Platsak – eie geselskap – koop jou tyd

MAANDAG 21 MAART 2005

12:32

Om platsak te wees, in ’n nuwe verhouding, en om ’n elektriese ketel te begeer.

17:26

Weereens: verveling lei tot neerslagtigheid omdat jy waardeloos voel op daai oomblik – of dan omdat jy ervaar ’n dramatiese verlies, of dramatiese vermindering van die waarde van jou lewe op sekere tye. Werk dit teë! Beveg verveling!

20:56

Om (weer) platsak te wees voel asof ek steeds in die kloue is van die kragtigste faktor wat my gemaak het wat ek is vandag. Dis een van daai ervarings wat jou toets, wat jou geloofwaardigheid toets, wat vir jou sekerheid gee of dit wat jy sê (of skryf) en wat in werklikheid jou lewe is op ’n daaglikse basis, steeds eg is.

Nietemin, ek hoop hierdie is die laaste keer in my lewe wat ek sonder geld sal wees. Ek meen, behalwe vir die inspirasie wat dit loswikkel, is die frustrasie baie werklik.

DINSDAG 22 MAART 2005

As ek so gelukkig en tevrede was met my eie geselskap soos ek altyd ewe verwaand beweer, sou ek gelukkig en tevrede gewees het met my eie geselskap wanneer ek kort reise onderneem. ’n Hele paar ervarings oor die jare vertel egter ’n ander storie.

Dit kan dus gesê word dat ek gelukkig en tevrede is met my eie geselskap binne ’n spesifieke omgewing, dit wil sê ’n omgewing waar ek geen betekenisvolle verskyning hoef te maak nie, maar ook veral waar ek kreatief uiting kan gee aan wat ek dink en voel.

[Ek voel nie eensaam wanneer ek alleen is nie, maar wanneer ek moet verskyn – dan het ek ’n maat nodig, iemand anders om mee te gesels en die ervaring mee te deel.]

DONDERDAG 24 MAART 2005

Die PUNT is: mens moet jou eie tyd koop! Jy moet as’t ware jou eie lewe loskoop van die stryd om basiese oorlewing, en al die onvrye verskynings wat dit op jou forseer, of van jou vereis!

______________________

Gedagtes – bazaar – maatreëls

SATERDAG 12 MAART 2005

Sommige van die gedagtes wat in ’n mens se kop ontstaan en wat jy dalk neerskryf, het net waarde vir jouself, en soms net in ’n spesifieke periode van jou lewe. Ander gedagtes het potensieel waarde vir veel meer mense as net die een wat die gedagte op ’n sekere wyse genoteer het. Hierdie gedagtes, of idees, is belangrik: die tipe idees wat deur enige een kan vloei, uit, na ander mense toe, wat deur hulle opgeneem en persoonlik gemaak word vir hul eie lewens.

WOENSDAG, 16 MAART 2005

15:11

Uit die China Post: “[If you] understand the origin of [your] fear, the origin of [your] status […], [you will] discover that life can be different.”

15:59

Soveel beelde, soveel woorde … dis asof daar ’n [N.] konferensie in my kop aan die gang is wat dreig om in ’n bazaar te ontaard! Ek voel wel elke nou en dan hoe ’n obsessie nader kruip, soos ou spoke, om haar te vertel, om haar te wys, wie ek “werklik” is.

Natuurlik het sy ’n eintlik goeie idee het wie en wat ek is. My werklike obsessie is die PROSES wat gelei het tot hierdie punt. En die proses sluit in eensaamheid, alleenheid, wanhoop, stryd met die oorblyfsels van godsdienstige oortuigings, ’n soms desperate behoefte aan die tipe liefde wat jy voel aan jou vel, onsekerheid, moedeloosheid, eksistensiële angs, vervreemding van my geboorteland, my familie, en op tye selfs die enkele vriende wat ek hier het. Dit – dit is wat ek aan haar wil openbaar!

VRYDAG 18 MAART 2005

09:30

Ek het ’n bepaalde beskouing gehad van myself voor ek vir [N.] ontmoet het. Die beskouing het ingesluit dat indien ek op my eie gelukkig moet wees, dit dan so sal wees. (Ek het nooit aanvaar dat dit noodwendig so sal wees nie, maar ek het geweet dat ek gekonfronteer is met die baie werklike moontlikheid.) Ook my siening van myself as ’n “verligte enkeling” het onderstreep dat ek nie intieme bevestiging nodig het vir wie en wat ek dink ek is nie.

En toe arriveer sy.

