Die probleem met posisie inneem

SONDAG 6 APRIL 2014

Siende dat daar altyd feite is oor ’n aangeleentheid waartoe jy nie toegang het nie, dat daar altyd dinge is oor ’n persoon, ’n insident, of ’n historiese gebeurtenis waarvan jy nie weet nie, of wat jy nog nie in ag geneem het in jou argumente vir of téén iets nie, kan jy ooit werklik posisie inneem?

Wat staan jou te doen? Moet jy eenvoudig altyd op die muur sit? Moet jy dink aan ’n standaard vrywaring wat jy in elke situasie sal resiteer (“Soos gewoonlik moet ek net sê, ek weet …”)? Moet jy meer krities wees? Meer sinies?

Om te leer om jou emosies te beheer, is ’n goeie begin.

DINSDAG 3 JUNIE 2014

Wat sou ek doen as ek in Winston Churchill se posisie was in die Tweede Wêreldoorlog – Winston Churchill, wie deur vele mense as ’n held beskou word? Sou ek byvoorbeeld ingestem het tot bomaanvalle op burgerlike areas in Duitsland in die laaste maande van die oorlog, waar ek sou geweet het duisende mense, insluitende jong kinders, sou doodbrand en op ander verskriklike maniere sou sterf, of vermink sou word?

Ek sou graag wou sê ek sou nie ingestem het daartoe nie. Maar omdat ek nie in sy skoene was nie, kan ek nie oordeel nie.

Die volgende stelling kom toe by my op, veral met Winston Churchill in gedagte: “Ek kan nie oordeel nie, maar ek sal myself weerhou van verheerliking.”

______________________

Lae kwaliteit mense

VRYDAG 23 MEI 2014

Twee dae gelede het ’n 21-jarige student mense op die Taipei metro aangeval met ’n vrugtemes. Hy het vier mense doodgesteek en amper twee dosyn gewond.

Soos enige normale mens was ek geskok. Ek het gewonder wat die ou besiel het.

Nadat ek ’n bietjie daaroor gedink het, het ek besef hy is ’n stupid fucking asshole.

Ek het etlike insetsels oor die insident gekyk op ’n plaaslike TV-kanaal, en elke keer wat ek hardop gesê het wat ek van hom dink, het ek beter gevoel.

Dit was asof ek verstaan het.

Later het ek gelees dat daar twee Facebook-blaaie begin is om die moordenaar te ondersteun. Eers kon ek nie verstaan wie de hel ’n blad vir so ’n lae kwaliteit mens wil begin nie. Die een blad het selfs 63 “likes” gehad!

Toe besef ek: Daar is ander stupid fucking assholes in die wêreld.

Hoe meer ek daaraan gedink het, hoe beter het ek gevoel. Nie omdat daar soveel stupid fucking assholes is wat die wêreld besoedel nie, maar ek het nie meer gewonder watse tipe mense sulke verskriklike misdade pleeg nie.

Dit kan natuurlik gebeur dat ’n stupid fucking asshole die titel vir homself toe-eien. Maak dit hom minder stupid? Nee, dit maak hom net meer van ’n fucking asshole.

———–

Lees meer oor die 2014 Taipei Metro aanval.

______________________

Moenie wag vir die goue sent om te val nie

DONDERDAG 22 MEI 2014

Soms mis jy ’n deel van die legkaart, of jy het ’n sterk vermoede dat daar iets is wat jy nie raaksien nie. Maar – jy verstaan genoeg om oor te gaan tot aksie, om dit wat jy moet doen min of meer reg te doen, al is jou sukses beperk.

In sommige gevalle transformeer hierdie verlore stukkies van die legkaart egter in jou kop in die spreekwoordelike “magic penny” wat jy hoop een of ander tyd sal “drop”. Wanneer hierdie magiese kennis uiteindelik ook op jóú kop neerdaal, so glo jy, gaan elke onderdeeltjie in sy plek inval, die spreekwoordelike masjien gaan met ’n gehoes en proes aan die gang kom, en alles gaan uitwerk soos dit moet.

Hierdie hardnekkige geloof in Iets wat Wonderlik sal Wees om te Weet kan ’n struikelblok na sukses raak. In plaas daarvan om oor te gaan tot aksie, wag jy. Of jy ploeter voort, maar jy wil nie wat jy doen te ernstig vat nie. Sekerlik moet daar meer wees aan die storie, sal jy vir jouself sê. Sekerlik hou diegene wat reeds suksesvol is en wat aanspraak maak daarop dat hulle hul kennis en begrip met ander mense deel, die belangrikste stukkies terug.

Sedert die einde van verlede jaar het ek gekyk na die moontlikheid om geld te maak op die Britse perderesies prysruilhandelmark. Ek het alles gelees wat ek kon vind oor die onderwerp, van £37 e-boeke tot forumbesprekings tot artikels, en ek het dosyne video’s gekyk wat verduidelik wat mens moet doen en hoe alles werk. Elke nou en dan vang ek myself egter dat ek steeds wag vir ’n “goue muntstuk” om in my skoot te val – een brokkie inligting wat dit duidelik sal maak hoekom sommige mense suksesvol is, en ander nie.

Dalk is ek verkeerd, maar ek vermoed dat ek verniet my oë op skrefies hou, dat daar inderdaad nié meer enige verlore stukkies inligting is waarsonder geen sterfling ooit kan hoop om sukses te behaal nie, of diepverborge geheime wat net sekere suksesvolle mense ken.

