Hou jouself staande, anders sál jy stof byt

WOENSDAG 5 SEPTEMBER 2012

Mislukking, en die hernude indruk dat, omdat ek nie geld maak nie, ek nie werk nie. Dit ten spyte van boeke gepubliseer – beide persoonlike materiaal en kommersiële projekte, talle webwerwe en ander internet eiendomme, en jare se dag in en dag uit, week in en week uit, en maande aaneen se gesukkel met pogings om geld te maak wat opeindig as geskrapte projekte en pakke weggooipapier.

Wat mens laat wonder hoekom jy nog probeer. Wat, presies, is die punt? Probeer, want dis beter as opgee? Dan spandeer ek eerder al my tyd daaraan om te skryf – oggend, middag en snags, weeksdag en naweek, twaalf maande van die jaar tot ek verstryk, en om te publiseer wat ek geskryf het, en te bemark wat ek gepubliseer het.

Is dit nie genoeg nie? Wie doen beter? Mense wat kinders kry? Doen hulle noodwendig beter? Laat hulle meer agter? Is dit wat hulle agterlaat noodwendig goed? Wat van as hulle kinders fokops en kriminele word? Wat van as hulle kinders gierige, korrupte bedrieërs word, of dwelmslawe en alkoholiste?

Ek probeer geld maak. Want dis die regte ding om te doen. Want ek hou daarvan om te eet. Want ek hou daarvan om met seep te was, en ek hou daarvan om ten minste twee keer per dag my tande te borsel. Want ek hou van skoon klere, al het my hemde en broeke beter dae gesien.

Ek moet geld maak. En my vrou moet geld maak. Na werk kyk my vrou TV, of sy maak die huis skoon. Na werk, wat op hierdie stadium sinoniem is met verskynings as Engelse onderwyser want dis al wat ek skynbaar kan doen om geld te maak, doen ek meer werk, want ek wil nie méér verskynings maak as Engelse onderwyser nie, en dis in elk geval nie volhoubaar nie. Ek as ek klaar die ander werk gedoen het, moet ek verder skryf, en publiseer wat ek skryf, en bemark wat ek publiseer. Werk, werk, skryf – wat ook eintlik werk is, maar net tel as werk as dit geld maak.

Elke dag byt mense stof. Elke dag. En die wêreld gaan voort. Dis nie dat mense nie omgee nie, dis net dat hulle eie lewens nie stilstaan net omdat iemand gesneuwel het nie.

Elke dag byt mense stof, slagoffers van omstandighede, slagoffers van ander mense se bose dade, of slagoffers aan eie hand.

Dis eenvoudig: Jy móét jouself staande hou, anders sál jy stof byt. En die wêreld sál voortgaan sonder jou.

______________________

Dalk is die rots langs die pad my plek

SATERDAG 18 AUGUSTUS 2012

Dis die voordeel daarvan as iemand anders vir ’n slag jou materiaal lees: hulle lewer kommentaar daarop, wat dan vir jou ’n geleentheid gee om ’n gedagte of twee by te voeg tot die oorspronklike idee.

So het dit dan gebeur dat ’n goeie vriendin onlangs vir my ’n e-posboodskap gestuur het oor ’n stuk wat ek geskryf het in 1998, getiteld, “Storie van twee reisigers”. Die “storie” het gehandel oor een “reisiger” wat by ’n kruispad kom, nie kan besluit watter rigting om te vat nie, en dan gaan sit op ’n rots naby die kruispad – vanwaar hy oor die volgende paar maande (of jare) kyk na ander mense wat besluite neem, foute maak, en oor die algemeen voortgaan met hulle lewens, terwyl hy steeds dink oor wat hy moet doen. Op ’n dag kom daar toe ’n ander reisiger by die kruispad, gaan sit op sy hurke, kyk dié kant toe en daai kant toe, snuif die lug, staan op en stap ’n rigting in, skynbaar seker dat dit die regte pad is. ’n Gesprek volg toe kort daarna tussen die “stapper” en die “sitter”.

Uiteindelik was my mening dat die ou wat vir so lank op die rots gesit het, moes ophou dink en dan nog aantekeninge maak ook oor wat hy dink, en sy gat moes roer. Hy moes besluit op ’n rigting, al kon hy nie seker wees hoe dit sou uitwerk nie, en homself toewy aan daai pad.

My vriendin het tot ’n mate meer simpatie met die ou op die rots. Sy sien hom as iemand wat kies om nie deel te neem tot hy seker is waarheen hy wil gaan nie. Sy hou daarvan dat hy bereid is om te sê: “Wag ’n bietjie, ek wil eers hieroor dink.”

Toe ek die teks geskryf het in Korea, in Maart 1998, het ek baie gefrustreerd gevoel met myself. Ek was alreeds vir maande lank besig om planne te beraam, maar ek het steeds nie geweet waarheen volgende nie. Ek was die ou op die rots, maar ek wou die ander ou wees – die ou wat die lug snuif, ’n handvol grond in die lug opgooi, en dan net ’n rigting instap.

