’n Plek waar ek nie hoort nie

MAANDAG 5 APRIL 2004

Ek was gisteraand in die “Bread of Life Church” in Kaohsiung. Ek het gedink ek sou voel soos ek Saterdagaand gevoel het toe ek ’n ander roete probeer het terug huis toe en opgeëindig het op ’n donker, verlate pad in ’n industriële area. Die gevoel wat ek gehad het tussen die donker fabrieke, na middernag op ’n Saterdagaand, was vars in my geheue op pad na die kerk. Ek het gereken ek gaan myself weer bevind in ’n plek waar ek nie hoort nie.

Na 45 minute het ek uitgestap en … ek was teleurgesteld. Teleurgesteld in die “preek” wat hoofsaaklik bestaan het uit ’n pseudo-wetenskap/geskiedenislesing om te “bewys” dat Christus werklik gesterf het. Die wat-dit-beteken-deel was uiteindelik ingelei met die woorde, “Just a few final words …” (of iets dergeliks).

Ek was ook herinner daaraan dat mense “kerk doen” op ’n Sondagaand, soos ander mense (of dieselfde mense) “sport doen” op ’n Saterdag. Dit was ’n sosiale geleentheid met die byvoordeel van religieuse identiteit bevestiging.

Ek kon nie anders as om te kyk na die mense, die “pastoor” met sy mikrofoon, en die parafernalia van “Christelike geloof” en tot die konklusie te kom dat die Kerk van Christus gekaap is deur mense wat nie die helfte van hulle eie “geloof” verstaan nie.

Hierdie is kritiese aantygings, en ek is bewus van die feit dat ek slegs 45 minute gespandeer het in die “gemeenskap van gelowiges”.

Een vraag kom egter by my op: As dit is wat ek dink, het ek ’n verantwoordelikheid om my opinies bekend te maak – in die geskrewe woord en in privaat gesprek, of moet ek dit vir myself hou en sê, “Laat die mense voortgaan om in vrede kerk te doen en hulle identiteite te bevestig”?

Verantwoordelikheid aan wie? Soos gewoonlik is ek nie seker nie. Al wat ek weet – en ek is immers nie ’n algehele vreemdeling in die hele kerk-besigheid nie, is dat iets nie lekker was by daai byeenkoms nie.

* * *

Die klem op “bewyse” in die lesing gisteraand het my ook laat dink die pastoor het aangeneem hy “preek” vir ’n groep ongelowige thomasse vir wie geloof nie genoeg is nie; asof hy weet die mense moet eers hul vingers insteek in die wonde van Christus voor hulle kan glo.

* * *

Dit mag vreemd wees vir sogenaamde gelowiges om dit uit te lig, maar dit wil voorkom asof die Christelike geloof vir vele “Christene” gaan oor regte aksie en beloning – doen dit, kry dat. Wat gedoen moet word vir die beloning is dat die persoon “in God moet glo”. Sodra dit natuurlik ’n voorvereiste raak vir verlossing, is dit letterlik ’n saak van lewe en dood om korrekte oortuigings te definieer, en ewe belangrik, om verkeerde oortuigings vas te pen. En sodra jy die grens vasgestel het tussen korrekte oortuigings en verkeerde oortuigings, is dit oop seisoen teen ketters wat “mislei word”, wat op “die verkeerde pad” is, mense wat “nie werklike gelowiges is, soos ons nie”.

______________________

Wees jou eie SELF – slegte akteur

DONDERDAG 1 APRIL 2004

Wees jou eie SELF

Die eerste dekade of twee van ons lewens spandeer ons vasgevang in omgewings waar ons grotendeels ís wat ons veronderstel is om te wees (of waar die verwagting is dat ons sal wéés wat ons veronderstel is om te wees). Die idee is, wanneer ons die pad vat weg van hierdie omgewings af, dat ons dan sekere vrae sal vra. In die proses van antwoord formulering sal ons dan vind, of definieer, wie ons “werklik” is, of wil wees – hoewel realisties gesproke is wie en wat ons moontlik kán wees reeds sterk beïnvloed deur wie ons veronderstel is om te wees en wat van ons verwag word.

In sommige gevalle is wie en wat ons veronderstel is om te wees, met hier en daar ’n verfspatsel om onsself tot ’n mate uniek te maak, goed genoeg, en hierdie identiteit word dan aangebied as antwoord op wie ons is.

In ander gevalle bereik individue ’n tyd van persoonlike krisis, wanneer hulle besef dit wat hulle veronderstel is om te wees strook nie met wat hulle ontdek het oor hulleself nie, of dit strook nie met wie of wat hulle wíl wees nie. Veranderinge moet dan gemaak word, al vereis dit soms jare se onsekerheid en intense selfondersoek. In die ideale scenario sal hierdie individue na ’n periode van sogenaamde identiteitskrisis weer aan die wêreld kan verskyn, maar dié keer in ’n “nuwe gedaante”.

