VRYDAG 13 FEBRUARIE 2004
Die feit dat ek vrede gemaak het met die middelklas voorstad is nie te sê dat ek nie ’n probleem het met die uitleg van vele voorstede nie.
Die gemiddelde voorstad lê uitgestrek oor ’n hele aantal hektaar grond. Elke huis is op ’n erf wat gewoonlik afgespan is van die volgende met drade, mure en/of skerp pale. Bure ken mekaar dalk, maar gereelde interaksie tussen vyftig of meer mense van ’n spesifieke buurt is nie algemeen nie. Min ruimte word gewoonlik afgesonder vir publieke gebruik.
Ek kan as voorbeeld van ’n beter uitleg die buurt gebruik waar ek tans woon in Taiwan. Dit is nie in of naby die besigheidsdistrik nie, en kan moontlik volgens Taiwannese standaarde kwalifiseer as ’n voorstad. Die buurt bestaan uit tien lanings met vierverdieping woonstelgeboue – ongeveer agt woonstelgeboue in ’n ry aan elke kant van die laan, met ’n klein stegie aan die agterkant van die geboue. Aan die oorkant van die pad is ’n area met kleinerige huise op baie klein erfies.
Die sentrale punt van die area is die park by wat beskryf kan word as die ingang tot my buurt. Die park het ’n basketbalbaan, waar jong mans in die aande en oor naweke balle rondgooi; langs dit is daar ’n tennisbaan, waar ouer mans en vrouens, en soms jong mense tennis speel deur die dag. Langs hierdie baan is ’n beboomde area met tafels en bankies waar mense van alle ouderdomme gereeld sit en gesels, waar ou mans sit en kaartspeel, oumas en oupas met kleinkinders sit en kuier, en waar mense rondstap in die laatmiddag en vroeë aand.
By die ingang van die park is ’n paar stalletjies wat drink- en eetgoed verkoop van die oggend tot laat in die aand. Daar is ook ’n groterige algemene handelaar reg oorkant die park. Verder af in die straat is daar ’n bedrywige mark in die oggende en sommige aande, met langs die pad allerlei klein winkeltjies, eetplekke, fietsherstelwinkels, en dies meer.
Dit is beslis nie ’n rykmansbuurt nie. Ek kry die idee dat dit meestal ou mense, taxi-bestuurders en kantoorwerkers is wat hier woon; niemand lyk op die oog af asof hulle uitspattighede kan bekostig nie. Daar is wel ’n sterk manifestasie van gemeenskap, van mense wat gemaklik is daarmee om tyd te spandeer met vriende, kennisse en vreemdelinge in die openbaar.
Ek wil graag terugkeer na my eie land toe, maar dit is jammer dat ek hierdie tipe buurt moet verlaat vir – as ek gelukkig is – ’n buurt waar mens soms nie eens kafee toe gaan sonder ’n kar nie, en as jy wel die kafee kan bereik per voet, heel moontlik nie die naaste bank of poskantoor nie. En dit is beslis jammer dat ek heel moontlik nie in ’n buurt gaan opeindig met ’n park vol bedrywigheid en lewe ten minste twaalf ure van elke dag nie.
______________________