Meeste beleggings wat gemaak word, betaal nooit ’n dividend nie.
Meeste boeke wat geskryf word, word deur baie min mense gelees.
Meeste webwerwe word weinig besoek.
Meeste nuwe musiek word deur min mense gehoor.
Optimisme en geloof stu jou soms voort, en soms is dit jou ondergang.
Dit moet ook genoem word dat indien jy een onderneming aangepak het en dis suksesvol, is die waarskynlikheid beter dat jou volgende onderneming ook suksesvol sal wees.
As jy een belegging gemaak het wat wins oplewer, is daar ’n goeie kans dat jy hierdie sukses sal herhaal in jou volgende belegging.
As jy een boek geskryf het wat gelees word deur ten minste ’n paar honderd mense, is die waarskynlikheid goed dat jou volgende boek ook deur ten minste ’n paar honderd mense gelees sal word.
As jy een webwerf ontwikkel wat gereeld besoekers kry, is die kans goed dat jou volgende webwerf ook besoek sal word.
As jy ’n paar van jou eie liedjies beskikbaar stel en ’n duisend mense luister daarna, is die kans goed dat hierdie mense ook na die volgende snit sal luister wat jy uitreik, en dalk vir ander mense sal vertel daarvan.
Sukses, soos die spreekwoord sê, verwek immers meer sukses, en as jy min het van enige iets, sal jy waarskynlik in die toekoms nog minder daarvan hê.
Ek dink gisteraand hoe dit gewoonlik nie veel vat om weer my belangstelling te prikkel in die konsep van identiteit nie. Een van die dinge wat dit so interessant maak is dat baie mense hul identiteit verabsoluteer – hulle glo wie en wat hulle is, is vasgelê, en dis eenvoudig hoe dit is.
Een voorbeeld is ’n 22-jarige vrou wat in ’n selfoonwinkel werk. Sy dink dalk aan haarself op ’n sekere manier, maar verander haar omgewing, die mense om haar, die ekonomiese behoeftes van die gemeenskap, en binne ’n paar jaar is sy ma van ’n paar kinders en getroud met ’n arm boer wat ’n bestaan probeer maak uit ’n lappie droë grond.
Natuurlik is dit elkeen van ons se eie besigheid om te wonder watse ander rolle of identiteite binne ons sluimer wat dalk nie tans ’n geleentheid het om uit te kom nie. Jy is dalk tans ’n losloper man of vrou in jou dertigs, maar bínne jou skuil ’n hoogs bevoegde ma of pa. Jy sukkel dalk tans in jou beroep, maar binne tien jaar doen jy praatjies oor beroepskeuses en hoe om jou kanse op sukses te verbeter. Of, jy sukkel dalk tans met gesondheidsprobleme of selfs met verslawing, maar binne jou skuil ’n gesondheidskonsultant of fiksheidsinstrukteur.
Identiteit is ’n vloeibare konsep – moenie jouself toesluit voor jou beste identiteit kans gehad het om te ontwikkel nie.
As jy enige hoop of ambisie het om geld te maak op die finansiële markte, is dit van allergrootste belang dat jy moet begin leer om dit te doen wanneer jy nié nodig het om geld te maak daaruit nie.
Begin om boeke te lees oor hoe om die markte te interpreteer en hoe om transaksies aan te gaan en begin met oefenlopies ten minste twee of drie jaar voordat jy ’n sent wil maak daaruit. Dit sal desperaatheid en ongeduld as faktore elimineer. Dit sal jou tyd gee om foute te maak en te leer daaruit. Dit sal jou leer hoe om gedissiplineerd te wees en jou emosies te beheer. Jy sal tyd hê om jouself te leer ken as operateur op die markte. Jy sal leer waar jou sterkpunte en jou swakhede lê. En jy sal leer hóé, wanneer en in watter markte om betrokke te raak.
Dieselfde advies geld vir meeste ander maniere om geld te maak onafhanklik van baas en maatskappy – leer hoe om iets te doen lank voor jy nodig het om geld te maak daarmee.
• Neanderdallers se DNS verskil net 0,3% van moderne mense s’n.
• Die eerste mense met proto-Neanderdal eienskappe het geleef in Eurasië 350 000 tot 600 000 jaar gelede.
