Ten spyte van halfhartige pogings om 2023 se Oujaarsaand meer opwindend te maak, was dit, soos die vorige jaar, ’n anti-klimaks.
Ons het afgegaan na die Love River, Kaohsiung se hoof waterweg wat eindig in die Seestraat van Taiwan. By die hoogs moderne musieksentrum by die seiljagklub het ’n paar verlore siele rond gesit en gestaan en gestaar na hulle fone. Anders as verlede jaar, was daar geen reuse skerm om ’n mens in te lig hoeveel sekondes jy oor het om wilde beloftes te maak, en te probeer verskonings uitdink hoekom jou beloftes 365 dae gelede nie heeltemal uitgewerk het nie.
Twintig minute voor die einde. Ek drink stadig aan my warm tee en eet ’n Portugese eiertertjie.
Vyftien minute oor. Tyd om vinnig te kyk wat aangaan op X/Twitter.
Nege minute. Nog ’n tertjie. Staan op en strek my bene. Resiteer weereens wat ek geformuleer het vir 2024.
Drie minute. Neem ’n paar foto’s.
“Hoe sal ek weet wanneer die countdown begin?” Vinnige Google search.
Paniek skop in: 32 sekondes voor die einde van die jaar. Twaalf sekondes. “Moet ek aftel?” Vier sekondes … Skermgreep …
Drietweeeennul …
“Wag! Ek was nie gereed nie! Niemand het afgetel nie! Waar’s die vuurwerke?!”
En net so, is een jaar verby en nog een het begin.
Omhels ’n bietjie. Stuur ’n paar boodskappe. Gooi die laaste tee in my keel af. Frommel die laaste tertkrummels in die papiertjie toe, en druk dit in my sak.
Terug na die bromponie. Terug werk toe.
’n Glorieryke, onvergeetlike jaar wag vir niemand nie.