Kreatiewe onafhanklikheid – advies oor die lewe – identiteit

MAANDAG 1 AUGUSTUS 2005

18:51

Kreatiewe onafhanklikheid is ’n goeie en edel doelwit om na te streef. Om jou arbeid te verrig soos jy dit goedvind en nie soos dit gedikteer word deur ander nie, is alles goed en wel. Maar hoe word dit toegepas op mediese dokters, tandartse, polisie offisiere, ingenieurs, brandweer personeel en noodhulpdienste? Skrywers, akteurs, filosowe, fotograwe en so meer is deel van ’n groep “arbeiders” wat sekerlik kan aandring op minimale inmenging op hoe hulle hul werk verrig, maar kan alle arbeiders aandring daarop?

Nog ’n vraag: Die skrywer of kunstenaar wat hand en tand veg vir kreatiewe onafhanklikheid, om te doen wat hy wil, soos hy dit goedvind, het elke nou en dan ’n tandarts nodig, of ’n mediese dokter, of ’n verpleegster of ’n bankklerk. Hy verwag dat hierdie mense hulle werk moet doen soos dit veronderstel is om gedoen te word. Dan praktiseer hy mos nie wat hy predik nie, of hoe? En is dit nie ook edel om te voorsien in die behoeftes van die gemeenskap nie?

19:00

Wat sou ek eendag wanneer ek oud is vir iemand sê wat my advies vra oor die lewe? (Ek bedoel nou as ek gelukkig genoeg is dat iemand vir my ’n vraag vra waarvoor ek so ’n mooi, goed uitgewerkte antwoord het, en die persoon is geduldig genoeg om na die kort toespraak te luister.)

Ek sal sê, drie dinge:

1. Leer jouself ken. Vra jouself vrae, en oorweeg elke moontlike antwoord deeglik voor jy een aanvaar. Indien ander mense antwoorde het op die vrae wat jy vra, of aan jou antwoorde bied, aanvaar dit slegs na jy dit krities oorweeg het, en as relevant ag vir jouself. Leer jouself ken in verskillende situasies, en in uiteenlopende omgewings. Neem jouself waar; sien waar jou sterkpunte lê, asook jou swakhede.

2. Maak geld. As jy dit kan doen sonder om iemand “baas” te noem, of sonder om na iemand anders se diktee te dans, sal jy een van ’n minderheid wees wat persoonlike vryheid in hulle arbeid geniet. As jy meer geld maak as wat jy nodig het vir jou basiese behoeftes en vir wat jou ook al gelukkig maak, ook goed so. Dit sal jou in staat stel om die lewe meer te geniet, en om ander mense by te staan in hulle stryd om oorlewing. Onthou: gierigheid is ’n slegte eienskap; wees wys met jou geld; en as jy jou selfrespek merendeels bou op die feit dat jy geld het, bou jy jou huis op sand.

3. Kennis … van jou omgewing, die wêreld buite jou onmiddellike ervaringsveld, die geskiedenis van die mens, ander samelewings, ander lande, ensovoorts. Ook kennis van sielkunde, filosofie en ander vakgebiede wat jou in staat sal stel om jouself, ander mense, en die wêreld beter te verstaan.

DINSDAG 2 AUGUSTUS 2005

Stel jouself die volgende toneel voor: honderd mense is vergader in ’n saal. Geen name word gebruik nie. Elke persoon het ’n stel wit kaartjies by hom of haar – sê so vyftig kaartjies. Op hierdie kaartjies skryf die mense dan stellings wat hulle definieer: beskrywings soos, “Ek het ’n lang neus,” “Ek het ’n moesie op my voorkop,” “Ek vertel graag grappe,” “Ek hou van tuinmaak,” en dan ook ervarings soos, “Ek het geval met my fiets toe ek twaalf was en my voortande verloor,” “Ek het saam met my ouers deur Europa gereis toe ek sewentien was,” “Ek het in my middel twintigs vir twee jaar in Suid-Korea gewerk,” en so meer. Die kaartjies word dan saamgegooi, en elke persoon word dan uitgeken deur hierdie stellings en ervarings. Natuurlik sal ten minste die helfte van die mense reageer as die stelling, “Ek is ’n man” gelees word. Vele sal hul hande opsteek as die stelling, “Ek het bakore” gelees word. Sekerlik sal die semi-unieke kombinasies van fisieke eienskappe en beskrywings van persoonlikheid die een persoon onderskei van ’n ander, maar sal persoonlike ervarings die grootste unieke identifiseerder blyk te wees?

