’n Lewensbeskouing om oor verleë te voel

DONDERDAG 26 JANUARIE 2006

20:13

Vrees vir verleentheid: die groot, verskuilde oorsaak vir ’n sekere benadering tot die lewe wat ek nog nooit kon skud nie. Ek het nog altyd gedink as mens kom op jou sterwensoomblik, en jy’t vyf minute te vore nog rondgespring en gelag van blydskap dat jy lewe, hoe verleë jy nie moet voel in daai oomblik voor jy jou laaste asem uitblaas nie. Dink net hoe laf, hoe simpel jy sal voel! Amper asof jy vir die Engel van Dood wil sê, “Jammer dat ek vyf minute gelede nog so ligsinnig was … as ek geweet het … en ek moes geweet het! As ek maar op daai oomblik gedink het daaraan dat ek oor vyf minute my laaste asem sou uitblaas … sou ek soveel ernstiger gewees het! Ek sou nie grappies gemaak het en opgewekte musiek geluister het nie! Ek het inderdaad Dood disrespekteer deur so ligsinnig te wees! Kyk nou na my! Ek voel so ontsettend skaam …”

So dan is ’n mens maar ernstig die heeltyd. Of indien dan nie die heeltyd nie, sorg jy dat jy gereeld genoeg dink aan die dood, en aan slegte dinge wat kan gebeur, en aan al die situasies wat dreig met moeilikheid as jy nie oppas nie, sodat wanneer jy in die moeilikheid kom, of nog erger, as jy Dood in die gesig staar, jy ten minste nie skaam hoef te wees nie. Sodat niemand, minste van almal jyself, op daai laaste oomblik kan sê nie, “Ja, en om te dink jy’t oomblikke gelede nog so lekker gelag!” Of, “Jy was nou die dag nog so gelukkig. Kyk hoe simpel lyk jy nou!”

Vrees vir verleentheid – hoeveel kommervrye dae, hoeveel geluk offer ek nie op, op die altaar van hierdie vrees nie?

* * *

Wat is vrees vir verleentheid? Wat is skaamte? Is dit nie om ontbloot te word vir wat jy is nie – naak, klein, weerloos, bang, en aan die einde, sterflik, soos ’n plant of ’n insek? Dit ten spyte van ons beste pogings om onsself te laat verskyn as beter en meer gesofistikeerd as insekte of plante of ander diere.

“Is ons dan nie belangriker as ’n plant of ’n insek nie?” mag jy dalk vra.

Natuurlik is ons, sal vele argumenteer. Maar op watter punt word Belangriker As ’n Plant of ’n Insek ons ondergang? Op watter punt raak trots en selfliefde die oorsake van ons vrees om ontbloot te word?

Aan die einde: Wat is ons werklik? Wat is ons werklike waarde? Hoe word dit gemeet? En is ’n laaste oomblik van skaamtelose erkenning van ons sterflikheid dit werd om die heeltyd in ons spoor te trap om nie te gelukkig te wees nie?

20:43

Asof ’n mens verder sal val wanneer Dood en Onheil jou tref terwyl jy hard probeer het om jouself oor minder te bekommer en dalk ’n bietjie gelukkiger te wees, en so nou en dan geslaag het daarin.

Bly dan maar sukkelend, bly maar arm, kruip maar voort in die modder … ten minste sal jy nie so ver val nie.

En droom! Ja, droom van baie geld en lekker tye en doen wat jy wil! Drome is goedkoop! Moet net nooit hard genoeg daaraan werk om dit waar te maak nie. Want as jy eers baie geld het, as jy sien hoe lekker dit is … dat dae verby gaan wat jy nie bekommerd is oor enige iets nie, wat jy reis en interessante plekke sien en tyd spandeer met familie en dinge doen wat jy geniet … gaan jy al hoe hoër klim … gaan jy al hoe verder val.

Twintig jaar gelede sou ek gedink het God kyk na my met kwaai oë as ek te hoog wil klim. Nou is dit Dood en Onheil. En jy moet hulle respekteer. “Bly laag,” sê jy vir jouself. “Sukkel. Maar droom voort. Dit maak in elk geval nie saak nie …”

______________________