Nuwe dinge, en ou dinge

Dinsdag 30 Desember 1997

Nuwe dinge, soos moderne tegnologie, is vir my simbole van die toekoms – die onbekende waar niemand nog ooit was nie, met geen sekerhede of bakens nie, waaroor daar geen stories is nie; die duisternis wat ons binnejaag.

Ou dinge is simbole van die verlede – die bekende, waaroor dinge opgeteken is, waaroor steeds geskryf word; ’n wêreld vol stories waarvan almal weet. (En nou kan ek nie verder skryf aan hierdie nota nie omdat die ou, oorverhitte trein – tegnologie van ’n vroeër tyd – my siek maak met sy geskommel.)

Donderdag 1 Januarie 1998

My eerste redelik intelligente gedagte van die jaar het gespruit uit ’n gesprek om en by halfdrie vanoggend in die Urban Bar: Die probleem met die middelklas, het ek aangekondig aan ’n groep mense om ’n tafel, is dat dit ’n relatief moderne verskynsel is. Dit het nie genoeg waardevolle tradisies nie.

Kan dae soos Kersfees en Nuwe Jaar en verjaarsdae vergelyk word met byvoorbeeld voorouertradisies, legendes van die kryger, of optogte wat al vir die laaste 700 jaar ’n gebeurtenis herdenk op dieselfde wyse? (Om net ’n paar voorbeelde te noem.)

’n Betekenisvolle persentasie van die jonger lede van die Internasionale Middelklas is ook ontnugter deur dit wat hulle aangebied word, en beskou dit nie as die moeite werd om voort te bou daarop nie.

———–

Nota bygevoeg op 7 Julie 1998: Die jonger lede van die middelklas het self niks gedoen om die relatiewe gemak en sekuriteit te verdien wat hulle gebied word nie. Hulle het nie die spreekwoordelike “huis” gebou van sy fondasie af nie. Dit laat sommiges onseker voel oor hulleself, en oor hulle eie vermoëns. Baie ouers verstaan dit nie. Baie jonger lede van die gemeenskap ook nie.

Vrydag 2 Januarie 1998

’n Spesifieke taal hoef nie universeel gepraat te word, en dus universele waarde te hê, om waardevol te wees vir mense wat dit gebruik om hulle daaglikse behoeftes te vervul, en om te kom van punt A tot punt B nie.

______________________