Eksistensiële vrae – verligte individue – self-modelle

DINSDAG 23 AUGUSTUS 2005

10:00

Ek: “In die taal van ons tyd, sê ek …”

Skare: “Een-nul!”

Ek: “Maak jou keuse.”

14:25

“Ek bestaan.”

Ek bestaan – maar hoe? en hoekom?

“Ek funksioneer.”

Ek funksioneer. – hoe? hoekom?

“Ek verskyn.”

Ek verskyn – maar waar? hoe? aan wie? en hoekom?

VRYDAG 26 AUGUSTUS 2005

My visie van ’n ideale wêreld: in enige gemeenskap ’n leierskorps van verligte mans en vrouens – almal bekwame mense, produseerders van kennis en insig, kunstenaars, skrywers, ontwerpers, en ander professies – wat almal streef na positiewe resultate van hul lewens – resultate wat feitlik altyd tot die voordeel strek van die gemeenskappe in wie se midde hulle leef en werk.

SATERDAG 27 AUGUSTUS 2005

Aan die einde kan ek slegs getuienis lewer oor my eie lewe: hóé ek besluite gemaak het, wát ek besluit het, hóé ek myself gedefinieer het, ensovoorts.

SONDAG 28 AUGUSTUS 2005

Kies jou self-model. Bob Dylan het byvoorbeeld die model gekies van “American Folksinger”, wat weer gebaseer is op ’n ander model, wat op sy beurt gebaseer is op ’n vroeër model, tot jy kom by die vroegste argetipe. Dylan het op sy beurt sy merk gemaak op die model. Vele na hom het hulself gebaseer op die “Bob Dylan” model.

______________________

Op my gelukkigste – keuses en aksies

DONDERDAG 11 AUGUSTUS 2005

14:10

Dit is goed om in harmonie te leef met jou omgewing. Dit is goed om jou lewe te vergelyk met ander mense se lewens en tot die konklusie te kom dat ook jou keuses goed is, en verduidelikbaar; dat dit selfs aangebied kan word aan ander as ’n geldige opsie vir ’n volwassene in die tyd en omgewing waarin jy leef.

Ek wil graag glo dat ek nie die goedkeuring of bevestiging van ander nodig het nie. Wat ek wel wil hê, is om te kan kyk na my eie lewe en met oortuiging te kan verklaar dat ook my lewe goed is, dat die keuses wat ek gemaak het, reg is vir my, dat ook my lewe reg het op muurspasie in die Galery van Volwasse Lewens.

16:37

Vervelige Feit Wat Ek Nou Al Soveel Keer Geresiteer Het Dat Ek Dit In My Slaap Kan Opsê, Nommer 1: Ek is op my gelukkigste as ek besig is met my eie projekte – met vrye, kreatiewe werk onder my eie beheer.

* * *

“Op jou gelukkigste?” sal iemand dalk vra. “Wat van jou verhouding?”

Antwoord: Indien ek nie in ’n goeie verhouding was nie, sou die vervulling wat ek ervaar wanneer ek besig is met my eie werk, gemeng gewees het met ’n hele paar ander emosies. Sonder my kreatiewe werk, sonder my projekte, sou ek nie die helfte van die mens gewees het wat ek tans is in my verhouding nie. Ek sou onder meer voortdurend my eie waarde en aantreklikheid as ’n persoon en ’n lewensmaat bevraagteken het.

SONDAG 14 AUGUSTUS 2005

Ek, myself, en die waarheid oor waansin en leuens: uit ’n droom

SONDAG 21 AUGUSTUS 2005

Elkeen van ons is die resultaat van keuses wat duisende mense oor die eeue gemaak het, en aksies wat hulle geneem het of nie geneem het nie of verkeerd geneem het – van ’n impulsiewe besluit om op ’n boot te klim na ’n ander kontinent toe, of nie op ’n boot te klim wat uiteindelik op die seebodem sou opeindig nie, van swaarde wat net-net ’n belangrike orgaan gemis het tot ’n voorouer wat eeue gelede ontwykende aksie geneem het om te verhoed dat ’n klip wat in sy rigting gegooi is, sy skedel kraak en sy lewe daar en dan beëindig.

MAANDAG 22 AUGUSTUS 2005

01:15

Epistemologie: Hoe wéét mens enige iets?

09:20

Redevoering, eksperiment, “Want dit word gesê …”

Hoe weet jy wat gesê word, is waar?

“Want …”

17:50

Jaag ek steeds agter windeiers aan … oukei, verkeerde vraag. Hardloop ek steeds deur ’n modderige landery agter ’n reënboog aan? Of gaan ek regtig, uiteindelik, arriveer?

