Die Christen in my geestesoog

DINSDAG 15 OKTOBER 2013

Christen: Volgeling van die leerstellings van Jesus van Nasaret.

Hierdie Christen dink dis belaglik dat enige iets bely moet word, dat daar vertonings van geloof moet wees met ritualistiese resitasies van doktrine, dat daar publieke en private erkenning gegee moet word aan God, aan “sy” naam, wat “hy” is, en so meer.

Hy sal vra: “Bedoel jy ek moet saam met ander mense bymekaarkom en bely dat ek glo ek moet my naaste liefhê? Hoekom sal ek dit wil doen? Nee wat, ek gee maar net vir my naaste liefde. Dis mos wat Jesus geleer het.” Hierdie persoon sal ook saamstem dat Jesus nie ’n onseker tiener is wie se identiteit gereeld bevestig moet word deur mense wat hom “liefhet” nie.

Die Jesus wie se leerstellings gevolg word deur die Christen in my geestesoog, sal heel waarskynlik nie veel dink van ritualistiese byeenkomste gevul met drama en emosie nie. Kans is goed dat hy net beïndruk sal wees daarmee as jy in werklikheid jou naaste liefhet, vir hom ’n kombers gee as hy koud is, vir haar skuiling gee as sy dakloos is, ensovoorts.

Die volgeling van Jesus, soos ek oor hom dink, sal ook nie veel waarde heg aan die identiteitetiket van “Christen” nie. Hy sal net sy skouers optrek en sê jy kan hom noem wat jy wil. Al wat vir hom belangrik is, is om sy naaste lief te hê soos hy homself het.

* * *

Wat is die Christelike religie? Is daar iets soos ’n ware Christen? Wat was werklik Jesus se bedoelings, en wat was Paulus en Petrus se bedoelings?

Ek dink nie daar is enige twyfel dat die kerkleiers in die dekades na Jesus se dood bewus was daarvan dat hulle ’n godsdiens gehad het om te administreer en te lei nie.

MAANDAG 2 DESEMBER 2013

Ek het vanaand aan iets gedink – om vir mense die ruimte te gee om so menslik te wees soos jy jouself toelaat om te wees, en toe ek weer sien, los en vat ek woorde en frases om ’n akkurate beskrywing te gee van my posisie rakende godsdiens.

Dit kom toe neer op die volgende: Ek het in my vroeë twintigs die oorweldigende indruk gekry dat die Christelike religie waarmee ek groot geword het en waaraan ek toenemend geheg geraak het in die eerste twee dekades van my lewe, mensgemaak is. Om dit anders te stel, die Christelike religie is in my opinie tot in die murg deurtrek met doktrines wat ’n menslike hand wys – of, in die woorde van ’n befaamde Duitse filosoof: “[It is] human, all too human.”

Belangrik ook om te verduidelik wat ek bedoel met deurtrek tot in die murg: As jy eers begin wegsny aan doktrines van die Christelike religie wat na deeglike oorweging net eenvoudig te menslik blyk te wees om “goddelik” te wees, gaan daar nie genoeg oorbly van die pasiënt om te kan voortleef nie.

______________________

Snaaks hoe dinge uitwerk

DINSDAG 22 OKTOBER 2013

Net voor ek intrek by een van slegs twee oop parkeerspasies by die supermark (dink spasies breed genoeg vir fietse, bromponies en motorfietse), parkeer ’n vrou en haar seun in die ruimte langsaan. Maar sy parkeer skeef, oor die ruimte waar ek my fiets moet staanmaak. Soos sy wegstap, kyk sy oor haar skouer. Sy sien sy’t skeef geparkeer. Sy sien ek moet by die spasie ingaan waar die voorste ent van haar bromponie staan. Sy draai haar kop weg, en stap by die supermark in.

My beskouing van haar is eenvoudig: Sy’s ’n barbaar.

Hoe anders? Sy verwag heel waarskynlik dat ander mense redelik sal optree teenoor haar in ’n parkeerarea, maar sy doen presies die teenoorgestelde. Ook, as almal moet doen wat sy gedoen het, sal daar chaos en konstante konflik wees. Nie net is sy nie ’n redelike mens nie, sy tree nie rasioneel op nie.

Ek het haar ’n vuil kyk probeer gee by die groente-afdeling, maar sy het weggekyk.

Hoe anders? (Of dink ek te veel?)

In ander nuus, ek het ’n noue ontkoming gehad kort voor my ontmoeting met die barbaarse vrou. Ek was besig om deur die tonnel te ry wat onderdeur die treinspoor gaan naby ons woonstel. Voor my was ’n ander fietsryer. Ek hou altyd regs in die nou tonnel sodat mense op bromponies my kan verbygaan, maar in hierdie geval kon ek sien dat ek die ander fietsryer sou moes verbysteek. Net soos ek toe verby hom skuur, hoor ek ’n helse knal. Ek kyk toe om en sien dat die ander ou oor iets gery het wat sy agterwiel se band laat bars het.

