WOENSDAG 3 DESEMBER 2003
My oggend het ’n paar gesigte opgelewer: die eerste een was my eie in die waas van ’n gevlekte badkamerspieël; die tweede was die jong gesiggie van enige van die kleuters in Nommer Nege Gebuigde Dorp; die derde was dié van die ou man, agter sy lessenaar by die skool in Nommer Nege, wat lyk soos Ho Chi Min; die vierde gesig het behoort aan ’n babaseun op die trein terug na Fengshan. Hierdie versameling portrette het my aan die dink gesit.
Ekself was ’n kleuter in die vroeë jare sewentig. Hoewel ek ook toe, soos nou, asem gehaal het, geëet het en van tyd tot tyd iets te sê gehad het, kan ek baie min van daai tyd onthou. Ek het geskiedenisboeke en ou koerante nodig om die res van die storie aan te vul van ’n tyd toe meeste van wat gebeur het nooit my bewussyn binnegesypel het nie (of nie sin gemaak het vir my onderontwikkelde grysstof nie). Ek het byvoorbeeld eers later geleer dat B.J. Vorster die Eerste Minister was van Suid-Afrika gedurende hierdie periode; Richard Nixon, en toe Gerald Ford die presidente van Amerika; die hoogdrawende Brezhnev Kameraad Een in die Sowjet Unie; en Pol Pot Broeder Een in ’n land wat ek eers twee dekades later sou ontdek op ’n wêreldkaart. Op ander gebiede, soos ek ook veel later eers sou uitvind, het Jim Morrison, Jimi Hendrix en Janis Joplin reeds vertrek na die hiernamaals, Bruce Springsteen het op ’n tafel gespring en is die volgende dag geëer as die toekoms van Rock & Roll, en die Britse Leeus onder leiding van ene Willie John McBride het trane en weemoed gesaai oral waar hulle aan ’n rugbybal gevat het.
Ek weet al hierdie dinge nóú omdat ek dit gelees het. Dit kon net sowel geskiedenis van die Middeleeue gewees het as dit nie was vir die feit dat ék ook êrens op die planeet was op dieselfde tyd nie.
Die sewentigs was my toeskouer dekade – al het ek nie veel verstaan van wat op die speelveld aangegaan het nie. Ek het meeste van my dae tydens daai dekade gespandeer in sandputte, toegesluit in ’n ou wrak in ons agterplaas (gewoonlik my eie skuld), en langs kombuistafels besig om my liggaam sterk genoeg te eet vir die volgende dekade.
Die eerste deel van die tagtigerjare was ek tot ’n groot mate steeds onbewus van enige iets buite my onmiddellike omgewing. Teen die einde van die dekade was ek egter oud en slim genoeg om konsepte te verstaan soos “Die Koue Oorlog”, “Apartheid”, “Die Kommunis is Satan” en “Nelson Mandela gaan die eerste swart president van Suid-Afrika word”. Ek kon ook teen 1989 goed genoeg lees en skryf om skool te kon verlaat, en ek het slim probeer klink as mense my gevra het wat my volgende stap in die lewe gaan wees.
In die negentigerjare het ek ’n meer aktiewe lid van die gemeenskap geword, en is steeds op my eie manier gedurende hierdie eerste dekade van nul. Ek is nou oud en bles genoeg dat dit nie ongehoord is dat ander volwassenes vir my vra, “En wat dink jy?” nie. Ek is ook verstandig genoeg om te kan trou en om kinders te kry (of verstandig genoeg om dit nie te doen nie), en om my stuiwer in die beurs van Beleefde Beskawing te gooi.
Nou, bogenoemde is bruikbaar as ’n kort biografie oor myself, maar dit is ietwat beperk as ’n groter beskouing van die spreekwoordelike “ons” wat gedurende hierdie tyd ons bestaan voer. Hoewel ek graag die laaste dekade en die huidige een – die jare van my laat twintigs en vroeë dertigs – wil beskou as mý tyd, is dit net ’n fraksie van die waarheid. Hierdie is ook die tyd wat die kleuters in Gebuigde Dorp dieselfde son op hulle bakkies voel as ék op my halfbebaarde gesig. Dieselfde met die babaseun op die trein, en die oupa aan wie die kleuterskool behoort. Ons almal leef in hierdie tyd.
Vyfhonderd jaar van nou af gaan dit nie saak maak dat ek 32 was gedurende hierdie dae, die kleuters 5 of 6, die oupa 75, en die babaseuntjie 6 maande nie. Hierdie tyd is ons almal s’n, al kan sommige van ons nog nie behoorlik ons name skryf nie, en al het sommiges al soveel keer hulle name geskryf dat hulle wens iemand anders kan dit vir ’n slag namens hulle doen.
Ons is geneig om baie gesteld te wees op ons ouderdom, en om onsself in te deel volgens ’n groeiende aantal klassifikasies. Daar’s Kleuters, Pre-tieners, Tieners, Jong Mense, Vroeë Twintigs, Laat Twintigs, Vroeë Dertigs, Middel Dertigs, Laat Dertigs, Middel Veertigs, Vyftigs, Sestigs, Sewentigs, Afgetree, Bejaard, Regtig Oud, en Oud Genoeg Om In Die Guinness Book of Records Te Verskyn.
