Die uitgerekte proses van sukses, en mislukking

VRYDAG 28 AUGUSTUS 2015

Dit voel asof die dae so vinnig verbysnel dat ek nie daarby uitkom om belangrike dinge in my kop uit te sorteer nie.

Ek worstel weereens met die idee van sukses … of eerder die teenoorgestelde, mislukking. Ek het heel waarskynlik reeds hierdie gedagte noteer, maar ek het weer hierdie week daaraan gedink dat ek, Brand Smit, uiteindelik sal slaag of misluk as skrywer, nie as Engelse onderwyser of freelance proof-reader of sports trader of sports bettor of publiseerder van boeke en ander inligting nie.

Dit kom in die praktyk daarop neer dat as ek nie skryf of besig is met een of ander taak wat te make het met skryfwerk nie, ek heel waarskynlik besig is met iets waarmee ek op 44-jarige ouderdom sover nie veel sukses bereik het nie (selfs as Engelse onderwyser moet ek vra hoeveel van my studente oor die jare se Engels regtig verbeter het omdat ek oor hul pad gekom het).

As ek dus werk aan ’n literêre projek, is die kans goed dat ek bedrywig is met iets waarop ek uiteindelik sal kan terugkyk en kan sê: Dit het nooit ’n prys gewen nie en ek het nooit juis geld gemaak daarmee nie, en dit het my naam nie bekend gemaak aan die massas nie, maar ek voel goed daaroor. Dit voel asof ek ’n bydrae gemaak het, al is dit beskeie.

As ek op hierdie oomblik van my lewe suksesvol was daarmee om geld te maak met iets anders as Engelse klasse, sou ek ook goed gevoel het dáároor. Dit sou dinge moontlik gemaak het vir my en my lewensmaat wat nie tans moontlik is nie, en dit sou goed gewees het om minder bekommerd te wees oor die toekoms. Maar dit sou ook goed gevoel het om te weet ek het ’n greintjie van sukses behaal op ’n terrein waar ander mense my vermoëns en vaardighede kan meet. Anders gestel, ander mense sou na my kon kyk en nie iemand sien wat baie hard probeer maar nie juis enige sigbare, tasbare sukses behaal nie.

’n Paar dae gelede het ek iets op ’n stukkie papier gegriffel oor identiteit. Weereens moet ek vra: Wie is ek? Wie wil ek wees? En dan kan mens voortgaan en dit vra oor elke projek wat jy aanpak, elke poging wat jy aanwend om geld te maak of andersins iets positief te bewerkstellig: Wie wil ek wees as English teacher? Wie wil ek wees as sports bettor? Wie wil ek wees as pre-race trader? Wie wil ek wees as publiseerder van boeke en ander inligting?

Hoeveel dink ánder mense oor hierdie dinge? Of, hoeveel dink ander skrywers en English teachers en sports bettors en pre-race traders hieroor? Ek reken, meeste dink nie soveel daaroor soos ek nie – dit wil sê, sommige mense dink dalk meer daaroor, maar meer mense dink heel waarskynlik minder daaroor.

Ek dink baie mense besluit om iets te doen, en hulle is tot ’n groot mate gereed om te begin. Dinge val min of meer in plek in, of ’n kritiese hoeveelheid dinge val makliker in plek in, so hulle hoef nie soveel tyd te spandeer om te sit en te dink daaroor nie. Dit beteken ook hulle kan makliker opsies elimineer. Dit is amper soos om te moet sit en ’n pak vorms in te vul: daar is mense wat na ’n vraag kyk, ’n sekonde later ’n boksie merk, en tien of vyftien minute later is hulle klaar.

Ek moet oor alles dink. Niks is vir my eenvoudig nie. As daar twee moontlikhede is, moet ek eers daaroor dink. As daar drie of vier moontlikhede is, moet ek nog langer daaroor dink. Sukses neem derhalwe vir iemand soos ek heelwat langer om te bewerkstellig.

Baie ander mense misluk ook vinniger as ek. Omdat ek so lank vat om deur moontlikhede te werk, vat dit my twee, drie, of tien keer langer om uit te vind dat iets nié werk nie, of om uit te vind dat ék nie iets kán laat werk nie. En teen daai tyd is heelwat van die mense wat op dieselfde tyd as ek begin het, al lankal oor die eerste bergreeks, glimlaggend op pad na die Beloofde Land.

______________________