Resultate van ’n lewe

VRYDAG 11 JUNIE 2004

Die vraag bly, wat is die verskil tussen “my, nou” en “my, tien jaar gelede”? Watse verskil maak dit dat ek myself nou “beter” ken, of beter gedefinieer het?

Ook, wat is die verskil tussen my en iemand anders wat nie sy SELF so goed ken of gedefinieer het nie? Maak dit my gelukkiger? Meer tevrede met myself? Stel dit my in staat om makliker vrede te vind met ander mense in my omgewing?

Kyk ek ’n groot waarheid mis? Hoe belangrik is RESULTAAT? [Sien ook notas rakende “resultate van jou handewerk” in die stuk, “Die SELF word gebore” van Donderdag 8 April 2004.] Is dit wat die kunstenaar van die salaristrekker onderskei (as albei kinders het, wat kan tel as resultate van jou lewe, of albei nie kinders het nie)? Is dit wat die persoon wat tyd en geld opoffer vir ’n goeie saak onderskei van die persoon wat hoofsaaklik vir homself leef?

Ons kom uit Niks, en ons keer terug na Niks. Wat ons agterlaat is wat ons met ons lewens gedoen het – ons “handewerk”, dit wat aan ons lewens waarde gee, terwyl ons lewe. (Terloops, dis vreemd dat sommige mense die “Niks” verwysing as ateïsties beskou, en tog is die lyn “stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” sentraal aan die Christelike begrafnisritueel.)

Nog ’n vraag: Hoe beïnvloed die vlak van VERLIGTING wat ’n INDIVIDU bereik tydens sy of haar leeftyd, die RESULTATE wat hy of sy agterlaat?

* * *

Op Vrydagaand, 11 Junie 2004 om 23:15 ag ek die volgende twee vrae as van die belangrikste wat enige persoon hom- of haarself kan vra:

1. WAT MAAK JOU LEWE DIE MOEITE WERD?

2. WATSE RESULTATE LAAT JY (OP DIE HUIDIGE OOMBLIK) AGTER VAN JOU LEWE?

______________________

Wat is ’n boek sonder ’n leser …

WOENSDAG 9 JUNIE 2004

Ek noem myself ’n skrywer, maar gister toe dink ek, is ek nie in die eerste plek ’n “teacher” nie? Ek meen, soveel van my skryfwerk is ten minste veronderstel om opvoedkundig te wees. Ek kan nooit wegkom van die gedagte dat ek poog om aan die leser iets te verduidelik nie, dat ek besig is om aan ’n onsigbare gehoor dinge te leer – wat die helfte in elk geval reeds weet, en die ander helfte óf nie verstaan nie, óf geen begeerte het om wys te raak nie.

Skryf ek soms op ’n manier wat dit laat lyk asof ek myself vreeslik slim ag? Ek kan dit seker nie ontken nie. Vele bevraagteken sekerlik ook my bevoegdheid om aan húlle iets te leer.

Jy, die Leser, is egter meer as net die persoon aan die anderkant van my soms ongevraagde lesse. Jy is ook die verbintenis tussen wat ek hier staan en skryf in ’n halfdonker sitkamer, en die wêreld daar buite. Die feit dat jy hierdie woorde lees, op hierdie oomblik, maak die skryf van hierdie teks, en die aanmekaarsit van hierdie hele projek, definitief die moeite werd.

______________________

Net sodat die skare weet | Die lewe is ’n plesier-rit

DINSDAG 8 JUNIE 2004

Net sodat die skare weet

Om in ’n liefdevolle verhouding te wees, is wat die lewe die moeite werd maak vir vele mense. Ek is nie in ’n liefdevolle verhouding nie, so ek moet heelwat harder probeer om my lewe die moeite werd te maak. My pogings mag uiteindelik blyk onvoldoende te wees, maar tot daai dag kom, neem ek voor om my kraag teen die wind te hou. En aan te hou stap.

Die lewe is ’n plesier-rit

Ek reken ek gaan dit dalk nie maak nie.

Ek weet hoe was my tienerjare. Ek weet hoe was my twintigs, en ek draf die dertigs nou jaar-vir-jaar kaf. Hoe gaan my veertigs wees? My vyftigs? Gaan ek dit maak tot veertig? Wil ek dit maak?

Feit van die saak is dit, ek wed alles waarin ek glo, al my hoop, die waarde en betekenis van my lewe, en wat my lewe nog die moeite werd gaan maak, ek wed alles op die wonderwerk van betekenisvolle verhoudings met enkele ander mense!

* * *

Dit is hoe dit is: Adam het alleen in die Paradys gewoon. Hy’t gemeen dat dit ’n goeie plek was, maar tog het hy eensaam gevoel. Toe maak God vir hom ’n vrou. Toe’s hulle gelukkig, en dis waar die storie moes eindig.

Maar toe doen hulle iets verkeerd – hulle eet.

Van die boom.

Van kennis.

* * *

Op pad terug van die dorp af, en ek reken: ek sál dit maak. Baie van dié wat ek elke dag sien, gaan nie, maar ék sal dit maak.

______________________

Klein huis, groot wêreld

DINSDAG 8 JUNIE 2004

Wat relevant is, en wat nie relevant is vir die “eienaar” van die SELF, is een van die belangrikste oorwegings om in ag te neem in die SELF-definiëringsproses.

’n Voorbeeld hiervan is opinies. Watter aangeleenthede relevant genoeg is vir ’n persoon om ’n opinie oor te formuleer en watter nie, vereis kennis oor die SELF.

