SATERDAG 20 SEPTEMBER 2003
Ek het geen probleem daarmee om kuns vir geld te verruil nie. As ’n kunstenaar ’n miljoen rand verdien met sy kuns, goed so. Dis baie beter as om daai geld te moet verdien deur vir ’n leeftyd kantoorstoele pap te sit.
Ek het ook geen probleem daarmee om my eie skryfmateriaal te laat publiseer nie. My punt is net dat ek nie wil skryf wát, en hóé dit gedikteer word deur die sogenaamde “market forces” nie – wat beslis ’n vertrek is van my vroeër houding van “dink soos ’n besigheidsman, skep soos ’n kunstenaar”.
Wat dit beteken is dat ek liefs nie afhanklik moet wees van my skryfwerk vir kos- en huurgeld nie. As ek dit uiteindelik wel regkry om iets te produseer wat ’n tydskrif goedvind om te publiseer, goed en wel; dan hoef ek net minder van my ure te verkoop aan een of ander besigheid daai maand. Wat ek produseer uit die wroeging en ekstase van my werklikheidservaring is egter vir my té belangrik om te sien hoe dit net nog iets word wat, soos groente of braaihout, opgeweeg word op die skaal van Die Groot Industriële Masjien.
______________________