Hierdie “nuwe” persoon sal altyd gebou wees op die fondasie van die “ou” persoon – vroeë ervarings, beide positief en negatief, is gewoonlik reeds te verweef met die psige van die persoon om dit te verwerp as “nie langer van toepassing nie”. Sekere karaktereienskappe van die “ou” persoon mag ook steeds in takt wees; maar selfs as sekere karaktereienskappe behou word, sal die “eienaar” van hierdie eienskappe dit nou tot ’n groter mate as sy of haar eie kan bestempel, en nie (net) as die resultaat van druk wat op hulle geplaas was in hul vormingsjare om hulle te manipuleer tot dit wat hulle veronderstel was om te wees nie.

Dit word dan ook gesê dat die persoon wat sy of haar “eie self” gevind of gedefinieer het, hulle “eie mens” geword het. Hoeveel van hierdie “self” werklik jou eie is, bly natuurlik ’n ope vraag.

SATERDAG 3 APRIL 2004

Wees nou ’n slegte akteur, toe …

Dis waarlik indrukwekkend hoe ons soms karikature maak van mense met wie ons gereeld ons lewens deel sodat hulle marionette kan wees in ons eie wêreld. Nou ja, ons almal doen dit, so niemand kla te veel daaroor nie. (Weereens ’n kwessie van wedersydse ooreenkoms: “Ek sal jou nie daarop wys as jy my nie daarop wys nie.”)

Net soms irriteer dit wel, wanneer ons kan sien iemand verwag ’n sekere “act” van ons, of verwag van ons om een of ander karakter te wees, en dit strook nie met hoe ons voel op daai oomblik, of met hoe ons in werklikheid gesien wil word nie. Of daar word van ons verwag om sekere aspekte van ons karakter te onderdruk, ter wille daarvan om te wees wat ons veronderstel is om te wees in die ander persoon se beskouing van ons – soos in, “Wees nou ’n goeie vriend en speel jouself reg, toe?”

Die vraag kan natuurlik ook gevra word hoeveel mense werklik hul eie nuanses ken. En hoeveel mense is nie afhanklik van hulle vriende se karakterisering van hulle ten einde te weet wie hulle is en hoe hulle moet optree nie?

______________________

Taiwan oggend – verwaande kommentaar

DINSDAG 30 MAART 2004

’n Taiwan oggend

Die oggendmark skets ’n ryk portret: lelike honde, lelike mense, mooi kindergesiggies, mooi vrouens met anatomies perfekte voete, die reuk van vis wat kombineer met kool en bromponie uitlaatgasse wat kombineer met die sig van ’n vrou in goedkoop sandale, met heupe wat effens styfspan in jeans soos sy oorleun om die vis te ruik …

* * *

Volgens Leibniz is al my “successive states” reeds ingesluit in my huidige bestaan. Hy praat ook van ’n hiërargie van “monads” – point-like centers of force. So vorm atome bloed, en bloed vorm deel van die aar, wat deel is van die vinger, wat deel is van die hand, wat deel is van die liggaam.

Volgens hom is die siel die “dominant monad”.

Verwaande kommentaar

Ek het gister genoem dat ek my primêre rol en funksie in die gemeenskap sien as dié van Sosiale Kommentator. Dit moet natuurlik genoem word dat dit nie ’n job is waarvoor mens aansoek doen nie; dis ook nie ’n posisie waarvoor jy aangestel word nie. Dis ’n rol en funksie waaroor jyself beslis of jy bekwaam is of nie. Laastens, ek is bewus van die feit dat dit ’n verwaande self-aanstelling is: ek glo ek is bekwaam daarvoor, en dit is goed genoeg.

Wat beteken dit in die praktyk om ’n Sosiale Kommentator te wees? Dit beteken jy lewer kommentaar oor sosiale, maatskaplike en politieke aangeleenthede – sake wat meeste mense in die gemeenskap raak soos werk, lewenstyl, familie, waarde en betekenis van die lewe, en hoe die individu die waarde van sy of haar eie lewe definieer. Meeste van die tyd neem dit die vorm aan van die geskrewe woord, maar privaatgesprek is ook ’n belangrike arena van hierdie tipe kommentaar. Mense lees dan wat jy geskryf het, of luister na wat jy te sê het, en besluit of hulle die siening van jou as ’n Sosiale Kommentator wil sekondeer, of nie.