DONDERDAG 4 AUGUSTUS 2005

As jy nie weet wat jy met jou lewe wil doen nie, wat doen jy met jou lewe? Hoe funksioneer jy? Hoekom leef jy soos jy leef, waar jy leef, en met wie jy leef? Hoekom doen jy die werk wat jy doen? Hoekom dra jy die spesifieke klere wat jy dra?

Ek is seker daarvan daar is interessante antwoorde op bogenoemde vrae. Of, meeste mense het in der waarheid ’n idee van wat hulle met hul lewens wil doen. Indien dit die geval is, wonder ek: “Wat?” En indien iemand dan die vraag antwoord, sal ek steeds nuuskierig wees: “Hoekom?”

______________________

Stellings en vrae – vier doelwitte

SONDAG 17 JULIE 2005

Uit die nuutste Sarie: “[Vroue] werk met tradisionele rolomskrywings wat dikwels godsdienstig gesanksioneer word.” En, “Min mense is ‘van nature’ self-opofferend. Vroue is so omdat hulle dink dis hul enigste bestaansreg.” Ook, “Jy kry positiewe reaksie as jy die ‘tipiese’ rol vervul. Jy weet klaar wat jou rol eendag gaan wees en daarom ontwikkel jy nooit sekere eienskappe nie – wee jou as jy buite daardie spore beweeg.” (UNISA teoloog, Christina Landman)

MAANDAG 18 JULIE 2005

Naderende storm maak my angstig. Tydens die storm self is ek kalm.

DINSDAG 19 JULIE 2005

Die Ideale Self is nie ’n vreemde entiteit wat jy ontmoet aan die einde van ’n lang reis waarmee jy dan plegtig saam smelt nie. Die Ideale Self is reeds binne jou.

MAANDAG 25 JULIE 2005

10:25

Uiteindelik kom alle vrae oor eie identiteit, geloof, oortuigings, geïntegreerde beskouing van bestaan en lewensfilosofie neer op ’n praktiese aangeleentheid: Hoe moet ek funksioneer? Hoe moet ek leef van slaap tot slaap? Wat moet ek doen met die bestaan wat ek nie anders kan as om te erken nie?

15:45

Al daai vrae van die 10:25 teks kom neer op meer as net funksionering. Dit kom ook neer op die resultate wat jy sal agterlaat van jou bestaan.

* * *

Ek maak ’n stelling: My gunsteling kleur is groen. ’n Ander persoon hoor dit en dink, “Wat is my gunsteling kleur?”

Ek sê, “As ek NT$100 000 het, sal ek vir drie maande lank China toe gaan.”

Die ander persoon sê, “O. Wat sal ek doen as ek NT$100 000 het?”

Ek sê, “Die doel van my lewe is om ___________.”

Die ander persoon hoor dit, en dink na oor sy of haar eie lewe. “Wat is die doel van mý bestaan?” sal die persoon vra.

Die punt is dus nie om net vrae te vra nie, maar om ook te sê wat jy glo, wat jy doen, en hoe jy dinge sien. ’n Ander persoon hoor wat jy sê, of lees wat jy geskryf het, en ’n innerlike stem skop ook in by daai persoon, wat dan van dieselfde vrae vra wat jy oor die jare gekontempleer het.

18:50

Vraag: Waaroor gaan die lewe? (Een van verskeie moontlike formulerings van wat in beginsel dieselfde vraag is.)

Antwoord: Funksionering + Eindresultate

SATERDAG 30 JULIE 2005

My vier doelwitte in die lewe is as volg:

1. Om gelukkig te wees, en as ek gelukkig kan wees saam met iemand, sal dit uitermatig goed wees.

2. Kreatiewe onafhanklikheid – om te kan skep, om te kan produseer wat ek goedvind, en nie soos dit gedikteer word deur ander nie.

3. Finansiële onafhanklikheid – om nooit in enige iemand se oë hoef te kyk vir geld nie; om oor voldoende kapitaal te beskik om die volgende moontlik te maak: kreatiewe onafhanklikheid, in werklikheid en nie net as ’n ideaal nie; om dinge te kan doen wat my gelukkig maak; om ’n huislike omgewing te kan skep, of om mede-skepper te wees van ’n tuiste, waar ek gemaklik kan werk, kuier en rus; om ’n lewenstyl te kan bekostig wat ek al vir jare lank nastreef.

