VRYDAG 1 OKTOBER 2004
Tandeflos, en ander maatreëls vir oorlewing
Ek het gisteraand vir my tandestokkies, nuwe skeerlemmetjies, tandeflos en cotton buds gekoop. Vanoggend het ek ontbyt geëet, en toe later by die oggendmark gekoop wortels, appels, iets vir middagete, en twee 500 milliliter koppies groentee. Toe gaan haal ek water, en terug by die huis het ek my twee bottels volgemaak, en in die yskas gesit.
Wat beteken al hierdie dinge? Watse waarde het dit op die Groter Doek van My Lewe? Alles – die tandeflos, die wortels, die water, en al die ander dinge – is maatreëls wat bevorderlik is vir oorlewing. Dit alles dui daarop dat ek ook sover vandag, Vrydag 1 Oktober 2004, nog nie besluit het om op te gee, en “te laat gaan” nie.
SONDAG 10 OKTOBER 2004
Die primêre doelwit van die organisme wat die mens is, is om terug te keer na ’n toestand van spanningsloosheid. Op een of ander punt in die mens se lewe begin hy om hierdie toestand te assosieer met die dood – op ’n bewustelike, of onbewustelike vlak.
Probleem is, die mens vrees dit ook om in die nietigheid te verdwyn. Hoekom? Seker maar omdat ons nietigheid assosieer met doelloosheid, en met waardeloosheid. Die gedagte aan nietigheid het dalk juis sy oorsprong in die mens se onsekerheid oor die doel van sy aardse bestaan en die waarde van sy lewe.
Vra ek myself toe, siende dat ek so sit en dink aan hierdie dinge: Vrees ek dit om in die niet te verdwyn?
Ek was in die versoeking om te sê nee, en die saak daar te laat. Maar skielik kliek ’n gedagte êrens in my kop. “Is jy mal?!” hoor ek ’n stem gil. “Natuurlik vrees ons dit!”
______________________