Oor “Harte” en die lewe

MAANDAG 18 JUNIE 2001

Microsoft Hearts in Windows 7

My strategie vir die kaartspel “Harte” is op die oog af teenstrydig met die doelwit van die spel. Dit lyk aanvanklik asof ek afstuur op selfvernietiging – net ter wille daarvan om myself te vermaak, terwyl die ander spelers besig is met ’n ernstige spel. Teen die tyd wat die ander spelers egter besef dat ek besig is om ’n spel – waarvan hulle my nie as ’n ernstige deelnemer beskou het nie – te wen, is dit te laat. Hulle pogings om hulle eie posisies te red is dan reeds gedoem, en ek is op pad na ’n skitterende oorwinning, behaal op ’n onortodokse wyse.

Dit moet egter genoem word dat ek nie hierdie onkonvensionele strategie met elke rondte volg nie. Sodra ek sien dat ek nie ’n spesifieke rondte gaan wen op my manier nie, verander ek my strategie. Ek is dus pragmaties genoeg om nie my werklike oogmerk te verslaan ter wille van om anders te wees nie.

Hierdie benadering tot die spel verg durf, en amper oordadige vlakke van selfvertroue. ’n Mens moet ook aanvaar dat jy gaan verloor van tyd tot tyd, en dat sulke tye hanteer moet word met soveel grasie as ’n oorwinning.

Aan die einde kan dit gesê word dat ’n oorwinning behaal op jou eie manier en teen die verwagtinge van die ander spelers veel meer vervullend is as om die spel te wen volgens beide die gesproke en ongesproke reëls en konvensies.

As jy egter verloor, keer op keer, deur jou eie onortodokse metodes te volg, is dit gewoonlik ’n goeie idee om jou primêre doelwit, en so ook jou metodes, te heroorweeg. Die illusie van selfvernietiging is immers – en dit moet nooit uit die oog verloor word nie – veronderstel om slegs ’n illusie te wees.

______________________

Hoe die kragte dans

VRYDAG 1 JUNIE 2001

Dat alles om mag wentel, is een van die belangrikste dinge wat ek geleer het op die bedrieglike pad na volwassenheid. Hierdie waarheid geld nie net op die politieke en ekonomiese terreine nie, dis net so geldig op die terrein van persoonlike verhoudings.

Enige persoon wat ooit gelukkig genoeg was – of ongelukkig, hoe dit ook al sy – om in ’n intieme verhouding met iemand anders te kon wees, sal vir jou kan sê dat beide partye altyd geweet het waar hulle staan in die magsbalans. In die ideale verhouding is albei partye natuurlik gelyk, selfs al is die een soms in ’n beter emosionele toestand as die ander, en derhalwe beter in staat daartoe om sake, vir die oomblik, te dikteer. Maar die feit dat die party in beter gemoed elke nou en dan wissel, bevestig die basiese gelykheid van die twee partye.

Hierdie beginsel geld ook vir vriendskappe. Daar mag tye wees wat die een vriend meer in beheer is van ’n situasie, en meer oortuig is van hom- of haarself. In sulke gevalle sal die ander vriend amper instinktief die onderdanige posisie inneem. Hierdie rolle kan verander so gou as wat die onderwerp van bespreking verander, of wanneer ’n situasie ontwikkel waarmee die een persoon meer gemaklik is, of wat hy of sy met meer selfvertroue kan benader.

Dieselfde verskynsel manifesteer ook op subtiele wyses in sosiale omgang tussen vreemdelinge. Wanneer twee mense mekaar vir die eerste keer ontmoet, sê by ’n braai of by ’n drink-en-dans ruimte, onderneem die brein ’n spoed profiel samestelling. Feite word gesoek en gerangskik in ’n voorlopige begrip van magsbalans. Is die persoon vriend of vyand? Is hy cool, of is hy ’n loser? Is sy iemand wie se naam ek behoort te onthou, of moet ek net haar hand papperig skud terwyl ek oor haar skouer soek na iemand wat my belangstelling meer prikkel?

Afhangende van die voorlopige antwoorde op hierdie vrae, besluit ons waar ons staan met hierdie vreemdeling. As die persoon gereken word as ’n nie-bedreigende, potensiële vriend wat die indruk skep dat hy of sy weet watter woorde om in watter konteks te gebruik, dan word die volgende stel vrae opgestuur na die Hoër Orgaan toe: Moet ek hom/haar as ’n gelyke behandel, of as iemand wat ek nie sal omgee om saam te sleep as ’n bewonderaar nie? Of, moet ek my bes probeer om hierdie persoon se guns te probeer wen omdat, a) die persoon meer weet as ek, b) meer ervaring het as ek, c) iets het wat ek wil hê, of d) ek die persoon beskou as my meerdere om al drie redes en nog ’n paar ander?