Ekself pas in die Vroeë Dertigs vakkie, en is party dae regtig verlig dat ek nog nie in my middel dertigs is nie. Ek het vriende in hulle middel twintigs (of soos ek hulle graag daarop wys, amper aan die “verkeerde kant” van 25). Ek het ook vriende in hulle laat dertigs, en van my beste vriende is in hulle middel veertigs (die sogenaamde middeljare). Ek kan opreg sê dat ek gelukkig is daarmee om 32 te wees. Ek is bly ek is nie nou ’n tiener nie. Ek is ook baie dankbaar dat ek nog nie bejaard is nie.
Die vraag is, wat maak dit saak? Natuurlik is daar ’n verskil tussen 15 en 75, en tussen 25 en 55. Maar kom ons kyk na almal wat nou, sê onder 35 is. Dit sluit dus in myself, my twee susters, ’n paar vriende en vriendinne, die tieners van vandag, maar ook die klomp snotneusies by die kleuterskool. Dit sluit selfs in die sesmaand-oue baba op die trein. Waar gaan ons staan in verhouding met mekaar oor dertig jaar (of dan dié van ons wat dit so ver maak)? Ek sal 62 wees; nie meer vandag se kind nie, maar ook nog nie bejaard nie. My een vriendin wat nou 25 is, gaan 55 wees. My twee susters gaan 56 en 64 wees. Die klomp by die kleuterskool gaan tussen 34 en 36 jaar oud wees, en die baba op die trein sal pas 30 geword het. Hoewel hierdie laaste groep die jongste is van dié wat vandag son op hulle wange gevoel het, sal selfs húlle dus nie meer vandag se kinders wees nie (by wyse van spreke). Van die laities gaan al bles wees; van die meisies gaan moontlik al hulle eie tienerseuns en -dogters hê.
Twee-en-sestig, laat-vyftigs, middel-dertigs … ons gaan almal volwassenes wees van die Tyd en Wêreld van 2033. Dis moontlik dat ék nog kinders sal verwek wat aan die einde jonger gaan wees as die kinders van die pikkies wat vanoggend aan my been gehang het. Maar op hierdie oomblik het ons álmal ons voete in hierdie tyd – hier en nou. As dit reën vanaand, voel ons almal dit. As daar ’n epidemie uitbreek, word ons almal geraak.
Die versoeking is daar om te sê ek weef net hierdie opstel aanmekaar om myself beter te laat voel oor my eie jare wat aanstap. Of omdat ek soos Oupa Ho Chi Min gevoel het toe ek vanoggend ’n tweejarige in ’n dik jas gesien dans het met lomp bene, sy knikkende kop nie veel groter as my knie nie. Of omdat ek herinner was aan hoe ver ek al is op die pad van gemiddelde lewensverwagting toe ek die baba op die trein opgemerk het, rustig aan die slaap, en onbewus van enige iets anders as die warm knusheid van sy ma se arms. Nietemin, nie een van hierdie dinge sal enige iets verander nie aan die feit dat ’n verskil in ouderdom tussen twee mense toenemend vervaag soos die jare aanstap vir beide. Dit sal ook niks verander aan die feit dat instellings, konvensies, en die eksterne bewyse van ons bestaan, ons heel moontlik gaan oorleef nie.
Feit is ook dat ander mense vóór ons hier was. Demokrasie, die vryemarkstelsel, moderne arbeidsverhoudings, stede wat uit hulle nate bars, en mense wat nie meer weet hoe ’n grot of ’n lappie groente lyk nie, is nie net te wyte aan ons eie aksies nie. Ons het hierdie wêreld geërf. En dis weer óns plig om te doen wat ons kan om iets na te laat aan dié wat 200, en 500 jaar na ons gaan tob oor die sin van húlle bestaan.
Nie ek, my twee susters, my amper-aan-die-verkeerde-kant-van-25-vriendin, my middeljarige en laat dertigs vriende, die tandloses in die kleuterskool en op die trein, of enige van die tandlose ou mans met lang wit baarde gaan nog hier wees oor 200 jaar nie. Dit – dit is wat ons almal van hierdie tyd aan mekaar bind. Nie een van ons het geleef in die tyd van Julius Caesar of Napoleon Bonaparte of Strandloper X nie (teorieë oor reïnkarnasie of tydreise vir die oomblik tersyde gestel). Net so het nie een van die mense wat geleef het in die tyd van die Franse Rewolusie, of tydens die Goue Jare van die Romeinse Ryk, dit gemaak tot 2 Desember 2003 nie. Hulle het almal gesneuwel. Almal. Sonder uitsondering.
Dit sal dus nie onvanpas wees nie om aan die einde van hierdie stuk – ter illustrasie – te vra wat dit nog vandag saak maak dat een vrou in Desember 1541 aan die later kant van 25 was, of wat dit saak maak dat een ou toppie in sy sewentigs was. En maak dit nog vandag saak dat daar ook toe ’n driejarige kind was wat met lomp bene gedans het op ’n vergete wysie?
Historiese Voetnota:
“En,” vra iemand 462 jaar van nou af, “wat maak dit saak vandag, Woensdag 2 Desember 2465, dat ’n 32-jarige man in Desember in die jaar 2003 in die laat agtermiddag gesit en tob het oor die waarde van sy eie bestaan?”
______________________