Die ander persoon se oë

WOENSDAG 29 SEPTEMBER 2004

Ek probeer soms na myself kyk deur die oë van ’n ander persoon … en ek glo natuurlik dat hierdie ander persoon binne dae, of hoogstens weke, al my angstighede en onsekerhede gaan raaksien, en so gou as moontlik sal retireer van die slagveld wat ek is.

Ek besef nie altyd dat hierdie “ander persoon” ’n karikatuur is met geen angstighede en onsekerhede en verleenthede van haar eie nie. Of ekskuus, niemand is volmaak nie – so sy hét probleme, “but they’re cute problems,” soos die ou in High Fidelity sê.

Waarheid is, tensy sy werklik ’n emosioneel onderontwikkelde entiteit is, dat ook sy angstig is oor dinge, onseker is van haarself op tye, of sy verskyn soos sy graag wil verskyn aan ander mense, of sy is en optree as die persoon wat sy graag wil wees.

“Weet ek werklik wie ék is,” sal sy wonder, “en wat ek met mý lewe wil doen? Hierdie ou kom so selfversekerd voor oor wie en wat hy is, wat hy reeds doen met sy lewe, en watse rol hy wil speel. Ek wonder wat hy werklik van my dink? Miskien is hy meer aangetrokke tot vrouens wat self oortuig is van wat húlle wil doen, en waarin hulle glo … vrouens soos, Sannie X. Ek wens ek het eerder my hare anders gedra nou die aand by die braai … en ek wonder wat hy sal sê as hy weet wat my ma anderdag vir my gesê het? En hy’t net beleefd geglimlag toe ek vir hom vertel het wat gister met my gebeur het …”

______________________