Maatreëls vir oorlewing – stemme wat vrees

VRYDAG 1 OKTOBER 2004

Tandeflos, en ander maatreëls vir oorlewing

Ek het gisteraand vir my tandestokkies, nuwe skeerlemmetjies, tandeflos en cotton buds gekoop. Vanoggend het ek ontbyt geëet, en toe later by die oggendmark gekoop wortels, appels, iets vir middagete, en twee 500 milliliter koppies groentee. Toe gaan haal ek water, en terug by die huis het ek my twee bottels volgemaak, en in die yskas gesit.

Wat beteken al hierdie dinge? Watse waarde het dit op die Groter Doek van My Lewe? Alles – die tandeflos, die wortels, die water, en al die ander dinge – is maatreëls wat bevorderlik is vir oorlewing. Dit alles dui daarop dat ek ook sover vandag, Vrydag 1 Oktober 2004, nog nie besluit het om op te gee, en “te laat gaan” nie.

SONDAG 10 OKTOBER 2004

Die stemme wat vrees

Die primêre doelwit van die organisme wat die mens is, is om terug te keer na ’n toestand van spanningsloosheid. Op een of ander punt in die mens se lewe begin hy om hierdie toestand te assosieer met die dood – op ’n bewustelike, of onbewustelike vlak.

Probleem is, die mens vrees dit ook om in die nietigheid te verdwyn. Hoekom? Seker maar omdat ons nietigheid assosieer met doelloosheid, en met waardeloosheid. Die gedagte aan nietigheid het dalk juis sy oorsprong in die mens se onsekerheid oor die doel van sy aardse bestaan en die waarde van sy lewe.

Vra ek myself toe, siende dat ek so sit en dink aan hierdie dinge: Vrees ek dit om in die niet te verdwyn?

Ek was in die versoeking om te sê nee, en die saak daar te laat. Maar skielik kliek ’n gedagte êrens in my kop. “Is jy mal?!” hoor ek ’n  stem gil. “Natuurlik vrees ons dit!”

______________________

Redevoering van die middelklas dwelmmisbruiker

SATERDAG 9 OKTOBER 2004

“Ek is verveeld, so nou’t ek nodig om te ontsnap van my vervelige lewe deur myself in te spuit met ’n chemiese konkoksie, of deur een of ander ding te snuif of te rook. Dit sal ’n alternatiewe bewussyn induseer wat my sal laat vergeet van my vervelige lewe.

Hierdie is nie ’n gesonde stokperdjie nie. Dit is ook ’n baie duur en onvolhoubare manier om te deal met my verveling. Maar in stede daarvan om daarmee te deal op ’n gesonder, meer volhoubare en goedkoper manier, kies ek ’n manier wat, as ek nie baie versigtig is nie, van my ’n slaaf sal maak van die maatreëls wat ek gebruik om my vervelige lewe draaglik te maak.

Gelukkig het ek geleer dat om dwelms te gebruik gesien word in populêre kultuur as opwindend, en dat mense wat hulle tyd verwyl op hierdie wyse gesien word as lekker mense om mee tyd te spandeer.

Ek het ook geleer dat mense wat neersien op hierdie idiotiese, onvolhoubare, belaglike duur wyse om te deal met mens se eie gebrek aan verbeelding en gevolglike verveling, actually self vervelig is.

Ek is so verlig dat my sogenaamde vriende – almal natuurlik lekker mense! – my al hierdie handige onsin geleer het. Ek sou regtig nie andersins geweet het hoe om dit te regverdig dat ek ’n casual dwelmgebruiker is nie – en dit is casual, want om dit ’n gewoonte te noem sal eenvoudig onakkuraat wees. Ek meen, ek is nie so fokken onnosel nie!”

______________________

Die beginsel van behoefte

VRYDAG 8 OKTOBER 2004

’n Honger man sit aan by ’n groot tafel, gelaai met die lekkerste kosse. Daar is iets van alles: pizza, pasta, brood en kaas, slaaie, kouevleise, hoenderpastei, braaivleis, poeding, tert, koek, gemors kos, gesonde kos …

Die honger man lê weg, en hy eet sonder om te rus vir meer as ’n uur lank. Daar’s geen manier wat hy al die kos kan verorber nie, so teen die tyd wat hy terugsit, is meer as drie-kwart van die tafel nog bedek met borde, potte en panne vol kos.

Soos die voormalige honger man gereed maak om die etenstafel te verlaat, stap ’n ander honger man die vertrek binne, wat, ter wille van die punt wat ek wil maak, nie mag aansit aan die tafel nie. “Hoe kan jy wegstap van ’n tafel met so baie lekker kos op?” vra die honger ou die ander man. “Daar’s dan soveel kos waaraan jy nog nie eens geraak het nie!”

