander literatuur; kyk flieks; speel gholf of tennis of rolbal of sokker of enige van dosyne ander sportsoorte; ry rond in karre of op fietse of motorfietse; seil bote; vlieg vliegtuie; gaan op daguitstappies; kopuleer met ’n tweede party (en soms ook ’n derde party tydens dieselfde sessie); kyk TV; maak die huis skoon; neem foto’s; versorg geliefdes; spandeer tyd en geld aan liefdadigheid; help mense in nood; maak dinge reg wat gebreek is; restoureer ’n huis, ou meubels, of ’n ou motorkar vir persoonlike gebruik; speel video- of rekenaarspeletjies; swem; gaan op pieknieks; doen fisiese oefening; maak modelvliegtuigies, -bote of -karre; doen houtwerk; sit legkaarte aanmekaar; leer om ander tale te praat; bespeel musiekinstrumente; sing liedjies (alleen of saam met ander mense); versorg troeteldiere; versier huise; kook kos; besoek vriende of familie; steel kos of ander artikels vir persoonlike gebruik; veroorsaak liggaamlike en/of geestelike skade aan ander; gebruik dwelms; drink gevaarlike hoeveelhede alkohol; dans, alleen of met ander mense; luister musiek; doen inkopies; gaan uit saam met vriende; woon musiekkonserte of ander vertonings van ’n kunstige aard by; maak klere; maak tuisvideo’s; trou en kry kinders; ry resies met ander mense in karre of op fietse of motorfietse; speel kaart of bordspeletjies; spandeer ure op die Internet; reis na ander lande; besoek museums, kunsgalerye of ander besienswaardighede; woon godsdienstige samekomste by; rook sigarette of gebruik ander tabakprodukte; luister na wat ander te sê het oor hulle probleme; bespreek hulle eie probleme met ander mense; voer argumente, kry stry of debatteer omstrede onderwerpe; stort of vat ’n bad; slaap of vat middagslapies; trek aan, skeer, borsel tande, of doen ander dinge ter wille van persoonlike higiëne; luister na die radio; gaan stap; doen window shopping; vertel grappe; maak materiële besittings bymekaar; spog oor hulleself; raak betrokke in kroeggevegte; woon sportbyeenkomste by; knoop buite-egtelike verhoudings aan; koop persente vir ander mense; hou verjaarsdagpartytjies; vier Kersfees en/of ander godsdiensverwante feesdae; organiseer en neem deel aan massa-optogte en betogings; vandaliseer geboue en/of ander infrastruktuur; martel diere of ander mense; gaan strand toe en lê in die son om die kleur van hulle velle te verander; vang vis; raak mal en eindig op in inrigtings vir geestelik versteurdes; doen poppespel; versprei siektes; raak verlief; agtervolg ander mense; bestudeer menslike gedrag van ’n afstand af; leer hulle kinders maniere; vertel leuens; speel in skool- of gemeenskapstonele; verdedig hulle eiendom en medemens van ander wat hulle skade wil aandoen; was hulle karre; was wasgoed; was skottelgoed; bid of mediteer; aanbid ander mense, afgode, of ’n religieuse entiteit; vee stof en vuilheid uit hulle huise; tel gemors op; maak spinnekoppe en ander insekte in hulle huise dood; berei drankies of ander drinkgoed voor vir hulself en/of vriende en familie; steek geboue of ander goed aan die brand; kamp uit; maak kinders of ander mense skrik; staar na die sonopkoms of sonsondergang; staar na die wolke en reken hulle sien vorms; dink oor die betekenis van die lewe; kontempleer die moontlike doel van hulle bestaan; maak telefoonoproepe na vriende of familie (miskien om uit te vind of húlle weet wat die betekenis van die lewe is); vang skoenlappers; gaan dieretuin toe om na ander diere te staar; dink dinge uit wat hulle lewens geriefliker kan maak; bedek hulle gesigte met poeiers en/of ander grimering; soen ander mense; omhels en hou hande vas; maak gekke van hulleself tot die vermaak van ander; leer Oosterse gevegskuns; verafsku hulleself; kritiseer ander; versamel foto’s van hulleself en van vriende en familie en rangskik dit in foto-albums; vertel stories oor hul eie lewens of die lewens van mense wat hulle ken, of vertel oor gebeure en insidente waarvan ander mense hulle vertel het; fantaseer oor mense met wie hulle nie tans intieme verhoudings het nie; dagdroom oor wat hulle sal doen as hulle die Britse Lotery wen; herrangskik hulle meubels; dikteer testamente aan prokureurs; spandeer tyd in tehuise vir bejaardes; speel brug elke Donderdag; speel kegelbal elke Vrydag; blaai deur boeke in boekwinkels; leen boeke uit biblioteke; skilder of teken prente; stel wat-om-te-doen-lyste op; bekommer hulleself oor die toekoms; herstoffeer stoele en rusbanke; sing in die stort; skei; gaan tronk toe; hardloop weg van die huis af; neem deel aan sosiale of politieke rewolusies; of vat die verkeerde afdraai en kyk nooit terug nie. En sommige mense, glo dit of nie, doen absoluut niks.

______________________

Die doel van my lewe

[Hierdie volgende stuk is kenmerkend van die tyd waaruit dit dateer. Ek het heelwat minder klasse gehad as die vorige jaar, en het derhalwe tyd gehad om ure elke dag te spandeer op groot, ambisieuse opstelle soos hierdie. Die stuk was ongelukkig nooit klaar geskryf nie, en teen die tyd wat ek hierdie projek aanmekaar begin sit het, het te veel ander idees al gekom en gegaan vir my om in dieselfde “stem” die stuk af te sluit. Ek poog wel om, na die laaste paragraaf, die finale punt te verduidelik tussen blokhakies, soos in hierdie paragraaf.]


SONDAG 25 FEBRUARIE 2001

’n Eerlike Poging ter Oplossing van ’n Netelige Probleem/’n Voorlopige Ondersoek na die Doel en Betekenis van die Lewe, en Wat Ons Moet Doen om Vervullende en Gelukkige Lewens te Lei

DEEL EEN

’n Ode aan die bioskoop

“Real life is not like in the movies where you get a realisation and your life changes the next day. In real life you get a realisation, and your life changes a month later.” ~ Postcards from the Edge

’n Paar dae gelede, om kwart oor een in die oggend, het ek myself ’n afsnypunt gegee: Teen halftwee moes ek ’n antwoord hê op die vraag van wat ek wil doen met my lewe. Ek neem toe stelling in op die stoep, en rook ’n sigaret. Halftwee het gekom, en halftwee het gegaan, soos verwag kon word, sonder dat ek enigsins gevorder het in my ondersoek. Hulp, of inspirasie, sou met ’n oop gemoed verwelkom word.

’n Rolprent wat ek ’n paar maande gelede gesien het, kom toe by my op as ’n moontlike padaanwyser. Dit het gehandel oor ’n klomp rekenaarprogrammeerders, en hoe hulle geworstel het met die vraag na die waarde van hulle lewens. (Soos dit maar gebeur, was die een karakter ’n bietjie meer obsessief oor die onderwerp.) Gedurende een gesprek bespreek hulle toe die verskil tussen wat hulle doen met hulle lewens, en wat vir elkeen meer ideaal sou wees. Met ander woorde, as hulle nie ten minste agt ure per dag, vyf dae per week moes wegslyt in kantoorhokkies vir ’n inkomste nie, wat sou hulle gedoen het met hulle tyd? Een karakter noem toe dat ’n onderwyser eenkeer vir hulle gevra het wat hulle sou doen met ’n miljoen dollar. Die antwoord, in teorie, moes dan ’n aanduiding gee van watse beroep jy moes volg. As jy byvoorbeeld antwoord dat jy ou karre sou regmaak, is dit veronderstel om te beteken dat jy ’n motorwerktuigkundige moes word. (Laat dit ’n mens nie soms met die indruk dat die lewe ’n wit olifant is nie? Iemand het vir jou hierdie ding gegee wat ons “lewe” noem, maar jy weet nie mooi wat om te doen daarmee nie, en weggooi is nie ’n opsie nie.)

