Hoekom het ons nodig om geld te maak?

DONDERDAG 29 DESEMBER 2016

Hoekom het ek, of jy, nodig om geld te maak? Glo dit of nie, maar daar is mense wat onnosel genoeg is om elke nou en dan die antwoord te vergeet, en dan moet iemand in die omtrek altyd verduidelik.

Ek is een van hierdie eenvoudige mense. Gelukkig het ek net genoeg kompleksiteit binne my om na ’n paar minute uit my beswyming te ontwaak, en dan kan ek genoeg breinselle opkommandeer om self ’n antwoord te formuleer.

Dit verduideliking gaan soos volg:

Rede nommer 1. Jy moet probeer oorleef (as jy nie wil nie, geld niks van hierdie verduideliking vir jou nie). Om te oorleef, het jy geld nodig om kos te koop, huur te betaal, en te betaal vir water en elektrisiteit. Jy’t ook nodig om klere, en van tyd tot tyd medisyne te koop. Dit sal ook help as jy iets doen wat dit makliker sal maak om te oorleef een jaar van nou af, en tien jaar van nou af, en wanneer jy veel ouer is as nou en dalk nie meer kán of wíl werk nie. Jou oorlewing is dalk ook ten nouste gekoppel aan die oorlewing van mense na aan jou vir wie se oorlewing jy verantwoordelik is. Dit beteken nog meer geld vir kos, en klere, en medisyne, en ander items.

Rede nommer 2. As jou oorlewing goed genoeg op dreef is, maak dit sin om jou oorlewing die moeite werd te maak – andersins, wat is die punt? Om jou oorlewing die moeite werd te maak, het jy nodig om dinge te doen wat jy geniet. Dit beteken jy het geld nodig om boeke te koop, of sport te beoefen, of bioskoop toe te gaan, of kos te kook omdat jy hou van koskook, of vir dosyne ander dinge wat mense doen vir die plesier daarvan, of omdat dit hulle gelukkig laat voel en oor die algemeen positief oor die lewe.

Rede nommer 3. Jy wil dalk ander mense bystaan in hulle stryd om oorlewing (dis dalk iets wat jou eie oorlewing die moeite werd maak). Kans is goed dat jy geld nodig sal hê in jou pogings om ander te help.

Rede nommer 4. Jy wil dalk ook ander mense bystaan in hulle pogings om húlle oorlewing die moeite werd te maak. Weereens is dit nie altyd nodig om kontant op die tafel te lê nie, maar dit sal heel waarskynlik die proses vergemaklik.

Daar het jy dit – of dalk eerder, daar het ék dit nou, weereens. Ons het geld nodig om te oorleef. Ons het geld nodig om ons oorlewing die moeite werd te maak. Ons het geld nodig as ons ander mense wil help oorleef, en ons het geld nodig om hulle te help om van opinie te verander indien hulle nie dink hulle oorlewing is die moeite werd nie.

______________________

’n Goeie en suksesvolle dag word opgebou laag vir laag

WOENSDAG 28 DESEMBER 2016

Wie begin sy dag met ’n manifes op sy lippe, en ’n fyn-uitgewerkte bloudruk in sy kop?

Feit is, meeste mense se dae begin met noodsaaklikheid: jy staan op want jy’t nodig om badkamer toe te gaan, omdat jy honger is, en omdat jy afsprake gemaak het met mense en ondernemings en as jy nie opdaag nie, gaan jy in die moeilikheid wees.

En so begin jou dag. Uiteindelik stort jy en jy borsel jou tande, jy trek aan, en jy gaan êrens heen om jou brood en botter te verdien, of om andersins van waarde te wees vir die gemeenskap.

Laag vir laag word jou dag opgebou. Hier en daar maak jy ’n fout. Hier en daar sê jy iets of doen jy iets wat jou in verleentheid stel, maar na ’n paar minute of ’n uur of so is jy weer volstoom aan die gang.

Teen die tyd wat die dag verby is, kyk jy dalk terug na ’n goeie en relatief suksesvolle dag. Het jy dit begin met slagspreuke wat oor jou lippe gerol het, en ’n plan wat netjies uitgedruk langs jou bed gewag het vir jou om dit meganisties te volg? Heel waarskynlik nie, hoewel jy sekerlik ’n goeie idee gehad het hoe jy graag sou wou hê jou dag moet verloop.

