Bewussyn van geluk, en van dreigende gevaar

MAANDAG 1 MEI 2006

Elke mens het ’n keuse: wees ’n vernietiger van hoop, waardigheid en van lewe self, of wees ’n skepper van hoop, waardigheid en lewe – of wees iemand wat ʼn omgewing skep waar hierdie goeie dinge kan wortelskiet en ontwikkel, of iemand wat hierdie goeie dinge beskerm.

DINSDAG 9 MEI 2006

By verstek is die wêreld ’n koue, donker plek. Ons maak dit beter, maar ’n beter wêreld sal dit nooit by verstek wees nie. Dit sal altyd ’n stryd wees.

VRYDAG 12 MEI 2006

Ek het ʼn besonders goed ontwikkelde bewussyn van nood en dreigende gevaar (tien jaar gelede het ek dit my “noodtoestand” genoem). Hierdie skynbaar ewigdurende toestand gaan oor drie dinge: gesondheid – die feit dat ek rook; skuld – die feit dat ek nog steeds afbetaal aan my studieskuld; en inkomste – wat altyd op broekskeurvlak is.

VRYDAG 26 MEI 2006

Ek voel verplig om ’n vinnige update te maak. Ten spyte van die feit dat ek redelik broke is op die oomblik (NT$4 900 tot ek weer geld kry – oor twaalf dae, en dan ook maar net NT$3 500 vir veertien dae), is ek gelukkig – iets wat my terselfdertyd irriteer en vermaak.

Weereens het ek besef dat naas tyd spandeer met belangrike mense in my lewe, daar niks is wat my vul met soveel ekstase as om iets te produseer uit die talente wat ek ontvang het, die vaardighede wat ek ontwikkel het, en die kennis wat ek opgedoen het oor die jare nie.

______________________

Die sirkelbestaan van die geaktiveerde marionet

DONDERDAG 13 APRIL 2006

Ek voel soms soos ’n marionet wie se verstand lewendig geraak het (die idee kom uit Fritz Leiber se boek, You’re All Alone): intelligent genoeg om te sien wat ek sien, maar onbevoeg om die volle waarheid te weet of te verstaan, vasgevang in ’n skemeragtige half-lewe.

Watse advies sou ek gee vir iemand in my posisie?

Ek sal sê, vat wat jy wel weet en verstaan, en poog om resultate van jou bestaan te bewerkstellig wat meer positief is as negatief.

Ek reken dis goed genoeg vir ’n mens vasgevang in die skemer, of hoe?

WOENSDAG 19 APRIL 2006

Ek het gister hierdie gedagte gehad dat as mense met my praat en hulle versoeke of opinies nie redelik is nie, gaan ek bloot alles ignoreer wat hulle sê, ’n tipe van skrap-die-klanke-uit-my-korttermyn-geheue oordeel.

Vanoggend heroorweeg ek dit: Soms het mense net nodig om uitdrukking te gee aan emosie wanneer hulle ’n versoek maak, of ’n opinie uitspreek of ’n stelling maak. Soms is dit nodig dat jy net moet luister.

* * *

Enige behoefte wat die mens het – na kos, slaap, liefde, seks, kreatiewe vervulling of finansiële sukses – het te make daarmee om iets stil te maak. Hierdie “stilte” waarna die mens streef, is spanningloosheid, om ’n bestaanstoestand in te gaan wat in ekstreme vorm geassosieer word met óf voor-geboorte, óf dood.

DONDERDAG 20 APRIL 2006

Elke mens se “wêreld” kan vergelyk word met ’n sirkel – kompleet en, tot ʼn groot mate, geslote. Binne hierdie sirkel van mense, waardes, begrip, ensovoorts speel sy of haar daaglikse bestaan af.

Ek lees tans ’n boek wat afspeel in 1988 Suid-Afrika, met die hoofkarakter wat uitgebeeld word as ’n goeie ou van die Veiligheidspolisie. Die boek dien as voorbeeld van ’n volledige sirkel waarbinne dinge sin gemaak het en georden was op ’n spesifieke wyse. Dit dien ook as Dokument van ’n Spesifieke Kultuur-Historiese Konteks – op soortgelyke wyse as wat Dostoyevsky se Crime and Punishment ’n dokument is van die spesifieke kultuur-historiese konteks wat St. Petersburg was in die 1860’s.