As hy nie daar was nie, het ék oor die skerp voorwerp gery. Wat beteken ek sou nie supermark toe gegaan het nie, en derhalwe nie die barbaar teëgekom het nie. Wat verder beteken dat ek nie rede sou gehad het om hierdie kort stukkie teks te skryf nie, wat beteken dat jy nou iets anders sou gelees het.

Snaaks hoe dinge uitwerk.

______________________

My vyf lewens in Taiwan, sover

DINSDAG 1 OKTOBER 2013

Ek ry oor die treinspoor, kyk in die rigting van Fengshan treinstasie oor die donker, industriële vlakte. Oudergewoonte dink ek iets in die lyn van, “Ek is nog steeds hier, in Taiwan.”

Besef ek toe dis nonsens – dis letterlik nie waar nie.

Die persoon wat hier aangekom het in Januarie 1999, bestaan nie meer nie. Hy’t nie gesterf of weggegaan nie, hy het … gereïnkarneer in ’n ander persoon in. En daai persoon het weer gereïnkarneer in ’n ander persoon in, ensovoorts. Al hierdie mense, as biologiese voortsettings van die persoon, “Barend Smit” (beter bekend as “Brand Smit”), en as “erfgename” van die naam, was wettiglik en moreel verantwoordelik vir enige wandade gepleeg of ooreenkomste aangegaan deur vroeër inkarnasies van “Barend Smit”. Latere inkarnasies is ook steeds geprys vir goeie dinge wat “hy” gedoen het, en is ook steeds intiem gekoppel aan sekere mense – ook op hul eie meer onlangse inkarnasies van vroeër weergawes, almal op hul eie persoonlike reise.

Ek reken ek het al vyf lewens gehad in Taiwan: Brand wat hier gearriveer het in Januarie 1999 – enkellopend, roker, dromer, bietjie kwaad vir die wêreld … wat gereïnkarneer, of getransformeer het in Brand van 2001 – kreatief, ambisieus, effens manies … wat gereïnkarneer of getransformeer het in Brand van 2005 – ernstige romantiese verhouding … wat op sy beurt gereïnkarneer of getransformeer het in Brand van 2006 – desperaat om ’n beter lewe te kan voorsien aan homself en die spesiale vrou in sy lewe, obsessief daaroor om geld van die huis af te maak … wat uiteindelik gereïnkarneer of getransformeer het in die mees onlangse inkarnasie, Brand van 2011 – getroud, nie-roker, weereens toegewyd aan kreatiewe projekte, steeds ernstig oor finansiële welvaart maar ook versigtig om nie sy tyd en geld te mors nie.

______________________

Die gesag van ’n logiese redenasie

SATERDAG 24 AUGUSTUS 2013

Ek dink vanoggend aan ’n kennis van my se reaksie op iets wat ek geplaas het op Facebook ’n jaar of wat gelede. Sy reaksie kan min of meer opgesom word as, “Wie dink hierdie ou is hy?”

Vir ’n minuut of so reflekteer ek toe oor wie en wat ek was op hoërskool: dat ek nie veel van ’n indruk gemaak het op mense nie; dat my tydgenote heel waarskynlik nie verwag het dat ék van alle mense ooit een of twee interessante gedagtes sou noteer en die behoefte sou voel om dit te deel met mense nie.

Soos ’n mens se brein maar kraak en kreun om van een gedagte ’n volgende een te maak, wonder ek toe oor hierdie ding dat sommige mense persoonlik raak as hulle nie hou van jou argument nie. Ek wil altyd sê: Moenie na my kyk nie; kyk na die argument. My persoon is nie ter sprake nie. Die argument moet staan of val op sy eie waarde.

Ek besef toe dat die kennis van my se reaksie waarskynlik nie net oor mý gegaan het nie. Sommige mense glo eenvoudig dat raad en advies en insigte en opinies oor sake eksistensieel moet spruit uit die monde van gesagsfigure. Indien hierdie mense ’n godsdienstige identiteit koester, is dit te verwagte dat die figure wie se woord saak maak, godsdienstige gesag sal hê.

Wat hierdie kennis van my dus waarskynlik bedoel het, was: “Op watse gesag sê jy wat jy sê? Is jy God? Is jy Jesus? Is jy ’n skrywer van ’n Bybelse boek?”

My reaksie op so ’n posisie: Maar maak my argument nie sin nie? Of: Ek reken my opinie verdien om ten minste oorweeg te word want dit is relatief goed uiteengesit, en dit maak min of meer sin.

Maar ek verbeel myself hoe die ou sy hand sal vibreer in ’n gebaar wat sê: Stil! Logiese argumente is goedkoop! Elke tweede man of vrou op straat kan vorendag kom met ’n logiese argument! Ek praat van gesag!”