“Ek verstaan jou ontsteltenis,” antwoord die man terwyl hy sy maag vertroetel. “Maar,” sug hy, “ek is versadig. My behoeftes, wat voorheen presies dieselfde as joune was, is nou bevredig.”

Nou, jy kan die tevrede man kritiseer, hom miskien daarop wys dat hy sy honger gestil het deur net die pizza en die gemorskos te eet. Maar die man sal steeds net sy skouers optrek en verklaar, “Wat kan ek sê? Ek het genoeg gehad. Ek is versadig.”

Gaan hy versadig bly? Heel waarskynlik nie, maar dis ’n ander storie.

Punt is dit: as ’n behoefte nie meer ’n behoefte is nie, dan maak dit nie regtig saak wat enige profeet, digter, of professionele akademikus te sê het nie, want die behoefte … is dan eenvoudig nie meer ’n behoefte nie.

______________________

Oor ape en (sogenaamde) oorspronklikheid

DONDERDAG 7 OKTOBER 2004

Mens word gebore met min of meer geen identiteit nie, behalwe vir ’n naam. Binne enkele maande, of dalk ’n jaar of drie, begin jy ander mense in die omgewing se gedrag en taal na-aap. Soos jy ouer word, smelt hierdie na-apery saam met ander maatreëls om jou persoonlike veiligheid te bevorder – maatreëls wat relevant is tot partikulêre tyd en plek.

Wanneer ’n persoon ver genoeg weg beur van dit wat ander na-aap en goedvind vir hulself, gebeur dit dat die etiket van “oorspronklik” om hul nekke gehang word. Hierdie etiket is natuurlik nooit ten volle akkuraat nie, want selfs die sogenaamde “oorspronklike” kry sy idees van êrens af, geklee in ’n taal wat hy nie self geprakseer het nie.

Die punt hier is graad. Sommige mense aap ander so slaafs na dat mens skaars ’n verskil kan bespeur tussen die een wat nageaap word, en die aap self. En dan is dit natuurlik moontlik dat selfs die model ’n kloon is van iemand anders wat weer aanvanklik iemand anders slaafs nageaap het wat, êrens in die verre verlede, iets gedoen het wat tot ’n betekenisvolle graad verskil het van dit wat ander in daai tyd en plek nageaap het as Modelle van Funksionerende Volwassenheid.

Sê ek mense is gemeganiseerde vlees-kreature wat geprogrammeer word deur die soms subtiele, en soms eksplisiete voorskrifte van ander in die omgewing. Uhm … nee. Net omdat ek op die oomblik ’n paar denims aanhet, is nie te sê ek noem myself “Elvis” nie. Net omdat die buurvrou haar hare tease, is nie te sê sy weet wie Dolly Parton is nie. My punt is eerder dat iemand – wat ek aan gebrek aan ’n beter woord ’n “oorspronklike” sal noem – byvoorbeeld op een wonderlike dag besluit het om in die tradisionele werkersgewaad van denims te klim om inkopies te gaan doen, of om op enige ander uitstappie te gaan as na die naaste fabriek, en die wêreld was nooit weer dieselfde nie.

Die Nuwe Mens – kleuter, tiener, of jong volwassene – kyk na ander in die omgewing vir leidrade oor hoe om op te tree, wat om aan te trek, wat om wanneer te sê, en oor watter klanke gevorm moet word om bepaalde resultate te bewerkstellig. Dit is ’n natuurlike proses. Selfs die rebel wat die eerste keer ’n paar denims aangetrek het om te verskyn in ’n ander omgewing as een waar sy hande vuil sou raak, het opgetree na ander aksies eers geneem was – denim klere was ontwerp en vervaardig lank voor hy dit begin dra het buite sy werksplek. Sy aanpassing van hierdie verskynsel, aan die ander kant, was relatief oorspronklik (dis nou te sê as daar regtig ooit so ’n Eerste Denim Rebel was).

Enkele ander voorbeelde kan genoem word waarmee meeste lesers kan vereenselwig: die woordeskat en uitdrukkings wat mense benut om hulself in die guns van ander te bring; die wyses waarop arms geswaai word op ’n dansvloer; die tipe motorvoertuig waarop besluit word; die arbeid wat mense kies om te verrig om ’n inkomste te genereer; die juweliersware wat mense aanskaf om aan hul ledemate te hang; die oortuigings wat mense huldig aangaande godsdiens, politiek, en wat mens met jou lewe moet doen.

