Om geld te maak, is ’n noodsaaklike onaangenaamheid

DONDERDAG 28 APRIL 2016

Daar is mense wat regtig daarvan hou om geld te maak. Hierdie mense weet hoekom hulle geld maak. Dit laat hulle goed voel om geld te hê; hulle hou daarvan om geld te spandeer, en hulle hou daarvan om goed te besit.

Ander mense dink nie veel aan die rede hoekom hulle geld maak nie. Hulle weet alte goed as hulle nie geld inbring elke maand nie, gaan nie net húlle swaarkry nie, maar ook geliefdes wat afhanklik is van hulle, of wat op hulle finansiële bydrae staatmaak.

Ek het die nare gewoonte om sake soos hierdie te kompliseer. Ek vind dit nodig om aan spesifieke redes te dink hoekom ek wil geld maak, of hoekom ek reken ek nie ’n keuse het anders as om geld te maak nie.

Een van die redes hoekom ek tans meer geld wil maak as wat ek nodig het, is omdat ek in ’n posisie wil wees binne die volgende tien of vyftien jaar waar ek minder aktief kan wees in die proses van geldmaak. Dit sal verder besonders goed wees as my lewensmaat ook in staat kan wees om minder van háár tyd te spandeer daaraan om geld te maak.

Wat die geldmaak-storie vir my kompliseer is dat ek nie die aktiwiteite waarmee ek tans geld verdien, beskou as my werklike professie nie. Ek skryf, en ek publiseer wat ek skryf – dit is my werklike beroep, en ek is goed bewus daarvan dat dit heel waarskynlik nooit veel geld sal inbring nie.

Het ek dus nie nodig gehad om geld te maak nie, sou ek heel waarskynlik nie veel daaraan gedink het nie. My produktiewe ure elke dag sou gevul gewees het met werk wat ek as belangriker ag as enige arbeid waarmee ek vergoed word met harde kontant of geld in my bankrekening. Ek sou besig gewees het om met my hande woorde en sinne te produseer in ’n notaboek of op ’n rekenaar, en as ek nie besig sou wees daarmee nie, sou ek besig gewees het om te dink aan dinge wat waarskynlik sou opeindig op papier of in een of ander digitale formaat.

Om geld te maak, is derhalwe vir my ’n noodsaaklike en onvermydelike onaangenaamheid.

______________________

Waarin ek glo, en ’n paar ander punte

DONDERDAG 14 APRIL 2016

Punt 1.

Dit is moeilik om te sê waarin ek glo.

Punt 2.

Ek vind dit moeilik om myself toe te wy of te verbind aan iets, want ek moet 100% glo daaraan, en ek sal deurentyd toewyding daaraan aan myself moet verkoop.

Punt 3.

Ek wens ek kan meer kosmiese verslag-tipe skryfwerk ontdek: Ek is bewus daarvan dat ek bestaan; ek het leer lees en skryf; ek het identiteit ontwikkel; ek oorleef (hoe?); ek funksioneer (hoe?); ek skryf wat ek dink, hoe ek voel, en hoe ek dinge ervaar.

Indien ek so ’n langtermyn skryfprojek van iemand anders ontdek, sal ek nie my eie literêre pogings vergelyk met daai persoon s’n nie. Ek sal verheug wees. Ek sal gretig lees wat die persoon dink, hoe hulle voel, en hoe hulle die lewe ervaar.

Punt 4.

Tien of vyftien jaar gelede het ek geglo ek kan iets skryf, iemand sal dit lees, en dink: “Hierdie ou is reg. Dit moet eintlik so wees. Ek sal van nou af anders optree.”

Punt 5.

Op Dinsdag 2 Junie 2015 skryf ek: [Dalk verskil my lewe nie veel] van die volgende ou s’n nie, en ek mors my tyd met my sogenaamde skryfwerk.