Ek reken die enigste “penny” wat vir my moet “drop” is dat ek moet aanvaar dat ’n goeie strategie meer geld maak as wat dit verloor, maar dat dit nie al die geld maak nie, en dat dit nie elke keer geld maak nie.

Ek glo as jy hierdie insig internaliseer en toepas in jou finansiële spekulasies, maar ook as jy die beginsel agter dit toepas in ander areas van jou lewe, is jy gereed om saam met die groot seuns of meisies te speel. As jy hierdie beginsel kan aanvaar, is jy nie meer ’n kind nie, want jy dink nie meer soos een nie.

Hiermee saam kom ook ’n begrip van sukses: suksesvolle mense is nie suksesvol omdat hulle beskik oor ál die inligting of omdat hulle ál die truuks ken nie. Hulle maak eenvoudig die beste van dit wat hulle wél het, en van dit wat hulle wél weet en verstaan. Hulle is suksesvol omdat hulle oorgegaan het tot aksie terwyl vele ander steeds wag vir die “penny” om te “drop” – terwyl hulle steeds wag vir perfekte begrip, of vir ’n plan of strategie wat sukses so te sê kan waarborg elke keer wat hulle ’n kans waag.

______________________

Identiteit, onbekende situasies, en ’n onbewaakte oomblik

SATERDAG 10 MEI 2014

My identiteit funksioneer optimaal binne sekere situasies. Hierdie situasies sluit in

– ’n verhouding met ’n spesifieke persoon;

– om ’n buitelander te wees in Taiwan;

– om in Taiwan te woon spesifiek as Suid-Afrikaner;

– om op my eie te wees; en

– om te werk as Engelse onderwyser.

Sal my spesifieke identiteit goed genoeg werk as ek skielik onderhandelings moet doen met iemand in Meksiko vir twee ton staal? Wat van as ek moet gaan werk op ’n skaapplaas in Australië?

’n Uitdaging soos hierdie sal afhang van hoe aanpasbaar my identiteit is. Dalk is daar aspekte van my identiteit in ’n intieme verhouding wat van toepassing kan wees. Of dalk is daar aspekte van my identiteit as Suid-Afrikaner in Taiwan, of as Engelse onderwyser, of waar ek op my eie aan my eie projekte werk, wat aangepas kan word vir ’n situasie wat betekenisvol verskil van die omgewings en van situasies waar my identiteit optimaal funksioneer.

As ek nie my identiteit kan aanpas by ’n nuwe omgewing nie, of in ’n situasie waarmee ek nie bekend is nie, is ek in die moeilikheid.

Dit volg derhalwe dat ek óf moet bly in omgewings en situasies waar my partikulêre identiteit optimaal kan funksioneer, óf ek sal noodgedwonge my identiteit moet … verbreed. (Hoe verbreed ’n mens jou identiteit? Onder andere deur jouself bloot te stel aan ’n wye verskeidenheid situasies, omgewings, ervarings, en aan ’n wye spektrum van mense.)

Die vraag is ook, hoe goed wil jy hê moet jou identiteit funksioneer in daai onbekende situasie of omgewing? Wil jy ’n goeie indruk maak op álmal wat jy teëkom? Wil jy erken word as gesaghebbend op een of ander gebied? Of wil jy net ’n sekere taak verrig, waar jou unieke identiteit en persoonlikheid vir tyd en wyl tot ’n mate opgehef kan word?

MAANDAG 19 MEI 2014

As jy 23 is, het jy nie veel méér nodig as jou ambisie, jou drome, jou energie, en jou geloof in jou toekoms nie … of eerder, min mense in jou lewe verwag dat jy meer op die tafel moet kan neerlê as dit.

As jy 43 is, is ambisie, drome, energie en praatjies nie meer goed genoeg nie. Vriende, familie, kollegas, selfs vreemdelinge verwag dat jy op 43 ’n huis sal hê, ’n lewensmaat, ’n stabiele werk, ’n goeie inkomste, en heel waarskynlik kinders. As enige van hierdie dinge ontbreek, is sommige mense geneig om te wonder wat verkeerd gegaan het, en wanneer.

En so nou en dan, in ’n onbewaakte oomblik, wonder jyself.

____________________

’n Brokkie advies vir ’n aaklige realiteit

DONDERDAG 8 MEI 2014

Hoeveel mense ontmoet jy elke dag?

Jy tel dalk op jou vingers af enkele mense wat jy ontmoet op die trein, of by die werk, of by ’n sportklub.

Ek sê, jy ontmoet dosyne mense indien jy tyd op die pad spandeer.

Het mense dieselfde persoonlikhede as padverbruikers as wat hulle in die res van hulle lewens het?

Ek glo hulle het.

Nou, as ek reg is, is dit slegte nuus. Dit sal beteken ’n groot persentasie van die algemene publiek – onder andere mense saam met wie jy werk en skouer skuur op ’n daaglikse basis, is onrusbarend onnosel, ontstellend immoreel, en van vieslike lae karakter.

Die aaklige realiteit: Baie mense kom weg met wie en wat hulle is op die pad, en in die res van hulle lewens.

’n Belangrike brokkie advies is derhalwe nie onvanpas nie: As jy sukkel om die bestaan van hierdie onnosel en immorele segment van die bevolking te aanvaar, moenie die pad gebruik nie, want dit is waar hulle gedrag jou dood kan veroorsaak.

Wat betref die res van jou lewe het jy nie veel van ’n keuse nie. Hierdie imbesiele, hierdie sedelose mense van skokkende lae karakter, is oral. Jy kan hulle probeer vermy, maar jy gaan gereeld misluk. Jy sal eenvoudig moet leer om met hulle saam te leef.

______________________