Sondag 7 Augustus tot Donderdag 11 Augustus 2022
Chinese militêre oefeninge en omsingeling van Taiwan
Sondag 7 Augustus 2022 was die dag toe ek my opinie verander het oor Taiwan en China. Tot so onlangs as verlede Vrydag het ek nog ’n gesprek gehad met ’n Taiwannese besigheidsman oor die moontlikheid dat China Taiwan kan binneval. Ek het genoem dat daar mense is wat in detail kan verduidelik hoekom so ’n militêre onderneming sal misluk.
Na hierdie week se besoek van die Amerikaanse Spreker van die Huis van Verteenwoordigers, Nancy Pelosi, en China se lewendige ammunisie militêre oefening rondom die eiland, het ek besef Taiwan geniet slegs haar de facto onafhanklikheid omdat China nog nie besluit om Taiwan formeel in te lyf nie.
Tensy die Chinese Kommunistiese Party hulle mag verloor in China, of hulle dogma verander, kan Taiwan nie veel doen om haar onvermydelike lot te verander nie. China sál uiteindelik Taiwan intrek binne haar soewereine grondgebied, heel waarskynlik sonder om soveel as een missiel af te vuur.
Die rede? Die eiland het bitterlik onvoldoende weerstand teen omsingeling en blokkade. (Dan praat ons nie van die kragonderbreking wat ’n derde van Taiwan sonder krag en Internet gelaat het vir amper ’n hele dag lank in Maart nie, omdat ’n werknemer vergeet het om iets te doen voor hy ’n skakelaar aangesit het. Hoe moeilik sal dit wees vir ’n saboteur om iets soortgelyk te doen in die toekoms?)
Rick Fisher, ’n senior genoot by die International Assessment and Strategy Center in Amerika, reken dat die huidige Chinese militêre oefening wat insluit meer as sestig vliegtuie en veertien oorlogskepe wat die eiland omring, inderdaad ’n voor-blokkade demonstrasie is. Volgens hom sal ’n volle blokkade insluit dreigemente om vliegtuie af te skiet, die plasing van seemyne in hawens, en die ontplooiing van lug- en vlootmagte in ’n volle sirkel rondom Taiwan. Hy voeg by dat hierdie episode die eerste geleentheid is vir die Rooi Chinese Magte om aan hulleself en aan Taiwan te bewys dat hulle inderdaad in staat is om ’n volle blokkade af te dwing.
Dan is daar ’n paar ander ongerieflike feite: 1) Volgens ’n artikel in die Wall Street Journal het Taiwan oliereserwes vir ongeveer vier en halwe maande, maar slegs 12% van Taiwan se energie word plaaslik gegenereer. Ongeveer een-derde van Taiwan se elektrisiteit is in 2021 gegenereer deur natuurlike vloeibare gas, wat ingevoer moet word. Indien China hierdie invoer belemmer, kan dit binne enkele dae Taiwannese vervaardiging op sy knieë dwing. 2) Hoewel Taiwan so-te-sê self-versorgend is in akwatiese produkte, vrugte, vleis, groente, en eiers, kan sy in slegs 35% van haar bevolking se voedselbehoeftes voorsien. (Die regering het wel in die laaste paar jare ’n program geloods om hierdie probleem aan te spreek. Die Borgen Project dui aan dat Taiwan in 2018 $4 miljard gespandeer het op die invoer van landbouprodukte, maar het sedertdien voorraad van essensiële items opgebou wat voldoende sal wees vir ongeveer 28 maande.) 3) Duisende ander tipes produkte word daagliks van vragskepe afgelaai om winkelrakke vol te pak – items soos klere, skoene, katsand, kookolie, tandepasta, kaas, sjampoe, koeksoda, medisyne, en ’n wye reeks elektroniese toestelle en mediese toerusting. Hierdie produkte maak Taiwannese burgers, en duisende buitelanders, se lewens leefbaar en aangenaam. Lewe op die eiland sal toenemend ongemaklik raak as dié produkte nie meer ingevoer word nie.
Bernhard Billmon skryf in ’n onlangse artikel op Moon of Alabama, “China indeed has the capability to completely blockade Taiwan. As the whole area is also under cover of China’s land-based ballistic missiles and in reach of its airforce a blockade is easy to establish and hard to breach.” (My eie beklemtoning) Hy skryf verder: “A total blockade of Taiwan would likely bring it to its knees within a few weeks or months. Time that could be used to defeat its air force, air defenses and missiles and prevent attacks from Taiwan on China’s continental assets. China does not have to invade the island. It just has to wait until it is invited to come in.” (weereens my eie beklemtoning)
Die New York Times haal vir Bonny Lin van die Center for Strategic and International Studies in Washington soos volg aan: “If a military exercise transitions to a blockade, when does it become clear that the exercise is now a blockade? Who should be the first to respond? Taiwan’s forces? The United States? It’s not clear.” Volgens dieselfde artikel reken Eric Sayers, ’n voormalige senior adviseur tot die U.S. Pacific Command: “Instead of announcing a military blockade [the Chinese government] may instead announce an extended military exercise around Taiwan that closes or disrupts shipping routes for 30, 60, 90 days. This makes it less a military operation and more a form of legal warfare to justify an indirect blockade for a duration that Beijing can manipulate.”
