Ballingskap nege

DINSDAG 20 NOVEMBER 2001 (en ’n paar dae daarna)

Ses jaar het al verloop sedert ek geleer het dat dit meer saak maak dát jy geld het, as hóé jy die geld maak. Hierdie briljante insig het my getref omtrent ’n week nadat ’n kettingbrief in my posbus beland het, wat, in teorie, vir my X-bedrag geld per maand in my bankrekening kon besorg indien ek die instruksies uitgevoer het. Dit het op my neergedaal soos ’n seëning dat ek nie noodwendig in ’n besoldigde situasie hoef te wees om elke maand die huur te kan betaal, en van tyd tot tyd ’n nuwe paar jeans te kan koop nie.

Hierdie idee het goed gekorrespondeer met my gebrek aan entoesiasme om in te pas by die konvensionele gang van sake waar jy universiteit toe gaan, na graduering jou C.V. uitstuur in die hoop dat jy spoedig jou lewe as ’n “grootmens” kan begin, en dan na ’n jaar of drie trou met die persoon saam met wie jy op daai stadium slaap. Ek wou voortgaan met die tipe lewe waarvan my sogenaamde studentedae net ’n voorsmaak was – ’n lewe gevul met kennis opdoen, laatslaap, biblioteek toe gaan, die middag spandeer in tweedehandse boekwinkels, en bowenal, die vryheid om ’n baard te kan groei maak nie saak hoe sleg dit lyk nie.

Ek was 24 toe ek besluit het om Ooste toe te kom. Ek het geweet dit sou my die reg gee om vir almal wat wou weet te kon sê dat ek ’n “Engelse Onderwyser in Korea” is. Ek het ook geweet dit beteken dat ek die moontlik onvermydelike punt ’n bietjie langer kon uitstel wanneer ek my vryheid moet inruil vir ’n meer konvensionele lewe, en ’n skoongeskeerde gesig.

So’t ek my soektog voortgesit na ’n antwoord op die Groot Vraag: Wat is dit wat hierdie ou wil doen met sy lewe?

In die verloop van die volgende twee jaar het ek met ’n paar idees vorendag gekom. Ek wou in Engeland of Duitsland woon vir ’n paar maande, of ’n jaar. Ek wou soos McArthur van die Filippyne met trompetgeskal ’n terugkeer maak tot die lieflike universiteitsdorp van Stellenbosch. En ek wou skryf.

Kort voor die einde van my tyd in Korea (Mei 1998), het ek nog ’n paar idees by die lys gevoeg. Twee hiervan was dat ek myself wou toewy aan iets of iemand, en dat ek êrens wou behoort. Ander idees wat uiteindelik ook bygevoeg is, het ingesluit dat ’n mens één ding moet hê waarop jy fokus, en dat die helfte van almal se lewens gaan oor die ontdekking van wat hierdie een ding is; dat my posisie in die samelewing by verstek dié is van ’n boemelaar; dat middelklas suburbia my nie gaan insluk as ek per ongeluk my paraatheid vir ’n oomblik verloor nie; en dat mag die groot verskil is tussen mense wat dit uiteindelik maak, en dié wat sneuwel langs die pad.

Terug in Suid-Afrika – waar ek veronderstel was om te “commit” en te “belong” – oorweeg ek toe die hele konsep van ’n beroep. Ek vind toe, in nie die eerste briljante insig van my lewe nie, dat ek nie noodwendig ’n probleem het met die idee van ’n beroep nie. Die probleem was dat die beroep van so ’n aard moes wees dat ek myself volslae daaraan kan toewy.

Kort daarna koop ek vir my ’n paar boekies oor skryfwerk by ’n Hospies-winkel vir R1 elk, en ek vat my skryfambisies en my vars insig na nuwe hoogtes deur te verklaar dat dít my beroep sal wees – ek sal ’n skrywer word! Meer as dit, skryfwerk sou my besigheid wees. Ek sou dus besigheidsvernuf kombineer met my skryfambisies. Ek sou nie net skryf wat ék wou nie. Ek sou kyk waarvoor daar ’n mark is, en die tipe materiaal produseer wat publikasies soos tydskrifte nodig het om hulle bladsye mee te vul.

