’n Futuristiese ontkenning

DONDERDAG 18 SEPTEMBER 2003

Ek is nie meer in Taiwan nie. Die feit dat Woonbuurt-op-die-Rand in Bronkhorstspruit (wat ek deesdae my huis noem) op ’n stofspikkel na Benewelde Lig Nuwe Dorp lyk, is ’n bisarre toeval. Ek het nie vyftien minute gelede Chinees gepraat met die vrou wat tee onder op die straathoek verkoop nie. Die koerant wat ek nou net eenkant toe geslinger het, is nie die China Post nie. Ek het nie gist’raand rys en groente met chopsticks geëet nie, en ek het beslis nie vanoggend vir Taiwannese kinders Engelse rympies geleer nie!

Om die waarheid te sê, enige een wat van mening is dat ek ’n 32-jarige man is wat al vyf jaar in Taiwan vashaak – en sewe jaar altesaam in die Verre Ooste – is ’n infame leuenaar wat sy kop onmiddelik moet laat lees! So ’n persoon het ’n ooraktiewe verbeelding en glo maklik sentimentele stories en verregaande teorieë oor die betekenis van die lewe om verveeldheid met sy eie lewe te verdoesel.

Nee, ek is beslis nie hierdie slinkse karakter wat donker strate ná middernag op ’n krakerige fiets deursoek vir tofu-sosaties en diepgebraaide seekat nie.

Wat ek wel is … is ’n advokaat. Of ’n rekenmeester. Ek woon in ’n mooi huis op die rand van ’n groot dorp in Gauteng. Ek is al sewe jaar getroud, en ons het twee lieflike kinders. Ons het ook ’n kar, ’n kat, ’n hond, ’n grassnyer, ’n swembad, en ’n sleepwa. Ek speel gholf op Saterdagmiddae, en wen so nou en dan ’n bottel sprankelwyn. Ek glo in Samelewing-en-Beskawing, Orde-en-Sekuriteit. Ek het drie lewenspolisse, en ’n paar goeie beleggings. Ek het ook etlike kredietkaarte, en betaal getrou my rekeninge elke maand. My vriende dink ek is ’n bietjie konserwatief; ek sê altyd ek glo maar net waarin ek glo.

Ek, soos almal, ken, of weet van mense wat oorsee woon vir jare, “soekend” na hulleself, of na wát ’n mens ook al soek in die buiteland. Persoonlik glo ek hulle mors hul tyd; dat daar niks in die buiteland is wat ’n mens nie in ons eie pragtige land kan beleef, of as jy dan wil, na kan soek nie. Ek glo verder dat baie van hierdie mense nie die durf het om realiteite in hulle eie land in die gesig te staar nie. En ek praat nie eens nou van die misdaad en geweld in Suid-Afrika nie. Ek praat van grootword en aangaan met jou lewe as jy die ouderdom bereik wanneer jy nie meer ’n kind is nie.

Ek was ook al in Londen, en eenkeer vir vakansie in die Maldives. Ek is dus nie ’n idioot as dit kom by wat aangaan buite ons landsgrense nie. Ek kyk elke aand nuus, en lees ten minste ’n paar keer ’n week koerant. Ek is ook glad nie so konserwatief soos wat my vrou en my vriende my graag spot nie. Ek glo dat almal die reg het om die lewens te kies wat hulle goedvind … en om dit dan na te streef. Ek glo ook dat almal ’n reg het op hulle eie opinies, en dat almal die reg het om te sê wat hulle wil, solank dit niemand onnodig beledig of aanstoot gee nie.

Dit is wel waar dat ek ’n renons het in mense wat in die buiteland gaan woon, en dan krities is oor die tipe keuses wat ek gemaak het; keuses wat hulle met verwaande minagting “kleinburgerlik” noem. Hierdie mense het nie die vaagste benul waaroor my lewe gaan nie. Hulle het nie die vaagste benul wat vir my belangrik is, of wat die motiverings agter my keuses en aksies is nie.

Ek wens hulle wil huis toe kom. Dán sal ons sien wie die regte wenners is, en wie aan die einde sal verloor. Ja, dan sal ons inderdaad kan sien wie spot met wie!

______________________