Een van die punte wat Taiwannese gereeld maak in besprekings oor Taiwan se vermoë om haarself te verdedig, is dat Taiwan dalk verslaan sal word, maar teen groot koste vir China, siende dat Taiwannese missiele ten minste een groot stad, soos Shanghai of Shenzhen, groot skade kan aandoen voor die Chinese Rooi Leër die wapens stilmaak.
Maar gaan Taiwan haar missiele begin afvuur en duisende mense se lewens eindig op die Chinese vasteland omdat sy omsingel word deur die Chinese vloot? Dis hoogs onwaarskynlik. Indien dit wel gebeur, sal China geen probleem hê om die wêreld te oortuig dat hulle geen alternatief gehad het anders as ’n militêre respons nie.
Gaan Amerika of Japan hulle oorlogskepe stuur om die Chinese vloot te dwing om die blokkade te eindig? Weereens: ’n Lae waarskynlikheid dat dit sal gebeur.
’n Paar weke of ’n paar maande van dalende petrol en kosvoorrade sal honderde-duisende mense in Taiwan uitbring in die strate om die regering te dwing om te begin met onderhandelinge. Onthou: Tussen tien en vyftien persent van Taiwan se bevolking steun vereniging met China. Na ’n paar weke van leë winkelrakke twyfel ek nie dat daai nommer ’n paar kerwe hoër sal wees nie.
Ten spyte van die feit dat omsingeling en blokkade probleme sal veroorsaak vir die bevolking op die korttermyn, en sal lei tot probleme in die internasionale voorsieningsketting van rekenaaronderdele, sal die Taiwannese ekonomie nie langtermyn skade aangerig word nie. Ek reken (uit die vuis uit, geen data om dit te staaf nie) dat Taiwan weer 100% sal wees twee jaar na die blokkade geëindig het. Dit ondermyn nóg ’n argument wat mense aanvoer oor hoekom China nie enige aggressiewe aksies sal loods nie.
Ek glo dat ’n groot meerderheid van Taiwan se bevolking bereid is om te veg vir die behoud van die status quo, of vir de facto onafhanklikheid. As langtermyn inwoner van Taiwan wat dankbaar is vir die tuiste wat die eiland en haar mense my gebied het, hoop ek ook dat die eiland en haar mense sal voortgaan om hulle eie sake te behartig soos hulle dit goedvind, siende dat hulle oor dekades bewys het dat hulle ten volle bevoeg is om dit te doen, en dat dit hulle dit net soveel verdien as die mense van Japan of Suid-Korea of enige ander land in die wêreld.
Maar ons woon in ’n wêreld met sekere realiteite. Een van hierdie realiteite is dat die Chinese Kommunistiese Party glo Taiwan behoort aan China, en dat hulle die reg het om Taiwan formeel in te lyf in Chinese grondgebied wanneer en soos hulle dit goedvind. Tot onlangs het ek gedink dit kom neer op Chinese soldate op Taiwannese strande, en duisende missiele wat reën op Kaohsiung en Taipei en ander stede. Die afgelope week het bewys dat ’n Chinese oorname van Taiwan nie naastenby so gewelddadig hoef te wees nie. Wat die waarskynlikheid dat dit sal gebeur, onaangenaam hoog maak.
Om op te som:
1. Advokate vir Taiwannese onafhanklikheid kan goeie historiese en wettige argumente maak hoekom Taiwan nie China se besigheid is nie. Belangriker as hulle argumente: Die Chinese Kommunistiese regering gee nie om nie. Dit is deel van Kommunistiese Party dogma dat Taiwan deel is van China. Einde van die storie. Mikrofone afgeskakel. Debat is verby.
2. China kan begin om een klein eiland onder Taiwan se beheer na die ander oor te neem en dit regverdig as deel van ’n nuwe strategie om China te verdedig teen “vyande van die Moederland”. Daarna kan hulle Taiwan omsingel vir maande op ’n slag en dit militêre en vloot-oefeninge noem. Niemand wat ernstig opgeneem moet word, twyfel dat hulle die militêre kapasiteit, die ekonomiese vermoëns, en die politieke wil het om dit te doen nie.
3. Taiwan kan haarself verdedig teen ’n inval waar Chinese troepe oor die strande storm, en waar die Chinese lugmag bomme laat reën op Taiwannese stede. Maar hoe verdedig Taiwan haarself teen ’n salami-tegniek waar China een klein eiland na die ander vat met oorweldigende mag, en dan die eiland omsingel met dalk drie dosyn oorlogskepe en ’n duisend missiele op die Chinese kus om die skepe te beskerm? Hoe lank sal Taiwan kan uithou? Hoe lank voor woedende honger Taiwannese die regering dwing om met Beijing te onderhandel?
Enige oplossings?
