Week 28, 2020
MAANDAG 6 JULIE 2020
Aangeleerde hulpeloosheid is wanneer ’n mens of dier herhaaldelik blootgestel word aan ’n stimulus wat hulle nie in staat is om te ontsnap op daai oomblik nie. Uiteindelik gaan lê die gedagte in die mens of dier se onderbewuste dat hulle geen beheer oor die situasie het nie. Hulle gedrag manifesteer ’n aanvaarding dat daar niks is wat hulle kan doen om weg te kom van die ongemak, of om hulle situasie te verbeter nie.
Selfs wanneer daar later ’n geleentheid is om die bron van hulle ongemak te ontsnap, of ’n manier om hulle situasie te verbeter, verhoed hierdie aangeleerde hulpeloosheid dat hulle van die geleentheid gebruik maak.
Omdat hulle verwag dat iets sleg gaan gebeur en omdat hulle glo hulle magteloos is om iets daaraan te doen, doen hulle niks nie. Hulle hou bloot aan om die pyn en ongemak te verduur. Dit ten spyte daarvan dat dit binne hulle vermoëns is om ten minste die pyn en ongemak te verminder, of selfs om van hulle situasie te ontsnap.
Die moontlikheid dat hulle nie pyn en ongemak hoef te verduur nie, selfs dat hulle ’n omgewing en situasie kan skep waar hulle merendeels gelukkig en tevrede kan wees, dring nie deur die waas van hulpeloosheid nie.
Die mens wat die potensiaal gehad het om gelukkig en tevrede te wees, en selfs ander mense te help om hulle aangeleerde hulpeloosheid te deaktiveer en gelukkig en tevrede te wees, bly hulpeloos, ongelukkig en ontevrede. Die potensiaal bly onvervul.
DINSDAG 7 JULIE 2020
’n Pa sê vir sy kinders, “Moenie moeite doen nie. Julle sal dit in elk geval nie maak nie.” In ag genome die enorme negatiewe effek wat dit waarskynlik sal hê op die kinders se lewens, kan ’n mens ’n argument uitmaak dat die pa ’n euwel persoon is.
As iemand – veral iemand in ’n gesagsposisie – vir mense sê dat ’n positiewe selfbeeld en ’n goeie mate van selfvertroue problematies is, dat hulle eerder hul selfbeeld bietjie moet knak en hulle selfvertroue moet verlaag, kan ’n argument uitgemaak word dat hierdie persoon ’n toksiese invloed uitoefen, en dat hy of sy vermy moet word soos die pes.
Terloops, individue pleeg misdade, nie gemeenskappe of groepe nie. Individue studeer hard en kry goeie punte, nie gemeenskappe of groepe nie. Individue werk hard, en kry goeie poste, nie gemeenskappe of groepe nie.
Hier volg dan vandag se opvoedkundige les, komplimente van Twitter (kliek op die twiet om die hele boodskap te lees):
The City of Seattle held a training session for white employees called “Interrupting Internalized Racial Superiority and Whiteness.”
So I did a public records request to find out exactly what this means. Let’s go through it together in this thread. 👇
— Christopher F. Rufo (@realchrisrufo) July 6, 2020
WOENSDAG 8 JULIE 2020
Enige redelike mens weet dis ’n slegte idee om “wolf” te roep. Jy wil jou waarskuwings spaar vir werklike gevaar.
’n Waarskuwing is beslis wat James M. Masnov gee in die inleidingsparagraaf van sy artikel, “History Killers: The Academic Fraudulence of the 1619 Project”. Hy praat van die begin van ’n nuwe donker era, waarin mense wat glo in liberale waardes ’n eksistensiële stryd voer met donker magte.
In die res van die artikel bespreek hy die kontroversiële 1619 Projek, waarin die skrywer, Nikole Hannah-Jones, aanvoer dat slawerny die werklike basis is van die Verenigde State van Amerika; dat 1776 nie die begin van die VSA was nie, maar 1619, toe die eerste slawe gearriveer het, en dat die Amerikaanse Vryheidsoorlog teen Brittanje gevoer is om die instelling van slawerny te beskerm.