4. Om ander mense by te staan in húlle stryd om oorlewing, en/of om van waarde te wees in hul eie pogings om ’n begrip te ontwikkel van hul bestaan wat hulle in staat sal stel om gelukkige en produktiewe lewens te kan lei; ook om by te dra tot ’n gesonder habitat vir mens en dier.

______________________

Geïntegreerde beskouing van bestaan – iets gebreek – spirituele dimensie

DINSDAG 12 JULIE 2005

14:10

Wat is ’n geïntegreerde beskouing van bestaan?

Vir my bring dit Freud en Christus bymekaar, samelewing en bloedselle, mense en diere en bome, die verlede, die hede en die toekoms. Dit bring bymekaar wat in die mens se psige aangaan, wat tussen twee individue plaasvind in uiteenlopende situasies, en hoe een gemeenskap voortbestaan in harmonie met ’n ander. Dit bring wetenskap, chemie, sielkunde, religie, filosofie, geskiedenis, antropologie, sosiologie en biologie bymekaar.

Dit stel jou in staat om te kyk na jouself, na alles om jou, na alles wat volgens geloofwaardige bronne op ander plekke gebeur, en op ander tye gebeur het, en na ander mense wat soortgelyke ervarings van die werklikheid het as jyself, of totaal verskillende ervarings, en te verklaar dat “dinge” sin maak – of ten minste op so ’n wyse dat jy kan funksioneer in die tyd en omgewing waarin jy jouself bevind.

17:41

Ek kry vanoggend die gevoel dat iets gebreek is, of iets wat voorheen gewerk het, nie meer werk nie. Ek oorweeg dit toe, siende dat dit klink soos ’n ernstige aangeleentheid.

Na ’n paar minute reken ek: Freud het gepraat oor die mens se strewe na konstante energievlakke; ek kan beslis sê dat my interne stabiliteit versteur was die afgelope drie weke. Daar was die afwesigheid van die persoon aan wie se intieme teenwoordigheid ek gewoond geraak het die afgelope paar maande. Daar was die pyn en ongemak van die laaste twee weke in my gesig – ongemaklik naby aan ’n mens se sentrale punt van bewussyn, en derhalwe moeilik om te ignoreer. Laastens was daar my rekenaar – my primêre instrument van uitdrukking, die belangrikste instrument in die realisasie van literêre projekte en ander kommersiële projekte, en oor die algemeen my herberg in tye waar TV, movies, of mense nie my gemoed kan verlig nie. Hierdie was alles dinge wat ’n besliste uitwerking gehad het op my energievlakke, en op my algemene bewussyn.

Iets wat gebreek is? Iets wat nie meer werk nie? Ek moet bogenoemde oorweeg voor ek enige iets uitmekaar begin haal.

20:18

Kennis bring kalmte, en ondermyn irrasionele angs. As ek byvoorbeeld geweet het alles gaan uitwerk oor die volgende paar maande – skryfprojekte, besigheidsprojekte, my en [N.] se verhouding, geld, skedules, vakansies, familie, en so meer, sou ek dan kalmer gewees het?

Gepraat van kennis: Wat sou ek dink daarvan as ek toegang moes kry tot verifieerbare, onweerlegbare bewyse dat daar ’n “spirituele” dimensie is – en dat hierdie dimensie gevul is met beide goeie en slegte “geeste” (of entiteite), en dat wat jy doen met jou lewe in die “aardse” dimensie ’n effek sal hê op watter kant van die lyn jy sal eindig na jy jou laaste asem uitblaas? Dat die Christelike konsep van “hemel” en “hel” ’n simplistiese weergawe is van wat gebeur met jou “gees”. Dat dit inderdaad ’n komplekse proses is van suiwering, moontlik selfs hergeboorte, lesse leer, keuses maak, ontvanklik wees vir rigtingwysers wat jou in staat sal stel om voort te gaan op jou spirituele reis. Dat dinge wel gebeur met ’n doel. Dat sekere mense oor jou pad kom, of “gelei” word deur komplekse manipulasie deur goeie “geeste”, om jou te help – of selfs ’n geval van wedersydse konstruktiewe invloed in iets soos ’n verhouding, maar dat daar nie ’n sentrale figuur is wat toutjies trek en die een red van ’n ongeluk en toelaat dat ’n ander een gewelddadig vermoor word nie. Wat sou ek sê, of wat sou my posisie wees, as ek moet wéét dit is die waarheid?

