VRYDAG 27 APRIL 2012
Ek noem nie myself ’n ateïs nie, vir die eenvoudig rede dat die onus op my sal wees om te definieer waarin of waaraan ek nie glo nie.
As ek myself ’n ateïs noem, sal ek beweer dat ek nié in iets glo nie, dat ek die bestaan van alle gode, insluitende “God”, verwerp. Die vraag is dan: Wat presies verwerp ek? Waarin presies glo ek nie?
Siende dat ek aangewese sal wees op ander mense se beskrywings van hulle gode, ander mense se definisies van “God”, sal ek slegs kan sê dat ek nie glo aan een spesifieke persoon se god nie.
Sal dit van my ’n ateïs maak? Dan is ’n Christen ’n ateïs vanuit die perspektief van die Hindoe of die Moslem! Dan kan een Christen selfs na ’n ander Christen wie se godsbegrip anders lyk, verwys as ’n ateïs!
Feit van die saak is, mense dink net almal in hulle groep glo aan dieselfde god omdat hulle dieselfde belydenisse resiteer. Maar as een persoon verwys na God as “my liewe hemelse Pappa” kan ek jou amper waarborg hulle god is nie regtig, diep in hulle onderbewuste, dieselfde as vele van hulle medegelowiges s’n nie.
As ek dus beweer ek is ’n ateïs, in wie se god glo ek nie? Wie se god verwerp ek?
* * *
Wat is die alternatief, as ek dan nou ter wille van identifikasie myself moet kategoriseer?
Agnostisisme, volgens Wikipedia, is die beskouing dat die waarheid van sekere aansprake onbekend is of van nature onmoontlik is om te bewys. Hierdie aansprake sluit in “metafisiese aansprake met betrekking tot teologie, die hiernamaals of die bestaan van gode, geeste, of selfs uiteindelike werklikheid”.
Dit, per definisie, beteken nie ek glo nie aan gode, geeste of ’n spesifieke uiteindelike werklikheid nie. Dit beteken wel dat ek nie glo ek of enige iemand anders kan die besliste waarheid van hierdie uitsprake bewys nie.
Natuurlik glo vele Hindoes dis nonsens: hulle kan wys op miljoene mense se persoonlike ervarings wat aan hulle bewys dat Krishna werklik bestaan. Dieselfde met volgelinge van enige ander godsdienstige tradisie. Die vermoëns van enige mens met ’n vaste voorneme en ’n gevestigde belang in ’n spesifieke beskouing om bewyse te vind vir iets waarin hulle glo, kan nooit onderskat word nie.
Wat my eie posisie aanbetref, kan ek sonder om twee keer te dink, sê dat ek waarde vind in twyfel. Ek vind waarde daarin om vrae te vra. Ek ag dit as waardevol om te wonder eerder as om te beweer dat ek wéét, en dan te verklaar dat die onderwerp afgesluit is en ek klaar gepraat het. Laastens heg ek te veel waarde aan intelligente dialoog tussen redelike mense om uit die vuis te verwerp wat enige iemand sê.
______________________