Geïnspireer deur hierdie brokkie raad, stel ek toe vir myself die volgende vraag: As ek vyf miljoen rand gehad het, hoe sou ek my dae en nagte gespandeer het?

Nou, hierdie is ’n wolk waarop ek gereeld aan die slaap raak in die aande, en die voorlopige antwoorde is altyd dieselfde – koop vir my ouers ’n groot huis en gee vir hulle genoeg geld sodat hulle kan aftree; gee vir my twee susters genoeg geld sodat hulle hulself nooit weer oor geld hoef te bekommer nie; koop vir myself ’n ou gebou, gaan op reis vir ten minste ses maande, sien al die plekke wat ek nog altyd wou gesien het, bou ’n internasionale netwerk van minnaresse op … en dan raak ek gewoonlik aan die slaap.

Na ’n uur of so van dink wat ek met vyf miljoen sou doen, kon ek nie met beter antwoorde as die gewones vorendag kom nie. Ek het geweet dat hierdie alles korttermyndoelwitte is. As ek klaar huise gekoop en ’n klomp geld weggee het, is die doelwitte nie meer geldig nie.

As my ouers en my susters dan gemaklik is vir die res van hulle lewens, as ek die wêreld gesien en ’n internasionale reputasie opgebou het, wat sal ek dán doen om myself besig te hou? Of dalk moet ek verder gaan en vra, wat sal ek dan doen om betekenis aan my lewe te gee?

Ek dink toe aan ’n ander film waar ’n paar ouens van die stad dink dat dit hulle goed sal doen om ’n bietjie beeste te gaan aanjaag oor die vlaktes. Tydens hierdie avontuur ontmoet hulle ’n ou cowboy. Een van die stadsjapies, wat ook die Groot Vraag gekontempleer het, reken toe dat ’n ou beesman die antwoord behoort te ken. Laasgenoemde het vir ’n oomblik nagedink, en toe ’n enkele vinger die lug op gesteek. “One thing,” sê hy toe. Die ou wag toe in spanning vir die res van die antwoord, en toe die beesman nie sy sin klaarmaak nie vra die ou hom wat die een ding is. Die ou man antwoord toe, “You’ve gotta figure that out for yourself.”

My eie beskouings het my gemaklik gemaak met die idee, so ek het my visier toenemend begin instel daarop om ’n enkele ding raak te sien. Om die waarheid te sê het die Een Ding Teorie ’n amper dogmatiese aspek geword van my denkprosesse oor die Hoër Vrae van die Lewe. Ek was vas oortuig daarvan dat, wat ook al die antwoord, dit slegs ’n enkele ding kon wees.

Teen die tyd wat ek bed toe gegaan het (so teen halfvyf), het ek ’n idee gehad: Ek gaan ’n besigheid begin wat dokumentêre programme, musiekvideo’s, reisprogramme en films in DVD-formaat verkoop; miskien ’n posbesteldiens, sodat ek nie elke dag in ’n winkel hoef te sit nie. Dit dek my belangstellings in geskiedenis, musiek, aktuele sake en films. Ek het ook gereken as ek vir mense sê dat dit my ambisie is, my doelwit waarna ek streef, hulle dit aanvaarbaar sal vind, dat dit naastenby sal klink soos die tipe antwoord wat hulle self sou wou gee. Ons almal ken mense wat eindeloos aangaan oor een of ander restaurant wat hulle wil oopmaak, of ’n koffiewinkel, of ’n boekwinkel, selfs ’n skoenwinkel. Ons dryf gewoonlik nie die spot met mense as hulle sulke ambisies het nie, en ons dink nooit hulle drome is belaglik nie. Sulke ambisies maak sin. Hulle sal iets hê wat hulle besig hou meeste van die tyd, en hulle sal moontlik geniet om in ’n bedryf te wees wat goeie kos bedien, of om die heeltyd op hoogte te wees van die mees kommersieel suksesvolle boeke van die dag. Almal weet ook dat hierdie tipe ambisies, indien suksesvol, ’n inkomste sal genereer vir die mense en hulle gesinne.

Die gedagte aan voldoende kapitaal om te befonds wat jy ook al wil doen het dus ’n voorlopige antwoord gebring. In die hoop dat die antwoord sal hou tot ek weer wakker is, sluimer ek toe in, wandelend deur rakke vol dokumentêre programme, musiekvideo’s, en ander interessante items.

Die volgende dag (of later dieselfde dag) het ek ontwaak met ’n ligte spesmaas van iets wat onlangs bereik was. Die oomblik toe ek egter onthou wat dit was, het ek teruggesteier. ’n Winkel?! Ek, ’n winkeleienaar? Hoe op aarde het ek daarby uitgekom as ’n rede vir my bestaan?

Die lig van ’n nuwe middag het inderdaad helderheid gebring. Ek moes van voor af begin.

Op ’n wetenskaplike wyse besluit ek toe om te kyk na die moontlike redes hoekom ek dit aanvanklik beskou het as ’n goeie punt, om sodoende voort te gaan met die volgende stap in die proses. Mense vind bevrediging in hulle werk, dan nie? En nie almal het ’n betrekking wat ander beny nie! Ek ken mense wat gelukkig is met werk wat ander ongelooflik vervelig sal vind. Aan die ander kant, moet besoldigde werk noodwendig die krediet kry vir geluk in ’n mens se lewe? Of anders gestel, moet mens noodwendig werk doen wat jou gelukkig maak?

Maar ek probeer ’n idee in smokkel wat geregtig is op ten minste ’n voorlopige teorie: geluk, en hoekom dít so verweef is in ons soeke na doel en betekenis in ons lewens (ten minste in hierdie tyd van die wêreldgeskiedenis, indien nie noodwendig altyd so in vervloë dae nie).

Elementêre sielkunde, en gesonde verstand, leer ons dat ons sekere basiese behoeftes het. Of bevrediging van hierdie behoeftes in hiërargiese volgorde plaasvind of nie, ons weet dat dit bevredig móét word tot ’n redelike mate om in die eerste plek fisiese oorlewing te verseker, en om naas dit naastenby jou sinne te behou. Dit volg ook, uit gesonde verstand meer as enige iets anders, dat as al ons behoeftes bevredig word, ons ’n sensasie ervaar wat ons gewoonlik “geluk” noem. As ons genoeg eet, relatief gesond is, behoorlike nagrus inkry, ordentlike skuilplek het (óf in ’n huurkamer, óf in ’n paleis), liefde ontvang en liefde gee (in fisiese en emosionele terme), ’n redelike begrip het van hoe alles inmekaar steek, en as ons uiting gee aan ons kreatiewe behoeftes, dan voel ons gewoonlik dat die lewe orraait is, om die minste te sê.

As enige van ons basiese behoeftes – fisies of andersins – nie bevredig word nie, ervaar ons ’n sensasie van ’n ander aard. Afhangende van die graad van onvervuldheid en die tipe behoefte, verklaar ons gewoonlik dat ons “ongelukkig” is, of “nie lekker voel nie”. In die geval van ernstige nood of gebrek – of om net meer spesifiek te wees – gee ons hierdie onaangename sensasies name soos “honger”, “koue”, “vrees”, of “eensaamheid”.

