Dag in die dorp

VRYDAG 20 AUGUSTUS 2004

Middag, tussen vier en vyf, onder ’n boom; ligbruin sokkies, ou vellies, groen kortbroek, geel onderbroek, en rooi kortmouhemp met wit spikkels op.

Nou net teruggestap van die dorp af, laaste deel oor ’n stofpad, tot op die plot. Het in die dorp drie boeke gekoop vir die totale koste van een R5-muntstuk: Toe Witmense Arm Was, ’n Truman Capote boek, en die draaiboek vir ’n Italiaanse toneelstuk met die titel, Six Characters In Search Of An Author. Draaie gemaak by tweedehandse meubelwinkels, banksake gedoen by Standard Bank en Postnet, en toe by die Spur middagete geëet.

By die Spur het ek gesit in die rokersarea. ’n Ouerige dame het alleen by ’n tafel agter my gesit. Ek weet nie wat sy gedrink het nie, maar sy’t vroeg al “Nog een!” in die rigting van die naaste kelner geroep. Ook alleen was ’n aantreklike jong vrou by ’n tafel skuins oorkant my. Sy het die hele tyd op haar selfoon gepraat, yskoffie gedrink, en die een Paul Revere na die ander gerook.

Ek het bestel ’n Spur burger vir R23.95, knoffelsous vir R7.95 en ’n Black Label vir R9.95. Ek het die Streeknuus (R1) gelees, en twee Nat Shermans opgevlam met Lion vuurhoutjies.

In die middel van die dorp het ek ’n paar interessante feite op ’n kennisgewingbord gelees: Pretoria is 50 kilometer van Bronkhorstspruit af, Kaapstad 1 380 kilometer, Johannesburg 100 kilometer, Taipei 11 620 kilometer en Hong Kong 10 800 kilometer. Daarna het ek teruggestap plot toe.

Nou sit ek onder ’n boom, en hoor ’n stem wat onderlangs mompel: Lewe is … duiwe wat koer, karre wat verby ry, die wind wat deur die blare waai, iets tussen my tande, voetstappe in die agtergrond, voëls en insekte wat lawaai in die bome, die reuk van groentesop uit die kombuis, ’n radio wat lounge music uit die sestigs speel, ’n telefoon wat lui …

______________________

Die kluisenaar en sy geliefdes

VRYDAG 13 AUGUSTUS 2004

Die kluisenaar (en sy geliefdes), notas I

Ek het vandag, Vrydag die dertiende, weereens besef hoekom sommige mense kluisenaars word. Dis die stilte, die afwesigheid van konfrontasie met mense wat jou nie verstaan nie, wat nie begryp wat in jou kop aangaan nie, wat jou verkeerd verstaan; ook die afwesigheid van jou eie stem as jy jouself nogmaals probeer verduidelik.

Die kluisenaar gee dus tot ’n groot mate op in sy poging om verstaan te word en om aanvaar te word binne die gemeenskap, selfs deur dié wat hy liefhet.

SONDAG 15 AUGUSTUS 2004

Die kluisenaar (en sy geliefdes), notas II

Ek is lief vir my familie, soos hulle vir my, maar tussen hierdie liefde en die manifestasie daarvan is baie misverstand, en baie frustrasie.

“Praat met hulle daaroor,” sal iemand sê.

Ek kan nie, want hulle kan nie luister nie. Hulle is vasgevang in hul eie onsekerhede en vrese wat, soos dit blyk, nooit behoorlik gekonfronteer is nie. Ek praat teen ’n muur vas, en daar is altyd onderliggende frustrasie en verbale aggressie in hul reaksie. En soms is hierdie frustrasie en verbale aggressie ook teenwoordig in my eie spraak.

My ouers het my lief, maar ek glo hulle respekteer my nie. Die hoofrede is omdat hulle my beoordeel volgens sekere standaarde.

Hulle respekteer my ouer suster, omdat sy gekwalifiseer het vir ’n sekere beroep, ’n vaste betrekking gekry het by ’n groot maatskappy, en “goeie geld” verdien.

Hulle respekteer my jonger suster omdat sy hard probeer het oor die jare om haar eie lewe op te bou op spore waarmee hulle kan vereenselwig – werk, geld, trou, huis-opsit.

In teenstelling met my twee susters val ek uit die bus uit met “kreatiewe onafhanklikheid”, “intellektuele verligting”, “die Verligte Enkeling”, “om los te kom van die arbeider-baas verhouding”, “taal as identiteitskepper”, en “godsbegrip in ’n mens se soeke na sy of haar eie identiteit”.