______________________

Godsdiensverskille – begrip gebou op ondersoek

SATERDAG 6 AUGUSTUS 2005

10:50

Jy kan ’n meningsverskil oor godsdiens, veral met jou eie of betekenisvolle ander se familie, benader op een van twee maniere: apologeties of onapologeties. In eersgenoemde geval kom jy oor as swak, as iemand wat eintlik weet wat reg is, maar wat tog kies om nie volgens hierdie beginsels en oortuigings te leef nie (dalk omdat jy swak en ruggraatloos is). In die geval van ’n onapologetiese houding kom jy maklik oor as arrogant, selfs dat jy neersien op die ander persoon omdat jy weet wat die ander persoon glo, maar vir jou is dit nie “so eenvoudig” nie.

11:35

Ek het ’n sterk vermoede dat ek soms die indruk skep dat ek dinge weet wat ander mense nie weet nie; dat ek oor geheime kennis beskik wat die mat onder ’n ander een se voete sal uitruk; dat ek dit nie met iemand deel nie omdat ek jammer voel vir die persoon, en nie die oorsaak wil wees van sy of haar eksistensiële angs nie.

Die waarheid is dat, waar vele mense se geloof en algemene lewensbeskouings uit stellings bestaan, myne uit ’n paar stellings bestaan, en vele meer vrae.

Vele mense sal hierop reageer deur te sê dat dit verskriklik moet wees om rond te loop met soveel vrae waarop jy nie antwoorde het nie. (En in stilte dink die persoon hoe verskriklik dit vir húlle sou wees om te leef met soveel onsekerheid.)

My reaksie is dat ek veel makliker leef met eerlike vrae en eerlike ondersoek en om te sê, “Ek weet nie,” as met stellings waaroor ek onseker is, maar wat ek voel ek moet verdedig ter wille van lidmaatskap aan ’n spesifieke groep of gemeenskap. Ek weet ook teen hierdie tyd dat ek nie antwoorde op al my vrae nodig het om te kan funksioneer op ’n daaglikse basis nie, dat dit nie noodsaaklik is vir my om te kan wees wie ek wil wees nie, dat dit nie noodsaaklik is vir my om konstruktief te kan bydra tot die gemeenskap in wie se midde ek my bestaan voer nie, en dat dit nie noodsaaklik is vir my om goeie waardes te kan nastreef nie.

My begrip van die lewe is volhoubaar, omdat dit gebou is op kritiese ondersoek eerder as op stellings wat bloot aanvaar moet word maar wat tog verander het oor die eeue. ’n Standvastige begrip, eerder as een gebou op sand wat nou dié kant toe waai, en môre, of oor 500 jaar, in ’n totale ander rigting in geblaas word.

17:48

Sosiale verskynings is altyd, tot ’n mindere of meerdere mate, oneerlik.

WOENSDAG 10 AUGUSTUS 2005

uit die lig van kringe waar die swaarde dans/breek ’n vars woestyn opnuut weer uit … eerste twee reëls van ’n gedig wat verskyn het in my notaboek in ’n droom.

Die res van die droom: Dit was aand, [N.] was by ’n koffiewinkel, en ek by ’n deep fried of noodle stalletjie. Toe ek teruggaan koffiewinkel toe, sit Dan en Mireille [twee mense wat ek in Korea geken het], en twee ander mense by [N.], wat ek toe aan die hand vat en “red”.

Sy vertel toe Dan het homself voorgestel as, “Name is Jim, surname Morrison.”

Een van die ander mense kom gesels toe met ons in Afrikaans waar ons wag vir ons fried dumplings. Hy reageer met, “Nee, ek dink nie so nie” toe ek sê miskien is die grot waar hy was in Afrika, die “Skedelgrot”. Hy sê toe hy het nie eintlik die “Skim” gevolg in die Sondagkoerant nie, het ek?

______________________

Twaalf minute op my fiets

Kort na ses op Vrydagaand 5 Augustus 2005 vertrek ek vanaf ’n naskoolsentrum terug huis toe. Wat volg is die waarnemings en gesprekke met myself wat meeding om my aandag oor die volgende twaalf minute.

Gedagte nommer 1: “Ek het Zhang heeltemal verkeerd verstaan toe sy begin praat het oor die Chinese onderwyseres en haar probleme.”

Respons op gedagte nommer 1: “Nee wat. Ek ken die storie, en dis nie regtig belangrik nie.”