Maar hoe pas die vervulling van behoeftes in by ons bespreking van werk (of werkloosheid, wat ook al die geval mag wees)? Dit werk soos volg: die besoldigde arbeid wat ons lewer bepaal die graad waartoe ons die meeste van ons behoeftes kan bevredig. Genoeg geld beteken genoeg kos – tensy die geld geblaas word op ander behoeftes wat minder belangrik is in verhouding met behoeftes wat bevredig móét word om die voortbestaan van ons lewens te verseker. Hope geld, weereens in teorie, kan ’n miljoen rand skuiling beteken vir jou en jou intieme sirkel, en eersteklas bevrediging van jou (of julle) ander behoeftes. Die alternatief: geen geld nie, geen kos nie; geen kos nie, slegte gesondheid, en uiteindelike dood vanweë komplikasies teweeggebring deur onvoldoende bevrediging van basiese behoeftes. Tussen hierdie twee pole lê ’n spektrum met ’n duisend punte wat verskil in graad van behoefte vervulling. Dit alles bevestig steeds die basiese waarheid dat die inkomste wat jy verdien ’n direkte verhouding het tot die graad waartoe jou behoeftes bevredig word, asook die kwaliteit daarvan.

“Masters of simplicity” is wat die historikus, Alan Bullock, twee van die bloedigste diktators van die twintigste eeu noem. Volgens hom het Adolf Hitler en Joseph Stalin geweier om oorweldig te word deur die kompleksiteit van probleme wat hulle in die gesig gestaar het. Ek neig na presies die teenoorgestelde. Nie net voel ek oorweldig deur vrae oor die doel en betekenis van die lewe nie, ek raak by tye angsbevange daaroor! Die rede hiervoor is die groot aantal moontlike antwoorde op die vrae. Verskeie gevestigde godsdienste moes in die laaste paar dekades kompeteer vir aanhangers (en monetêre donasies) met honderde sektes, bewegings en kwasie-religieë. Predikante, hoë priesters, lae priesters, pouse, rabbyne, heilige mans, onheilige mans, heilige vrouens, selfs die plaaslike kroegman, het almal hulle eie antwoorde op die vrae wat ons vra. By hierdie lys kan jy voeg antieke filosowe, pseudo-filosowe, sielkundiges, selfverbetering-ghoeroe’s, akteurs wat skrywers word, skrywers wat sangers word. Die lys is oneindig. As jy nog vriende en familie byvoeg, sal jy begin voel soos ’n speelgoedrobot wie se drade gekruis geraak het. Jy begin selfs in meubels vas te loop, en jy stamp jou kop teen die mure. En dis nie eers altyd opsetlik nie.

’n Paar weke gelede gooi my ma nog ’n bestanddeel by die pruttende brousel. Sy’t gereken dit sal goed wees om met my een van die basiese feite van die werklike (lees: middelklas) lewe te deel, naamlik dat ’n man sy merk moet maak voor die 35e herdenking van sy aankoms op hierdie planeet. Hy moet, om die waarheid te sê, reeds sy hakke begin inkap teen sy middel-twintigs, maar as hy ten minste op pad is teen dertig kan hy steeds die laaste stukrag insit so teen sy middel-dertigs. Na 35, volgens my ma, begin dit toenemend moeilik raak vir ’n man om sy plek in die wêreld te vind. (Dit is natuurlik op vrouens ook van toepassing. Ek het twee susters, en ek is nooit grootgemaak om te dink net omdat ek ’n seun was ek minderwaardig hoef te voel teenoor my susters nie. Of andersom, soos ek later agtergekom het die neiging in die breër gemeenskap blyk te wees.)

Ek het my ma op die betrokke aand heelhartig bedank vir haar advies (wat tot ’n mate sin maak). Die gedagte is dus om jouself op iets toe te spits vir ’n aantal jare, om een of ander vermoë baas te raak, of om ’n kwalifikasie vir ’n spesifieke beroep te verwerf. Ek het ook besef dat die motivering agter hierdie advies, en die ouderdom wat daaraan gekoppel word, moontlik iets te make het met die feit dat ’n mens se ouers nie wil hê jy moet weer by hulle intrek op ’n stadium in hulle eie lewens wat hulle nie elke dag in jou bakkies wil vaskyk nie (en soveel te meer nie as jy werkloos is nie).

Die ander rede hoekom jy finansieel gemaklik moet wees teen 35, is omdat jy dit dalk oorweeg om ’n paar afstammelinge te produseer. Ons almal ken die assosiasies: meer monde om te voer, meer kruideniersware, nuwe skoene en klere, skoolgelde, groter huis, groter kar, duurder huispaaiemente, 35 op pad 60 toe. Ek kon sien waarheen hierdie argument beweeg. Die ideaal van ’n konvensionele middelklaslewe was nog nooit my hoofmotivering om op te staan in die oggende nie (of in die vroeë middag, soos deesdae die geval is). Maar om dit aan te voer as ’n rede om nie te doen nie wat mense al doen vanaf lank voor die mees antieke filosowe die eerste “Hoekom?”-teorie geformuleer het, is nie goed genoeg nie.

Hoekom blyk dit dat (amper) alle mense (amper) altyd neig na dieselfde ding, in goeie tye en slegte tye, of hulle mooi of lelik is, ryk of arm, geniaal of idioot? Die mens bereik ’n sekere ouderdom, hy of sy begin anders optree as voorheen, en as hulle weer hul oë oopmaak, eet hulle nie meer alleen ontbyt nie. Dieselfde neiging herhaal homself deur elke era van die wêreldgeskiedenis, deur elke generasie, oor alle grense heen – ongeag ras, godsdiens, ideologie, opvoeding, agtergrond, klas of status. Hoekom wil dit voorkom asof mense altyd na mekaar toe dryf – met elke nou en dan twee wat gelukkig die sononder binnestap? Hoekom wil dit verder blyk dat dit mense gelukkig maak deur sosiaal te verkeer met individue met wie hulle iets in gemeen het?

Dis eenvoudig, mag jy dalk antwoord: Mense het mekaar nodig. Soos diere het ons ’n behoefte aan die veiligheid en ondersteuning van ’n groep. Ons word ook gebore met die drang om voort te plant, daarom die intieme kontak tussen (gewoonlik) twee mense op ’n slag.

’n Verdere verduideliking vir hierdie neiging onder die mens kan gevind word in ’n oppervlakkige oorweging van die teenoorgestelde van verhoudings en assimilasie, naamlik die verskynsel van eensaamheid – om alleen te wees wanneer jy nie noodwendig alleen wíl wees nie. ’n Karakter in ’n ander fliek het eenkeer genoem dat volgens Amerikaans-Indiaanse volkskunde, om die wêreld alleen te bewandel die ergste straf is wat ’n man opgelê kan word. Dit is ook toevallig die ergste (amptelike) straf wat ’n gevangene opgelê kan word in ’n tronk. “Gooi hom in die gat vir twee weke!” sal ’n tronkhoof soms gil in ’n fliek, en dan val die ander gevangenes se oë paniekerig vloer toe. Dis nie net die afwesigheid van sonlig wat die man tot op die rand van ’n senu-ineenstorting gaan dryf nie – mense het ander mense nodig. Wysheid uit Afrika komplementeer dié van die Inheemse Amerikaners met die konsep van “ubuntu” – ’n mens is ’n mens, deur ander mense.

Universele verskynsel, wysheid uit Afrika en Noord-Amerika, die tronkbaas in die fliek, en my ma, bevestig derhalwe almal dieselfde ding: Ek het ’n hond nodig. Is dit nie een van die hoofredes hoekom mense troeteldiere aanhou nie? Om hulleself te kompenseer vir die afwesigheid van menslike geselskap! Of as hulle dan gelukkig genoeg is om daagliks hulle lewe met ander te deel, om iets te hê om mee te gesels as die gewone geselskap nie in die bui is nie, of tydelik afwesig.

’n Troeteldier het egter meer waarde as net om iets te hê wat terugblaf as jy praat, en het ’n meer betekenisvolle uitwerking op die mens se psige as net ’n bietjie vermaak as hy vir jou toertjies doen. Om ’n troeteldier te hê, is om te ervaar hoe dit voel as ’n ander lewende wese jou nodig het – iets buite jou wat nodig het dat jý lewendig moet wees. Dit gee ons ’n gevoel van waarde. Dit laat ons voel asof daar ’n doel in ons lewe is, ’n rede vir ons bestaan. (Die idee dat jy aan die lewe moet bly om vir Bruno twee keer per dag ’n bak korrels te gee, word natuurlik in ’n nuwe perspektief geplaas die oomblik as jy daaraan dink dat hy heel moontlik straataf sal draf en elders anders korrels sal gaan soek as jy aanhou om filosofie met hom te praat.)