Ek glo nie een van die mense wat ek inniglik liefhet, verstaan hierdie dinge nie! En dis nie omdat dit bokant hul intellektuele vermoëns is nie – nie een van my gesinslede is onnosel nie. Maar begrip vir die terme “kreatief” en “onafhanklikheid” beteken nie jy gaan verstaan as iemand nie arbeid wil verrig wat sal vereis dat hy sy kreatiewe onafhanklikheid moet prysgee nie – wat ook al die prys daarvoor.

Reaksies op wat ek te sê het, is daar wel. My ouer suster glo ek dink te veel. My jonger suster stel nie belang in my “denke en opinies” nie. En my ouers is net mense – hulle het hul eie begrip van dinge, en enige iets wat dit deurmekaar krap, of wat hulle nie kan begryp nie, lei tot ’n reaksie van verbale aggressie.

Ek is inniglik lief vir my ouers en my twee susters, en ek voel baie maklik jammer vir hulle. Maar om hulle tot beter begrip te probeer lei met verbale kommunikasie, is feitlik onmoontlik. Ek praat in ’n taal wat hulle nie verstaan nie. My wêreld is nie húlle s’n nie. Ek blameer hulle ook nie; ek gee slegs uitdrukking aan my eie frustrasie.

* * *

Wat is familie? Dis individuele entiteite wat deur die noodlot bymekaar gegooi is, en wat deur duisende dae in noue kontak met mekaar te spandeer, lief geraak het vir mekaar. Maar om te verwag dat hulle jou noodwendig moet verstaan omdat hulle lief is vir jou, is om een en vier bymekaar te gooi en te glo jy gaan twee kry. Ek moet die situasie aanvaar soos dit is.

______________________

Aangetrokkenheid tot stilte

SONDAG 15 AUGUSTUS 2004

Ek is skielik baie aangetrokke tot stilte, soos om by of in ’n oop stuk veld te sit, en net te luister, en miskien met myself ’n fluistergesprek te voer.

Mens sal moontlik reken dit het te make daarmee om nie te wil verskyn nie, en die instink om jouself te beskerm. Ek glo dat ek toenemend vervreemd raak van mense omdat meeste mense wat ek ontmoet, nie op dieselfde reis is as ek nie – intellektueel gesproke, maar dit kan ook gesien word as ’n spirituele proses.

As ek myself byvoorbeeld bekeer het tot ’n ortodokse weergawe van Judaïsme, sou my verhouding met familielede en sommige ou vriende op ’n soortgelyke vlak van vervreemding gewees het as wat nou die geval is. Maar nou is die oortuigings wat ek vir myself uitgewerk het, my eie geloof, met geen eksterne parafernalia soos kleredrag en spesifieke styl gesighare wat gedeel word met ander in ’n geloofsgemeenskap nie, soos in die geval van byvoorbeeld ortodokse Jode. Ek probeer dus steeds herkenbaar wees (“soos julle my nog altyd geken het”), maar dit raak toenemend moeilik.

———–

[Tot ’n mate neem ek nie my familie kwalik nie. Hulle is lief vir my, en wens moontlik dat ek “meer soos ander mense kon wees” omdat hulle oortuig is van die feit dat ek miserabel is meeste van die tyd. Dit is ook moontlik dat as ek nie so hardkoppig was nie, en nie soveel vreemde oortuigings gehuldig het nie, hulle miskien makliker met my kon vereenselwig.

In terme van baie dinge waaroor ek praat is ek inderdaad ’n vreemdeling vir húlle wat my al ’n leeftyd ken, en omdat hulle nie die proses dag-in-en-dag-uit met my saamleef nie, weet hulle nie aldag waar ek uit die spreekwoordelike bus val nie.]

____________________

Gemeenskap – verligting – maatreëls – identiteit

VRYDAG 13 AUGUSTUS 2004

Gemeenskap, of intellektuele/spirituele verligting

09:07

Terug na die gedagte van gemeenskap, of intellektuele/spirituele verligting. Dis ’n praktiese en waardevolle illustrasie van die proses van identiteitsvorming.

Die persoon wat kies vir Verligting, sê: Ek spandeer baie tyd op my eie; ek konformeer nie onnodiglik aan konvensies nie; ek streef na kennis en begrip.

Iemand wat Gemeenskap kies, sê: Ek spandeer heelwat tyd met familie en vriende; ek is deel van ’n intieme gemeenskap op ’n daaglikse basis.

Ek kan verder gaan en name gee aan hierdie twee opsies (ongelukkig albei mansname): Johannes die Doper vir Verligting, en Jack Campbell vir Gemeenskap (vernoem na die Nicolas Cage karakter in die film, Family Man).

Die vraag is dan: Wie is jy, Johannes die Doper, of Jack Campbell (of die vroulike weergawes van hierdie karakters)?

