Ek skryf om te oorleef

SATERDAG 6 AUGUSTUS 2022

Skryfwerk is gebed/Om te skryf, is om te bid.

(Wanneer ek skryf, glo ek iemand sal dit lees. Wanneer miljoene mense bid, glo hulle iemand sal dit hoor.)

MAANDAG 3 OKTOBER 2022

Ek vertaal die laaste van die Persoonlike Agenda stukke wat ek nie tien jaar gelede vertaal het nie. Dit bring my weer in noue kontak met vraagstukke waarmee ek twintig jaar gelede geworstel het: Wat moet ek doen met my lewe? Watse tipe volwasse lewe wil, of moet, ek vir myself ontwikkel? En: Moet ek Taiwan verlaat op Donderdag 4 Maart 2004?

Om ure elke dag te kon spandeer aan skryfprojekte was ’n belangrike oorweging in my besluitnemingsproses. Dit was ’n belangrike faktor in 2001 toe ek idees ontwikkel het oor watse tipe volwasse lewe ek wou lei, en dit was ’n belangrike oorweging toe ek in die laaste maande van 2003 en die eerste twee maande van 2004 moes besluit of ek sak en pak wou teruggaan Suid-Afrika toe.

Soos ek oor die laaste dekade gewerk het aan die publikasie van my skryfwerk, het ek gewonder hoekom ek nooit méér geskryf het nie. Mens hoor soms van sogenaamde “prolific writers” wat dosyne romans, etlike kortverhaalbundels, artikels, gedigte, en sommer ’n paar toneelstukke ook geskryf het. My gemiddeld die laaste tien tot vyftien jaar was ongeveer 20 000 woorde per jaar (dan tel ek nou nie stukke wat ek beskou as onpubliseerbaar nie).

As ek egter kyk na maande soos September 2003 en Februarie 2004, sien ek dat ek soveel in daai maande geskryf het as wat ek later sou geskryf het oor ’n hele jaar. Hoe werk dit?! En hoekom kon ek nie dit volhou nie?

Feit is, ek skryf net as ek iets het om te sê. As ek nie spesifiek iets wil sê nie, is daar geen inspirasie nie.

Ek het ook in die Februarie 2004 stuk, “Slaaf aan die woord”, geskryf: “Ek glo vas ek sal in ’n bodemlose depressie verval as ek minder begin skryf.” Ek het ook menigmaal oor die jare verwys daarna dat ek op my gelukkigste is wanneer ek besig is om te werk aan een of ander stuk skryfwerk. Soos die maande September 2003 en Februarie 2004 duidelik moes maak, is skryfwerk ’n meganisme wat my help om te oorleef. Dis hoekom ek nog nooit veel moeite gedoen het om my skryfwerk te bemark nie, en hoekom ek nog nooit veel moeite gedoen het om munt te probeer slaan daaruit nie.

Om te skryf help my om sin te maak van dinge. En dit was nog altyd ’n goeie manier om oplossings vir dilemmas uit te werk in die afwesigheid van mense met wie ek kon praat oor sekere sake, of met wie ek dinge kon bespreek soveel as wat ek nodig geag het.

Om op te som: Ek skryf net wanneer ek nodig het om te skryf. Ek skryf om te oorleef.

____________________