Ons het ander mense nodig – soos daar reeds uitgewys is, en selfs meer as wat ons troeteldiere nodig het – om vanselfsprekende redes: Ons het nodig om êrens te behoort, ons het kameraadskap nodig, en in die geval van gewoonlik intieme verhoudings, voel ons ook die behoefte aan om voort te plant. In ’n onlangse fliek oor ’n troue-sanger, kom die hoofkarakter by ’n punt waar hy vir sy vriend sê dat, van daardie oomblik af, beide van hulle “free and happy” gaan wees. Sy vriend maak sy glas whiskey toe in een sluk leeg en antwoord, “I’m not happy. I’m miserable.” Hy gaan toe voort om te verduidelik dat, ten spyte van sy reputasie as ’n enkellopende Romeo, hy net iemand soek om hom vas te hou, iemand wat hom kan vertroos met die woorde dat alles sal uitwerk. Gooi hierby die idee van die ons van ’n verhouding, en ’n mens raak toenemend oortuig van die feit dat jy êrens behoort as jy in ’n betekenisvolle verhouding is met ’n ander persoon. ’n Franse madame wat troos (en soms liefde) haar besigheid gemaak het in ’n ander fliek, som die redes vir die intieme verhouding tussen twee mense op as “romanse, kameraadskap en toewyding”. ’n Verhouding van hierdie aard het ook die addisionele bonus dat jy iemand het om mee te gesels as jou troeteldier elders anders besig is. En om ’n bietjie speserye by die brousel te gooi, het jy natuurlik iemand saam met wie jy die kuns van voortplanting kan verfyn.

Om belangrik te wees vir iemand anders, om iemand te hê in jou lewe wat jou as ’n onontbeerlike deel van sy of haar lewe beskou, gee betekenis aan jou bestaan. Dis ’n eenvoudige ooreenkoms, maar dit werk: Ek sal betekenis gee aan jou lewe, as jy betekenis gee aan myne.

Het ek die Een Vinger Ding opgelos? Is liefde, soos baie vermoed, die antwoord? Gee “romanse, kameraadskap en toewyding” betekenis aan ons lewens, en ’n rede om te leef? Dit mag sinies klink, maar ek is nie heeltemal tevrede nie.

Dit is waar dat ons liefde nodig het, en dat dit ons in staat stel om die Groot Vraag tot ’n bevredigende mate te beantwoord. Ek het egter tot die konklusie gekom dat ons ten minste twee ander dinge nodig het om die legkaart te voltooi. Eerstens moet ons ’n manier vind om die voortdurende bevrediging van ons materiële behoeftes – insluitende voedsel op ’n daaglikse basis en beskerming van die elemente – te verseker (reeds aangeraak ’n paar paragrawe terug). In die taal van die moderne tyd beteken dit een ding: geld. Tensy ons een of ander lotery wen, impliseer dit verder dat ons nodig het om werk te doen, om hierdie geld te verdien op ’n gereelde basis. In die tweede plek – of naas liefde en geld, die derde stuk van die legkaart – het ons iets nodig wat ons geniet om te doen. Sommiges noem hierdie aktiwiteit ’n stokperdjie; ek verkies om dit Die Derde Ding te noem.

Laat my toe om kortliks die betekenisvolle impak te verduidelik wat Die Derde Ding het op die moontlikheid van geluk en vervulling in ons lewens. Hierdie ding – of dit nou ’n aktiwiteit, of die bemeestering van een of ander vermoë is, of doodgewoon net om dinge te versamel – is waarop vele van ons die meeste van ons tyd sóú spandeer as ons dit nie moes spandeer om ons maandelikse salaristjeks te verdien nie. Die redes hoekom ons hierdie Derde Dinge najaag, wissel van ontspanning tot die uitdaging wat dit ons bied tot die sin van eiewaarde wat dit tot gevolg het. Die onderliggende beginsel is egter dat ons dit geniet.

Party mense sal argumenteer dat hulle dit geniet om seëls te versamel, maar dat hulle dit nie noodwendig voltyds sal wil doen nie. Hulle sal verder argumenteer dat hulle geniet om te doen wat hulle gekies het om geld mee te verdien (as dit nie is om skaars seëls te versamel en dit teen ’n wins te verkoop nie). Hierdie argumente bevestig, tot ’n mate, die beginsel dat ons iets nodig het wat sommige ’n stokperdjie noem – wat saakmaak is dat dit iets is wat ons geniet.

Realistiese gesproke behoort die werk wat ons kies om ons spreekwoordelike brood en botter mee te verdien iets te wees waarin ons naastenby geïnteresseerd is, en wat ons tot ’n redelike graad geniet om te doen. ’n Professionele fotograaf is ’n goeie voorbeeld van iemand wat ’n inkomste bewerkstellig op ’n terrein waarin hy of sy werklik belangstel. Dit mag dalk selfs die behoefte aan ’n Derde Ding verminder, want die wyse waarop hierdie fotograaf geld verdien, verskaf reeds die nodige vervulling van die derde deel van die formule. Indien jy egter nie so geseënd is met die vermoë om goeie beroepskeuses te maak nie, of vanweë ander redes nie jou besoldigde situasie geniet nie, het jy ’n aparte belangstelling of aktiwiteit nodig om die formule te laat werk.

Balans is ’n verdere faktor wat in berekening gehou moet word. ’n Lewensmaat vervul ’n hele reeks behoeftes, net soos jy (hopelik) dieselfde behoeftes vervul vir hom of haar. Almal weet egter dat liefde nie die huur betaal nie (as ’n karakter in ’n fliek dit nie al gesê het nie, is ek seker daarvan jou ma het dit al genoem). Jy of jou lewensmaat, of albei, het dus ’n inkomste nodig waarmee die huur of huispaaiement betaal kan word, kos en klere gekoop kan word, en soos meeste mense in die ontwikkelde wêreld al agtergekom het sedert die Industriële Rewolusie, om veel meer ander artikels aan te skaf as wat ’n mens werklik kan bekostig en/of nodig het. As die werk wat jy doen vir ’n inkomste jou ’n mate van genot en satisfaksie gee, het jy reeds begin om ook die behoefte te bevredig wat gewoonlik gedek word deur “dit wat mense in hulle vrye tyd doen vir plesier” (soos die woordeboek “stokperdjie” definieer).

Jy’t dus nou genoeg kos in jou maag om jou te hou vir ’n paar ure, en jou onvolmaakte naaktheid is beskerm teen die wind en weer. Jy’t ’n behoorlike dak oor jou kop, ’n relatiewe goeie begrip van die kosmos, romanse en intieme gemeenskap is daagliks deel van jou lewe, en jy sny die gras elke tweede Saterdag vir jou pret en plesier terwyl jy dink aan jou seëlversameling. Maar steeds voel jy ’n ongemaklikheid knaag aan jou binneste. En maak nie saak hoe hard jy probeer nie, jy kan nie die vraag onthou wat ons gekontempleer het toe hierdie hele bespreking begin het nie.

(SOORT VAN) DEEL TWEE

Die soektog na antwoorde op die vrae wat die mens al jaag sedert die ontwaking van intellektuele nuuskierigheid produseer gewoonlik verskeie moontlikhede. Maar net wanneer jy optimisties begin raak oor jou filosofiese vermoëns, besef jy dat jy nooit daarin geslaag het om die vraag behoorlik te formuleer nie. Wat is dit wat ons wil weet? Wil ons weet hoekom ons gebore is? Wil ons weet of ons ’n spesiale doel het wat ons moet vervul? Wil ons oortuig wees daarvan dat ons lewens waarde en betekenis het? Wil ons weet wat ons moet doen om gelukkige en vervullende lewens te lei? Hoekom wil ons gelukkige en vervullende lewens lei?

