SONDAG 30 AUGUSTUS 2015
In 1994 het ek nog in die bondel gedraf saam met ander mense van my ouderdom wat ’n breë sosio-ekonomiese agtergrond met my gedeel het. In my kop was ek al klaar ietwat apart, maar wat almal aanbetref het, en wat vir almal sigbaar was, was ek steeds in die bondel, besig om te doen wat vele ander van my ouderdom gedoen het.
In 1995 – hierdie jaar twintig jaar gelede – het dit verander. Vele van my tydgenote het in daai jaar begin met ’n reis van min of meer veertig jaar wat, sou hulle geseënd wees met ’n lang lewe, sal eindig met hul aftrede. Dit was die jaar toe ek afgeskei het van die bondel. En ek sê nie daarmee my pad was beter of meer spesiaal nie, en ek spreek geen oordeel uit oor my tydgenote wat begin het met die veertig-jaar loopbaan reis nie. Ek sê bloot dat ek vanaf 1995 sigbaar op ’n ander pad was.
Twintig jaar het sedertdien verby gegaan. Soos vele ander mense tans in hulle middel-veertigs wonder ek: Hoe doen ek?
Uit elke honderd van my tydgenote wat in 1995 begin het met ’n loopbaan (of die eerste van dalk drie of vier verskillende loopbane) wat oor plus-minus twee dekades sal eindig met hul aftrede, hoeveel van hulle doen so goed soos hulle gedink het hulle sou doen? Hoeveel het drome gehad wat hulle wou nastreef waarby hulle nog nie uitgekom het nie? Hoeveel van hulle het ten minste een of twee van hul drome gerealiseer? Hoeveel het een na die ander kans verbrou? Hoeveel doen veel beter as wat hulle ooit gedink het hulle sou?
Dit is redelik om aan te neem dat meeste mense ten minste ’n paar foute gemaak het en ’n paar keer swak oordeel aan die dag gelê het, en dat ten minste ’n paar mense ten minste een keer lelik drooggemaak het. Ek dink dis verder redelik om aan te neem dat meeste mense meer geld sou wou maak as wat tans die geval is, en dat ’n paar moontlik interessanter werk sou wou doen. Statisties is dit ook onvermydelik dat ’n klein persentasie van hierdie groep uitsonderlik goed doen – dat hulle meer geld maak as wat hulle ooit gedink het hulle sou, mooier en slimmer kinders het as wat hulle ooit gedink het hulle sou kon produseer, en werk doen wat meer vervullend is en veel interessanter is as waarmee hulle begin het twee dekades gelede.
Om terug te kom by my vraag, ek dink ek doen oukei – in enkele areas veel beter as wat ek gedink het ek sou; in ander areas doen ek swakker as wat ek gehoop het die geval sou wees. Ek het ’n paar keer drooggemaak, en ’n paar keer my vermoëns totaal en al oorskat (of myself eenvoudig nie goed genoeg geken nie, of die uitdaging dalk nie goed genoeg verstaan nie). Ek het sover ’n redelik interessante lewe gelei. Ek leer elke dag meer van dinge waarin ek nog altyd belanggestel het, ek is amper nooit verveeld nie, en ek deel my lewe met ’n uitsonderlike vrou, en twee swart katte. Ek het ook geen skuld nie, en ek het ’n bietjie geld in die bank.
Aan die ander kant kom 99% van my inkomste tans uit deeltydse en soms wisselvallige werk as Engelse onderwyser in Taiwan. En my inkomste is nie ’n fraksie van wat ek nodig het om na my bejaarde ouers te kan omsien nie, so die verantwoordelikheid val meestal op die lank-lydende skouers van my ouer suster.
Twintig jaar na ek op ’n ander pad en teen ’n ander pas begin stap het as vele van my tydgenote, doen ek dus nie te sleg nie – ten spyte van die feit dat ek en ’n paar ander mense van harte hoop dat ek ’n bietjie beter sal doen in die jare wat kom.
____________________