Dit is egter van kardinale belang dat jy moet glo in jou eie kwalifikasie vir bogenoemde rol.

Dit is ook van allergrootste belang dat jy te alle tye jou onafhanklikheid van denke behou. Die oomblik as jy afhanklik raak van ander se goedkeuring van jou kommentaar, dien jy húlle agenda (tensy jy natuurlik behoort aan ’n politieke party en jou kommentaar ingestel is daarop om steun te verleen aan ’n spesifieke ideologie). As jou idees of opinies met ander s’n ooreenstem, is dit ’n bonus. Jou kommentaar of posisie oor ’n sekere aangeleentheid moet egter nooit verander bloot omdat hulle met wie jy voorheen ’n siening gedeel het, van mening verander het nie.

______________________

Nuwe of ou metafoor – goeie waarde

SONDAG 28 MAART 2004

’n Nuwe, of ou metafoor

’n Nuwe, of ou idee (maak nie saak nie): ’n Massa wat losbars (soos ’n eier wat gebreek word), en na ’n rukkie herkonstitueer – in ’n ander vorm; nooit presies dieselfde nie.

’n Soortgelyke ding gebeur met spraak: sekere idees en beelde vorm in my kop; ek verwoord dit en die idees en beelde “bars los” uit my mond in klanke wat verstaanbaar sal wees vir die hoorder, en herkonstitueer dan ’n fraksie van ’n sekonde later in die ander persoon se brein – en haar reaksie op wat ek gesê het, wys moontlik dat die idees en beelde wat in mý kop was, nie in 100% dieselfde vorm geherkonstitueer het nie.

MAANDAG 29 MAART 2004

Goeie waarde – vir diegene wat dit waardeer

My rol en funksie in die samelewing is in die eerste plek om sosiale kommentaar te lewer, en in die tweede plek (wanneer dit moontlik is), om sodanige finansiële bystand te verleen om ander mense se lewens die moeite werd te maak om te leef.

Jy mag dalk vra, “Wie soek jou sosiale kommentaar? Wie’t gevra daarna?”

My antwoord sal wees, “Sommige mense mag dit dalk handig vind, en ander mag dit dalk sien as ’n onnodige mors van natuurlike hulpbronne. Ek aanvaar die verskil in opinie, en ek skryf vir diegene wat dit waardeer.”

______________________

Oomblik zero – waaroor was die rumoer

DINSDAG 23 MAART 2004

My oomblik zero was ’n kil wintersdag in laat Julie 1995. Ek het die dag begin langs ’n snelweg buite Port Elizabeth, rekende ek behoort “binne die volgende uur” ’n lift te kry Kaap toe. Agt ure later het ek nog steeds gewag, dié keer op ’n bankie oorkant die stadsbiblioteek, met ’n buskaartjie wat ek gekoop het met my laaste aanspraak tot aardse rykdom. Toekoms was ’n konsep waaroor ek skaars twee woorde saam kon vleg – en die werklikheid het geknaag aan my agterent soos ’n dol straatbrak …

WOENSDAG 24 MAART 2004

Waaroor was die rumoer?

Ek voel die vreemde begeerte om myself te vra hoekom ek so driftig was om terug te gaan Suid-Afrika toe teen die begin van Februarie. Hier is die vier hoofredes:

1. Ek het ’n probleem gehad daarmee om myself te onderwerp aan toetse om te bewys ek is gesond genoeg om in hierdie land te bly.

2. Ek het geweet om langer in Taiwan te bly sou beteken dat ek weer nuwe klasse moes begin, en derhalwe weer van vooraf moes begin funksioneer in ’n omgewing waar ek as ’n naamlose buitelander (oftewel dan “Mr. Brown”) myself moes onderwerp aan ’n arbeidsverhouding waar ék die een sou wees wat my arbeid verkoop, en derhalwe moes optree volgens ’n bepaalde vooraf opgestelde idee van die “foreign teacher”.

3. Ek het besef dat ek net-net genoeg geld in die bank gehad het om binne enkele weke huis toe te kon gaan.

4. Geloofwaardigheid (en moontlik selfrespek). Ek het geweet as ek moes besluit om nie die plan deur te voer nie (soos die geval was aan die einde), sou ek as hoofkarakter in my storie weereens moes toegee, “Ek het toe besluit om tog aan te bly,” eerder as “Rewolusie! Die Skrywer Gaan Huis toe!” Ek het desperaat nodig gehad om iets in blydskap uit te roep, eerder as om iets anders in skaamte te fluister …

Dis soos wat ’n mens behoort te verwag: Die lewe is ’n wilde merrie – sy spring bont, en jy moet sorg dat jy in die saal bly.

______________________