DONDERDAG 10 FEBRUARIE 2005
Ek wou gewag het tot die vliegmasjien weer die lug bestyg, maar ’n paar opmerkings moet gemaak word voor ek iets vergeet.
1. Presies ’n jaar gelede het ek diepe kontemplasies gehad daaroor om einde Februarie [2004] terug te keer Suid-Afrika toe. Die feit dat dit nou Februarie is, presies ’n jaar later, en ek wel op ’n vliegtuig sit op ’n aanloopbaan op die eiland van Borneo, is derhalwe ’n gulde geleentheid om te wonder of ek reg besluit het ’n jaar gelede. Ek kan sekerlik sê dat ek nie weet wat kon gebeur het, sou ek my “Maart rewolusie” deurgevoer het nie. Ek kan wel plegtig die opinie op rekord stel dat die afgelope twaalf maande in Taiwan goed was – in sommige opsigte veel beter as wat mens in jou mees optimistiese vooruitsigte jouself kon verbeel dinge kon wees. My lewe is steeds in Taiwan; die mense wat al die langste vir my saak maak, wat in enkele gevalle al my naam geken het nog voor ek die voornaamwoord “ek” geuiter het, is steeds aan die suidpunt van Afrika. Dit is hoekom ek nou op hierdie vliegtuig sit, teen die venster, met die Suidoos-Asiese oggendson wat my regterarm warm brand. Ek gaan, net meer as vyf maande seder ek laas my familie gesien het, weer “huis” toe – vir twee weke.
2. Soos ek deur die lughawegebou op Kota Kinabalu geskuifel het op pad na die rokershoek toe, kon ek nie anders as om dosyne ander mense te aanskou nie. ’n Vieslike gedagte het my weereens beetgepak: dat ek ’n patologiese vrees vir verveling het.
3. Punt van Krag: Vanoggend op Kaohsiung lughawe gereken dat elke mens ’n punt van krag het. Alles wat jy doen, waar jy dit doen, hoe jy jou daaglikse bestaan voer, saam met wie jy jou bestaan deel, en hoe jy kies om jou lewe aan te wend, sal óf hierdie punt versterk, óf verswak.
[02/06/15: Dink aan jou bestaan as ’n salf, of ’n room, of iets dergeliks. As jy “Tiger Balm” is, mors jy jou lewe as jy jouself smeer aan ’n stuk hout. Wend jy jouself aan tot ’n insekbyt, is jy op die regte spoor – korrekte toepassing van ’n spesifieke waarde.]
* * *
(Vier en twintig minute oor vier volgens die elektroniese wekker bo-op die TV in Kamer 533, in die Allson Klana Hotel buite Kuala Lumpur.)
Soms, in die badkamerspieël van ’n kamer in ’n transito hotel, in ’n onbekende stad in ’n land nie my eie nie, sien ek myself soos ek “werklik” is: gestroop van die klere waarin ek verskyn, alleen.
(Op die spieëltafel is my kamera, my notaboek, my paspoort en ’n vliegtuigkaartjie na die land waar ek gebore is en terug na die land waar ek deesdae ’n goeie bestaan voer.)
Soms sien ek myself soos ek verskyn: alleen in ’n hotelkamer, in ’n vreemde land, op pad êrens heen.
______________________