Jy mag dalk dink dat hierdie hele denkproses die grootste deel van ’n minuut opneem, maar in vele gevalle is al hierdie vrae reeds beantwoord teen die tyd wat die handdruk verby is, of die kop ophou knik. Die faktore wat die antwoorde van hierdie vrae bepaal sluit in voorkoms, die intensiteit van ’n glimlag, die entoesiasme of afwesigheid daarvan wanneer die ander persoon gegroet word, mense saam met wie jy of die ander persoon is wanneer julle aan mekaar voorgestel word, of enige inligting wat die persoon oor jou beskik het voordat hy of sy jou persoonlik ontmoet het, of inligting wat jy oor die ander persoon beskik.

In sommige gevalle is dit moontlik dat ’n aanvanklike swakkerige beskouing van jou verander sodra die ander persoon sekere dinge oor jou wysraak. As die persoon byvoorbeeld moet uitvind dat jy ten spyte van jou eksentrieke voorkoms, sal ons maar net sê, finansieel baie gemaklik is, sal jy heel moontlik ’n onmiddellike houdingsverandering teëkom op jou terugkeer van die badkamer af.

Natuurlik kan die teenoorgestelde ook gebeur. Jy mag dalk reken jy’t ’n blywende indruk gelaat met die fyn sinchronisasie tussen kleredrag en fantastiese mites wat jy oor jouself versprei het, maar teen die derde keer wat jy iemand raakloop wat aanvanklik gedink het jy’s ’n held, vind jy tot jou ontsteltenis dat die persoon intussen onder ’n sterker figuur se vlerk ingekruip het. Of miskien het jy te veel geleun op jou staaltjie van die tyd toe jy en ’n lid van die onttroonde Birmaanse koningshuis gevlug het deur die oerwoud van Viëtnam, net om te vind julle is in werklikheid in Thailand, en dat hy jou persoonlik verantwoordelik hou vir die feit dat hy malaria het. “Van wanneer af het almal sulke stories?” sal jy wonder, terwyl jy die vertrek deursoek na ’n nuwe groep mense om te beïndruk.

Dit is helaas, nie net die onaantasbares van Indië wat ’n stryd voer met ’n kastestelsel nie. Alle gemeenskappe het hiërargieë en klasse wat kruis-en-dwars oormekaar vleg. Almal, van die rykstes tot die armstes, van die koelste boekhouer tot die verveligste popster, moet probeer byhou met wat hulle plek bepaal op die magshiërargie in die omgewings waarbinne hulle hulself vertoon.

Iemand moet eintlik ’n sproei ontwerp wat ’n mens oor ’n sosiale bymekaarkoms kan spuit om werklike opinies en vlakke van respek wat mense het vir dié rondom hulle, bloot te lê. ’n Paar geheime bewonderaars mag dalk ontmasker word, maar die kanse is aansienlik beter dat ’n paar opgeblase ego’s die nietigheid in geprik sal word.

______________________

Notas en briewe van Maart tot Mei 2001

Junk food ontbyt, en betekenis in die lewe

“Work, marriage? Hmm … one needs money, true. One needs companionship, and children sometimes compensate people for not having anything else to give meaning to their lives. All these things have been tested over time and are regarded as universal truths.

Nevertheless, there is more than one way to satisfy the need for money other than a life-sucking job; more than one way to satisfy the need for companionship other than marriage; and more than one way to satisfy the need to experience meaning in your life other than having children.

Take me for example, I’m trying to make it as a Sermoner, and although it doesn’t pay the rent, I do get a kick out of preaching to other people. As for companionship and children, well … it’s not a perfect world. McDonald’s sell a decent breakfast, though. Have you tried that?”

~ Uit ’n e-pos aan ’n vriendin (9 Maart 2001)

Altyd swerwend?

Ek kan wegkom daarmee deur myself voor te doen as een van húlle – deur ’n ietwat onkonvensionele maar nietemin middelklasbestaan te voer. Tot ’n mate wil ek so ’n lewe hê. Maar daar is altyd ánder lewens wat ook geleef kan word. En ek sal altyd een oog hê op die tipe bestaan wat ek nou voer.