• Die eerste sogenaamde ware Neanderdallers het tussen 200 000 en 250 000 jaar gelede hulle verskyning gemaak.
• ’n Omvattende 2014-studie van Neanderdal bene en gereedskap het bewys dat Neanderdallers uitgesterf het in Europa tussen 41 000 en 39 000 jaar gelede.
• Hierdie skatting val saam met die begin van ’n baie koue tydperk in Europa, en is 5 000 jaar na Homo sapiens Europa bereik het.
• ’n Vergelyking van die DNS van Neanderdallers en Homo sapiens dui daarop dat die twee groepe afgeskei het van ’n gemeenskaplike voorouer tussen 350 000 en 400 000 jaar gelede. Hier voorouer was waarskynlik Homo heidelbergensis.
• Heidelbergensis het ontstaan tussen 800 000 en 1.3 miljoen jaar gelede, en het uitgesterf ongeveer 200 000 jaar gelede.
• Heidelbergensis se bestaansarea het gestrek oor Oos- en Suid-Afrika, Europa en Wes-Asië.
• Daar word geglo dat die Afrika-tak van Heidelbergensis tussen 350 000 en 400 000 jaar gelede begin ontwikkel het in die rigting van die moderne mens en dat die Eurasiese tak ontwikkel het in die rigting van die Neanderdallers.
• Die vroegste bekende oorblyfsels van Cro-Magnon-agtige mense is volgens radiokoolstofdatering tussen 43 000 en 45 000 jaar oud.
• Die Cro-Magnon-mens word beskou as die voorouer van moderne Europeërs.
• Daar is aanduidings dat sommige Cro-Magnon-mense blou oë, donker hare en ’n “swart” gelaatskleur gehad het.
• Anatomies moderne mense het na skatting hul eerste verskyning gemaak in Oos-Afrika 100 000 tot 200 000 jaar gelede.
• Volgens teorie het ’n uittog uit Afrika oor die Arabiese Skiereiland ongeveer 60 000 jaar gelede die moderne mens na Eurasië gebring, met een groep wat hulleself gevestig het in die kusgebiede rondom die Indiese Oseaan en die ander groep wat verder noord beweeg het tot in Sentraal-Asië.
• Die binnelandse groep word beskou as die stigters van Noord- en Oos-Asiërs, blankes, groot dele van die Midde-Oosterse bevolkings, en van die bevolkings van Noord-Afrika.
• Migrasie van die Swartsee-gebied na Europa het begin ongeveer 45 000 jaar gelede, en teen ongeveer 20 000 jaar gelede het die moderne mens die westelike rand van Europa bereik.
• Cro-Magnon-mense het die Europese landskap gedeel met Neanderdallers vir 10 000 jaar of langer, totdat laasgenoemde van die fossielrekord verdwyn het.
• Daar bestaan onsekerheid oor die verhouding tussen die Neanderdallers en die Cro-Magnon-mense, en oor die verdwyning of uitwissing van eersgenoemde. Teorieë sluit in vreedsame naasbestaan, kompetisie, verbastering, assimilasie, en volksmoord.
Ek soek na ’n definisie van Christenskap sodat ek weet wat ek bedoel as ek daarvan praat.
Hier is hoe ek dit sien: Christenskap/Christendom verwys na ’n kulturele en religieuse gemeenskap wat ’n filosofiese en morele raamwerk voorsien waaruit mense wat hulleself “Christene” noem ’n kerndeel van hul identiteit trek.
godsdiens/religie = die geloof in en aanbidding van ’n bomenslike beherende mag, veral ’n persoonlike God of gode; ’n bepaalde stelsel van geloof en aanbidding; ’n strewe of belangstelling gevolg met groot toewyding
filosofie = die bestudering van die fundamentele aard van kennis, die werklikheid, en bestaan, veral as ’n akademiese dissipline; ’n teorie of houding wat dien as ’n riglyn vir gedrag
kultuur = die kunste en ander manifestasies van menslike intellektuele prestasie gesamentlik beskou; die idees, gewoontes en sosiale gedrag van ’n bepaalde volk of gemeenskap
gemeenskap = ’n groep mense wat in dieselfde plek woon of ’n bepaalde eienskap in gemeen het; die toestand waar sekere houdings en belangstellings gedeel word