Dit volg dus dat hoe kleiner die omgewing waarvan jy bewus is, hoe minder die data wat jy ontvang, en hoe makliker dit derhalwe is om jou SELF te vind/te definieer.

As ek byvoorbeeld in ’n groot stad woon en gereeld omgaan met ’n wye verskeidenheid mense, en bewus is van politieke vraagstukke strekkend van Noordoos-Asië tot die Midde-Ooste tot Sentraal Afrika, Europa en Noord-Amerika, en van omgewingsvraagstukke, etiese vraagstukke, godsdienskwessies en vele ander onderwerpe waaroor mens ’n opinie kan hê, sal my proses van identiteitsdefiniëring aansienlik langer neem as wat die geval sal wees met ’n ou wat grootgeword het in ’n klein dorpie, daar woon as ’n volwassene, en uiteindelik daar sal sterf as ’n bejaarde.

Mens sou graag wou sê – want woon meeste van ons nie maar in die “groter” wêreld nie? – dat dit beter is om bewus te wees van meer, en dat dit vervelig is om jou hele lewe binne ’n beperkte omgewing te slyt. Argumente kan ook gemaak word oor “kennis is mag”, oor gebrek aan meer of beter inligting wat lei tot vrees vir dit waarvan sommige mense moontlik net vaagweg bewus is, en gebrekkige kennis wat lei tot misverstand en diskriminasie teenoor dié wat nie “soos ons” is nie.

Die onderwerp van groot wêreld versus klein dorpie is nie wat my op die oomblik interesseer nie; my huidige verhouding met die “groter” wêreld is ook van so ’n aard dat ek geen motivering het om ’n saak uit te maak vir deelname daaraan, al dan nie.

Die interessante vraag vir my op hierdie stadium is, kan jy jou SELF ooit volledig definieer in ’n “groot” omgewing waar nuwe verhoudings gereeld aangeknoop word, waar vraagstukke kom en gaan, en waar nuwe data invloei op ’n daaglikse basis terwyl jy nog nie eens verlede maand se koerante of Time magazines klaar gelees het nie? Ek glo nie.

Natuurlik is vraagstukke waaroor jy posisie moet inneem as deel van jou identiteit minder belangrik as verhoudings. Die waarde van minder, maar meer betekenisvolle verhoudings, insluitende positiewe familiebande, word dus weereens beklemtoon. (Ek het nie probeer om dit in te werk nie, dit het net as ’n voor die hand liggende antwoord na vore getree op wat vastigheid gee vir die SELF in ’n immerveranderende wêreld. Dit wil dus blyk dat ek weereens na ’n rondte van intellektuele bepeinsing op ’n brokkie insig afgekom het wat “almal weet”.)

’n Balans kan derhalwe voorgestel word tussen “klein” wêreld by die huis, en “groot” wêreld buite die tuinhekkie; voorkeur in prioriteit ten gunste van eersgenoemde gee aan die einde van die dag aan mense ’n duideliker definisie en sterker oortuiging van die SELF.

Maar nou dat ek daaraan dink … is dit nie wat meeste mense reeds doen nie? Natuurlik! Mense is briljant! (Net jammer hulle weet dit nie.)

______________________

Nuwe benadering – toewyding – aanvaar jouself

MAANDAG 7 JUNIE 2004

’n Nuwe benadering?

Ek hoor daar’s cool Mexikaanse hip-hop, maar selfs al koop ek daarvan, is daar cool Oesbekiese musiek waarna ek nooit in my lewe sal luister nie. En selfs al luister ek eendag Oesbekiese musiek, sal ek nooit ’n Oesbeek wéés nie. En selfs al trou ek met ’n Oesbekiese vrou en ons gaan woon in Indië, sal ek nooit ’n Indiër wees nie. En selfs al emigreer ons Amerika toe, sal ek nooit ’n gebore en getoë Amerikaner wees nie. En selfs al woon ek in New York vir dertig jaar, sal ek nooit ’n Fransman wees nie. En al gaan woon ek in Parys, sal ek nooit in Swede woon nie. En al woon ek vir tien jaar lank in Stockholm, sal ek nooit in Japan woon tydens die veertiende eeu nie …

Voorwaarde vir toewyding: As jy eers aanvaar dat jy ’n spesifieke mens is, kan jy jouself verbind tot ’n spesifieke lewe.

DINSDAG 8 JUNIE 2004

Aanvaar jouself – al is dit net om tyd te spaar

Ek aanvaar die partikulariteit van my agtergrond. Ek dink en skryf meeste van die tyd in Afrikaans, my vel is “wit”, my gelaatstrekke gedikteer deur die gene afkomstig van my hoofsaaklik Germaanse voorouers.

Ek kan verander hoe ek lyk. Ek kan ook moeilik wees en my taalagtergrond verwerp – omdat ek dit nie gekies het nie, en myself dwing om net in Engels te dink en te skryf. Ek kan selfs meer radikaal wees en ’n ander taal (as Engels) kies, die taal bemeester, en uiteindelik net in daai taal dink en skryf. Aan die einde van so ’n proses – wat jare se harde werk sal verg – sal ek ’n pragtige illustrasie wees van ’n “self-made man”.

Ek is egter bereid om so ’n radikale illustrasie te laat vaar ter wille van tyd en energie, en bloot die partikulariteit van my fisiese voorkoms, en my moedertaal en kulturele agtergrond merendeels te aanvaar soos dit is, en as goed genoeg te ag as instrumente wat die proses van self-ontdekking en self-formulering fasiliteer.

______________________