Ek dink nie ek sal ooit in staat wees om ’n konvensionele middelklaslewe te leef nie, selfs al is dit finansieel binne my bereik – en deesdae hoef ’n mens nie meer in jou eie land te woon om hierdie tipe lewe te voer nie. Ek sal nooit in staat wees om so ’n bestaan te voer op ’n gemotiveerde, toegewyde wyse nie. Ek sal altyd oor die skouers van my bure loer na die mense wat nog swerwend is, onseker van wat dit is wat hulle móét of wil doen, op paaie wat nie heeltemal die “hoofweg” genoem kan word nie.

~ Uit die Pers Notaboek

… Of  gaan ek ’n punt bereik?

1) Ek glo ek gaan een of ander tyd ’n punt bereik waar ek sal sê, “Dit!” … “Hierdie een, nie daai een nie” … “Hiernatoe, nie daarnatoe nie” … “Hier, nie daar nie.”

2) Ek mag dalk ook ’n punt bereik wanneer ek sal begin reageer teen die idee van om ’n burger te wees van die Groter Wêreld; ’n tyd wanneer ek sal retireer na ’n kleiner wêreld waar minder dinge saak maak – waar dit makliker sal wees om besluite te neem.

3) Ek glo altyd daar is dinge wat ek veronderstel is om te doen, en dan is daar die dinge wat ek in werklikheid elke dag doen. Ek is altyd oortuig daarvan dat dit wat ek tans doen nooit so belangrik is soos dit wat ek veronderstel is om te doen nie; dat ek telkemale faal om die meer belangrike, en betekenisvolle dinge te doen.

4) “Don’t you want more?”

“More ice cream?”

“No, more everything! Don’t you want to do something important? Don’t you want the whole world to know who you are?”

“[No.] I already have everything I need.”

~ Nota uit die Ligbruin Notaboek (Die dialoog is uit ’n fliek waarvan ek net ’n klein deeltjie gesien het op TV.)

Die uitdaging:

DURF om soos Johannes die Doper / alleen die woestyn binne te gaan

~ Uit die Icarus Joernaal, 9 April 2001

Gedagte uit “Ballingskap, deel ses”

Om soveel as moontlik te skryf, affekteer wie ek is. Die laaste ding wat ek wil hê, is die goedkoop belediging van om net te práát oor wat ek wil doen. Ek wil iets op die tafel kan lê, om daardeur te kan sê, “Dít is wat ek gedoen het met my lewe die afgelope tyd.” Dit raak my waardigheid. Dit raak my selfrespek. Dit raak ander se beskouing van my, en hoe ek wil hê hulle my moet sien. En dit raak my toekoms as iemand wat daarin geslaag het om te kon doen wat ék wou doen, om nie net nóg ’n slagoffer te wees van, “Dis nou maar hoe dinge werk,” en “Ons almal het maar gedroom toe ons jonk was” nie.

(Woensdag 11 April 2001)

______________________

Die mooi wêreld

MAANDAG 30 APRIL 2001

’n Vriendin van my het onlangs iets genoem van vier dae per week werk, en werk wat afgesaag raak. Dat sy hoogs gefrustreerd is met wat sy doen om geld te maak, is om dit sagkens te stel. Ek kon net op een manier reageer. “Jy’s ’n skeppende mens!” het ek gesê. “Hoeveel ure per dag spandeer jy om iets te maak, om iets te skep? Hoeveel ure per week, miskien?!”

Ons – die soort van opgevoede bewoners van geïndustrialiseerde lande – leef in ’n wêreld waarin ’n groot persentasie van die bevolking benodig word om sekere dienste te lewer om die ekonomiese status quo te handhaaf. En dit verg soms opoffering van mense, op ’n daaglikse basis, om die tipe arbeid te verrig wat vereis word vir hierdie doel.

Een van die opofferings wat vele mense maak, is hulle kreatiwiteit, om in kontak te wees met hulle ware natuur – om skeppend te wees. Natuurlik is daar beroepe waar kreatiwiteit vereis word, en ’n bevoorregte minderheid vul hierdie poste. Die meeste ander werkers van die Eerste Wêreldorde, soos ons dit ken, moet egter die inherente behoefte wat hulle het om skeppend te wees, ignoreer – ten minste tydens “werksure”.

Omdat ons nie leef in totalitêre state waar mense gedwing word om hulle vryheid op te gee nie, moet hulle oorreed word op ander maniere. Hoekom op aarde sal mense vir veertig, vyftig, sestig van die beste ure van die week die vrye vervulling van hulle kreatiewe behoeftes vrywilliglik opgee? Vir “Goeie Geld” natuurlik! Vir die geleentheid om te kan behoort aan die “Mooi Wêreld”! Om “mooi te kan lyk” beteken in hierdie wêreld om duur te lyk. Om bewonder te word as een van die “mooi mense” vereis dat jy jou lewe vul met “mooi goed” – wat, soos ons almal weet, beteken dat dit heel moontlik nie by die plaaslike Hospies-winkel opgetel is vir ’n paar rand nie.