En toe kom die gedagte dat om tyd terug te draai en weer sonder haar te wees … dat dit moeilik sal wees.

So ook het sy ’n sekere beskouing van háárself gehad, voor ek ’n verskyning in haar lewe gemaak het. Hierdie beskouing het ingesluit dat sy op haar eie geluk moet vind as ’n man wat aan haar toenemend hoë standaarde voldoen, nie oor haar pad kom nie. Soos ek, het sy sekerlik gehoop dat sy nie die res van haar lewe alleen hoef te wees nie; soos ek het sy geweet die moontlikheid draal agter haar aan soos ’n skadu op ’n sonnige, wolklose dag. Sy het ook toenemend aan haarself begin dink as sterker as van die vroulike karakters met wie sy al tyd gespandeer het. Dat sy nie gesien moet deur ’n man as behoeftig nie, het haar eie troetel obsessie geword.

En toe verskyn ek op haar toneel. En toe ontwikkel sy die gevoel wat sy nou het. En toe onthou sy hoe sy gevoel het oor haarself, en oor mans in die algemeen, voor my verskyning. En sy neem waar hoe sy teenoor my voel.

Sou die teenstrydigheid haar ook angstig maak?

12:18

Mens ontmoet iemand, en as jy weer kyk, het jy ’n koorsagtige behoefte ontwikkel aan haar teenwoordigheid in jou lewe. Jy verval in ’n toestand van paniek want jy wéét, jy weet as hierdie persoon onttrek, is jy in jou moer in. En jy vind dat jy stil-stil begin met die konstruksie van maatreëls, net vir in geval … en op so ’n manier dat dit nie die proses waarmee julle besig is, te veel sal belemmer nie.

Wat ek wil voorstel is eenvoudig: Fok die maatreëls. Gee oor. Maak oop jou hart. En as die proses nie lei tot die resultate waarvoor jy in jou beste oomblikke hoop nie, dan tel jy maar van vooraf die stukke op – en stukke sal dit wees! Maar jy weet jy moet dit doen, want as jy nie die stille konstruksie van maatreëls staak nie, sal ook sy stilletjies begin bou aan maatreëls van haar eie. Waar laat dit julle?

Nee, laat vaar die maatreëls. Bevry jouself van vrees en onsekerheid. Leef … en as dit nie uitwerk nie, sal jy ten minste weet, en onthou.

17:23

Gisteraand drink ons tee in die dorp. Ek spot dat ek steeds ’n bietjie gespanne voel as ek by haar is.

“Hoekom?” vra sy. “Dis net ek.”

______________________

Wildernis – Oomblik van Geboorte

SATERDAG 5 MAART 2005

As jy iets vir ewig in jou hande wou vashou, en dit gly deur jou vingers, is jou hande ooit weer daarna dieselfde? Laat dit agter, nie soseer littekens nie, maar iets moois wat jou sal herinner aan die wonder waaraan jy wou vasklou?

WOENSDAG 9 MAART 2005

01:51

Jakobus die Woestynloper strompel die wildernis binne. Hy was al daar. Hy’t ’n rowwe kaart in sy kop. Maar wildernis, dit weet hy, is nie woestyn nie. En woestyn … is beslis nie die wildernis nie.

21:49

Die beroep wat ek vir myself gedefinieer het, of gekies het uit die talle moontlikhede waarmee ek gekonfronteer is sedert ek verneem het dat ook ék eendag ’n werkende volwassene sal wees, was dié van Digter.

Sal vele vra, “Digter? Jy moet sekerlik weet dat jy nooit bokant die broodlyn sal leef nie!”

Dit is dan ook so dat ek oor die jare bewus geraak het daarvan dat die wêreld waarin ek my plek in die son moet oop baklei, nie “digters” beloon met vaste betrekkings, ’n gereelde inkomste, ’n maatskappymotor of ’n mediese fonds nie. Ek moes derhalwe my gekose pad effens verbreed sodat ek, benewens gedigte skryf, ook ander genres kan benut om in fyn detail die wêreld te kan kritiseer waar ek nie dieselfde kompensasies kan geniet vir mý beroep as ’n tandarts, ’n straatveër, of ’n bankklerk nie.

DONDERDAG 10 MAART 2005

’n Mens bestaan net, tot jy gebore word.