Masnov verduidelik waarom die sentrale idee agter die 1619 Projek histories vals is. Hy voer ook aan hoe liberalisme beter antwoorde bied vir wat steeds verkeerd is met Amerika as wat die sogenaamde Sosiale Geregtigheidsbeweging en organisasies soos Black Lives Matter kan bied.
Maar die eerste paragraaf slaan definitief die hardste. En tensy jy met jou kop in die sand staan, behoort jy duidelik die buitelyne te kan sien van die wolf waaroor hy waarsku.
“History Killers: The Academic Fraudulence of the 1619 Project”
DONDERDAG 9 JULIE 2020
’n Betekenisvolle proporsie Westerse politieke, opvoedkundige, intellektuele en kulturele figure in dominante posisies wil hê dat nie-swart mense aan hulleself moet dink as rassiste. Vir my is dit eenvoudig nie waardevol om so aan myself te dink nie. So ’n denkwyse hou vir my geen praktiese waarde in nie.
Wat wel vir my van praktiese waarde is, is om aan myself te dink as iemand wat nie iemand takseer op sy of haar velkleur of etnisiteit nie, maar eerder op die inhoud van hulle karakter. Uit jare se ervaring het ek geleer dat mense goed reageer daarop, en dat dit lei tot positiewe en konstruktiewe sosiale en professionele verhoudings.
Ook uit eerstehandse ervaring, en uit wat ek kan aflei uit ander mense se ervarings, is dit ’n benadering wat werk vir vele ander mense aan beide kante van die sosiale interaksie. Dit maak dus sin vir my om voort te gaan om te doen wat werk.
VRYDAG 10 JULIE 2020
Ek was op ’n stadium van my lewe idealisties, en het vasgehou aan romantiese idees van ’n meer ideale wêreld. Ek het ook geglo dat ek nooit my idealisme sal laat vaar nie.
Ontnugterd was ek dus toe ek verneem dat ook die Duitse Nazi’s gesien word as romanties in hulle geloof in ’n suiwer Ariese Duitsland, sonder enige Jode of ongure nie-Duitsers. Selfde reaksie toe ek gelees het dat die Taliban in Afghanistan, en later ISIS in Irak en Sirië, ook beskou word as idealiste wat glo in ’n romantiese ideaal van mans met baarde en vrouens wat gehoorsaam is aan hulle mans, in ’n samelewing wat lyk soos agste-eeuse Arabië, en wat volgens soortgelyke wette en regulasies regeer word.
Dit was duidelik dat romanties en idealisties ander betekenisse gehad het as om blomme vir jou vriendin te gee op Valentynsdag, of om drome te koester om ’n skrywer te word.
Daar was ook ’n tyd toe ek geglo het “links” beteken om geïnteresseerd te wees in geregtigheid vir almal, veral vir die “underdog”, en dat linksgesindes meer omgee vir hulle medemens; ook dat “konserwatief” mense beskryf het wat godsdiens in ander mense se kele wou afdruk, en wat geglo het groot maatskappye ’n groter sê moet hê in hoe die samelewing regeer word as die gewone man en vrou op straat.
Ek het ook naïewe idees gehad oor rewolusies, en oor sosialisme. ’n Paar boeke oor Mao en Stalin, en oor Rooi China en die Sowjet Unie het egter die realiteit van kommunistiese state redelik duidelik uitgespel. Ek was ook bewus daarvan dat ek aangetrokke was tot sosialisme omdat ek sleg was daarmee om te woeker vir meer geld in ’n vrye mark stelsel.
Ten laaste moet dit genoem word dat ek op ’n stadium beïndruk was met die idee dat filosowe, en ander akademici, nie net die wêreld moet bestudeer nie, maar moet verander. Mense begeer dat hulle lewens, en hulle werk, moet saak maak. Wie is tevrede daarmee om die wêreld te analiseer as hulle soveel meer kán doen? Die idee dat akademici nie aktiviste kan wees en steeds getrou kan wees aan die objektiewe bestudering van hulle onderwerp nie, was nie op daai stadium so duidelik aan my nie. As jy immers ’n aktivis is, hoe kan jy kyk na nommers en name en ander leidrade en dit volg waarheen dit jou vat, as jy reeds besluit het waarheen jy wil gaan? Dieselfde geld vir joernaliste.
Dis al wat ek wou sê. Goeie dag.
______________________