Ek voel soos ’n vreemdeling vir myself. Om hierdie stuk te produseer moes ek die lettertipe verander na een wat nie gebruik was in weke nie, ’n titel moes uitgedink word, die verandering van Engels na Afrikaans … en die knaende vermoede dat ek ’n sekere storielyn vir veels te lank al agter my aansleep, soos mens dosyne bokse vol persoonlike gemors agter jouself aansleep vir redes wat net jy ooit sal verstaan, en teen ’n daagliks groeiende prys.
Maar laat ek begin. Soos gewoonlik gaan dit goed. (Bloos papier as die skrywer lieg?) ’n Miljoen ure gelede het ek vorendag gekom met ’n idee vir ’n eksperiment. (Hoekom, terloops, kan papier nie rond wees nie? As ek net staar na die skerm, sal daar simbole verskyn op “Microsoft Word Document1” wat sal ooreenstem met my gedagtes? As ek spoeg op die skerm, sal dit vloekwoorde vorm?) Ek het die eksperiment genoem, die Kommersiële Diktatorskap – ’n tyd waarin Ek, die Skrywer veronderstel was om Teacher/Besigheidsman/Entrepreneur te wees vir die mees produktiewe ure van elke dag en nag vir ’n drie-maand periode. Die idee was dat ek elke dag vir ten minste agt ure lank agter mal kinders moes aanhardloop terwyl ek “ABC! ABC!” gil (en “fokof” fluister agter my masker vir elke motoris en voetganger wat my aangluur op die pad, of wat dit waag om voor my op my krakende geel fiets in te draai). Oproepe moes ook gemaak word, vennootskappe moes gesluit word, en natgeswete vingers moes daagliks klam geldnote oor gemorskos papiere tel, met die rook van ’n vinnig brandende wit sigaret wat my oormoeg oë soveel brand dat ek later nie meer my eie handskrif kan lees wanneer ek desperaat probeer om ’n aantekening te maak om myself te herinner aan my geloof in ’n “buitengewone lewe” nie.
Vooruitstrewend is die Skrywer-Entrepreneur wat weereens rede genoeg gevind het om nie sy woonstel meer gereeld te verlaat vir meer geld nie! Vir die afgelope 44 dae van die sogenaamde Kommersiële Diktatorskap het ek, in al my identiteite, die stoel agter my Toshiba 2180CDT vol gesit, en gewerk aan wat ek uiteindelik begin noem het “[…]”, wat die eerste boek, en voorloper is in die “[…]” reeks.
[…].
Die plan is verder om ’n boekbesigheid te begin (op papier, by wyse van spreke), en dan die verskillende weergawes van die boek uit te gee in vennootskap met plaaslike uitgewers so ek gaan nie, soos ek plegtig belowe het, op Vrydag 4 Junie terug Suid-Afrika toe nie. Tee? Koffie?
Dis nie asof ek nie geskryf het die afgelope sewe weke nie. Die Tydelike Kommersiële Konstitusie het my verbied om tyd agter die rekenaar te spandeer met enige iets anders as ’n kommersiële projek, hoewel pen en papier steeds gebruik kon word vir vrye uitdrukking.
En vry het ek uitgedruk – bladsye en bladsye en bladsye vol, tussendeur werk aan die taalboek, die vertaling van omtrent 2000 woorde, sinspatrone, uitdrukkings, goedkoop video CD’s …
Ek noem hierdie dinge om te verduidelik hoekom dié getikte stuk ietwat vreemd onder die vingers voel, en op die oog, omdat dit voel asof ek vir myself dinge vertel wat ek lankal weet terwyl ek ander dinge ignoreer wat my handgeskrewe notas oorheers het die afgelope paar weke.
Belangrik om ook te noem: nog ’n twaalfmaandsiklus is amper weer voltooi sedert my laaste reis na Suid-Afrika, en “vakansie” planne begin toenemend die voortou te neem in kontemplasies oor my onmiddellike toekoms.
Ek het ook daarin geslaag om aan my ouers en my ouer suster die noodwendige gevolge te verduidelik van my idees op die besigheidsfront, en hulle glo onderskeidelik dat ek steeds uiteindelik wil terugkeer Suid-Afrika toe en steeds beplan om in Engeland ’n draai te maak.
Sedert my laaste amptelike skrywe het ek ook ’n nuwe frase uitgedink, en reeds etlike kere geresiteer:
“Wanneer kom jy terug?”
“So gou as moontlik.”
“Wanneer kom jy vir ons kuier?”
“So gou as moontlik.”
“Wanneer pak jy jou gemors in bokse en kom jou beloftes na soos ’n eerbare persoon?”
“So gou as moontlik …”
Daar’s egter een probleem: My jonger suster weier om so vinnig oorgehaal te word met my slim verduidelikings. Sy’t verlede naweek uiteengelê nie net dát, of hoeveel sy my en ons ouer suster mis nie, maar presies hoekom. Dit was ’n vrag vol redes, vooraf gekontempleer en deeglik uiteengesit, asof dit ekself was wat gepraat het; asof sy my eie sentimente soos verwoord in vorige notas woord-vir-woord aangehaal het.
Ek het skuldig gevoel.
Ek werk tans aan ’n paar projekte – en dis ten minste veronderstel om te klink soos ’n oorspronklike stelling en nie soos ’n stukkie opgegorrelde vroeër teks nie. Daar’s die Groot Geld Projek wat ek reeds vermeld het, en dan’s daar die Groot Literêre Projek waarvan hierdie update ’n klein fragment is. Dan het ook gister – terwyl ek in die badkamer was – gedink aan ’n goedkoop manier om ’n paar kopieë van my eerste digbundel uit te deel aan vriende en naaste familie (wat weet ek sal hulle nie kan stop om die papier te gebruik om braaivleisvure aan die gang te kry na ’n oppervlakkige poging om sin te probeer maak van my melancholiese rympies nie). Dit het gelei daartoe dat ek gisteraand weer rooi strepe begin trek het oor poësie wat ek net verlede jaar gedink het heel orraait is, en ek hoop dus om benewens die ander “jobs” ook nog hierdie een af te handel en in pseudo boekvorm te selfpubliseer voor hopelik einde Junie.
My bemeestering van die Chinese taal, nou reeds in sy vyfde jaar, is die oorblywende huidige projek. Hier kan ek noem dat ek deesdae beter Chinees lees as wat ek dit praat, en selfs wanneer ek ’n poging aanwend tot verbale kommunikasie, haas mense hulself nie meer na die naaste Tao priester vir ’n duiwelsuitdrywing nie.
My persoonlike verhoudings strek steeds nie verder as die af en toe kuiertjies met coffee shop vriendinne nie. My romantiese verbintenis met die Tee Vrou van Zhongshan Road het ook vasgehaak in die konseptuele fase. (Ek het wel ’n bose plan bedink om haar te oortuig om met my te trou – dink Marilyn Monroe en Willy Loman, never mind Arthur Miller.)
Ek meng ook steeds vier ontbytpappe elke oggend; drink steeds my koffie swart en bitter; koop, en kyk steeds baie goedkoop VCD’s, en ek maak daagliks meer en meer aantekeninge oor geloof in ’n beter volgende dag as ’n berekende en opregte poging om die lewe vandag die moeite werd te maak, ten spyte daarvan dat mens weet dit werk dikwels nie uit soos mens gedink het dit sou nie.
Dit gaan dus aan, al gaan dit nie altyd goed nie. Tot ’n volgende teks ons weer bymekaar bring …
______________________