______________________

ʼn Paar dae weg van Benewelde Lig

WOENSDAG 5 APRIL 2006

Dag 4 van my vakansie in Suid-Afrika

Van die begin af was hierdie vakansie anders as al die voriges. In die eerste plek het ek nie alleen hier aangekom nie, en ek gaan nie alleen hier weg nie. In die tweede plek woon my ouer suster en haar gesin nou in Johannesburg. Derdens, my ou vriendin en geselsgenoot van Taiwan is nou in Kaapstad.

Twee vrae het van die begin af saamgereis, saamgekuier, en saam met my oor die grasperk gedrentel opsoek na ’n plek om ’n sigaret te rook: “Wie is ek?” en “Hoe het ek verander?”

Die antwoord op die eerste vraag is, na deeglike oordenking, soortgelyk aan die antwoord wat ek gegee het in Februarie 2005, Augustus 2004, en Julie 2003: skrywer, digter, vrydenker, man met ’n self-gedefinieerde agenda, seun, broer, vriend, en entrepreneur in wording.

In antwoord op die tweede vraag kan ek tot dusver net antwoord dat ek rustiger is – of moeg. Dit voel asof ek genoeg gepraat het vir eers, asof ek opinies geformuleer het oor al die belangrike dinge waaroor ek opinies wou formuleer. Natuurlik is daar kwessies waaroor ek nog nie ’n opinie geformuleer het nie, maar hier skop ’n nuwe ding in: Ek is deesdae meer onwillig om ’n opinie uit te spreek as ek nie oor voldoende data beskik nie. Ek is nie meer so gretig om met die opper van ’n vraag op my seepkis te spring en almal te probeer stil praat met ’n haastig geformuleerde opinie nie. Absolute stellings, en selfs voorlopige stellings, moet deesdae voorafgegaan word met goed geformuleerde vrae.

MAANDAG 10 APRIL 2006

Dag 5 in die Kaap – sover ʼn gelukkiger en interessanter tyd as enige ander tyd wat ek in die Kaap deurgebring het sedert Februarie 1996

Vrydag ry ons op die N1. Soos ons verby Monte Vista ry waar my ouers en my jonger suster vir ’n paar maande gewoon het in 1992 in ’n beknopte huisie langs die spoorlyn, met hulle finansiële situasie uiters benard, gooi ek my wysvinger gemaak ongeërg agtertoe en sê vir Natasja, “My ma-hulle het op ’n stadium in daai tweede huis van die brug af gebly.” Asof dit nooit saakgemaak het nie. Asof ek nie juis daai tyd kan onthou nie.

Gister in Stellenbosch trek my brein ook heel onskuldig die heeltyd dokumente uit stowwerige ou lêers elke keer as ek ’n bekende straat, straathoek, gebou, plein, biblioteek of eetplek sien. Vreemd, en amper gerusstellend, hoe vlak sekere gevoelens en onsekerhede lê.

* * *

Elke mens het ’n omgewing waar hy of sy optimaal funksioneer – waar jy op jou beste is, of waar jy jou beste werk produseer. Die omgewings waar ek tans vakansie hou, vereis van my ’n bepaalde verskyning – om beleefd te wees, om goeie geselskap te wees, om ’n goeie gas te wees, ensovoorts. Hoewel ek reken ek oukei doen daarmee, is ek bewus daarvan dat hierdie nie die omgewings is waarin ek optimaal funksioneer nie. Ek doen geen werk hier nie; ek produseer niks; ek skep niks. En hierdie is dinge waaraan ek waarde heg om myself te definieer en myself te onderskei van ander mense rondom my.

DONDERDAG 13 APRIL 2006

’n Week in die Kaap, amper twee weke uit Benewelde Lig, sien die volgende gedagte as resultaat:

Religie – ritueel – omgewing met kernpunt – omgewing verander – ritueel word nie geadministreer nie vanweë afstand van kernpunt – religie word ondermyn

Identiteit – aksies wat identiteit bevestig– omgewing met kernpunt – omgewing verander – aksies wat identiteit bevestig kan nie gedoen nie vanweë afstand vanaf kernpunt – identiteit word ondermyn

Resultaat: selfvertroue word ondermyn, spanning verhoog, potensiaal vir interpersoonlike konflik neem toe

Kort-termyn oplossing: geloof

______________________

“Ek,” my verbintenisse, die avontuur ding, en die taal wat ons praat

WOENSDAG 8 MAART 2006

Ek het hard probeer om laat te slaap nadat ek eers 03:30 in die bed gekom het. Ek het weereens die heelnag gedroom van geldmaak, e-boeke, lêers op die rekenaar, ensovoorts. Toe, skielik, maak die een “marketing guru” in ʼn droom die uitspraak: “Daar is natuurlik ander, belangriker dinge as geld. Daar is ons konneksie met alles wat is.”