My eie voorlopige antwoord (hoewel dit effens skrikwekkend klink) is, Jack die Doper – of dan, Johannes “Family Man” Campbell.

10:13

Ek is uit die aard van die saak baie gemaklik met die idee van die Woestynloper, wat homself nie onnodiglik steur aan konvensies nie.

Ek is baie gemaklik daarmee om Johannes die Verligte te wees, vandag, en môre, en volgende week. Maar op die langtermyn is dit ’n ander saak – dan skop sterk visioene van Jack the Family Man in.

Maatreëls en “werklike” identiteit

Ons tref maatreëls om ongerieflikhede soos eensaamheid te verlig, en hierdie maatreëls raak verweef met hoe ons onsself sien, en hoe ons verskyn aan die wêreld. Tot watter mate is “ek-as-resultaat-van-maatreëls” die “ware ek”, en tot watter mate is die maatreëls amper ’n hindernis tot wie jy “werklik” is? Of moet maatreëls eenvoudig aanvaar word as een van die boustene van identiteit op dieselfde wyse as wat ’n mens die erflike inligting in DNS aanvaar as boustene van identiteit? Tog, maatreëls verander maklik met omgewing … wat jou terugbring by die glibberigheid van “werklike” identiteit.

______________________

Drie sake na middagete

DONDERDAG 12 AUGUSTUS 2004

12:32

* werksgeleentheid by my ouers se pottebakkery

* komplekse verduidelikings van jou “situasie” as jy nie net kan sê, “Ek bespreek dit met my lewensmaat nie.”

* Intellektuele Verligting vs. Gemeenskap (Taiwan of Suid-Afrika)

Moet nou eers Spur toe gaan …

Later … ± 16:30

Die posisie by my ouers se pottebakkery is Personal Relations, part-time. My jonger suster noem toe die redes hoekom sy by haar vorige werk (ook op Bronkhorstspruit) bedank het, en hoekom sy derhalwe nou by die bedryf werksaam is. My pa noem toe die idee dat dit inderdaad ’n familiebesigheid moet wees.

Ek meen toe dat dit ’n goeie tyd is om te noem dat dit nie vir my dieselfde sal wees as vir my jonger suster wat net kon bedank, nog steeds in dieselfde huis kon bly, en toe by die besigheid kon inskakel nie. Dat ek my hele lewe in Taiwan stuk-vir-stuk sal moet afbreek, moet inpak, en dit wat verskeep kan word, hiernatoe bring. Ook vriendskappe wat ek in Taiwan het, sal nie meer op dieselfde wyse deel wees van my lewe nie. Nuwe verhoudings sal bewerkstellig moet word op ’n nuwe plek om te kompenseer vir die sosiale gemeenskap wat ek nou het op ’n ander plek.

Ek noem toe ook verder dat in die tien jaar wat dit gevat het om die familiebesigheid op te bou, ek ander maatreëls getref het om in my eie welstand te kan voorsien. Hierdie maatreëls kan nie net oornag laat vaar word omdat daar ’n posisie vakant geraak het in die familiebedryf nie.

’n Paar minute later besef ek die ongenoemde faktor in die hele bespreking is die feit dat ek alleen is. As ek getroud was, het ek bloot gesê, “Hmm … goeie moontlikheid. Ek sal dit met Sannie bespreek.” En dit sou die einde van die gesprek gewees het. Maar Alleenloper Brand het soos gewoonlik die opsie geneem van lang, vervelige verduidelikings, wat “almal in elk geval weet”.

Ek reken toe ook, tydens die smoke break onder die boom kort daarna, dat een van die dinge wat my ongemaklik maak daaroor om Taiwan te verlaat, is die Omgewing en Daaglikse Roetine wat Bevorderlik is vir ’n Proses van Intellektuele Verligting. Reken ek toe, ek kan moontlik enige tyd in Taiwan iemand ontmoet met wie ek meer tyd wil spandeer, en dan is my Daaglikse Roetine ook in sy moer in.

Ek besef toe dat dit ’n kwessie is van Gemeenskap (hier of in Taiwan), óf Intellektuele Verligting (of dan my beskouing van Intellektuele Verligting).

Laastens dring die gedagte homself ook by my op dat my soeke na Intellektuele Nirvana nie volhoubaar is nie. Ek het Gemeenskap nodig. En as ek uiteindelik Gemeenskap moet kies bo Verligting, hoekom dan nie in Suid-Afrika nie?

(Het ek ’n week gelede geweet ek gaan hierdie tipe notas maak sodra die Hoëveldse lug my neusgate tref? Ja, ek het geweet dinge sal noodwendig weer bedink word.)

______________________