Die gesag van ’n logiese redenasie

SATERDAG 24 AUGUSTUS 2013

Ek dink vanoggend aan ’n kennis van my se reaksie op iets wat ek geplaas het op Facebook ’n jaar of wat gelede. Sy reaksie kan min of meer opgesom word as, “Wie dink hierdie ou is hy?”

Vir ’n minuut of so reflekteer ek toe oor wie en wat ek was op hoërskool: dat ek nie veel van ’n indruk gemaak het op mense nie; dat my tydgenote heel waarskynlik nie verwag het dat ék van alle mense ooit een of twee interessante gedagtes sou noteer en die behoefte sou voel om dit te deel met mense nie.

Soos ’n mens se brein maar kraak en kreun om van een gedagte ’n volgende een te maak, wonder ek toe oor hierdie ding dat sommige mense persoonlik raak as hulle nie hou van jou argument nie. Ek wil altyd sê: Moenie na my kyk nie; kyk na die argument. My persoon is nie ter sprake nie. Die argument moet staan of val op sy eie waarde.

Ek besef toe dat die kennis van my se reaksie waarskynlik nie net oor mý gegaan het nie. Sommige mense glo eenvoudig dat raad en advies en insigte en opinies oor sake eksistensieel moet spruit uit die monde van gesagsfigure. Indien hierdie mense ’n godsdienstige identiteit koester, is dit te verwagte dat die figure wie se woord saak maak, godsdienstige gesag sal hê.

Wat hierdie kennis van my dus waarskynlik bedoel het, was: “Op watse gesag sê jy wat jy sê? Is jy God? Is jy Jesus? Is jy ’n skrywer van ’n Bybelse boek?”

My reaksie op so ’n posisie: Maar maak my argument nie sin nie? Of: Ek reken my opinie verdien om ten minste oorweeg te word want dit is relatief goed uiteengesit, en dit maak min of meer sin.

Maar ek verbeel myself hoe die ou sy hand sal vibreer in ’n gebaar wat sê: Stil! Logiese argumente is goedkoop! Elke tweede man of vrou op straat kan vorendag kom met ’n logiese argument! Ek praat van gesag!”

Ek dink toe, as iets verkeerd is met my maag, of met my kop, of as ek ’n uitslag kry êrens op my vel, sal ek iemand met opleiding in medisyne gaan sien. Ek mag dalk my ma se advies vra, of my vrou s’n of ’n kollega s’n, maar dis die persoon met gesag wie se opinie werklik gewig gaan dra.

Is dit nie dieselfde met sake oor wat ’n mens met jou lewe moet doen nie? Maak dit nie sin dat dié kennis van my sy kop sou skud, sy skouers sou optrek en sou vra, “Wie is jy?” nie?

———–

Die verskil is wetenskap versus opinie; meer spesifiek, as wetenskap vir my ’n antwoord kan gee op ’n vraag of ’n probleem, gaan ek meer gewig daaraan gee as aan iemand se opinie. As ek byvoorbeeld ’n virus opgetel het, kan my bloed honderd keer getoets word, en dit sal amper elke keer presies dieselfde uitslag gee. Aan die ander kant, as dit kom by die vraag van wat ek met my lewe moet doen, kan wetenskap, sover as wat ek weet, my nie veel help nie. As ek dan draai na iemand met religieuse gesag en hom moet vra wat ek met my lewe moet doen, wat sal hy doen? Hy sal geskrifte raadpleeg wat meer as ’n duisend jaar gelede geskryf is in die geval van Islam, en amper twee duisend jaar gelede of meer as twee duisend jaar gelede in die gevalle van Christendom, Judaïsme, Hindoeïsme en Boeddhisme. Die skrywers van hierdie geskrifte het sekerlik gesag gehad in die gemeenskappe waarvan hulle deel was twee duisend jaar gelede, maar is dit redelik om hulle opinie in vandag se wêreld te aanvaar sonder om krities daaroor te dink of een of twee alternatiewe te oorweeg?

Om terug te gaan na my voorbeeld: As iets verkeerd is met my maag, of as ek ’n uitslag kry op my vel, gaan ek ’n mediese traktaat raadpleeg wat dateer uit die tyd van Julius Caesar, of selfs nog verder terug, na die tyd van Plato of Sokrates? Gestel ek krap êrens uit my boekrak presies so ’n stukkie literatuur, sal ek dit dalk deurgaan as ek desperaat of nuuskierig genoeg is. Daar is sekerlik ’n kans dat daar ’n paar brokkies handige advies kan wees. Maar voordat ek gestolde volstruisbloed aan my oë smeer, of die vars ingewande van ’n baba krokodil aan my seer knieg, gaan ek beslis ’n tweede mening kry.

Ek sê dus nie die persoon wat godsdienstige geskrifte raadpleeg wanneer hulle soek na ’n antwoord op die vraag van wat hulle met hul lewens moet doen, is primitief nie. Die skrywers van die betrokke teks was immers in hulle dag gerespekteer as gesaghebbende figure. Ek vra bloot: Hoekom nie ’n tweede mening oorweeg nie, veral as die mening redelik, en dalk relatief logies uiteengesit is?

______________________