Kort daarna dink ek, steeds half aan die slaap, “Ook ek is verbind aan alles wat bestaan.”

Gister het ek vir die hoeveelste keer in my lewe die geweldige kloof gekontempleer tussen mooi en goed, en die totale ander kant van die spektrum: mense wat gemartel word, en dan, nadat hulle tyd gehad het om behoorlik bewus te raak van hul situasie, vermoor word op die mees genadelose wyse.

Soos ek toe nog in my bed lê (het ek nog geslaap?), dink ek toe: Ek is verbind aan beide die martelaars en die gemarteldes – al is dit net in my kop, omdat ek bewus is van hulle bestaan.

Ek besef toe ook dat my verbintenis met hierdie twee groepe nie juis bevorderlik is vir ’n goeie bewussyn nie. Aan die een kant van die spektrum haat en vrees ek mense wat ander martel; aan die ander kant voel ek intens jammer vir die gemartelde. En ek weet dis in vele gevalle ’n rol van die dobbelsteen – dit kon net sowel ek gewees het.

Wat doen ’n mens met hierdie negatiewe verbintenisse?

VRYDAG 17 MAART 2006

[…]

Ook sy was op soek was na ’n tuiste – ’n plek, ’n omgewing waar sy nie haarself die heeltyd hoef te regverdig nie, waar sy kan ontspan, waar sy nie die heeltyd ernstig hoef te wees nie, waar sy kan wees wie sy is, en vrye uitdrukking kan gee aan hoe sy voel op enige oomblik, en aan hoe sy haarself, die wêreld, en haarself binne die wêreld sien.

DINSDAG 28 MAART 2006

Hoekom is dit dat daar in vele Christelike kerke gepredik word dat lidmate moet wegbeweeg van die klem op die “ek”, en eerder moet fokus op “Christus”? Wat is die sielkundige effek hiervan op die “ek” – wat altyd daar is, maak nie saak hoe hard jy probeer om weg te beweeg daarvan nie? Het dit te make met ’n merendeels ongesproke ideologie van minagting vir die “ek” – wat menslik is, feilbaar, vol foute, met ’n ewige neiging na “sonde”, en onwillekeurig gekoppel is aan die sterflike liggaam van die unieke “jy”? Het dit te make met ’n strewe na die tydlose en onverganklike? Is dit gesond vir die “ek” wat jy noodgedwonge is tot jou liggaam vergaan?

* * *

Daar is ’n nuwe dokumentêre reeks op, ek dink, National Geographic, wat stories vertel van “adventures gone wrong” wat amper gelei het tot die dood van een of twee avonturiers. Een ou was byvoorbeeld vasgevang in die Amasone vir drie weke – hy was die heeltyd honger en nat, oortrek van siektes, en het gevoel hoe sy vlees stukkie vir stukkie weggevreet word deur miere.

Dit het my laat dink: jou kanse op oorlewing neem dramaties af indien jy jouself in ’n omgewing plaas wat nie juis bevorderlik is vir menslike oorlewing nie (byvoorbeeld, woestyn of reënwoud). Tog, mense plaas hulleself gereeld in sulke omgewings en noem dit “avontuur”. Hierdie sogenaamde avonturiers is dan ook van mening dat avontuur opwindend is, en lekker, en dat mense wat nie avontuur opsoek nie, vervelig is.

Wat presies is hierdie avontuur ding? Watse behoefte word bevredig met avontuur? Watse behoefte word derhalwe nie bevredig as jy nie moeite doen om avontuur op te soek nie, en dan spesifiek in omgewings wat jou kanse op oorlewing ondermyn? Sal dit werk as ek vir ’n avonturier sê dat ek nie die behoeftes het wat hom of haar dryf om hulle lewens in gevaar te stel nie?