Meeste van ons het sekere verwagtinge van onsself, van wat ons graag sal wil bereik. As deel van ons grootwordproses kyk ons na wat ander doen, en ons identifiseer – bewustelik of nie – sekere mense as voorbeelde. Ons dink aan hoe dit sal wees om dieselfde dinge te doen as wat hierdie mense doen, of gedoen het, en om soortgelyke resultate te bewerkstellig. Maar hoekom wil ons hierdie doelwitte nastreef? Hoekom wil ons ons verwagtinge realiseer? Hoekom het ons in die eerste plek verwagtinge van onsself?

Die Griekse filosoof Plato het beweer dat omdat ons vrees om te verdwyn in die nietigheid, ons onsterflikheid wil bewerkstellig. Ons kyk na die diereryk, en ons hoop dat ons lewens meer waarde het as dié van ’n rot of ’n kameelperd. Ons weet hoe delikaat ons lewens kan wees, maar ons is ook bewus van sekere unieke kwaliteite en vermoëns waaroor ander diere nie beskik nie.

Die oortuiging dat ons meer moet bereik in ons leeftyd as wat ’n wilde dier sal bereik in syne, blyk ’n natuurlike resultaat te wees van ons superieure intellektuele vermoëns. As ons nié meer behoort te doen met ons lewens as die gemiddelde dier nie, waarom beskik ons dan oor vermoëns wat soveel meer gevorderd is as ons primaatneefs en -niggies aan wie ons die naaste verwant is? Ons begin vrae te formuleer wat ons nader kan bring aan wat dit beteken om “mens” te wees. Ons wonder oor die “betekenis van die lewe”, of daar ’n spesifieke rede is hoekom ons gebore is, of daar ’n doel is vir ons bestaan.

Ek vermoed dat hierdie vrae nie bloot verskillende weergawes is van dieselfde basiese soeke nie, en dat dit derhalwe nodig is om verskillende antwoorde aan elke vraag te gee. Ek wil verder voorstel dat ’n mens aanvanklik konsentreer op ’n enkele een, naamlik die vraag na wat jou gelukkig maak. (Vele sal protesteer dat persoonlike geluk tog so selfsugtig is, en moet ons dan nie streef na iets meer edel nie? Laasgenoemde is ’n onderwerp wat later aangeroer sal word; die leser sal ook vind dat ’n meer edel strewe nie teenstrydig is met die primêre emosie wat ons “geluk” noem nie. Die moontlikheid van geluk speel verder ’n sentrale rol in die oortuiging dat die lewe die moeite werd is, hoe mense ook al kies om te definieer wat hulle gelukkig maak – hetsy onophoudelike vermaak, of toewyding aan ’n goeie saak.)

Is daar ’n antwoord op wat ’n mens gelukkig maak waarmee meeste mense sal saamstem? Ek glo daar is.

Dis op oomblikke soos hierdie wat sommige lesers dalk ’n lewensveranderende openbaring verwag. Hulle sien moontlik in hulle geestesoë hoe ek my keel skoonmaak, die mikrofoon met geswete vingers vasklem, en begin praat, stadig, met elke woord fyn opgeweeg. Dan, na hulle my magiese uiteringe beluister het, mag hulle hulself dalk voorstel hoe hulle terugdeins, en dan met agting prewel: “Sjoe! Dis dan waarmee ’n mens vorendag kom as jy jare spandeer in eensame isolasie in ’n poging om ’n antwoord te vind! Ek is so verlig dat jy vir my hierdie wonderlike woorde gegee het! Dis nou duidelik dat ek dit self nooit sou kon uitwerk nie …”

Die waarheid is, gelukkig vir almal van ons, veel minder dramaties (al hét dit my jare van moontlik onnodige semi-eensame opsluiting geverg om uit te werk). Wat ’n mens nodig het, is die drie dinge wat reeds bespreek is. Vir dié wat nie mooi die patroon raakgesien het nie, hier’s dit weer: ’n mens het liefde nodig, en jy’t geld nodig, en dan het jy iets nodig wat jy geniet om te doen – op jou eie, sal dalk wys wees om by te voeg. (Goeie gesondheid kan as ’n addisionele vereiste genoem word, nou dat ek daaraan dink). As hierdie elemente deel is van jou lewe tot ’n bevredigende mate, is jy ten minste op pad na ’n bestaanstoestand wat “persoonlike geluk” genoem kan word, en mag jy dalk net oortuig wees daarvan dat die lewe die pyn en teleurstelling werd is wat soms onvermydelike bestanddele is van ons bestaan.

’n Ekstra woord van advies sal hier nie onvanpas wees nie: Balans móét gehandhaaf word. As die balans versteur word, sal dit wees soos ’n towerformule wat nie werk nie omdat jy die woorde in die verkeerde volgorde geuiter het, of omdat jy iets uitgelaat het. As jy te veel tyd spandeer om geld te maak, en jy jou verhouding met die persoon (of persone) wat jy liefhet skade aandoen, sal dit die toorkrag verbreek. Aan die ander kant, as jy die heeldag die bed warm lê met jou lewensmaat, gaan dit nie werk as jy die bankbestuurder meedeel dat liefde belangriker is as geld as hy wil weet waar die maandelikse huispaaiement is nie. Die derde ding is ook essensieel om die eerste twee aan te vul, en die hele storie te balanseer. Verhoudings verloop nie altyd vlot nie, en soms maak iemand by die werk jou pogings om ’n inkomste te bewerkstellig nog meer sieldodend as wat jy verwag dit moet wees. Op sulke tye help dit om te dink daaraan dat jy ’n bietjie kan gaan visvang, of dat jy later weer jou kitaarsnare kan sit en pluk op die agterstoep.

Daar het jy dit dan, soos jy sekerlik nog altyd vermoed het: liefde, geld, en iets wat jy doen vir die suiwer genot daarvan. Dit hang van jouself af watter een die belangrikste is, of watter een die meeste van jou tyd verdien. Persoonlik dink ek ons kan almal doen met ’n kitaar, maar nie eers Jimi Hendrix kon oorleef sonder liefde of geld nie. En onthou, die kennis dat brood jou honger kan wegvat, is nie voldoende om jou maag op te vul nie. Jy moet uitgaan en vind wat jy nodig het, anders gaan jy opeindig as ’n eensame en honger dwaas, maak nie saak hoeveel jy weet of verstaan nie.

Dit bring ons dan by die einde van hierdie deel van die bespreking. Indien jy egter jouself bevind tussen ’n klein groepie mense wat nie tevrede is met genoeg geld, ware liefde en ’n behoorlike stokperdjie nie, nooi ek jou uit om voort te lees aan die derde en finale deel van hierdie stuk.

DERDE EN FINALE DEEL

“Like [the Scottish moral philosopher] Adam Smith and others, [the German intellectual] Von Humboldt felt that at the root of human nature is the need for free, creative work under one’s own control.” ~ Noam Chomsky, Secrets, Lies And Democracy

Ek verdien geld, om ’n paar van die basiese behoeftes wat ons bespreek het te vervul, deur Engelse lesse aan te bied vir Taiwannese kinders. My weeklikse werkskedule bestaan uit ’n lappieskombers van klasse by verskillende skole – ’n paar ure hier, ’n paar daar, en so aan. Om te kwalifiseer vir die dokumente om wettiglik in Taiwan te kan woon, hoef ek slegs elf ure per week klas te gee by die skool wat my werkspermitaansoek elke jaar borg (ek doen in werklikheid slegs agt ure per week by hierdie instelling). Elke uur wat ek in ’n klaskamer spandeer meer as die elf ure wat ek wettiglik per week moet klasgee, vermeerder my inkomste. Ek is egter altyd bewus van die feit dat ek nie verplig is om die ekstra ure in ’n klaskamer te spandeer nie. Om nie enige ekstra klasse te doen nie, sal natuurlik ’n negatiewe uitwerking hê op my kontantvloei, en daar is ’n grens wat liefs nie oorgesteek moet word nie.