Aan die ander kant is daar ’n skraal moontlikheid dat ek my volwasse lewe sover op ’n manier geleef het wat aan my ’n unieke beskouing gegee het van die mens se bestaan en die lewens wat ons leef, en dat ’n kombinasie van persoonlikheid en tersiêre opleiding dit moontlik maak dat ek iets kan skryf wat iemand anders sal laat sê, “Ek hou van die bewoording hiervan. Dis nie regtig iets waaraan ek self nog nooit gedink het nie, maar die manier hoe die ou daaroor praat, maak dit makliker vir my om my eie gedagtes agtermekaar te kry.”

Punt 6.

Op Vrydag 31 Julie 2015 het ek die tromme geroffel vir ’n belangrike insig: Mens sê graag, “Maar iemand anders het dit klaar gesê,” of “Iemand anders doen dit klaar.”

Feit is, nie almal het gehoor toe daai ander iemand gesê het wat hulle ook al gesê het nie, of hulle het nog nie daai film gesien nie, of daai boek gelees nie. En selfs mense wat gehoor het wat daai man of vrou gesê het, of wat ’n sekere film gesien het, of ’n sekere boek gelees het, het al vergeet van die liggies wat aangegaan het in hul koppe!

Almal vergeet dinge. Dit, aan die einde van die dag, is hoekom belangrike dinge herhaal moet word.

Punt 7.

Op Donderdag 28 Januarie 2016 het ek geskryf: Dalk is die beste roman wat ooit geskryf sal word in enige taal, reeds geskryf. Maar steeds moet ons aanhou om te skryf. Dalk is die mees vrygewige mens wat ooit sal leef, dekades of eeue al dood. Maar steeds moet ons aanhou om te gee.

MAANDAG 18 APRIL 2016

Ek dink nou al ’n geruime tyd aan hierdie ding dat ek nie werklik weet waarin ek glo nie. Tref dit my vanmiddag soos ’n bliksemstraal: Ek glo in bome.

Dink daaraan: bome is sag op die oog en goed vir die hart; dit voorsien beskutting en voedsel aan mense, diere, voëls en insekte; in vele gevalle is ’n enkele boom ’n ekologiese sisteem waarbinne sommige kreature hul hele lewensiklus uitleef; bome maak besoedelde lug skoon en maak dit derhalwe makliker vir mense om asem te haal; bome voorsien hout vir huise en hutte en ander skuilings, en vir meubels; bome voorsien hout vir warmte; bome voorsien papier vir boeke; ’n mens kan ’n aktivis word vir die saak van bome – om die waarheid te sê wy vele mense reeds hulle lewens toe aan hierdie saak; bome kan vir honderde jare aanhou groei; en laastens maar nie die minste nie, vind jy jouself skielik een dag nakend buite jou huis, kan jy eenvoudig oorstap na die naaste boom toe, sagkens ’n takkie vol blare afbreek, en jou gesig daarmee bedek.

______________________

Die Groot Trek – vlees-en-bloed geskiedenis

MAANDAG 11 APRIL 2016

Ek het as kind aan die Groot Trek gedink as meer Bybelse geskiedenis as gewone geskiedenis. En ek het goed geweet: jy het anders gedink oor Bybelse geskiedenis, jy het anders daaroor gepraat, en jy het dit anders bestudeer.

Soos die Bybelse verhale, was die Groot Trek gevul met super-figure: Piet Retief, Gerrit Maritz, Andries Pretorius, en die vrou wat gesê het sy sal eerder kaalvoet oor die Drakensberg loop as om weer onder Britse heerskappy gebuk te gaan. Daar was ook aartsvyande, van die kaliber wat jy ook net in die Bybel aangetref het, waarvan die bekendste, die boosaardigste, Dingaan was, die koning van die Zoeloes.

Dan was daar gebeurtenisse wat so epies was dat ’n mens as kind nie anders kon as om te dink daaraan as Bybelse tipe-verhale nie. Daar was in die eerste plek die trek oor die vlaktes en later oor die Drakensberg. Dan was daar die moord op Piet Retief en sy geselskap deur hul aartsvyand en sy Zoeloe impi’s. En uiteindelik was daar die epiese triomf by Bloedrivier, toe die Trekkers teen die verwagtinge in hulle vyand, wat die Trekkers oortref het in getalle tien teen een, verslaan het. Om die Bybelse kwaliteit van die Groot Trek storie te verseël, was God ook daar, aan die kant van die Trekkers, soos hy meer as twintig eeue tevore ook aan die kant van die Israeliete was.