Vyf en ’n half maande later was ek op ’n straathoek in ’n stad in die suide van Taiwan, besig om die konsepte van vryheid en onafhanklikheid te kontempleer. Siende dat die vermoë om verbysterend helder te dink my toe nie meer onkant gevang het nie, was ek nie verbaas nie toe ek na net ’n paar minute se staan vorendag kom met die insig dat vryheid en onafhanklikheid vir my, leë ambisies is. Ek het besef dat die aantrekkingskrag van hierdie twee konsepte fundamenteel te make gehad het met my begeerte om nie skuld te hê nie – om nie meer verplig te wees om ’n finansiële las soos ’n verrottende karkas agter my aan te sleep nie. (En natuurlik het dit ook verband gehou met die ou begeerte om ’n baard te kan groei, al lyk ek soos ’n boemelaar.) Die aantrekkingskrag het begin kwyn toe ek besef dat volmaakte vryheid en onafhanklikheid ook sal impliseer dat jy niemand het vir wie jy omgee, of vir wie se lewe jy verantwoordelik is nie. Dít, het ek geweet, is in stryd met my ware ambisies. Ek wíl lief wees vir mense, en ek wíl eendag deel wees van ’n intieme groepie mense waarvoor ek medeverantwoordelikheid sal aanvaar.

So byt lank vertroetelde ideale in die stof.

Dit was in my 24e jaar op hierdie planeet toe ek die insig gehad het wat ek vermeld het aan die begin van hierdie negende deel van wat nooit so ’n lang “ballingskap” reeks moes gewees het nie. Ek is nou dertig jaar oud. Dis 20 November 2001, 25 minute oor 6 in die oggend. Die son het al slaperig haar eerste lig gegooi oor die koue, winterlandskap van Fengshan City. Ek het ’n klein brakkie wat my regtervoet warm lê, en ’n sigaret wat lê en uitbrand in ’n nuwe asbakkie. Die mense by die plaaslike McDonald’s is besig om gereed te maak om die eerste cholesterol belaaide ontbytkos in bakke vars olie te gooi soos ek hierdie woorde tik, en ek moet ’n tweede skof gaan slaap sodat ek teen een-dertig intelligent genoeg kan lyk vir my 21-jarige Chinese onderwyseres.

Ek is deesdae vriende met mense van eksotiese plekke soos Krugersdorp, Kimberley, Vereeniging en Stellenbosch. Ek werk veertien ure per week by drie verskillende skole, en ek verdien ’n paar duisend Taiwan dollar ekstra elke maand deur kort stukkies te skryf vir ’n plaaslike uitgewer van ESL-tydskrifte. Ek het twee boekprojekte hierdie jaar afgehandel. Ek kan Battle Hymn of the Republic op my keyboard speel, en ten minste ses of sewe drukke op my twee kitare. En as ek moet, kan ek ook ’n deuntjie op die blokfluit, of op een van my twee mondfluitjies speel.

Die vraag wat egter in die lug hang soos ’n slegte reuk op ’n windstil wintersoggend is steeds dieselfde: Wat wil ek doen met my lewe?

* * *

’n Heerlike oggend van rus – gevul met koorsagtige drome vol moord, en soene op bloedrooi lippe van girlfriends wat nooit teruggebel is nie – het, soos gewoonlik, nuwe insig gebring. Ek weet lankal dat ek wil skryf. Die eintlike vraag is dus nie wát ek wil doen nie, maar watse tipe skryfwerk ek wil produseer.

’n Sekondêre vraag het te make met iets wat ek aangeraak het in Ballingskap Nommer 8, naamlik dat om ’n skrywer te wees soms soortgelyk is aan die beroep of roeping van sending. Die sendeling, wat glo hy of sy is geroepe om ’n bepaalde boodskap te verkondig, kan nie voltyds ’n bankbestuurder wees én voltyds die beroep of roeping van die sendeling beoefen nie. Die sendeling het ’n trade nodig, iets waarmee hulle geld verdien terwyl hulle meeste van hul aandag en tyd spandeer aan die soms tydrowende aktiwiteite wat verband hou met hul sending. Wat ook al die sendeling se ambag is – Paulus was byvoorbeeld ’n tentmaker, dit sal altyd net ’n praktiese maatreël wees om te verseker dat hulle en hul families nie honger ly nie, en dat daar meeste van die tyd petrol in die kar is. (As hulle natuurlik onderhou word deur ’n ryk voorstedelike gemeente, sal hulle situasie effens anders daarna uitsien.) Dieselfde kan ook gesê word van die politieke aktivis, wie se eerste prioriteit sy of haar politieke aktiwiteite is, maar wat moontlik iets anders doen om kos op die tafel te sit. (Behalwe weereens as ook hierdie persoon aan die gang gehou word met geld uit Noorweë of Swede … het ek die verkeerde roeping gekies?)

