Desperaat, en ’n historiese probleem met identiteit

VRYDAG 23 JANUARIE 2015

The One Minute Millionaire is ’n 2002-boek deur Mark Victor Hansen en Robert Allen wat verduidelik hoe ’n mens in teorie in dertig dae een miljoen dollar kan maak. Die proses word verduidelik aan die hand van ’n storie van ’n vrou wat pas haar eggenoot verloor het. Sy is in haar dertigs, met twee kinders, ’n karige inkomste, en skoonouers wat dreig om haar onbevoeg te laat verklaar en haar kinders weg te neem. Sy gaan ’n ooreenkoms aan met hulle dat indien sy een miljoen dollar in een maand kan maak, hulle haar sal uitlos. Indien sy misluk, verloor sy haar kinders. Haar gevolglike desperaatheid was presies wat sy nodig gehad het om haar te skok tot aksie – meer spesifiek, om ’n vrou wat sy geïdentifiseer het as ’n suksesvolle entrepreneur, te nader en te vra vir advies.

Vir my was desperaatheid nooit genoeg om sukses te verseker met enige van die vele ondernemings waarmee ek probeer het om geld te maak sedert 2006 nie. Of, soos ek telkemaal gedink het, dalk was ek nie desperaat genoeg nie. Ek het immers die heeltyd ’n dak oor my kop gehad, en ek het geen kinders wat na my kyk met honger in hulle oë nie.

Dát ek desperaat was om geld te maak, was nietemin duidelik. Dit was ’n probleem om verskeie redes:

1. Ek het nie saadkapitaal gehad nie.

2. Ek was bewus van die feit dat ek desperaat was, en hierdie bewussyn het my selfbeeld ondermyn.

3. Ek het derhalwe nie genoeg selfvertroue gehad om ander mense te nader om saam met my te werk nie. Ek was bang hulle sien my vir wat ek was: ’n behoeftige wat húlle hulp nodig gehad het.

4. As jy desperaat is, het jy nie tyd vir iets wat eers oor ses maande of ’n jaar kan begin geld inbring nie; jy het onmiddellik geld nodig.

5. Omdat jy nie jouself kan toewy aan ’n langtermyn projek of onderneming nie, is jy geneig om te spring van een idee na die ander.

6. Gebrek aan saadkapitaal, gebrek aan selfvertroue en verlaagde selfbeeld, en ’n rondspring tussen projekte is alles faktore wat waarskynlikheid van sukses verlaag. Jou amper onvermydelike gebrek aan sukses na drie maande, na ses maande, na twee jaar, na drie jaar … maak jou nog meer desperaat.

DINSDAG 3 FEBRUARIE 2015

Ek het ook ’n geskiedenis met identiteitsprobleme. In my skryfwerk het ek kapitaal gemaak daarvan, maar dit kan nie ontken word dat ek steeds sukkel daarmee nie. Natuurlik weet ek wie ek is … maar wáár? wanneer? saam met wie?

As ek vroeg in 2006 besluit het EK IS WEBSITES – die skep van ’n webwerf vir ander mense óf om die werf te verkoop, sou die desperaatheid steeds ’n effek gehad het, maar ek sou dit vinniger oorkom het. As ek besluit het EK IS SHORT REPORTS, sou desperaatheid ook ’n effek gehad het, maar ook dán sou dit mettertyd vervaag het. As ek moes besluit het EK IS SPORTSBETTING, sou dit my steeds twee of drie jaar gevat het om suksesvol te raak, maar ek sou nie tyd gemors het met enige iets anders nie. Dieselfde kan gesê word oor finansiële markte, pryshandel op die sportmarkte, vryskutskryfwerk, of sosiale media bemarking vir ander mense.

Die probleem was, nie net was ek desperaat vir kontant nie, ek het ook geen benul gehad oor “wie” ek wou wees nie. Soos gewoonlik wou ek alles doen, want alles het goed gelyk.

Hierdie probleem steek steeds sy kop uit elke keer wanneer ek gekonfronteer word met meer as een opsie.

* * *

Om suksesvol te kan funksioneer en ’n aanspraak te kan maak op ’n plekkie in die son, moet ons aanvanklik ontdek en later besluit wie ons is en wie ons wil wees, en dan fokus daarop om elke dag hierdie persoon te wéés. As ons elke tweede maand van identiteit verander – “My naam is nie meer Johan nie, dis nou Tienzin, en ek hou nie meer van braaivleis nie, ek is nou ’n vegetariër” – gaan ons sukkel om ’n sukses te maak van wat dit ook al is wat ons wil doen.

______________________