Elke uur wat ek nié in ’n klaskamer staan om my inkomste te vermeerder nie, is ’n ekstra uur wat ek kan spandeer aan dinge waarin ek belangstel. Gedurende die laaste paar maande was ek druk besig om my klasgee-skedule te herrangskik en te heroorweeg. Die hoofmotivering was om myself meer tyd te gee vir wat Chomsky noem, “free and creative work under one’s own control”.

Ek het ook ’n eenvoudige teorie geformuleer wat verduidelik dat mense slegs volhoubare geluk en vervulling kan ervaar as hulle skeppers is. (Die verbruikerskultuur word, volgens hierdie teorie, beskou as die laagste vorm van kreatiwiteit. Dit werk soos volg: mense het nodig om te skep, maar in stede daarvan om op ’n behoorlike wyse kreatief te wees, gaan hulle winkels toe, maak keuses, en koop dan klere, juweliersware en ander artikels waarmee hulle uitdrukking kan gee aan hulle kreatiewe natuur. Sodoende bevredig hulle hul behoefte aan kreatiwiteit tot ’n mate, hoewel dit in ’n laer graad van kreatiewe proses is as om byvoorbeeld te skilder of musiek te komponeer.)

Voordat ’n mens egter by die Kreatiewe Fase van jou lewe arriveer, moet jy eers die mees basiese uitdaging die hoof bied, naamlik die stryd om elementêre oorlewing. Vir baie mense op hierdie planeet is elementêre oorlewing ’n daaglikse gesukkel. Hulle neem niks as vanselfsprekend nie – nie kos of water, skuiling, of enige iets anders wat baie mense in die middel en hoër strata van die moderne samelewing ag as net nog ’n item op die maandelikse begroting nie. Hulle daaglikse lewens bestaan uit ’n worstelstryd om oorlewing. (Tog kan nie eens hierdie mense die basiese behoefte om te skep ignoreer nie. Hulle skryf of skets teen mure, of hulle kerf beelde verteenwoordigend van hulle lewens uit hout, of klip.)

In veral die middel en hoër strata van die moderne geïndustrialiseerde wêreld slaag meeste mense egter redelik goed daarin om die basiese stryd om oorlewing die hoof te bied. Hulle woon in huise of woonstelle met lopende water en elektriese krag, en hulle het stapels kosvoorraad in yskaste en kombuiskaste (en soms gerieflik na aan die TV). Talle het toegang tot geld in ’n bankrekening, of het kredietkaarte waarmee hulle na nabygeleë plekke kan gaan om die kos te kan koop wat hulle nodig het om aan die lewe te bly. Hulle het ook toegang tot mense wat spesiaal opgelei is om hulle te versorg wanneer hulle siek of beseerd is. ’n Kru, daaglikse stryd om fisiese oorlewing is nie meer deel van die moderne samelewing nie (vir die meeste van die burgers van die moderne samelewing, in elk geval). Om ekonomies aktief te wees, as beide arbeiders en as verbruikers, het die basiese stryd vervang wat ons voorouers se lot was in meer primitiewe tye.

Toe die antieke Grieke en Romeine die betekenis van die lewe, idees oor Goed en Sleg, en die noodsaaklikheid van geluk gekontempleer het, het hulle samelewings ook reeds verby die primitiewe stryd om fisiese oorlewing gevorder. Hulle kon inderdaad die luuksheid van filosofie bekostig. As Sokrates of Plato elke dag ’n spies moes gryp om ’n wilde vark te gaan jag in die bosse, om hulleself en hulle families aan die lewe te hou, sou hulle nie tyd gehad het om in mooi geboue rond te sit en die fyner punte van menslike bestaan te bespreek nie. Dieselfde kan gesê word van Michelangelo of Leonardo da Vinci, en die tyd en omgewings waarin hulle geleef en gewerk het. As hulle elke dag moes jag, of voedsel in die woud moes versamel, of klein lappies grond moes bewerk sodat hulle en hulle meesters graan kon hê vir brood, sou hulle definitief nie nog tyd gehad het om katedrale te beverf, of portrette te skilder van ryk handelaars se vrouens nie.

Sekerlik kan dit gesê word dat Sokrates & kie nie net filosofiese vraagstukke gekontempleer het tot diep in die agtermiddag omdat hulle gehou het van hulle eie stemme nie, maar omdat hulle nodig gehad het om sekere vrae te vra; dat die kreatiewe, intelligente proses van antwoorde bedink aan hulle ’n mate van bevrediging besorg het, kan ook nie betwyfel word nie. Selfde met Da Vinci en sy kollegas in die wêreld van die skeppende kunste; hulle het heel waarskynlik nie net geskilder omdat hulle gehou het van verfspatsels op hulle gesigte, of omdat hulle gereken het kuns is ’n orraait manier om ’n paar silwerstukke te verdien nie – hulle skeppende werk was ook, so glo ek, gedryf deur ’n inherente begeerte om te skep.

’n Denker van Sokrates se kaliber word nie sommer raakgeloop in enige moderne universiteit of akademiese instelling nie, en min skilders is in die klas van Da Vinci. Omdat ons almal dieselfde basiese “ontwerp” deel, glo ek egter dat die behoeftes waaraan antieke filosowe en die meesters van die Renaissance uitdrukking gegee het in hulle onderskeie werke, dieselfde behoeftes is wat ook ons in die 21e eeu dryf tot skeppende ondernemings (al ervaar ons behoeftes op verskillende maniere, en in verskillende grade van intensiteit).

Ervaar ons dus almal die behoefte om kuns, of musiek, of filosofiese werke te skep, of te produseer? Nee. Dit is waar dat baie van ons onsself gelukkig ag om net elke dag werk toe te kan gaan, by die huis te kom in die aande, aandete te geniet, en óf op die hond óf op die TV te gil (afhangende van watter een ons eerste irriteer). Min van ons is egter tevrede met ’n lewe wat beperk is tot hierdie dinge. Ons rangskik die dekor van ons woonplekke, plant die tuin vol blomme, koop mooi goed vir die huis, en maak kinders groot. In baie gevalle is ons nie eens bewus daarvan dat hierdie dinge fundamenteel kreatief is nie. Ons sien dit byvoorbeeld as ’n natuurlike resultaat van die huwelik om kinders te verwek, en tog is die proses van kinders grootmaak een van die mees kreatiewe van alle skeppende prosesse – om betrokke te wees in die skepping van ’n nuwe mens.

Dit is reeds genoem dat Stryd om Oorlewing nie dieselfde is as ’n paar eeue of millennia gelede nie. Die gedagte dat stryd, per se, deel is van die verre verlede, is egter baie ver van die waarheid af. Hoewel ons nie meer nodig het om leeus of bere uit hulle grotte te stoei nie, stry ons steeds voort op ander maniere. En in sommige gevalle is dit nie veel minder angswekkend as om weg te hardloop van ’n gewonde blouwildebees nie.

Ons stryd vandag, tot ’n groot mate, is egter nie meer fisiek nie. Die interessante ding is dat ons steeds somtyds fisieke krag meer bewonder as intellektuele krag, en waagmoed in ’n situasie wat ’n fisieke bedreiging is meer as manjifieke talent op die gebied van kuns. Vele respekteer steeds die vermoëns wat hulle aan die lewe sou gehou het 5000 jaar gelede, ongeag die gebrek aan geleentheid vir toepassing daarvan op hulle werklike daaglikse lewens in ’n veel meer gesofistikeerde wêreld.

Ons word gebore met die instink om te veg, en om die oorhand te kry oor dit wat ons bestaan bedreig. Maar wat gebeur met hierdie instinkte wanneer ons wêreld veilig genoeg raak, en ons nie meer ons vermoëns om fisiek te veg kan slyp op die reuse tande van ’n mammoetbul nie?

