Is ’n kameelperd werklik oranje, soos ’n lemoen?

WOENSDAG 19 OKTOBER 2011

Vanoggend om en by vyfuur wakker geword vir omtrent vyf sekondes, ’n gedagte gehad oor ’n handvol vetkryt, ’n kind en ’n prentjie, en die betekenis wat daaruit getrek kan word oor die beperking van taal as dit kom by godsdiens en “absolute waarheid”, en toe verder geslaap.

Die punt was dit: Jy gee aan enige iemand ’n palet met tien of vyftien kleure verf op. Dan trek jy die gordyne oop op ’n pragtige, kleurvolle toneel – kom ons sê ’n grasveld in Afrika net na goeie reëns, met meer as ’n dosyn spesies diere wat orals rondstaan, rondloop, of rondlê. Na die persoon die toneel ingeneem het, gee jy aan hom die opdrag om te skilder wat hy gesien het. En hy moet dit doen met die kleure wat jy aan hom beskikbaar stel.

Dalk is die persoon werklik talentvol, en sy prent is ryk aan detail, en vol kleur.

Vraag is, is sy prent ’n 100% akkurate verteenwoordiging van die werklike toneel – van die gras en bome en diere en lug en wolke en voëls en al die ander fyner detail wat die werklikheid vol maak?

Hoe kan dit wees? Hy’t net ’n dosyn of so kleure gehad waarmee hy die toneel kon skilder! En dan is daar sy persoonlikheid, selfs die gemoedstoestand waarin hy was toe hy die prent gemaak het. Het hy, om een voorbeeld te kies, doelbewus nie die onweerswolke deel gemaak van sy weergawe nie? Hoeveel detail het hy uitgelaat, eenvoudig omdat sy talent te kort geskiet het?

Kom ons vat nou die analogie verder. Die persoon wat die toneel geskilder het, word later gesien as ’n gesagsfiguur in een of ander religieuse tradisie. Benewens die prent van die landskap, produseer hy honderde ander prente en sketse en stukke teks, wat alles toenemend kosbare items word na sy afsterwe. Mettertyd word al hierdie dokumente en kunswerke gebruik as voorskrifte vir hoe mense moet optree, en vir hoe dinge beskryf moet word. Binne ’n paar geslagte voorsien die prent van die landskap dan byvoorbeeld leiding aan die gemeenskap oor hoe daar oor diere gepraat word soos aangetref word op ’n Afrika grasveld net na goeie reëns.

Aanvanklik sou dit nog aanvaarbaar gewees het as iemand sou sê, “Hierdie is duidelik ’n kameelperd, hoewel ’n kameelperd nie werklik oranje is soos ’n lemoen nie, dis meer ’n donker mosterdkleur.”

’n Paar geslagte later is hierdie prent, soos honderde ander sketse en prente en stukke teks geproduseer deur hierdie gesagsfiguur, verhef tot heilige artefak. Teen hierdie tyd is dit ortodoks om te verwys na ’n kameelperd as oranje – soos ’n lemoen, selfs dat dit nog nooit enige iets anders as oranje was nie. Hoekom? Die prent dui dit so aan – duidelik, vir almal wat oë het om te sien. “Hoe kan enige een dit ontken?” sal gevra word. “Selfs ’n kind kan dit sien. Inderdaad, jy moet glo soos ’n kind.” Om hierdie begrip te bevestig, word honderde volumes teks geproduseer wat die korrekte en enigste aanvaarbare wyse verduidelik hoe die artefak geïnterpreteer moet word.

Kom ons sê nou met die verloop van ’n paar eeue word hierdie religieuse gemeenskap die dominante groep in die samelewing. Nou kan jy in ernstige moeilikheid kom by die owerhede van die dag as jy net daaraan dink dat ’n kameelperd enige iets anders is as Oranje – Soos ’n Lemoen. ’n Individu wat waag om agter sy hand iets te prewel wat klink soos “mosterd” in verwysing na die kameelperd, kan summier voor die hof gedaag word, in die kerker gewerp word, gefolter word, en waar vermoed word dat so ’n persoon dalk ander onskuldige siele kon besoedel met die ketterse mosterdkleur besigheid, na die brandstapel gestuur word.

“Jy is verkeerd,” is wat mense eeue later, in meer beskaafde tye sou sê. “’n Kameelperd is oranje, ’n leeu is bruin, gras is helder groen, lug is blou, bokke is ook bruin, en hul oë is geel. Dit is hoe dit is. Dit moet so wees. Dit kan nie anders nie, want die Heilige Prent sê so.”

En enige een wat wil praat van ’n antieke palet wat net tien of vyftien kleure gehad het, en van die oorspronklike prent wat net ’n opregte poging was om ’n voorstelling van ’n werklikheid te maak veels te ryk in kleur, smaak, klank en gevoel vir enige mens met beperkte hulpbronne en vermoëns om ooit 100% akkuraat weer te gee, is eenvoudig te slim vir hul eie beswil.

______________________