______________________

Opinie – Stem van die Anderkant – geloof

MAANDAG 11 JULIE 2005

11:35

Ons almal het opinies van mekaar. Sommige mense sal moontlik effens geskok wees as hulle moet weet wat ek regtig van hulle dink, en so sal ek dalk geskok en ietwat verontwaardig wees as ek moet weet watse lae opinie party mense van my het.

Voordat ek vir mense sê met hoeveel erns ek hul opinie bejeën, sal ek graag vir hulle wil vra om vir my die skaal te wys waarmee hulle mense weeg. My vermoede is dat vele mense se skale primitiewe, saamgeflanste instrumente is wat net sowel uit die Middeleeue kan kom.

As jy jou saak stel en my kan oortuig dat jou maatstawwe redelik is, sal ek jou bedank vir jou eerlike en konstruktiewe opinie. Indien ek egter nie beïndruk is met hoe jou opinie gevorm is nie, sal ek duidelik wees in myne. Dankie dat jy die moeite gedoen het om ’n opinie oor my uit te dink, sal ek sê, maar jou opinie is belaglik, en hoef derhalwe nie met erns bejeën te word nie.

(Tensy … die persoon se opinie van jou dreig om oor te gaan in aksie teen jou wat jou kanse op oorlewing, of jou optimale funksionering, sal ondermyn. Die persoon se opinie hoef dus nie soseer dan met meer erns bejeën te word nie, maar die persoon moet wél behandel word as ’n ongesofistikeerde barbaar, of ’n wilde dier wat jou skade kan berokken.)

12:34

Ek weet dit nou: jy stap nie weg van tien dae se amper onophoudelike pyn en ongemak in jou gesig sonder ten minste ’n kraak in jou moraal nie.

12:51

Laaste paar dae se notas maak dit duidelik dat ’n gedagte aan die broei was. Ek is kwaad vir myself, en dit het te make met een ding: my lewe – en met lewe bedoel ek die ure wat ek wakker is elke dag – is gevul met take, doelwitte, projekte wat afgehandel moet word sodat ek meer take kan uitdink, en meer projekte kan begin, en meer doelwitte kan nastreef. En dan tref ’n bus my, en waaroor sal ek die spytste wees? Geluk. Daar’s so min geluk in my lewe dat dit my naar maak. En ek het so ongelooflik baie geleentheid vir geluk.

Die afgelope twee weke was bevorderlik vir hierdie insig – die pyn in my mond, [N.] se afwesigheid, al die take wat ek afgehandel het, my nuwe rekenaar, die hersieningswerk aan “Persoonlike Agenda”, en tog … daar’s altyd nog take, nog projekte, nog doelwitte! Daar’s geen einde daaraan nie! Ek bekommer myself vrek oor geld en wanneer ek weer Suid-Afrika toe gaan en hoe ek verskyn! Staan op, werk, dink, skryf, eet (bekommer my daaroor om nie vetter te raak nie!), kyk bietjie TV (nie te veel nie want daar’s werk en take wat wag), en dan gaan slaap ek weer. En dan staan ek weer op en stort en werk, en eet en streef doelwitte na en dan tref ’n bus my. En dis alles oor. En die vrou by die teestalletjie maak steeds tee elke dag, en kinders gaan nog steeds Engelse klasse toe, en nuwe TV-programme word gemaak, en hierdie Sondagaand is daar ’n nuwe feature movie op HBO.

En aan die ander kant van die Groot Rivier staan ek, en ek besef: take is belangrik; doelwitte is belangrik; projekte lewer resultate van ’n betekenisvolle lewe op. Maar as dit jou nie geluk gebring het nie, nie net in jou “lewe” nie, maar in jou ure elke dag, was dit dan werklik ’n lewe wat die moeite, die swaarkry, die vernederings, die verleenthede, en die tandpyn werd was?

14:50

Die tyd het aangebreek om ’n nuwe stem te kultiveer: Die Stem van die Anderkant.

Die Stem van Rede sal byvoorbeeld sê: X=2. Die Stem van die Anderkant sal sê hoeveel dit saak maak – van die ander kant af.

22:57

Dat enige iets bestaan of ooit bestaan het buite wat jy nou ervaar of kan waarneem met jou sintuie, is geloof – of dalk eerder, dit kan voorgestel word op ’n skaal van waarskynlikheid. Alle historiese “feite” is saamgestelde weergawes van gebeure in die verlede wat ons glo gebeur het, en soos dit aan ons vertel word. Ons kan slegs glo dat dit waar is (of was) omdat ons bewussyn, en enige eerstehandse ervaringe wat ons stoor as herinneringe, nie verder strek as ons eie lewe en die plek of plekke waar ons hierdie lewe geleef het nie.