Is dit belangrik om nié te doen wat die spreekwoordelike almal doen nie? Om nie te lyk of te klink soos meeste van jou tydgenote nie? Om nie met jou lewe te doen wat omtrent almal wat jy ken met hulle lewens doen nie? My antwoord op hierdie vrae is intiem verweef met my eie siening van sake, met my eie agtergrond, met my eie onsekerhede en vrese, en met my beskouing van ’n groot persentasie van my tydgenote.

Ek glo wel dat daar drie moontlikhede is: 1) om slaafs na te volg wat deur jou omgewing voorgeskryf word ter wille van aanvaarding deur ’n spesifieke gemeenskap; deur Wie Jy Is te vorm om die aambeeld van wat aan jou voorgehou word as die norm van tyd, omgewing en gemeenskap; 2) om te kyk na wat aan jou voorgehou word as die norm van tyd, omgewing en gemeenskap, sommige van hierdie dinge te aanvaar, en sommige te verwerp in ’n KRITIESE EN KREATIEWE PROSES, en dan te verskyn aan die gemeenskap as ’n eiesoortige weergawe van wat breedweg aanvaarbaar is, en as sulks te funksioneer; en 3) om na voorbeelde en leidrade te soek buite jou onmiddellike tyd, omgewing en gemeenskap, en ’n model van verskyning en funksionering te definieer wat tot so ’n mate verskil van wat oorspronklik aan jou voorgehou is, dat jy en jou lewe ’n primêre voorbeeld word wat ander sal oorweeg in hul eie soeke na leidrade en antwoorde op vrae wat, sal ons toegee, almal op een of ander stadium wakker hou.

______________________

Hiërargie van verhoudings

SONDAG 3 OKTOBER 2004

02:34

Daar is ’n hiërargie van verhoudings: Heel-bo het jy die “sielsgenoot”, dan kry jy die “lewensmaat”, dan die “metgesel”. En dan, al is iemand nie jou sielsgenoot nie, al het julle nie eens genoeg in gemeen om metgeselle te wees nie, en dan definitief ook nie om lewensmaats te word nie, kan julle steeds ’n funksionerende verhouding hê as “minnaars”.

Dit is natuurlik ook so dat jou sielsgenoot ook jou lewensmaat, jou metgesel en jou bedmaat kan wees. Ook dat jou metgesel jou bedmaat is, maar nie jou lewensmaat of jou sielsgenoot nie. En dit is ook moontlik dat jou sielsgenoot nie iemand is met wie jy ooit ’n intieme verhouding sal hê nie. Jou sielsgenoot mag dalk ’n vriend of vriendin wees. Dit mag ook wees dat ’n man sy sielsgenoot vind in ’n vrou wat getroud is met ’n ander man, wat lief is vir haar eggenoot, en toegewyd is aan haar huwelik.

Terloops, wat is ’n sielsgenoot? En wat is die rol van ’n lewensmaat … en ’n metgesel … en ’n bedmaat?

11:48

Die opvatting bestaan dat mens noodwendig seksueel aangetrokke moet wees tot jou sielsgenoot. Hoekom? Die verwagte proses loop soos volg: ’n man en ’n vrou ontmoet mekaar (om een voorbeeld te noem op die seksuele spektrum); hulle is seksueel aangetrokke tot mekaar; hulle vind in mekaar hul sielsgenote; hulle word lewensmaats; hulle verseël hul verhouding in ’n huwelik, om dan gelukkig te wees tot die einde van hul aardse bestaan.

Wat van as mens reeds jou sielsgenoot gevind het in iemand van dieselfde geslag as jy, maar nie jy of die ander persoon is homoseksueel nie? Of wat van as jy jou sielsgenoot vind in iemand van die teenoorgestelde geslag, maar jy’s nie seksueel aangetrokke tot die persoon nie? Hou jy aan soek tot jy ’n sielsgenoot vind in iemand van die regte geslag tot wie jy seksueel aangetrokke is? Dis belaglik! Gaan jy ’n eensame, sekslose bestaan voer tot jy hierdie persoon gevind het? Dis totaal onnodig, en dit dien geen doel nie!

Dis absurd om sulke vereistes te stel aan iemand wat jy wil date, en dis belaglik om te verwag dat jou sielsgenoot noodwendig ’n aantreklike, enkellopende man of vrou moet wees waarmee jy graag sal wil uitgaan.

Laaste vraag: Kan jy lief wees vir iemand as hy of sy net jou bedmaat is, en nie jou sielsgenoot nie? Antwoord: Natuurlik.

______________________