WOENSDAG 13 OKTOBER 1999
Ek reken dit sal my R111 296.29 kos om terug te gaan Suid-Afrika toe, myself te vestig, ’n kar te koop, al my studieskuld af te betaal, en die heeldag in ’n park rond te lê. Aan die ander kant kan ek vir myself ’n yskas en ’n wasmasjien koop, en vir ewig hier bly.
Ek kan nie slaap in die aande nie. Of eerder, ek raak al hoe meer onwillig om bed toe te gaan. Ek kry nagmerries, dan staan ek vyfuur in die oggend op, en dan verslaap ek.
My TV het nou net in fokus gekom … op ’n Koreaanse movie. Ek mis die kos in Korea, en die winters. Miskien sal ek teruggaan eendag. Miskien sal ek volgende jaar New York toe gaan … en Europa … en miskien Suidoos-Asië. Maar eers moet ek vir my ’n yskas en ’n wasmasjien koop.
Dit sneeu in hierdie movie. Ek mis dit – die sneeu, die koue. In Taiwan is dit warm die hele jaar deur. Ek het ’n ernstige probleem met hierdie hitte. En my woonstel het so te sê geen vensters nie. Ek het nog altyd gehou van ’n plek met baie vensters – groot vensters, baie vars lug, miskien elke nou en dan so ’n laat herfsbriesie wat inwaai … ja, ek sal in die hoek van die balkon sit op ’n rottangstoel, en dan sluimer ek in …
Net so voor die lug grys begin raak, met ’n kouer wind wat begin optel, stap ek binne toe. Ek trek ’n trui aan, en drentel kombuis toe. Ek besluit op pannekoek vir aandete, draai dan na die hoek met ’n halfdosyn blikke en ’n paar potjies om ’n vars pot koffie te maak – my gedagtes op ’n ander plek.
Na ’n paar minute gaan sit ek op ’n groot rusbank. Ek trek my notaboek nader, en kyk vlugtig oor iets wat ek vroeër begin skryf het. Nog besig om te oorweeg waarheen ek op pad is met die storie, strek ek oor na die CD-rak en trek iets van die laat sestigs uit.
Ek hoor ’n klop aan die deur.
Sy’s jammer om te pla, sê sy, sy wou net die boek terugbring wat sy die ander dag geleen het. Sy aarsel vir ’n oomblik. Die aroma van kookwater wat drup op vars gemaalde koffie perkoleer uit die kombuis.
Ek sê dankie vir die boek, en maak ’n opmerking oor pannekoek en koffie en aande soos dié.
Sy glimlag. “Hoekom nie?” antwoord sy dan.
______________________