Oftewel: Sommige mense bestaan slegs as dít wat aan hulle gegee is plus die resultaat van hul keuses tot op ’n punt – die resultaat van introspeksie, van kennis opdoen oor hulleself, van hulleself konfronteer, hulleself waarneem, van definieer wie en wat hulle wil wees. Indien hierdie proses van ’n bepaalde kwaliteit is, en indien hulle lank genoeg tyd daaraan spandeer, kan die oomblik wat daai bepaalde punt bereik word vir alle praktiese doeleindes beskou word as die Oomblik van Geboorte.

VRYDAG 11 MAART 2005

Vele dinge in my pad – littekens, vrese, onsekerhede, ervarings van die verlede wat maatreëls laat rys het soos forte in die woestyn … alles word onthou, maar agterweë gelaat ter wille van een ding – as jy weer glo, ten spyte van vrese en onsekerhede, weet jy dat jy jouself toelaat om te leef.

______________________

Alledaagse temas en tragedies wat meesleur

VRYDAG 4 MAART 2005

Tragedies soos die massamoorde wat die Nazi’s gepleeg het herinner mens aan die hopelose marteling waarin sommige mens die laaste maande, en soms jare, van hulle lewens gelei het.

Dit plaas die temas wat ek so nou en dan aanraak in ’n sekere perspektief – identiteit, bewussyn, omgewings wat bevorderlik is vir sekere dinge, ensovoorts. Hoe belangrik is hierdie temas in die aangesig van die tragedies wat mense al meegesleur het, en wat steeds daagliks mense se lewens verwoes? Ek meen, is dit nie waar dat hierdie tragedies op ’n baie meer primitiewe vlak van menslike ervaring is as “identiteit, bewussyn en omgewings wat bevorderlik is” nie?

Tog, ’n mens kan ook sê indien iets soos identiteit op redelike wyse benader word, as antwoorde gesoek word in ’n proses wat gekenmerk word deur kritiese denke, dit uiteindelik die potensiaal vir mensgemaakte tragedies kan ondermyn, dan nie?

Daar is ook die eenvoudige waarheid dat meer alledaagse temas presies die temas is wat besin sou word deur die intellektuele figure wat slagoffers geword het van tragedies soos die Joodse volksmoord. Onderwerpe waaroor ek so diep staan en peins wat amper ligsinnig voorkom as mens dink dat mense elders in die wêreld op daai oomblik stry om primitiewe oorlewing, is presies die temas wat vir hierdie intellektuele relevant sou wees, as dit nie was dat die See van Tyd hulle gegooi het op die Kuste van Tragedies nie.

______________________

Reën in Bronkhorstspruit

MAANDAG 21 FEBRUARIE 2005

Ek staan buite, op die hoek van die huis, rook my eerste sigaret van die dag en drink ’n koppie swart Nescafé Classic. Dis Maandag 21 Februarie 2005. Dit reën, sag maar deurdringend. Die lug is grys, en dis koeler as gister, en eergister, en die hele verlede week. “Ten minste sal my kopvel nie weer ’n tan vang nie,” dink ek, en gooi die laaste bietjie koffie oor die nat gras.

My ouer suster en haar eersgeborene vlieg vanaand Dubai toe, en na ’n paar dae se kuier by vriende, verder Londen toe. Almal, dit weet elkeen van ons, gaan effens somber wees die res van die dag. My jonger suster, met haar twee week oue stukkie mens, sal voortgaan met haar nuwe lewe in hulle huis in die dorp. Ek sal vanaand daar kuier, en môre, en dan Woensdag sal ek weer terugkom plot toe. Donderdag sal ek Johannesburg toe gaan, en Vrydag vlieg ek Maleisië toe. In die lughawegebou buite Kuala Lumpur sal ek vir vyf ure lank ronddrentel voordat ons Kota Kinabalu toe vlieg, waar ek sal afklim vir ’n smoke break. Kort daarna sal ons verder vlieg om die kurwe wat Suidoos- en Noordoos-Asië van mekaar skei, tot ons land in die suidelike Taiwannese hawestad, Kaohsiung.

Maar vir nou reën dit, in Bronkhorstspruit.

* * *

Ek sit op die geel deken op die bed in die spaarkamer. Ek hoor my pa gesels met sy kleinkind; ek hoor ’n Afrikaanse omroeper op die radio in die vertrek langsaan; ek hoor hoe die jong sweiser in die agterplaas sy brood en botter verdien.

Ek gaan binne ’n minuut ophou skryf, opstaan, my notaboek bêre, en vir ’n paar minute aansluit by die mense – my familie – in die kombuis. Dan sal ek ’n beker groentee maak, op die hoek van die huis onder die afdak gaan staan, en met die reën wat op die groen gras voor my val, my tweede sigaret van die dag rook.

______________________