“Reken jy dan nie ook dat ’n Ferrari mooi is nie? Sou jy nie ook graag een wou hê nie?” mag iemand dalk vra.

Natuurlik! Is ’n Gibson Les Paul elektriese kitaar van R6 000 nie mooier én beter as ’n Fender replika van ’n duisend nie? Enige iemand sal die verskil kan sien en hoor. Maar ons moet onsself afvra hoeveel ons opoffer om besitters te kan wees van hierdie “mooi goed”.

’n Vlugtige rondkyk sal die indruk tuisbring dat meeste mense bereid is om te veel op te offer. Een van die heilige koeie wat ons sonder te veel seremonie werp op die altaar van die Mooi Wêreld, is ons vermoëns om kreatief te wees, om dinge te kan skep uit ruwe materiaal. Want dit is wel so dat dit baie tyd vereis! Maar meeste van die tyd is ons óf besig om geld te maak met aktiwiteite waarmee ons sekerlik nie onsself sou besig hou vir veertig-plus ure per week as dit nie was vir die finansiële kompensasie nie, óf ons is besig om ons hoofpyne te probeer weg ontspan na werk, óf ons is besig om ons Goeie Geld te blaas. Maar die feit dat ons die keuse maak om nie kreatief te wees nie, neem nie die inherente behoefte weg om te wil skep nie!

Tensy ons moeite doen om hierdie behoefte op een of ander volhoubare wyse te bevredig – anders as met die arbeid wat sommige van ons verrig, vul ons die vakuum deur die geld wat ons verdien te spandeer op “mooi goed”, om onsself sodoende ’n bietjie beter te laat voel oor onsself. As dit nie werk nie, dan regverdig ons die keuses wat ons maak deur te wys daarop dat ons “volwasse” is, dat ons die sogenaamde “real world” beter verstaan as daai kunstenaar wat nie geld maak nie. En ons lag soveel beter vir flou grappe in ons peperduur uitrustings as vir iets wat regtig snaaks is, maar dit doen nie ons versigtig aanmekaargelapte persona goed om te wys ons waardeer dit nie. En dis soveel makliker om iemand skeef aan te kyk wat vra, “Wag ’n bietjie, wat presies doen ons hier?” as jy, wat self nie ’n antwoord daarop het nie, skitter met pêrels, en jou nuwe Italiaanse skoene blink soos jy die straat afstap na nog ’n winkel toe.

Maar wat help pêrels en duur horlosies en Italiaanse skoene as jy op veertig besef dat, ten spyte van jou vroeëre drome en ambisies, ook jý gesneuwel het in die ou strik wat vir alle kinders van die middelklas gestel word? Dan koop jy maar vir jou ’n Gibson Les Paul vir … R6 000? “Nee wag, gee vir my die een vir R9 000, ek het baie verlore tyd om in te haal!”

Maar jy besef dis dalk te laat. Jy besef dan dat jy jou lewe daaraan gewy het om “mooi dinge” te koop, in plaas daarvan om mooi dinge te skep. Jy’t ’n verbruiker geword, jouself oorgegee aan die disproporsionele verbruik van die resultate van ander mense se besluit om nie ook hulle kreatiewe natuur te verloën nie.

Dit is nodig om te sê dat ek nie getrou wil wees aan my kreatiewe natuur, maar as dit kom by die betaalslag, moet die ou wat tien ure per dag in ’n kantoor sit, vir my steak en bier betaal nie. Ek is baie geïnteresseerd in geld, en verkieslik baie daarvan. My motivering is egter dat dit my júís in staat sal stel om myself nog minder te steur aan die konvensies van die Mooi Mense; om ’n lewe te kan bewerkstellig wat herkenbaar is as ’n goeie lewe, sonder om ’n sentrale aspek van die menslike natuur te ignoreer.

Wat ek wil hê – om dit ietwat anders te stel – is dat die “mooi mense” hulle ongetoetste argumente moet afsluk met duur Franse wyn waarvoor ek die nodige kontant uit my beursie sal skud.

Hoe om kreatief te wees, én duur drinkgoed te kan bekostig vir jou spesiale gaste? Ek kan nie ’n antwoord gee waarmee almal tevrede sal wees nie, maar ek glo te veel mense skram weg van selfs die moontlikheid daarvan. Of hulle beskou die “werklikheid” waarin hulle kreatiwiteit moet opoffer vir geld as so beslis en onveranderbaar, dat hulle bang is hulle word beskou as naïef, as “idealiste” (’n vuil woord in sommige kringe), as hulle skamerig iets wil voorstel wat teen die aanvaarde dogma van hulle “real world” indruis.