Die lewensenergie en die instinkte waarmee ons gebore word, is dieselfde as die lewensenergie en instinkte waarmee ons oervoorouers gebore was. Laasgenoemde het geleef in baie primitiewer, en baie gevaarliker omgewings. Vandag stry en baklei ons onder mekaar, en net soms is hierdie argumente dit werd om onthou te word. Ons kla, en ons kerm, en ons kritiseer elke persoon en elke ding wat ons sensitiewe karakter net effens irriteer …

———————

[En dis so ver as wat ek gekom het met hierdie ambisieuse stuk.

My vraag aan die einde was dit: Wat maak ons met ons vegtersinstink in ’n wêreld wat op soveel wyses verskil van die primitiewer wêreld van ons voorouers? Sommige mense soek – bewustelik en berekend, of sonder om daaraan te dink – na geleenthede om steeds hierdie instink te benut. Voorbeelde wissel van professionele atlete (boksers sou die beste voorbeeld wees), tot soldate, jong gangsters wat tyd spandeer in omgewings waar hulle weet konflik ’n belowende moontlikheid is, tot mense wat alewig rede soek vir ’n argument.

Is daar ’n alternatief? Die idee wat ek met groot entoesiasme aan die einde wou voorstel (voor my aandag afgetrek was), is dat ons die vegtersinstink waarmee ons gebore word, moet gebruik as kreatiewe energie as ons dit nie meer hoef te gebruik, op ’n daaglikse basis, vir fisieke stryd ter wille van basiese oorlewing nie; anders mors ons dit op simpel argumente, nuttelose gekerm, en allerhande up-to-no-good ondernemings. Sekerlik is daar ook steeds areas waar hierdie instink in sy meer primêre vorm aangewend kan word tot ’n goeie doel – voorbeelde sluit in brandweer-, noodhulp-, en polisiedienste.

Het ek die oorspronklike vraag na die doel van my lewe opgelos? Nog nie. Het ek meer duidelikheid gekry oor wat ek wil doen met my lewe, of wat betekenis aan my bestaan sal gee? Het ek uitgewerk wat die rede is vir my bestaan? Het ek geslaag daarin om te verklaar wat ’n mens gelukkig maak? Wel, ’n paar vrae is geformuleer, en ’n paar moontlike antwoorde getoets. Die proses gaan voort.]

______________________

’n Mees belangrike les

SATERDAG 10 FEBRUARIE 2001

Mense respekteer mag.

Mense respekteer finansiële mag, dit weet almal, maar hulle respekteer ook die mag van ander vermoëns: die vermoë om ander na hulleself aan te trek, die vermoë om karre reg te maak, die vermoë om ’n musikale instrument op ’n meesterlike wyse te manipuleer, om net ’n paar te noem.

Vat byvoorbeeld ’n talentvolle kitaarspeler wat vriend of vreemdeling vir ure lank kan vermaak met sy kitaarspel. Dit mag moontlik wees dat hierdie ou nie te veel belangstel in geld maak nie. Kom ons sê behalwe vir die deeltydse werk wat hy doen gedurende die dag (wat niemand beïndruk nie), speel hy ook in kroeë en koffiewinkels ’n paar nagte van die week. Hy maak genoeg geld om te betaal vir sy spartaanse woonplek en hy kan die mees essensiële kruideniersware bekostig (en elke nou en dan nuwe kitaarsnare). Hierdie ou sal heel moontlik nooit ryk wees nie. Sy ambisie is om mense te vermaak of te inspireer met sy musiek, maak nie saak hoe klein of hoe groot die gehoor is nie. Dat die respek wat sy kant toe kom sal vermenigvuldig as hy goed kitaar kan speel én hope geld daarmee maak, is tot ’n mate onbelangrik. Mense sal hom respekteer vir die mag wat hy het om iets te kan doen wat meeste nie kan doen nie – om kitaarsnare op so ’n manier te druk en te slaan dat die lug gevul word met harmonieuse klanke.

Watse tipe vermoëns of vaardighede dwing respek by mense af? Een voorbeeld: die vaardigheid wat iemand self al vir ’n geruime tyd begeer om te bemeester, maar wat hulle nog nie kon baasraak nie. Om dan te sien hoe iemand wat hierdie einste vaardigheid bemeester het, beloon word met ander se respek, verskerp hulle begeerte om die mag van hierdie vaardigheid vir hulleself op te eien.

Respek bepaal jou plek in die gemeenskap. Om nie gerespekteer te word nie, beteken dat jy as ’n nul op die spreekwoordelike kontrak behandel word. Aan die ander kant, om gerespekteer te word vir iets waarvoor jy gerespekteer wíl word, beteken dat mense met jou wil assosieer. Wanneer mense sien dat ander met jou wil assosieer, behandel hulle jou gewoonlik met meer respek, wat weer jou bewussyn van eiewaarde en dat jy êrens behoort, verskerp. Om nie gerespekteer te word nie, verminder jou sin van eiewaarde. Hierdie verlaagde sin van eiewaarde verhoog dan die waarskynlikheid dat jou verskynings ’n swak indruk sal laat op mense, wat mense derhalwe nog minder rede gee om jou te respekteer. Hierdie onvleiende verskynings het ook die ongewenste effek dat jy nóg minder sal voel dat jy êrens behoort, wat jou gevoel van eiewaarde nóg meer sal ondermyn. Dat die kringloop boos is, is nie te betwyfel nie.

Mense respekteer mag – die vermoë om iets te kan doen wat hulle self wil doen, maar wat hulle nog nie bemeester het nie, of nooit sal bemeester nie. Hierdie is ’n insig wat nou al vir jare by my spook. Dit is inderdaad een van die belangrikste lesse wat ek geleer het gedurende die afgelope meer as ’n dekade van my volwasse bestaan.

______________________

Ballingskap 5?

“You play out your happiness on a piano that is not infinite.” (Uit: The Legend of 1900)

VRYDAG 8 DESEMBER 2000

(Dis drie maande sedert my laaste essay.)

Dis nie altyd maklik om stil te sit, ’n bietjie na te dink, en dan die varsheid van ’n oop stuk papier te vernietig in ’n poging om saam te vat waar jou lewe op ’n spesifieke tydstip staan nie. Om die moeite wat so ’n Groter Beskouing verg, vry te spring, sou ek vroeër die TV wat nie meer programme kon opvang nie aanskakel, en tot die einde van frustrasie Super Mario gespeel het. Toe koop ek my vierde Pearl Jam album. Drie dae later koop ek vir my ’n elektriese kitaar. En ’n paar weke daarna ’n keyboard. ’n Blokfluit en twee mondfluitjies het oor die volgende paar maande gevolg. Wanneer die gewete roep vir ’n hernude klim na die heuwel bokant my lewe – om te kyk in watter rigting die winde waai, om te kan sê, “Oukei, dis waar ek staan,” kyk ek deesdae ander pad, gryp ’n kitaar, en probeer ’n paar nuwe drukke. Die tyd het egter gekom.

Dis die agste Desember. Daar’s nog drie weke oor voor Kersfees, en dan nog net ’n paar weke voor die wintervakansie. Meer as twee maande het ook al verby gegaan sedert ek veronderstel was om, volgens ’n voorspelling vroeg September, ’n “complete physical, mental and spiritual breakdown” te hê. Dit gaan goed met my, ondanks die feit dat daar steeds niemand is om die goeie dinge mee te deel nie.

Maar … BALLINGSKAP! Die afgelope paar weke was baie insiggewend wat hierdie tema aanbetref. Ter wille van verheldering kan dit genoem word dat die idee se oorsprong – in my betrokke geval – lê in Korea, toe ek gesê het ek is in “economic exile”, weg van die druk van die konvensionele middelklas in die Republiek van My Geboorte. Ek het ook gesê dat ek my ballingskap sal ophef wanneer ek “sufficiently empowered” is om in Suid-Afrika op eie terme te kan leef. Ek het uiteindelik teruggegaan na twee jaar, nie omdat ek “sufficiently empowered” was nie, maar omdat ek gevrek het van eensaamheid. Ek het ’n paar idees gehad oor wat ek wou doen – hardly watertight, maar soos die movie gesê het in die vliegtuig op pad terug, “a good idea today is better than no idea yesterday” (of so iets).