My vriendin stel toe voor dat ek ’n stuk skryf wat vertel wat later gebeur het in die “storie”. Dit het my herinner daaraan dat ek agt maande na ek Korea verlaat het, weer by die kruispad was (in Januarie 1999), myself weer gemaklik gemaak het op die rots langs die pad, en gereken het: “Ek weet waar ek wil wees. Ek weet net nie watter pad om te vat om daar te kom nie. En ek wil nie tyd mors deur net ’n rigting in te donder, en heel moontlik te laat te besef die pad vat my verder van waar ek wil wees nie.”

Ek besef toe: Dalk is die rots my plek in die groter skema van dinge. Die rots, by die kruispad, is dalk waar ek moes opeindig. Dit is dalk waar ek behoort. Dalk hét ek ’n pad gekies, dit gestap, en dit het teruggelei tot by die kruispad. Terug tot by die rots.

______________________

Resultaat, Proses, Identiteit en Geluk

SATERDAG 11 AUGUSTUS 2012

RESULTAAT is wat saak maak. En met RESULTAAT word nie net bedoel die bewerkings wat gemaak word die dag na jou dood nie, maar die resultaat van elke taak, elke onderneming, elke projek wat jy aanpak.

PROSES is wat RESULTAAT voorafgaan. PROSES is óf bevorderlik vir goeie RESULTAAT, óf dis nie bevorderlik daarvoor nie.

IDENTITEIT is wat jou in staat stel om te funksioneer in die historiese tydvak wanneer jou bestaan uitspeel, en in die plek waar jy gebore is, of waar jy jouself bevind as volwassene. Jou IDENTITEIT is goed genoeg as dit jou in staat stel om te oorleef, en as dit jou in staat stel om goeie RESULTAAT na te streef.

GELUK is een van die kondisies wat PROSES die moeite werd kan maak.

OM GELUKKIG TE WEES maak dit meer waarskynlik – hoewel daar altyd uitsonderings is – dat die PROSES sal lei tot goeie RESULTAAT.

———–

Voorgedagte:

Ek het hierdie week my kantoorspasie begin oorskuif na ’n huis so vyftig meter van my ou woonstel af. Die nuwe plek – eintlik net twee leë vertrekke op die tweede verdieping van ’n huis waar die eienaars so een keer elke twee maande kom oornag as hulle besigheid in die stad het – is orraait, maar nie perfek nie.

“Die resultaat van die proses is wat uiteindelik belangrik is,” het ek gedink op pad terug huis toe vroeg vanaand, “en die plek is goed genoeg om ten minste nie die proses te ondermyn nie.”

Ou kantoor (woonstelgebou in die straat af, regs), afgeneem vanaf die nuwe werkplek
Nuwe kantoor – tweede verdieping

______________________

Dankie tog vir musiek

SONDAG 29 JULIE 2012

Ek is seker daarvan ek het al voorheen ’n soortgelyke stelling gemaak op Facebook – of aan totale vreemdelinge op Twitter, maar hier’s dit weer: My persoonlike 1972-playlist skop stof in die oë van enige iets wat enige iemand anders op hulle iPod kan optower.

Goed, dis effens kinderagtig. In die eerste plek skep dit die vals indruk dat ek ’n iPod besit, en in die tweede plek kan ek self aan ’n hele paar ander goeie jare dink, in terme van populêre musiek – en dis net tussen die jare 1960 en 2010.

Nietemin, wat maak 1972 so spesiaal? Cat Stevens, Elton John, Pink Floyd, David Bowie, Neil Young, Stevie Wonder, Paul Simon, Lou Reed, Carly Simon, en om die lys af te sluit, onvergeetlike bydraes van Johnny Nash (“I Can See Clearly Now”), Bill Withers (“Lean On Me”), Al Green (“Let’s Stay Together”), Stealers Wheel (“Stuck In The Middle With You”), en een van die eerste melodieë wat my regop laat sit het op die agtersitplek van ons groen Datsun, Hot Butter se “Popcorn”.

En die kersie op die ryk sjokolade-en-vanilla koek van 1972? Die feit dat dit naatloos oorgaan in 1973 – meer Pink Floyd, meer Elton John, meer David Bowie, en dan Springsteen, Tom Waits, Aerosmith, Billy Joel, Lynyrd Skynyrd, Gladys Knight & The Pips, ZZ Top, en ’n lied wat my altyd aan my pa sal herinner, “My Friend The Wind” deur die Griekse sanger, Demis Roussos.

Dankie tog vir musiek.

______________________

MUZORIAN: 1972 from MUZORIAN on 8tracks.

______________________

Die groen Datsun

______________________

Nagmark in my kop

SATERDAG 28 JULIE 2012

Aag tog … sestien voor middernag.

Die woord “haat” is sterk, so kom ons sê maar net hierdie tyd van die aand is nie my gunsteling tyd van die dag nie. Ek is moeg … en my ooglede is op die punt om op te gee. Maar binne in my kop is daar steeds ’n suising van dinge wat gedoen kan word, wat gedoen móét word, wat lekker en interessant sal wees om te doen.

In my geestesoog sien ek ’n bazaar, of ’n nagmark in Taiwan. Jy hoor honderde stemme, kos wat op warm plate gegooi word, gebraaide hoender en pannekoek en vetkoek en samoesas wat voorberei word vir mense wat honger by plastiektafels sit en wag. Jy weet dis daar, maar jý is nie.

Dit is hoe dit is vir my, laat in die nag.

______________________