Gesien vanuit hierdie beskouing, was die Groot Trek die Boere se Eksodus verhaal; die Oos-Kaap was Babilon; Natal en die Vrystaat en later die Transvaal was die Beloofde Land; Piet Retief was Moses; Andries Pretorius was Joshua; die Engelse was die Egiptenare; en Dingaan was die Farao, of Goliat wat verslaan moes word op die slagveld deur die klein groepie Boere, of dan die getroue kryger, Dawid.

As jong student in ’n veranderende Suid-Afrika in die vroeë negentigs het ek bewus geraak van ’n proses onder geskiedskrywers om die Groot Trek te demitologiseer. Dit was blykbaar glad nie so ’n massiewe volksbeweging nie; net iets soos 10% van die afstammelinge van die oorspronklike Europese immigrante het deelgeneem aan die trek. En die oorwinning by Bloedrivier was ook eintlik glad nie ’n wonderwerk nie; die Trekkers het immers moderne wapens gehad, en die Zoeloes net assegaaie en skilde van hardgemaakte leer om die koeëls van hulle lywe af te weer.

Aan die een kant het jy dus gehad die Groot Trek as mitologie wat vir dekades lank gebruik was deur politici en die regerende elite om etniese nasionalisme te kultiveer; aan die ander kant, gediskrediteerde geskiedenis, iets wat nie regtig was soos wat mens altyd geleer het nie.

Soos ek egter onlangs weer besef het, is die waarheid veel interessanter as enige opgeblase propaganda. As mens met ’n oop kop weer na hierdie geskiedenis kyk, sal jy ontdek die vlees-en-bloed mans en vrouens en kinders wat vrees en onsekerheid ervaar het; mense wat bemin het en wat geliefdes aan die dood moes afstaan wat die wêreld vir hulle beteken het; mense wat gehoop het om rustig te raak op ’n eie stukkie grond as die stof uiteindelik gaan lê het.

* * *

Uit ’n oorsig oor The Great Trek Uncut: Escape from British Rule – The Boer Exodus from the Cape Colony 1836, deur Robin Binckes: “The author distances himself from the noble characters stereotyped for the past two centuries and portrays them in their true light: wonderful, courageous people with human feelings, strengths and failings.”

Koperbedekte seremoniële ysterwaens wat min of meer die uitleg van die waens tydens die Slag van Bloedrivier uitbeeld. Foto deur Renier Maritz (CC BY-SA 3.0)

______________________

Neem eienaarskap van jou mislukkings

DONDERDAG 7 APRIL 2016

Ek lees vroeër vanaand ’n nota wat ek geskryf het op Vrydag 28 Augustus 2015. Die nota gaan oor sukses, maar soos die storie maar is, gaan dit meer oor mislukking. Ek hou regtig van die stuk. Ek is vies toe ek bevestig wat ek vermoed het: ek het nog nie die teks geredigeer nie so dit is nog nie gepubliseer nie.

Ek reken die rede vir die vertraging is dat die deel oor mislukking my ’n bietjie te kaal laat voel, te weerloos.

Bespring ’n gedagte my toe soos ’n besete kat: Neem eienaarskap van jou mislukkings.

Ek is reeds eerlik oor my mislukkings, maar ek dink nou al vir ’n geruime tyd aan die ongemak wat ek steeds daaroor ervaar.

Feit is, mislukking in my pogings om meer geld te maak vanaf 2006 is ’n integrale en belangrike deel van my lewensverhaal. Ek behoort dit nie toe te gooi, of met suiker te besprinkel nie. Ek moet dit nie probeer wegpraat, of praat daaroor asof dit nie heeltemal waar is nie (in elk geval bietjie te veel van ’n uitdaging).

Net soos wat ek ander goed wat ek gedoen het waarmee ek gelukkig is, aanvaar as deel van my storie, so is mislukking ook deel van my storie. Dit is mý mislukking. Dit is mý proses. Dit is mý lesse geleer. Dit is mý emosionele ongemak, en mý teleurstelling. Ek het duur betaal daarvoor, en ek moet maak daarmee wat ek wil.