Die eerste vraag wat ek moet beantwoord is dus in watter genre ek wil skryf, en derhalwe ook watter temas ek wil aanraak. Die tweede vraag, wat ter wille van suksesvolle nastrewing van my roeping deeglik oorweeg moet word, is watse werk ek op ’n daaglikse, dog deeltydse basis wil doen om te verseker dat ek ’n gereelde inkomste het.

* * *

’n Ding wat al hoe duideliker begin blyk is dat nie alle beroepe dieselfde waarde het in die arbeidsmark nie. En indien sekere arbeid of sekere vaardighede nie in aanvraag is nie, is die kans goed dat jy nie goed gekompenseer sal word vir wat jy ook al doen op hierdie gebied nie. Dit gee ook nie noodwendig aan die persoon in hierdie beroep ’n status in die gemeenskap waarmee hy of sy gelukkig is nie.

As jy dus na jare se observasie van jou unieke persoonlikheid en deeglike oorweging van die beskikbare beroepsmoontlikhede, op die punt kom waar jy nie anders kan as om te aanvaar dat dit wat jy wil doen nie hoog in aanvraag is nie, moet jy besluit watse ander, verwante moontlikhede vir jou aanvaarbaar sal wees. Jy moet ook deeglik oorweeg wat jou idee is van ’n behoorlike inkomste, en hoe belangrik status in die gemeenskap vir jou is.

Die alternatief is dat jy die belangstelling of aanleg of vaardigheid waarop jy graag sou wou fokus as beroep (of selfs roeping), reduseer tot stokperdjie (vir die gebrek aan ’n beter woord) status. Jy sal verder tevrede moet wees om die meeste van jou tyd en aandag – inderdaad jou daaglikse bestaan –  te wy aan ’n beroep wat van die begin af nie jou eerste keuse was nie; ’n beroep wat jy heel waarskynlik nooit met passie of oorgawe sal kan beoefen nie.

Vraag een

Om ’n lang storie eenvoudig te maak, ek wil skryf wat ék wil skryf. Ek meen, ek is nie op pad om ’n bankbestuurder of ’n skoolinspekteur te word nie. Die eenvoudige rede hiervoor is omdat ek ’n lewe nastreef waarin ek daagliks, en sonder om verskoning daarvoor te maak of toestemming te vra daarvoor, uiting kan gee aan my kreatiwiteit. Watse waarde sal dit dus hê as ek al my tyd spandeer deur net die soort materiaal te skryf wat in aanvraag is, waarvoor ek weet daar ’n mark is, en my kreatiwiteit in die proses beperk in terme van woordeskat, en sinskonstruksies wat soos resepte reeds voor die tyd uitgelê is?

Dit gesê, om artikels en ander materiaal te skryf wat ek nie sou geskryf het as ek nie geweet het ek word betaal daarvoor nie, is steeds beter as om daai honderd of ’n duisend rand te verdien in ’n beroep wat géén kreatiwiteit vereis nie. Ek is dus steeds bereid om materiaal te skryf volgens vasgestelde riglyne, omdat die besigheid wat dit gaan koop, dit so wil hê. Ek is egter nie bereid om na al hierdie tyd myself hoofsaaklik toe te spits op sulke tipe skryfwerk nie.

Om te skryf wat ék wil skryf … die hele teorie oor die middelklas … is dit nie al weer tyd om te gaan slaap nie?

* * *

Ek wil skryf oor die lewe, oor die mens, oor verhoudings, oor geskiedenis, oor godsdiens, oor die samelewing, oor politiek, oor kultuur, en oor hoe die mens dit regkry om elke oggend op te staan en presies dieselfde ontbytpap te eet as die vorige dag, en honderde dae voor dit. Ek wil nie gebonde wees aan ’n spesifieke tema en styl omdat die verbruiker wat boeke en ander leesmateriaal kan bekostig se smaak op die huidige tydstip dit so dikteer nie.