(Nota aan myself: ʼn Behoorlike definisie van avontuur sal handig wees, want my avontuur is jou verveling. Wees ook versigtig daarvoor om nie te vinnig tot konklusies te kom nie – ’n sogenaamde sin vir avontuur is soms noodsaaklik vir die vooruitgang van beskawing, en selfs vir persoonlike verbetering.)

DONDERDAG 30 MAART 2006

Ek dink: tot in my diepste wese kan ek dit aanvoel – the mother and child reunion is getting close.

Toe dink ek: “my diepste wese”? Ons word van jongs af geleer dat dit verkeerd is om te sê, “Ek praat met ek,” en “Ek diepste wese”, maar is dit verkeerd?

Taal speel ’n kardinale rol in hoe ons oor onsself dink, hoe ons oor onsself praat. Maar behoort filosowe of sielkundiges nie ’n groter sê te hê oor hierdie spesifieke aangeleentheid as taalkundiges nie?

Is dit regverdigbaar dat taalreëls en taalkundiges aan ons dikteer in watse filosofiese terme ons aan onsself moet dink en oor onsself moet praat?

Die woord “my” is ’n besitlike voornaamwoord wat gebruik word om eienaarskap aan te dui, soos in, “my huis”, “my boek”, “my pen” – maar dit dui ook verhouding aan, soos in “my vrou”, “my kind”, ensovoorts. Tog, “ek” en “myself” is nie twee verskillende entiteite nie – ek IS myself. Is dit nie dan meer akkuraat om te sê, “Ek praat met ek,” en “Ek diepste wese” nie?

______________________

Die lewe gaan voort, selfs met al die protes en bohaai

DONDERDAG 16 FEBRUARIE 2006

Al die protes en bohaai in sommige Moslemlande oor die Mohammed spotprent gaan oor een ding: Die bron, en heiligheid, van die protesteerders se identiteite is beledig, en siende dat hulle reeds bedreig voel in ’n wêreld wat op soveel maniere verskil van hulle religieuse gemeenskappe, vaar hulle uit, en hulle skree, en hulle brand af, en hulle vermoor, en hulle vernietig.

* * *

Die protesteerders se aksies – soos die aksies van fundamentaliste van ander oortuigings – manifesteer ook die idee dat, “As almal nie soos ons is nie, bedreig en ondermyn dit die geldigheid en grootsheid van ons waarhede. So, hoe meer mense soos ons glo, hoe beter. En dié wat nie soos ons glo nie, wel, hulle lewens is afskryfbaar omdat hulle die waarheid verwerp.”

DONDERDAG 23 FEBRUARIE 2006

Om te leef asof jy net een week oor het om te leef, is nie juis bevorderlik vir lewe wat verder strek as daai een week nie.

SATERDAG 25 FEBRUARIE 2006

13:24

Daar is diegene wat onkundig is.

Daar is diegene wat weet, en wat hul lewens leef in vrees – of in fatalistiese aanvaarding van die onvermydelike.

Laastens is daar diegene wat gevrees word.

13:36

Ek glo dat absolute stellings onmoontlik is om te maak omdat ons nie oor voldoende data beskik nie. Sodra jy dit aanvaar en vrede gemaak het daarmee, is dit heel moontlik om voort te gaan met die res van jou lewe.

“Hoe?” mag jy dalk vra. Deur keuses te maak elke dag.

Watter keuses is goed en watter keuses is sleg? Dit moet jy uitwerk soos jy voortgaan met jou daaglikse bestaan.

MAANDAG 27 FEBRUARIE 2006

’n Gedagte van die fiets: “En so gaan ook die lewe van Brand Smit verby. Hy het ’n interessante lewe gehad sover. Hy het interessante mense ontmoet, op interessante plekke gewoon, en interessante plekke gesien. Hy het ook baie tyd op sy eie spandeer – meestal nie aangenaam nie, maar hy het uiteindelik geleer om die tyd op sy eie produktief aan te wend. Hy het ook, na jare van tyd spandeer op sy eie, liefde gevind.”

DINSDAG 28 FEBRUARIE 2006

Vergeet om te noem by gister se gedagte van die fiets: Daai teks is veronderstel om die inleidende paragraaf te wees vir ’n stuk met ’n titel soos, “Ek is nie Chinees nie – maar die Taiwannese is ook nie.”

* * *

Uit my droom vanoggend: “Selfkennis en stratosfeer”

______________________