Ek het al misluk in vele ondernemings wat ek aangepak het sover in my lewe. Ook dit, is ek.

______________________

En so stap die tyd nogmaals aan

MAANDAG 4 APRIL 2016

Teen die tyd dat jy ’n jong volwassene is, agtien tot vroeë twintigs, is die mense wat die volgende geslag jong volwassenes gaan word, sewe tot twaalf jaar agter jou – op daai stadium kinders, of hoogstens tieners aan wie jy jouself min steur.

Teen die tyd dat jy dertig is, is daai volgende groep geboortelinge gereed om jou en jou ouderdomsgroep se pas ontruimde plekke in te neem as “jong volwassenes”.

Teen die tyd dat jy 35 is, is daai groep self al tussen 23 en 28, wat beteken dit is glad nie onvanpas dat jy om dieselfde braaivleisvure staan as ten minste die ouer lede van die volgende geslag nie. Vriendskappe word dalk gesluit, en dis selfs moontlik dat jy romanties betrokke kan raak met iemand uit hierdie geslag.

Tyd stap aan. Jy tref veertig. As jy dit nog nie uitgewerk of opgemerk het nie, gaan dit jou weldra tref soos ’n tert wat te lank in die son gestaan het: ’n volgende geslag het intussen hul opwagting gemaak, wat tussen sewe en twaalf jaar jonger is as die geslag wat gevolg het op jóú geslag. Hierdie vars lede van volwassenheid is op hierdie stadium enige iets tussen hoërskool ouderdom en middel-twintigs.

En jy weet: As die wêreld behoort aan die mense met die meeste energie en lewenslus en ambisie en selfs naïewe idealisme, behoort die wêreld nou aan hierdie groep jong volwassenes.

Jy slaan 45, en die oudste lede van daai hele tweede geslag wat ná jou volwassenheid bereik het, is al 30 jaar oud. Van hulle is al getroud. Sommige het al kinders. Kans is dat van hulle vir jou werk, maar dit is ook moontlik dat jy vir een van hulle werk, dat ’n lid van hierdie geslag vir jóú instruksies gee oor wat om te doen en wat om eerder nie te doen nie.

Jy is grootliks ’n vreemdeling vir hierdie “tweede” groep nuwe volwassenes, maar jy het ’n idee wat vir húlle belangrik is. Verwysings word gereeld gemaak op TV en in alledaagse gesprekke oor húlle voorkeure en modegiere, en dit is húlle opiniestukke en ongepoetste prosa wat op literêre webwerwe vorentoe gedruk word.

Kans is skraal dat julle sosiale sirkels ooit sal kruis. Julle skuifel ietwat styf verbymekaar in stampvol kuierplekke. Kom julle in ’n situasie waar stilte ongemaklik sal wees, is hulle dalk onwillig om te veel te sê, want hulle verwag dalk dat julle, soos hulle ouers, krities sal wees oor hulle voorkoms, en oor die keuses wat hulle maak. En jy is dalk self nie te spraaksaam nie, want jy wil nie oud klink nie, en die hemel behoed jou as jy die indruk moet skep dat jy probeer “hip” wees.

En so stap die tyd nogmaals aan. Die veertigs, so het iemand opgemerk wat jare gelede al deur die vreemde proses gegaan het, is die bejaarde jare van jou jeug – en jou vyftigs die jeugjare van jou bejaardheid.

Een ding in hierdie vyfde dekade van jou lewe is niks nuuts nie: Indien jy gelukkig genoeg is om tyd te kan afknyp in die gejaag om aan die lewe te bly, vind jy dalk net dat jy weereens probeer uitsorteer wie en wat jy is en wie en wat jy wil wees, min of meer gebaseer op wie en wat jy was tien en twintig jaar gelede, en in ag genome wie en wat jy hoop om te wees in die toekoms – mits jy oor twee of drie dekades jouself nóg bevind in die land van die lewendes.

______________________