Wie is ek? ’n Genoot by een of ander internasionale denktenk, of ’n senior akademikus by ’n befaamde universiteit? Nee, en nee. Nietemin …
Taiwan het in die laaste paar dekades ’n fortuin spandeer aan wapentuig in die hoop dat hulle iets kan doen wanneer Chinese troepe storm oor die strande op die wes- en noordkus van Taiwan. Daar is die hoë-akkuraatheid missiele waarmee Shanghai en dalk een of twee ander Chinese stede van die kaart gevee kan word. (Kom ons ignoreer vir die oomblik wat Chinese propagandiste en ’n alte gewillige Westerse media sal doen met videogrepe van brandende kinders in die puin van ’n vermorselde woonstelgebou in Shanghai. Om nie te praat van uitroepe van wraak onder die Chinese bevolking nie.) Daar’s ook opgedateerde oorlogskepe, militêre hommeltuie, en splinternuwe F-16 vegvliegtuie.
Watse waarde gaan hierdie gevorderde militêre toerusting hê as Taiwan vir maande lank omsingel word in uitgestrekte “militêre oefeninge”? Gaan al hierdie vegvliegtuie en oorlogskepe en hommeltuie en missielstelsels internasionale lugrederye oortuig dat hulle nie vlugte moet kanselleer na Taipei toe nie? Gaan dit verskepingsmaatskappye oortuig om tog die kans te waag en deur die omsingeling te probeer breek om toiletpapier en katkos en bakpoeier en olyfolie af te lewer?
Die probleem is dat Taiwan, en die Amerikaanse regering wat die Taiwannese regering stoot om miljarde dollars te spandeer by Amerikaanse wapenvervaardigers, voorberei vir ’n stryd wat waarskynlik nooit gevoer gaan word nie. Hoekom sal China duisende Chinese troepe, miljarde dollars se wapentuig, en moontlik ’n paar Chinese stede waag as hulle in hulle dekades-lange doel kan slaag met blokkades, omsingeling, en die sabotasie van infrastruktuur? Dan maak die Chinese Rooi Leër hulleself ook skuldig aan wat die vise-hoof van die Taiwannese Ministerie van Verdediging se Buro vir Politieke Oorlogvoering noem, “cognitive warfare, disinformation campaigns, and rumor spreading”, asook “‘fake news’ or misinformation, mostly seeking to lower public trust in Taiwan’s government, [to] undermine public morale and build momentum for unification by force”.
Aljazeera berig dat Taiwan ’n verdedigingsbegroting het van meer as $20 miljard vir 2022. Watse persentasie van hierdie begroting word gebruik om meer landbougrond voor te brei vir voedselproduksie? Hoeveel is begroot om stadbewoners te leer om groentetuine aan te lê op die dakke van duisende woonstelgeboue? Hoeveel geld word spandeer aan die beskerming van infrastruktuur teen sabotasie? (Onthou weereens: in Maart was ’n derde van die eiland sonder krag en groot dele sonder Internet vir die grootste deel van die dag omdat iemand ’n fout gemaak het met ’n skakelaar.) Hoeveel geld word spandeer om kuberaanvalle, disinformasieveldtogte en ander kognitiewe oorlogvoering te beveg?
Feit is, Taiwan is ’n Dawid wat miljarde dollars spandeer op ’n hoogs gevorderde kettie met ’n hopie plofbare klippies ter voorbereiding van ’n geveg teen ’n Goliat wat nie onnosel is nie, en waarskynlik nie gaan doen wat Dawid wil hê hy moet doen sodat hy hom met ’n klip teen die voorkop kan skiet nie. Wat gaan Dawid doen as Goliat dosyne wilde honde loslaat wat hom omsingel en afsny van sy kosvoorraad en ander hulpbronne? Wat gaan Dawid doen as hy sy laaste krummels brood afgesluk het met die laaste druppels water in sy watersak? En Goliat weier steeds om nader te kom dat Dawid hom soos die storie veronderstel is om te verloop, met ’n klip teen die kop kan neervel?
As Taiwan wil bly voortbestaan as ’n onafhanklike staat in praktyk, sal hulle moet begin om daai miljarde dollars baie beter te spandeer as om net Amerikaanse wapenvervaardigers se sakke te vul.
Nagedagte: Donderdag 22 September 2022
Taiwan het drie opsies:
1) Verklaar onafhanklikheid, wag vir die reaksie van China, en hoop vir die beste.
2) Kontak Beijing en sê: “Genoeg is genoeg. Kom ons werk die tegniese punte van hereniging uit.”
En 3) Hou by streng status quo, wat beteken Beijing meng nie in nie, maar Taiwan maak geen verklarings van onafhanklikheid nie, en doen ook niks buite praktiese reëlings, soos handelskantore/ambassades, om die status te steur nie – dit sluit in geen hoë-profiel besoeke van Amerikaanse politici nie.
Soos dit nou is, stap die Tsai Ing-wen administrasie op die rand van formele onafhanklikheid, en as China protes aanteken, beskuldig die Taiwan regering Beijing daarvan dat húlle die delikate vrede versteur.
______________________