Ek dink toe, as iets verkeerd is met my maag, of met my kop, of as ek ’n uitslag kry êrens op my vel, sal ek iemand met opleiding in medisyne gaan sien. Ek mag dalk my ma se advies vra, of my vrou s’n of ’n kollega s’n, maar dis die persoon met gesag wie se opinie werklik gewig gaan dra.

Is dit nie dieselfde met sake oor wat ’n mens met jou lewe moet doen nie? Maak dit nie sin dat dié kennis van my sy kop sou skud, sy skouers sou optrek en sou vra, “Wie is jy?” nie?

———–

Die verskil is wetenskap versus opinie; meer spesifiek, as wetenskap vir my ’n antwoord kan gee op ’n vraag of ’n probleem, gaan ek meer gewig daaraan gee as aan iemand se opinie. As ek byvoorbeeld ’n virus opgetel het, kan my bloed honderd keer getoets word, en dit sal amper elke keer presies dieselfde uitslag gee. Aan die ander kant, as dit kom by die vraag van wat ek met my lewe moet doen, kan wetenskap, sover as wat ek weet, my nie veel help nie. As ek dan draai na iemand met religieuse gesag en hom moet vra wat ek met my lewe moet doen, wat sal hy doen? Hy sal geskrifte raadpleeg wat meer as ’n duisend jaar gelede geskryf is in die geval van Islam, en amper twee duisend jaar gelede of meer as twee duisend jaar gelede in die gevalle van Christendom, Judaïsme, Hindoeïsme en Boeddhisme. Die skrywers van hierdie geskrifte het sekerlik gesag gehad in die gemeenskappe waarvan hulle deel was twee duisend jaar gelede, maar is dit redelik om hulle opinie in vandag se wêreld te aanvaar sonder om krities daaroor te dink of een of twee alternatiewe te oorweeg?

Om terug te gaan na my voorbeeld: As iets verkeerd is met my maag, of as ek ’n uitslag kry op my vel, gaan ek ’n mediese traktaat raadpleeg wat dateer uit die tyd van Julius Caesar, of selfs nog verder terug, na die tyd van Plato of Sokrates? Gestel ek krap êrens uit my boekrak presies so ’n stukkie literatuur, sal ek dit dalk deurgaan as ek desperaat of nuuskierig genoeg is. Daar is sekerlik ’n kans dat daar ’n paar brokkies handige advies kan wees. Maar voordat ek gestolde volstruisbloed aan my oë smeer, of die vars ingewande van ’n baba krokodil aan my seer knieg, gaan ek beslis ’n tweede mening kry.

Ek sê dus nie die persoon wat godsdienstige geskrifte raadpleeg wanneer hulle soek na ’n antwoord op die vraag van wat hulle met hul lewens moet doen, is primitief nie. Die skrywers van die betrokke teks was immers in hulle dag gerespekteer as gesaghebbende figure. Ek vra bloot: Hoekom nie ’n tweede mening oorweeg nie, veral as die mening redelik, en dalk relatief logies uiteengesit is?

______________________

Manifestasie van kennis en vermoëns

DONDERDAG 22 AUGUSTUS 2013

’n Projek kom in die eerste plek op my lys omdat ek reken ek kan iets doen. Selfs kommersiële projekte is nie net op my lys omdat ek reken ek kan geld maak daarmee nie. En as iets eers geregistreer het in my kop dat ek dit kan doen, het ek nodig om dit te doen. Ek het nodig om te manifesteer dat ek dit kan doen.

Om tien projekte op my lys te hê waaraan ek wil werk, is nie ’n probleem nie. Alles is in die pyplyn. Ek sal nog by alles uitkom. Maar om één te kies uit die tien, beteken per definisie ek ontneem myself van die geleentheid om te manifesteer dat ek ander projekte kan doen. En dit verlam my by tye. Ek vind dit soms amper onmoontlik om oor te gaan tot aksie totdat ek hierdie dooiepunt opgelos het.

Sal al die ander projekte nie steeds in die pyplyn wees nadat ek een projek gekies het nie? Sal hulle nie steeds op die lys van projekte wees waaraan ek later sal werk nie?

Blykbaar is dit nie hoe my brein werk nie.

Ek doen duidelik iets verkeerd. Ek dink verkeerd.

’n Soortgelyke ding gebeur wanneer iemand iets vra, en ek ken die antwoord. ’n Skoot adrenalien skiet onmiddellik deur my are. Ek moet, sonder versuim, manifesteer dat ek weet!

Tog, ek is nie in die gewoonte om mense fisies aan te val as hulle dit waag om kennis te deel wat ek ook geweet het nie. En dit gebeur tog gereeld dat ek sonder te veel geestelike steurnis vir weke op ’n slag fokus op een projek.

Wat moet ek doen aan hierdie kwaal waaraan ek soms ly?

______________________