Dit gaan dus nie soseer oor geloof nie, maar waar ons die grense van geloofwaardigheid trek, en spesifiek waarin ons glo.

Feit is, ons kan nie funksioneer sonder geloof nie – dat môre byvoorbeeld soos verlede Dinsdag moet wees in terme van werkskedule en ander aktiwiteite, is geloof. Ons kan slegs glo dat Napoleon of Julius Caesar of Aristoteles bestaan het; hulle kan nie ons sintuie oortuig dat hulle ooit bestaan het nie. Ons glo dat hulle bestaan het, omdat ons lees van hulle, of lees wat hulle geskryf het.

Laastens, ’n handige intellektuele oefening mag dalk die beantwoording wees van die volgende vraag: Wat is die verskil tussen geloof in die bestaan van enige god, en geloof dat Julius Caesar bestaan het?

[Waarskynlikheid dat ’n persoon soos Julius Caesar kon bestaan het versus waarskynlikheid dat enige godheid werklik kan bestaan, is heel waarskynlik ’n goeie begin.]

______________________

Vrye uitdrukking – beddegoed wat pas – filosofie

SONDAG 3 JULIE 2005

09:32

“Convinced that his journey of self-discovery was far from over […] broke free from artistic convention […] became both sculptor and subject […] abandoned the […] style that he had become famous for […]” ~ oor Ju-ming, ’n Taiwannese beeldhouer

Hy het New York toe gegaan, was blootgestel aan ’n nuwe wêreld van kleur, medium, tekstuur en vorm. Hy het teruggekeer Taiwan toe vry om te eksperimenteer, vry om te skep, vry van die beperkinge wat aan hom gestel is deur die konserwatiewe meesters.

Hy het begin as ’n tempel houtkerwer.

Hy’t twee reekse geproduseer: “Tai Qi” en “Living World”.

“[…] taking risks […] creating their own fortune […] seeing the big picture.”

11:01

Ek dink terug aan somer 2000: omdat ek nie besig was op ’n daaglikse basis om my Ideale Self te word – of selfs beter, te wees – nie, was ek vir alle praktiese doeleindes, in verskyning aan ander en aan myself, ’n sprekende voorbeeld van iemand wat haat wat hy doen om aan die lewe te bly en wat deurlopend misluk daarin om belangrike emosionele en fisiese behoeftes te bevredig. Ek het in desperaatheid gegryp na enige noodmaatreël wat my uit die situasie kon red. Die “musikant” visie is gevolglik nagejaag met koorsagtige entoesiasme. Natuurlik het ek ook gedink, “As ek net ’n miljoen rand gehad het …”

Deur hierdie nota te maak, is ek my Ideale Self: iemand wat dink, en wat skryf oor dit waaraan hy dink. Hierdie nota is ’n manifestasie van my Ideale Self. Dis ritueel, soveel as wat dit vrye uitdrukking van my werklikheidservaring is.

13:44

“… balancing confidence and credibility.” (China Post, 1 Julie 2005)

* * *

Wat het die Nederlandse regering gedoen in 1945 toe hul lyding onder Nazi heerskappy verby was? Hulle het hul troepe bymekaar geskaar en terug gehaas Indonesië toe om hul onderdrukkende heerskappy oor die Indonesiese bevolking voort te sit wat versteur was deur die Japannese.

Onderdrukkers die een dag; onderdruktes die volgende dag; onderdrukkers die oomblik toe hulle weer die geleentheid kry.

Geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog moet gelees word op dieselfde bladsy as post-Tweede Wêreldoorlog pogings om voormalige kolonies weer onder Europese beheer te kry. Dit geld vir al die Europese koloniale moondhede van die tyd – Brittanje in Suidoos Asië en Afrika, Frankryk in Suidoos Asië en Afrika, Nederland in Suidoos Asië, en Portugal in Angola en Mosambiek.

22:13

Ek het vanmiddag vir my ’n hele nuwe stel beddegoed gekoop – paslaken, duvet, en twee bypassende kussingslope. Die skuldgevoel oor wat in werklikheid ’n uiters redelike prys was wat ek moes betaal, en die onsekerheid oor hoe die verandering in beddegoed my siening van myself gaan beïnvloed het ingeskop nog voor ek die hysbak van die afdelingswinkel bereik het.