So is dit met ander ondernemings en projekte wat jy aanpak. Jy het ’n goeie idee wat jy moet doen om redelike goeie resultate te bewerkstellig. Jy het ’n goeie idee wat jy nie moet doen nie om uit die moeilikheid te bly. Jy maak nogtans so nou en dan foute, en jy gly so nou en dan op ’n piesangskil. Maar suksesvolle resultate sal soos ’n goeie en suksesvolle dag opgebou word laag vir laag – tien, twintig, honderd groot en klein aksies en stappe wat een na die ander volg om ’n goeie resultaat te bou.

Slagspreuke is goed. Manifeste het hulle plek. Sekerlik moet jy weet wat jy moet doen. Maar sukses is meestal die resultaat van een laag klein, oënskynlik onbelangrike aksies op die ander. Net soos ’n goeie en suksesvolle dag.

———————-

Nie presies op dieselfde onderwerp nie, maar in dieselfde gees: Scott Adams skryf die volgende op sy blog by Dilbert.COM: “The idea of a talent stack is that you can combine ordinary skills until you have enough of the right kind to be extraordinary. You don’t have to be the best in the world at any one thing. All you need to succeed is to be good at a number of skills that fit well together.”

______________________

Was dit die tyd en geld werd omdat jy iets geleer het oor jouself?

WOENSDAG 21 DESEMBER 2016

Mens leer jouself ken in uiteenlopende situasies: deur te reis na vreemde lande toe, deur tyd te spandeer met mense van wie jy nie werklik hou nie, en in moeilike tye, alleen of saam met ander mense.

Jy leer ook baie oor jouself deur te spekuleer met geld, sê nou maar op die finansiële markte. Jy sien hoe jy voel en optree na ’n goeie wins, en hoe jy voel en optree na ’n verlies. Jy leer ook hoe jy voel, en hoe jy optree, na ’n katastrofiese mislukking.

Hoe lank dit jou vat om op te gee, is nog ’n belangrike ding wat jy van jouself leer, asook hoe lank jy aanhou met ’n ding omdat jy nie wil opgee nie, al kan selfs ’n stokblinde mens sien jy kom nêrens nie.

Kwalifiseer dit as opgee as jy jou ervaring verskuif na iets anders toe, of as jy dinge wat jy geleer het toepas op ’n totaal ander mark? Het jy dan steeds jou tyd gemors? Het jy dan steeds jou geld gemors?

Hoe bereken ’n mens “wins” as dit kom by selfkennis? En beteken dit noodwendig iets was minder van ’n mors van tyd omdat jy ’n paar waardevolle dinge geleer het oor jouself?

______________________

Waar trek mens die streep vir moord?

WOENSDAG 19 OKTOBER 2016

Op Vrydag 5 Oktober 2007 het ek ’n nota geskryf wat soos volg begin het: “Is self-verloëning – die verloëning van jou waardes, van wie jy is – regverdigbaar as die eindresultaat goed is?”

Ek skets toe ’n situasie van iemand wat skynbaar ’n goeie mens is, wat ’n slegte daad pleeg, maar vir goeie redes.

Lang storie kort, ek besluit toe om nie die oorspronklike teks te gebruik nie, want ek reken as ’n “goeie mens” ’n slegte daad pleeg – soos moord, vir ’n goed genoeg rede – soos om honderd mense se lewens te red, hy nie werklik sy morele waardes verloën het nie, en nie regtig sy “goeie gewete” opgeoffer het op dieselfde wyse as wat iemand anders sy lewe of ’n ledemaat opoffer om iemand anders te red nie.

Nietemin, dink ek toe, ’n mens moet sekerlik ’n streep êrens trek.

I

Sê byvoorbeeld iemand red honderd mense se lewens deur iemand anders te bedrieg en dan te vermoor in die middel van die nag – nadat hy sy vertroue gewen het. Die persoon voel baie skuldig, maar die wêreld is ’n beter plek. Is dit nie ook ’n geval van iemand wat homself opgeoffer het vir ander mense nie?

