Dinsdag 4 November 1997
Om ’n Engelse onderwyser te wees het sy nadele, maar in ag genome dat mens in enige van meer as 25 lande kan woon, en ’n werk kan doen wat redelik bevredigend kan wees, kan mens nie anders as om daaraan te dink as ’n goeie beroepsmoontlikheid nie.
Ek sê nie ek dink op die oomblik aan die langtermyn nie, maar wat betref beroepsmoontlikhede wat oop is vir my – as ek kyk na my kwalifikasies en ervaring, moet ek sê, ag ek dit redelik hoog. Dit sal my in staat stel om geld te verdien, te reis, en om nuwe vaardighede aan te leer, en dit sal my hou uit ’n plek genaamd middelklas suburbia.
* * *
Ek het nog agt maande oor van my kontrak voor ek teruggaan Suid-Afrika toe. In plaas daarvan om te dink aan nog agt, lang maande … begin ek eerder te dink daaraan dat ek nog agt maande lank ’n werk het, ’n salaris verdien, en ’n plek het om te woon. Wanneer ek terug is in Suid-Afrika, sal ek aanvanklik werkloos wees, ek sal nie ’n inkomste verdien nie, en ek sal nie ’n plek van my eie hê nie.
Dit is soos ’n kloof wat agt maande voor my in die toekoms lê. Ek kan my ore plattrek, my oë toemaak, en net hardloop – en hoop die tyd gaan gou verby, net om dán te besef ek weet nie hoe om die kloof oor te steek nie; dat ek teen ’n reguit krans afstaar.
Die alternatief is om nou al te begin om materiaal te vergader om ’n brug te kan bou wanneer ek by die kloof uitkom – sodat dit nie ’n antiklimaks sal wees nie. Dit is ook belangrik dat ek gereed moet wees vir die “ander kant”. Voorbereiding sluit dinge in soos spaargeld, taalvaardigheid, vroegtydige beplanning vir akademiese kursusse, en so aan.
Feit is, die agt maande sál verbygaan, en dit hang af van niemand anders nie as myself hoe die prentjie gaan lyk wanneer ek terugkyk. Gaan ek verspeelde kanse sien, en vorentoe kyk en besef ek is in die moeilikheid? Of gaan ek op die lughawe in Singapoer sit voor my vlug Suid-Afrika toe, en dink aan alles wat ek die vorige agt maande vermag het, goed voel oor myself, en met selfvertroue en hoë verwagting uitsien daarna om die kloof oor te steek?
Dit hang alles van myself af – nóú. Ek het, hopelik, nog agt maande om voor te berei.
* * *
Ten einde my doelwitte te bereik, is dit noodsaaklik dat ek my leefstyl moet verander. Nou, ek het ’n tyd gelede hierdie gedagte gehad van ’n transformasie, om dinge op ’n radikaal ander manier te doen. Sedertdien het ek bewus geraak van die risiko van sulke idealistiese idees – die borrel kan bars, of jy kan doodgewoon verveeld raak daarmee (omdat dit nie werklik jy is nie), en dan is jy terug by die begin.
Ek moet eerder kyk na areas waar ek my huidige leefstyl, metodes van dinge doen, en voorkeure, kan benut om meer gedoen te kry. Dis byvoorbeeld beter vir my om eerder langer in die nag te werk as om vroeg in die oggend op te staan.
Eenvoudig gestel, ek moet meer ure elke dag benut om aan my doelwitte te werk. Ek sal myself moet dissiplineer om minder net rond te sit, en myself so produktief as moontlik besig te hou.
Aan die einde is dit alles deel van ’n kettingreaksie – as jy in die oggend iets produktief doen, is die tafel gedek en die ys gebreek om die res van die dag ook produktief te wees. (Dit werk natuurlik ook anders om.) Hoe meer jy dus doen, hoe beter voel jy oor jouself, en hoe beter jy voel oor jouself, hoe meer doen jy (en anders om).
Feit is, dit is in my eie hande, vandag, of ek oor agt maande hier sal weggaan as iemand wat verward en onseker is oor sy toekoms, of as iemand met ’n plan.
______________________