Ek wil skryf wat ék glo geskryf moet word, al is ek die enigste een wat so glo. Ek wil my eerlike opinie gee oor kwessies wat na vore kom in my eie lewe – kwessies wat vele ander mense sekerlik sal herken. Ek wil so verwaand wees om te dink ek het dinge om te sê wat niemand anders sê nie, of dalk nie op die manier wat ek dit sê nie. Ek wil my insigte deel met ander mense, selfs al is ek nie die eerste, laaste, of enigste skrywer wat oor hierdie spesifieke insigte beskik nie. Ek wil skryf, en skryf, en nog meer skryf, en aanhou skryf tot iemand sê, “Het julle al gelees wat hierdie ou geskryf het?” En dan wil ek nog ’n bietjie skryf …

Skrywers skryf gedigte, kortverhale, opstelle, romans, preke, toesprake, toneelstukke, draaiboeke, liedjies … of iets van alles. Skrywers skryf oor dinge wat reeds gebeur het, dinge wat tans aan die gebeur is, en dinge wat nog moontlik gaan gebeur (as niemand hulle skryfwerk ernstig opneem nie). Skrywers skryf fiksie, en nie-fiksie. Hulle skryf vir hulle vriende, familie, kennisse, vyande, en vir vreemdelinge. Hulle skryf vir volwassenes, en hulle skryf vir kinders. Hulle skryf vir mense wat hulle gister ontmoet het, en vir mense wat hulle nooit sal ontmoet nie selfs al raak hulle beroemd. Hulle skryf soms net vir mense in hulle binnekringe, en soms vir mense in lande wat hulle nooit sal besoek nie.

Uit die aard van die saak wil ek nie myself beperk tot enige genres of lesersmarkte nie. Maar as ek gedwing word om meer spesifiek te wees, sal ek sê dat ek hoofsaaklik, vir eers, in Afrikaans sal skryf, vir my tydgenote in Suid-Afrika, maar ook in lande soos Taiwan en Engeland, en Frankryk en Amerika.

Ek wil my idees oor die lewe, oor hoe ek dink dinge is en hoe ek dink dit veronderstel is om te wees, verwoord in stukke wat mense sal lees om verskeie redes. Miskien lees hulle dit omdat hulle iets soek om die tyd mee te verdryf, of omdat hulle iets wil wysraak wat hulle nie geweet het nie, of omdat hulle inspirasie soek of alternatiewe sienswyses wil oorweeg oor ’n spesifieke aangeleentheid.

Dit is wel vir my belangrik om te skryf vir meer as net ander mense se vermaak. Ek wil myself aanstel as ’n stem van rede, al vat dit twintig jaar om ander mense sover te kry om te luister.

Tweede vraag

Om te wil skryf, is nie ’n eenvoudige ambisie soos om ’n dokter te wil word nie. Met laasgenoemde hoef jy net universiteit toe te gaan, jou kop vir ses jaar lank in ’n toestand in te leer, en dan kan jy lekker begin geld maak en almal respekteer jou en noem jou “Dokter”. Om suksesvol te wees as ’n skrywer verg baie meer tyd, en meer verstandelike en emosionele onstabiliteit (ten minste in sommige gevalle). Dit vereis ook ’n deeltydse werk wat kontant aan die vloei hou terwyl jy ’n paar volgelinge bymekaarmaak wat dink dit wat jý te sê het, wel ’n plek het in die Annale van Idees en Opinies (en miskien ook op boekrakke vol kortverhale en digbundels).

Die lewe is nie volmaak nie. (Sou ’n volmaakte lewe in kleur gewees het? Swart-en-wit is soveel netjieser.) ’n Volmaakte lewe sou sekerlik beteken het dat elkeen van ons twee of drie weergawes sou hê van ons lewens om alles te kon doen wat ons wou doen. Elkeen sou ook sy eie persoonlike tydmasjien nodig gehad het, sodat as ons later belangrike lesse leer, of – kan jy jouself dit voorstel? – ons per ongeluk ’n blaps maak, ons vinnig kan teruggaan en weer kan probeer. Feit is, nie eens ryk mense se lewens is volmaak nie. (Kan Bill Gates byvoorbeeld skielik ’n hippie word en sy baard laat groei?) Ons almal maak foute. Ons mis geleenthede. Ons maak droog. Ons maak besluite en ons doen dinge wat maak dat ander mense hulle koppe skud en vir mekaar vra, “Wat dink die ou doen hy met sy lewe?” En meeste van die tyd is ons te verleë om te antwoord, of doodgewoon nie lus om te verduidelik nie.

Teen hierdie tyd het ek nou al sekerlik die punt goed tuisgebring dat ek ’n inkomste nodig het wat my aan die lewe kan hou terwyl ek skryf, sodat ek nie nodig het om te skryf vir geld nie.

Sedert ek klaar gemaak het met my tersiêre studie het ek nog net twee jobs gehad: Die een was om ’n glorified sekretaresse en verkoopsman van subskripsies te wees vir ’n vriend se omgewingsjoernaal; die ander was om kinders, en so nou en dan ’n volwassene, in die Verre Ooste te leer om Engels te praat.

