Geloof, hoop, en liefde – en die noodmaatreëls om op te maak vir die afwesigheid daarvan

DONDERDAG 14 OKTOBER 2004

Op die trein (09:22)

Ek weet nou dat ek al vir maande al – of afhangende van hoe jy daarna kyk, jare al – besig is om my geloof te verloor: Geloof in die oorgelewerde “waarhede” van my jeug, geloof in mense, geloof daarin dat “dinge sal uitwerk”.

Dit is ook so dat vele mense daagliks dwelms misbruik om (onder andere) hierdie probleem te bekamp, of om op te maak vir die negatiewe effek daarvan op hulle lewens.

Ander mense, of soms dieselfde mense, gee hulleself (ook) oor aan kriminele aktiwiteite om (weereens) op te maak vir die afwesigheid van (onder andere) geloof in hoe hulle na die lewe kyk, en om aan hulle die vermaak, opwinding en/of geld te verskaf om hul lewens die moeite werd te maak.

Ek haat dwelms. Dit maak my dronk in die kop, en ek vermoed – en weet in een spesifieke geval – dat dit my meer angstig sal maak eerder as om my te laat ontspan. En ek wil myself nie oorgee aan kriminele aktiwiteite nie.

So, my ballas hang tussen ’n skêr en ’n woedende skerpioen.

Terloops, ek het die hele tyd gewonder wat dit beteken om te sê, “My lewe is nie die moeite werd nie.” Ek bevredig tog talle van my behoeftes elke dag, my werkslading is nie te sleg nie, en ek het nie drukkende finansiële probleme nie. Wat is dan die probleem?

Die probleem, en ek het nog nooit voorheen so daaraan gedink nie, is dat ’n mens drie dinge nodig het (behalwe natuurlik om nooit die grootste gebod te oortree nie, naamlik om nooit sonder geld te wees nie): Jy het nodig geloof, jy het nodig hoop, en jy het liefde nodig.

Ek, “Brand Smit”, leef sonder liefde. Ek leef al vir tien jaar in verskillende grade van ongeloof, en selfs die geloof wat ek vir myself uitgekerf het as my eie die afgelope paar jaar, is besig om waarde, vir my, te verloor. Al wat ek dus oor het om myself aan die gang te hou, is hoop.

En hoop sonder geloof en liefde kan Thanatos net vir so lank by die tuinhekkie besig hou.

Kan ’n mens oorleef – fisies aan die lewe bly – sonder geloof, sonder hoop, en sonder liefde, en dan ook sonder verdowingsmiddels of vermaak om die pynvolle afwesigheid van geloof, hoop en liefde teen te werk?

Ek reken … nee.

As jy nie geloof, hoop of liefde in jou lewe het nie, sal jy ’n sterk drang voel om jouself oor te gee aan die misbruik van verdowingsmiddels en/of om jouself oor te gee aan enige aktiwiteite, krimineel of andersins, wat aan jou onophoudelike opwinding en vermaak kan verskaf.

______________________