’n Paar maande gelede was ek nog onversetlik oor my blou duvet, my ander duvet met die groot varkoor op, en die kussingslope wat by niks pas nie. Ek het vir [N.] gesê die dag as ek beddegoed aanskaf waar alles bymekaar pas, is die dag wat ek die estetiese uitdrukking van my selfbeskouing, en daarmee saam alles waarvan dit ’n simbool is, onder my voete vertrap. Sy het saamgestem dat die waarde van bypassende beddegoed totaal en al oorskat word; dat dit inderdaad heeltemal onnodig is. My beddegoed, so het sy gereken, is heeltemal orraait. Weke later het sy steeds gereken daar is niks verkeerd daarmee nie. Ek, aan die ander kant, was skielik van mening dat dit “common” lyk. (In my verdediging moet ek noem dat die paslaken valletjies gehad het. Dit was nie my styl nie. Die enigste rede hoekom ek daai spesifieke laken begin gebruik het, was omdat ek ’n dikker matras op die bed gesit het, en die enigste laken wat groot genoeg was, was een wat my vriendin, J. twee en half jaar gelede aan my geskenk het toe sy Taiwan verlaat het.)

Toe, vanmiddag, toe [N.] nog op vakansie in Suid-Afrika is, gaan koop ek natuurlik daai hele stel nuwe beddegoed – stylvol, pas by die kleurmotief van die slaapkamer, geen valletjies nie.

“Was ek veronderstel om my hele lewe lank te slaap op ou beddegoed waar niks bymekaar pas nie, net omdat ek myself verbeel ek is ’n anti-bourgeois intellektueel?” het ek in my kop aan myself geskree op pad huis toe. “Moet ek my kop in skaamte laat sak omdat ek Reël # 17 van die Vrydenkende Intellektueel se Handboek oor Huisware en Beddegoed oortree het? Het ek vergeet dat geen selfrespekterende kritikus van alles wat middelklas is ooit so laag moet daal om twee kussings op ’n bed te lê met bypassende oortreksels nie?”

Toe dink ek: Wat is die waarde van vrye denke, selfdefinisie as dit kom by wie en wat jy wil wees, en vrye keuse, as ek vir die res van my lewe moet leef onder die diktaat van my eie karikatuur van ’n linksgesinde kritikus? As ek nie kan kies om geld te blaas op stylvolle, bypassende beddegoed nie, watse ander keuses is daar waar my sogenaamde vryheid ingeperk word deur my eie idee van hoe my lewe veronderstel is om te lyk, siende dat ek myself geëtiketteer het as ’n skrywer met anti-middelklas opinies? Wie is my meester as dit kom by hierdie sake? Het Marx of Lenin se lakens en kopkussings bymekaar gepas? Koop Michael Moore sy beddegoed by drie verskillende garage sales om te verhoed dat ’n laken by ’n duvet pas, en Great Revolutionaries forbid, dat dit dalk nuut moet wees? Ek dog ek dien my eie agenda! Ek dog ek maak my eie vrye keuses! Ek dog wat ek doen met my lewe, waar, met wie, en hoe ek my huis versier as ’n uitdrukking van my selfbeskouing en persoonlike oortuigings, is selfgedefinieerd!

Dit is mos dan een honderd persent in lyn met my oortuigings en met my geïntegreerde filosofie en begrip van die lewe as ek sê dis oukei: jy kan in alle geloofwaardigheid progressief wees in jou denke en opinies, en kritiseer hoe ander mense hul lewens leef, en aan die einde van ’n produktiewe dag jou moeë lyf werp op ’n bed waar die laken pas by die duvetoortreksel, en waar die kussingoortreksels nie te gewelddadig in kontras is met die kleurmotief van jou slaapkamer nie.

DINSDAG 5 JULIE 2005

Snaaks watse positiewe bewussyn gestimuleer word in die diepste punte van jou wese as iemand wat saak maak vir jou die voornaamwoord “ons” gebruik.

WOENSDAG 6 JULIE 2005

Ek lees Ayn Rand se For The New Intellectual en ek word weer herinner aan die feit dat, omdat ek nooit formeel filosofie bestudeer het nie, ek nie bewustelik enige denkstroom volg nie. Daar is wel voorbeelde van meer direkte invloed: Jean Paul Sartre se “exist, appear, confront, define”; Nietzsche se “will a self and thou shalt become a self”; Wittgenstein se teorie van taal as ’n faktor in hoe waarheid gesien word; en Karl Marx se “in an ideal world a man can tend sheep in the morning without ever becoming shepherd …”

______________________