Onderdeur die tempelhek, oor ’n groen verkeerslig, net voor ’n scooter wat roekeloos oor die rooi lig jaag …

Gedagte nommer 2: “So ek kom toe by die sentrum aan met die gedagte dat ek eintlik tussen 2 en 14 September Suid-Afrika toe wil gaan. Net toe ek my skoene uittrek by die deur, lui ’n klokkie. ‘Drie September, drie September … hoekom klink dit so belangrik?’ Toe, net soos ek die deur oopdruk, onthou ek: Ernesta se afskeidsnaweek! Maar …”

’n Man met ’n pakkie sigarette in sy hand loop na ’n kar geparkeer in die middel van die pad. My aandag is afgetrek. Ek ry om die draai, en sien ’n vrou. Sy’s swanger. Ek kyk na haar voete: vetterige tone met die naels te kort geknip. Sy’s nie baie aantreklik nie. Sy’s nie in ’n deftige deel van die stad nie. My verbeelding skop in.

Gedagte nommer 3: “Sy herinner my aan ’n karakter in ’n movie … die vrou was nie vreeslik slim nie. Is hierdie vrou se man dalk ook ’n lid van ’n misdaadsindikaat? Hoe gaan hy voel as sy kind gebore word? Gaan hulle die kind behoorlik kan grootmaak? Gaan die kind aan die einde in sy ouers se voetspore volg? As die man wel ’n lid is van ’n misdaadsindikaat en hulle ongebore kind is ’n seun, gaan hy ook eendag ’n krimineel word – ’n oop seer op ’n gemeenskap wat nie nog kriminele nodig het of kan bekostig nie? As die ou ’n krimineel is, sou hy glo dat ander gangsters hom meer respek gaan gee as hy ’n kind het? Gaan hy sy kind gebruik in argumente wat hy op geen ander manier sou kon wen nie? Dan weer, wat van rekenmeesters, en ingenieurs, en bankklerke? Maak hulle altyd húlle kinders ordentlik groot? Is dit altyd ’n goeie ding as húlle kinders in hul voetspore volg? Gebruik húlle nie ook soms hul kinders in argumente wat húlle nie andersins sou kon wen nie?”

By die verkeerslig draai ek links. Twee seuns kyk my aan asof ek nie hoort in daai deel van die dorp nie. Ek sien ’n bondel … garing? ’n Visnet. ’n Ou man sit op ’n lae stoeltjie langs die pad en trek die net uitmekaar. Voor hom op die grond lê ’n hond en speel lustig met sy voorpote in die net. Die ou man lyk ongesteurd.

Gedagte nommer 4: “Hoe moet dit voel om so te leef? Sê jy bly op ’n eiland, of langs ’n afgeleë strand. Jy spandeer jou tyd deur visnette uitmekaar te trek, en met jou hond langs die see te stap, en vis te vang, en middagslapies in die skadu van ’n boom te vat. Wat sal so ’n man sê vir iemand wat praat oor hongersnood in Afrika, of oorlog in Irak, of bomme in Londen? Sal hy sê, ‘Dit maak nie aan my saak nie’? ‘Hierdie stukkie strand, hierdie uitsig oor ’n stukkie oseaan, dis my wêreld. Ek gee regtig nie om oor wat op ander plekke gebeur nie.’ Dan sal die ander persoon sê, ‘Wat van as daar ’n situasie is waar, as net een persoon wil help – en daai een persoon kan jý wees, dit lewens sal spaar?’ ‘Wel, as dit hulle tyd is, is dit hulle tyd,’ sal die ou seker antwoord.

“Die probleem met hierdie houding is dat die bad guys nooit so ongeërg is nie. Om die waarheid te sê, dis een van die grootste fokops wat jy kan kry – dat lusteloosheid en ongeërgdheid nooit kenmerke is nie van dié wat lewens bedreig, en vernietig, wat korrupteer, en tot die laaste druppel bloed uitbuit en onderdruk! So die ou met sy lewe op die strand, met sy visnet en sy hond en sy klein stukkie see, sal ook uiteindelik moet kies.”

“Dit moet ek neerskryf as ek by die huis kom,” dink ek soos ek die laaste honderd of so meter trap teen die effense helling uit.

En toe onthou ek van die gedagte oor die moontlike besoek aan Suid-Afrika waarmee ek besig was toe ek by die sentrum weggetrek het. “Al het ek dus geld gehad vir vakansie in September, sal ek nie my vriendin so in die steek kan laat in haar laaste week in Taiwan nie. Jammer dat ek nie daaraan gedink het toe ek vir die familie moes verduidelik hoekom ek nie volgende maand kan kom kuier nie.”

______________________

Kreatiewe onafhanklikheid – advies oor die lewe – identiteit

MAANDAG 1 AUGUSTUS 2005

18:51

Kreatiewe onafhanklikheid is ’n goeie en edel doelwit om na te streef. Om jou arbeid te verrig soos jy dit goedvind en nie soos dit gedikteer word deur ander nie, is alles goed en wel. Maar hoe word dit toegepas op mediese dokters, tandartse, polisie offisiere, ingenieurs, brandweer personeel en noodhulpdienste? Skrywers, akteurs, filosowe, fotograwe en so meer is deel van ’n groep “arbeiders” wat sekerlik kan aandring op minimale inmenging op hoe hulle hul werk verrig, maar kan alle arbeiders aandring daarop?