Mense noem my ’n idealis, en ek pleit skuldig. Ek is, inderdaad, hardnekkig in my idealisme, want die alternatief is nie naastenby mooi genoeg om my te oorreed om my eie natuur te verloën nie.

[En tussen die lyne spruit die gedagte dat dit steeds vir die skrywer belangrik is om die “mooi mense” te oortuig van sy standpunte nie net in sy eie wêreld van goedkoop bier en knoffelbrood nie, maar in die tipe omgewing waar “duur Franse wyn” verwag word deur die “spesiale gaste”. Dalk ’n geval van “preek vir die onbekeerdes in hulle eie wêreld”?]

______________________

Ek is nie die baas van hierdie wêreld nie

WOENSDAG 21 MAART 2001

Ek voel ietwat verward op die oomblik.

Vir die rekord moet ek sê ek dink dis simpel dat daar hierdie verwagting is dat almal moet weet wat vir hulle belangrik is en wat hulle uit die lewe wil hê teen die tyd wat hulle klaarmaak met hoërskool, en op die laatste teen die tyd wat hulle klaar gestudeer het. En indien dit wat hulle wil doen, wat vir hulle belangrik is, en wat hulle uit die lewe wil hê, nie lekker strook met wat gewoonlik voldoende finansiële belonings meebring nie, moet hulle weet hoe hulle dit wat hulle wil doen, gaan versoen met die wêreld waarin hulle leef – waar elkeen op eentonige reëlmaat hul pond vleis na die offertafel toe moet bring.

Burgers van die establishment hoop – en verwag – dat almal wat gradueer uit die Skole van Middelklas Opvoeding en Kultuur met oorgawe hulle plekke sal inneem, sodat ’n ordelike en siviele samelewing kan voortgaan om ordelik en beskaafd te wees. Teen dié tyd weet die Wyses van die huidige inkarnasie van Beskaafde Gemeenskap egter dat ’n sekere persentasie van middelklas kandidate van vroeg af reeds paaie sal opsoek wat nie heeltemal ooreenstem met wat vir hulle uitgelê is nie. Die Wyses weet óók die meeste paaie loop na Rome – nie almal hoef ’n konvensionele beroep te volg om hulle deel by te dra tot die handhawing en uiteindelike ewolusie van hierdie samelewing nie. En vir dié wat aandring om steeds nie ’n bydrae te maak nie, is daar genoeg plek in tronke, op straat, en in tuistes vir haweloses.

Siende dat ek nog nooit sterk gevoel het oor ’n lewe in die tronk of op straat nie, poog ék ook maar om op een of ander manier my pad te vind Rome toe.

“Waar lê die verwarring dan?” mag jy vra.

Ek sou orraait wees op my eie, en ek weet watse pad ek kan loop om te kom waar ek moet – en die pad loop selfs deur die tipe landskap waaruit ’n mens so nou en dan inspirasie kan put. Maar diepgesetelde behoeftes wat die bestaan van ’n miljoen generasies verseker het, dikteer dat ek iemand moet vind om die pad mee te deel. En, soos ons almal weet, maak die volgende geslag kort voor lank hul verskyning, ongeag of jy al jou domein afgemerk het of nie.

Verward is ek, want wil ek hê die kinders moet blonde hare en Chinese name hê, of sal ek verkies dat ook hulle moeder se taal dieselfde bekende klanke sal wees as waarmee ek grootgeword het? En as dit dan nie hier is nie, dan daar … en dán wat moet Pappa doen om kos op die tafel te sit?! En Sussie wil ’n grassnyer hê, en Kleinboet ’n paar hoë hakskoene! En die vrou wil alweer ’n Huisgenoot koop?! En al wat ek wil doen is om te skryf. En goeie bliksem, hier kruip nog een nader! Vrou, wanneer het dit gebeur? Ek het dan skaars tyd om te skeer! Ek dink nie hierdie Babilon was ooit vir my bedoel nie … maar nou’s dit te laat want hulle downsize al weer! En ek strike al amper veertig en al wat ek wou doen is … maar toe skielik wil ek nie meer alleen wees nie! En ek sit toe nog op ’n eiland in die Verste Ooste, en ek dog toe die oupa en ouma sal seker ook hulle kleinkinders wil sien van tyd tot tyd! En toe’t ek nie meer ’n keuse nie … ek moes my beddegoed oprol en loop.

Ek is nie die baas van hierdie wêreld nie. So is die reëls, so is die spel.

______________________