II

Sê byvoorbeeld iemand slaag daarin om langtermyn huisvesting te voorsien aan twee honderd hawelose mense deur iemand anders te bedrieg en dan te vermoor in die middel van die nag – nadat hy sy vertroue gewen het. Hy voel baie skuldig, maar die wêreld is ’n beter plek – daai twee honderd mense het vanaand ’n warm plek om in te slaap. Is dit ook ’n geval van iemand wat homself opgeoffer het vir ander mense?

III

Sê byvoorbeeld iemand red ’n duisend mense se gevoelens deur iemand wat hulle godsdiens beledig het, te bedrieg en dan te vermoor in die middel van die nag. Hierdie persoon voel skuldig, maar die wêreld, so glo hy, is ’n beter plek, omdat die gemeenskap voel geregtigheid het geseëvier. Is dit ’n geval van iemand wat homself opgeoffer het vir ander mense?

Baie mense sal ’n paar minute benodig om die eerste twee scenario’s te oorweeg. Ek glo minder mense sal tyd nodig hê voordat hulle die derde scenario veroordeel. Die vraag bly: Waar trek ’n mens die streep?

______________________

Goeie punte en wyse woorde van ’n paar skrywers

MAANDAG 10 OKTOBER 2016

Soos enige intelligente mens lees ek my kwota goeie artikels op die internet. Hierdie stuk verwys na enkele sulke artikels.

Op 18 September 2016 skryf Andrew Sullivan oor stilte en tegnologie in die artikel, “I Used to Be a Human Being”. Hy herinner lesers daaraan dat die Protestantse Reformasie begin het met ’n aanval op die Middeleeuse vestings van stilte, naamlik kloosters. Dit was gevolg ’n paar eeue later deur die geraas en ontwrigting van die Industriële Rewolusie. Hy is verder van mening dat stilte in die moderne era ’n simbool geword het van die waardelose bygelowe wat ons agtergelaat het. En die slimfoonrewolusie van die laaste dekade is volgens hom die finale spyker in die kis – waar die laaste stil oomblikke wat ons nog het, wat hy noem “the tiny cracks of inactivity in our lives”, ook gevul word met stimulus en geraas.

* * *

In nog ’n uitstekende opiniestuk getiteld, “Will the Left Survive the Millennials?” maak skrywer en joernalis, Lionel Shriver, ’n paar goeie punte:

* Toe sy grootgeword het in die sestigs en vroeë 1970’s, was konserwatiewe mense die handhawers van konformiteit. Dit was die mense aan die regterkant van die politieke spektrum wat agterdogtig was, alewig opsoek na tekens van opstand. Nou, reken sy, is hierdie rol oorgeneem deur mense aan die linkerkant van die politieke spektrum.

* In ’n era waarin mense so ontsettend sensitief is, raak deelname aan openbare gesprek so riskant, met die gevaar om elke hoek en draai dat jy per ongeluk die verkeerde woord kan gebruik of nie die regte graad van sensitiwiteit openbaar ten opsigte van gestremdheid, seksuele oriëntasie, sosio-ekonomiese klas, ras of etnisiteit nie, dat mense gaan begin om eerder weg te bly van ’n sosiale bymekaarkoms waar die waarskynlikheid dat iemand aanstoot sal neem, groot is.

* Sy wonder ook hoe dit gebeur het dat liberale mense in die Weste sensuur en die oplegging van ortodoksie in denke en spraak omhels het as ideologie.

* Sy herinner ook die leser daaraan dat vryheid van spraak beteken dat jy ook die stemme van mense sal beskerm waarmee jy totaal en al verskil.

* * *

Die wetenskaplike, Donald Hoffman, sê ewolusie begunstig nie mense met ’n goeie begrip van objektiewe werklikheid nie – dit wil sê, realiteit soos wat dit werklik is, maar dat dit diegene begunstig wat die werklikheid waarneem op ’n manier wat hulle in staat stel om op effektiewe wyse te oorleef en suksesvol voort te plant.

Lees die stuk, “What If Evolution Bred Reality Out Of Us?” deur Adam Frank.

* * *

En laastens, wyse woorde van iemand wat probeer uitwerk hoe om ’n sportspan uit die vallei van wanhoop te kry:

“[T]o paraphrase Albert Einstein, you cannot solve a problem with the same level of consciousness that created it. In other words, problems created with one type of thinking will persist until you think differently — and that usually requires different people (because, in my experience, it takes a mighty epiphany for a person to change their thinking drastically enough).”

______________________