Nog ’n vraag: Die skrywer of kunstenaar wat hand en tand veg vir kreatiewe onafhanklikheid, om te doen wat hy wil, soos hy dit goedvind, het elke nou en dan ’n tandarts nodig, of ’n mediese dokter, of ’n verpleegster of ’n bankklerk. Hy verwag dat hierdie mense hulle werk moet doen soos dit veronderstel is om gedoen te word. Dan praktiseer hy mos nie wat hy predik nie, of hoe? En is dit nie ook edel om te voorsien in die behoeftes van die gemeenskap nie?

19:00

Wat sou ek eendag wanneer ek oud is vir iemand sê wat my advies vra oor die lewe? (Ek bedoel nou as ek gelukkig genoeg is dat iemand vir my ’n vraag vra waarvoor ek so ’n mooi, goed uitgewerkte antwoord het, en die persoon is geduldig genoeg om na die kort toespraak te luister.)

Ek sal sê, drie dinge:

1. Leer jouself ken. Vra jouself vrae, en oorweeg elke moontlike antwoord deeglik voor jy een aanvaar. Indien ander mense antwoorde het op die vrae wat jy vra, of aan jou antwoorde bied, aanvaar dit slegs na jy dit krities oorweeg het, en as relevant ag vir jouself. Leer jouself ken in verskillende situasies, en in uiteenlopende omgewings. Neem jouself waar; sien waar jou sterkpunte lê, asook jou swakhede.

2. Maak geld. As jy dit kan doen sonder om iemand “baas” te noem, of sonder om na iemand anders se diktee te dans, sal jy een van ’n minderheid wees wat persoonlike vryheid in hulle arbeid geniet. As jy meer geld maak as wat jy nodig het vir jou basiese behoeftes en vir wat jou ook al gelukkig maak, ook goed so. Dit sal jou in staat stel om die lewe meer te geniet, en om ander mense by te staan in hulle stryd om oorlewing. Onthou: gierigheid is ’n slegte eienskap; wees wys met jou geld; en as jy jou selfrespek merendeels bou op die feit dat jy geld het, bou jy jou huis op sand.

3. Kennis … van jou omgewing, die wêreld buite jou onmiddellike ervaringsveld, die geskiedenis van die mens, ander samelewings, ander lande, ensovoorts. Ook kennis van sielkunde, filosofie en ander vakgebiede wat jou in staat sal stel om jouself, ander mense, en die wêreld beter te verstaan.

DINSDAG 2 AUGUSTUS 2005

Stel jouself die volgende toneel voor: honderd mense is vergader in ’n saal. Geen name word gebruik nie. Elke persoon het ’n stel wit kaartjies by hom of haar – sê so vyftig kaartjies. Op hierdie kaartjies skryf die mense dan stellings wat hulle definieer: beskrywings soos, “Ek het ’n lang neus,” “Ek het ’n moesie op my voorkop,” “Ek vertel graag grappe,” “Ek hou van tuinmaak,” en dan ook ervarings soos, “Ek het geval met my fiets toe ek twaalf was en my voortande verloor,” “Ek het saam met my ouers deur Europa gereis toe ek sewentien was,” “Ek het in my middel twintigs vir twee jaar in Suid-Korea gewerk,” en so meer. Die kaartjies word dan saamgegooi, en elke persoon word dan uitgeken deur hierdie stellings en ervarings. Natuurlik sal ten minste die helfte van die mense reageer as die stelling, “Ek is ’n man” gelees word. Vele sal hul hande opsteek as die stelling, “Ek het bakore” gelees word. Sekerlik sal die semi-unieke kombinasies van fisieke eienskappe en beskrywings van persoonlikheid die een persoon onderskei van ’n ander, maar sal persoonlike ervarings die grootste unieke identifiseerder blyk te wees?

DONDERDAG 4 AUGUSTUS 2005

As jy nie weet wat jy met jou lewe wil doen nie, wat doen jy met jou lewe? Hoe funksioneer jy? Hoekom leef jy soos jy leef, waar jy leef, en met wie jy leef? Hoekom doen jy die werk wat jy doen? Hoekom dra jy die spesifieke klere wat jy dra?

Ek is seker daarvan daar is interessante antwoorde op bogenoemde vrae. Of, meeste mense het in der waarheid ’n idee van wat hulle met hul lewens wil doen. Indien dit die geval is, wonder ek: “Wat?” En indien iemand dan die vraag antwoord, sal ek steeds nuuskierig wees: “Hoekom?”

______________________