Ek is nou al amper twee jaar in Taiwan, en soos die titel van hierdie stuk aandui, is hierdie nie die eerste woorde wat ek skryf oor die onderwerp van ballingskap nie. Ek probeer gewoonlik om nie Sondagaandblues-geïnspireerde idees oor die opheffing van my ballingskap ernstig te vat as dit nie hou tot ten minste Maandagaand nie, maar die afgelope paar weke het die blues-geïnspireerde idees ’n betreklike rypheid bereik (ek skryf immers hierdie essay op ’n Vrydagoggend).

[…]

Ek het ’n paar maande gelede die oortuiging begin verkondig dat die lewe wat ons expat teachers het in Taiwan bevorderlik daarvoor is dat ons onsself bedrieg. Wat het ek bedoel daarmee? As ’n foreign English teacher in Taiwan kan mens lekker geld maak sonder om jouself dood te werk. Jy bly in ’n ruim woonstel; jy’t ’n paar luukshede wat jou lewe gemaklik maak; jy kan bekostig om jouself te bederf met artikels soos Japannese sonbrille en Amerikaanse tekkies; en jy leef ’n eksotiese lewe in die Verre Ooste (eksoties in vergelyking met die lewe waarmee ék in elk geval grootgeword het in ’n soort van middelklas voorstedelike omgewing). Maar niks van hierdie dinge maak jou gelukkig as daai oer-behoefte om êrens te behoort, nie vervul word nie. So dink jy dalk jy’s oukei, tot jy een Sondagoggend wakker word met ’n babelaas van nog ’n Saterdagaand wat jy op jou eie gespandeer het (om die aand saam met ander foreigners deur te bring is ook maar net soos om lekkers vir ’n honger kind te gee). Teen Sondagaand besef jy weereens dat jy jouself baie gemaklik gemaak het op ’n plek waar jy nie werklik behoort nie. Om jouself dan beter te laat voel, ry jy na die naaste musiekwinkel toe om geld op nog CD’s te spandeer, net om te hoor hoe Bob Dylan vir jou preek dat jy nie “paradise” moet verwar met daai “home across the road” nie [uit “Ballad of Frankie Lee and Judas Priest”].

Dit bring my toe op die punt wat ek ’n nuwe oortuiging in die wind wou gooi: dat ek nooit sal voel ek behoort hier nie – met die uitsondering as ek trou met ’n Taiwannese vrou, wat die plek persoonlik sal maak tot so ’n mate dat dit sal kan kompeteer met die land van my geboorte.

In die afwesigheid van enige betekenisvolle verhouding met ’n vrou van hierdie land was dit dus onafwendbaar dat ek weer sou terugkeer na ’n paar ou vrae: Wat presies maak ek hier? Gaan ek hier bly vir die res van my lewe? Indien nie, sal ek terugkeer Suid-Afrika toe? Indien daar wel goeie redes gevind kan word hoekom ek moet teruggaan, wanneer? Die belangrikste vraag wat dan na vore tree is presies wat ek sal doen wanneer ek terug is.

Dit sal dalk waarde hê om myself (en dalk die leser) te herinner aan die redes hoekom ek in November 1998 besluit het om, ten spyte van wat ek gesê het in Mei van daai jaar, weer my rugsak te pak en terug te kom Ooste toe. Ek het dit geniet om tussen my eie mense te wees, om my familie elke paar weke te sien, en om uit te gaan met vrouens met wie ’n man ’n behoorlike gesprek kon voer. Hoekom was ek bereid om hierdie en baie ander dinge weer op te gee? Ek het gewoon in ’n bediendekamer in die agterplaas van ’n vriend se erf; al my meublement was gemaak van weggooiplanke; my matras het bestaan uit ou stukke spons wat ek aanmekaar geplak het; ek het nie ’n kar gehad nie; ek het R2600 per maand verdien, waarvan ek R2000 aan my studieskuld moes afbetaal, en ek het gewerk in ’n administratiewe kapasiteit by die bedryf van reeds genoemde vriend wat so welwillend was om my toe te laat om gratis op sy erf te woon. Daar was sekerlik ander opsies, maar my ambisies en my persoonlike politiek was van so ’n aard dat om terug te kom Ooste toe geblyk het die enigste werklike oplossing te wees.

Wat ek in die afgelope twee jaar hier gedoen het, was veel, veel meer as wat ek gedink het ek sou doen. Die oorspronklike idee was om geld te maak, en om my skuld af te betaal. Ek sou dan een of ander tyd terugkeer Suid-Afrika toe, ’n huis koop, en op die stoep sit en vir almal wat verbystap, middelvingers gooi. Ek wou vry en onafhanklik wees.

Dit het my nie lank gevat voor ek besef het dat ek hierdie doelwitte moes kwalifiseer nie. Om “vry en onafhanklik” te wees, so het ek gereken, kan ook impliseer dat niks en niemand regtig vir my saak maak nie: Geen vrou nie, geen kinders nie, geen verpligtinge of verantwoordelikhede nie.

’n Duideliker formulering het soos volg gelyk: om die vryheid te hê om te kan kies wat ek wil doen, en myself hoofsaaklik daarmee besig te hou; om onafhanklik te wees van base en besighede en instellings wat wil dikteer hoe ek moet lyk, wat ek moet sê, en hoe ek ’n groot deel my dag moet spandeer – net omdat ek afhanklik is van die geld wat hulle na my bankrekening toe kanaliseer aan die einde van elke maand.

Siende dat ek nog nie heeltemal in ’n posisie is om middelvingers te lanseer nie, kan dit dus met betreklike sekerheid gesê word dat ek tans vasgevang is tussen my ambisieuse doelwitte en my werklike situasie.

Twee oplossings bestaan vir hierdie dilemma. Die een is ’n welbekende fantasie: die ontelbare miljoene wat jy jou eie kan noem as jy die Britse Lotery gewen het. Die ander oplossing is om werksgereedskap in te win waarmee jy vir jouself onafhanklikheid kan bewerkstellig van jou ekonomiese meesters. In my geval kom dit tot ’n groot mate daarop neer om ’n goeie rekenaar te besit.

Om oor al die gereedskap te beskik wat jy benodig, en gereeld gebruik te maak daarvan, betaal natuurlik nie outomaties die huur aan die einde van die maand nie. Aanvangskapitaal is dus noodsaaklik. Dit is om hierdie rede dat ek steeds my woonstel elke dag verlaat om ’n diens te lewer waarvoor daar op hierdie plek ’n aanvraag is, naamlik Engelse lesse wat aangebied word deur “an actual speaker of the language” (wat in meeste gevalle neerkom op ’n ander kleur vel, en soms ander kleur oë as al die plaaslike Engelse onderwysers wat soms meer bekwaam is om dieselfde werk te verrig).

Een ding is egter belangrik om te noem in hierdie bespreking van my edel stryd om onafhanklikheid – ek beplan nie meer om genoeg geld te akkumuleer om ’n huis te koop en vir die res van my dae op die stoep te sit en vir mense wat verbystap deuntjies op die blokfluit te speel nie. Die idee is om hierdie gereedskap wat ek bymekaar begin maak het eerder te gebruik om ’n gereelde inkomste te verdien. Hierdie proses om die Skepping van Kreatiewe Werke my inkomste-genererende besigheid te maak, het reeds begin.

[…]

[In die res van die stuk het ek die beginsels probeer verduidelik daarvan om jou kreatiwiteit te gebruik om ’n inkomste te genereer. Ek het egter vasgeval in lang sinne wat nie heeltemal gesê het wat ek wou sê nie, en het die proses gestop in die middel van een van hierdie sinne. Die idee en die argument daaragter word wel voortgesit in ander stukke.]

______________________