Laasgenoemde is nie ’n werk waaroor ek vreeslik opgewonde is nie. Soms is ek verleë as ek in ’n klaskamer staan en dink hoe belaglik ek moet lyk terwyl ek my arms swaai, of vir die vyftiende keer die woord “name” sê, terwyl ek my lippe opmekaar pers om te wys jou mond moet tóé wees met die “m”. Dis nie ’n werk wat veel sekerheid bied nie, en daar’s geen huis-subsidie of pensioen nie. Om ’n “expat English teacher” te wees in Taiwan of elders in die Ooste gee ook nie aan jou status wat vergelyk kan word met wat ingenieurs of joernaliste of suksesvolle besigheidsmense geniet nie. Nietemin, om elke week ’n paar Engelse klasse te gee, genereer ’n inkomste. ’n Mens maak óf genoeg geld sodat jy ’n …

[… nuwe printer kan bekostig? ’n Pruik? ’n Buskaartjie uit die stad uit? So, asof ek skielik oorval is deur slaap of verveling, sneuwel nog ’n poging tot ’n essay. Maar daar was nog …]

______________________

Dieselfde vrae verteer steeds

SONDAG 18 NOVEMBER 2001

Ek word verteer deur vrae: Wat is die mens? Hoekom doen ons wat ons doen? Hoekom leef ons soos ons leef? Wat is “geluk”? Wat beteken dit om “ongelukkig” te wees? Wat doen mense om “tevrede” te wees? Is daar universele patrone te bespeur? Wat beteken dit om ’n “betekenisvolle lewe” te leef? Hóé leef ’n mens ’n betekenisvolle lewe? Wat is die natuur van die mens? Behoeftes, drange, doel … Ek kan nie my lewe daaraan toewy om geld te maak terwyl ek verteer word deur hierdie vrae nie. Ek word gedryf om antwoorde te vind. Ek kan dit nie ignoreer nie.

Ten spyte van my obsessie moet ek steeds op ’n daaglikse basis speel volgens die neergelegde reëls: Ek moet kos en kruideniersware koop, huur en water en elektrisiteit betaal, ensovoorts. Ek kan nie my behoeftes vervul deur in ’n grot te woon, en te jag, of miskien my eie lappie grond te bewerk nie – nie in die wêreld waarin ek woon nie, in elk geval.

Ek het lankal geleer dat wat ek nodig het, verkrygbaar is, solank ek iets kan ruil vir die kos wat ek wil eet, en vir die klere wat ek wil aantrek. Wat ek nodig het, is krediet. Hoe kry ’n mens krediet in die hande? Deur óf ’n produk vir ’n mark te produseer, óf deur ’n diens te lewer. Dis hoekom ek om 6:45 elke oggend opstaan – sodat ek ’n diens kan lewer, krediet kan ontvang daarvoor in die vorm van kontant, wat dan omgeruil kan word vir wat ek nodig het. Of ek my dienslewering geniet, is van sekondêre belang – ek móét dit doen.

Maar steeds word ek verteer deur dit wat ek nie weet of verstaan nie. Kan daar iets soos ’n doel toegeskryf word aan die mens se lewe? Miskien, miskien nie. Wat ek weet is dat indien daar ’n doel is maar jy vervul dit nie, jy die spyt later in jou lewe sal voel soos ’n ton bakstene op jou skouers.

______________________

Oor ’n naweek in die berge

[Gedurende die derde kwartaal van 2001 het ek heelwat ander Suid-Afrikaners in Kaohsiung ontmoet wat, soos die geval was aan die begin van 2000, ’n effek gehad het op hoe ek my lewe in Taiwan ervaar. Die volgende stukkie teks kom uit ’n brief aan ’n ou vriend van Johannesburg.]

———————

SONDAG 4 NOVEMBER 2001

“Ek het nou net teruggekeer van ’n naweek in – glo dit of nie – ongerepte wildernis. Uitgekamp langs ’n rivier, met berge wat bokant ons uitgetroon het, ensovoorts. En dit alles net meer as twee ure se ry op ’n scooter van die vieslike, vuil, besoedelde stad waar ek al my tyd verwyl.

Siende dat soveel moederlanders nou die gemeenskap van vreemdelinge hier geïnfiltreer het, hoef ek nie eens die heeltyd Engels te praat nie. Hierdie naweek was geen uitsondering nie. Ons het selfs Anton Goosen geluister tot laat in die nag!

Anyways, ek’s bly jy leef nog. Ek moet nou eers die sand van my hond gaan afwas (’n storie vir later), en vir my ’n glasie vars groentee gaan skink.”

~ Uit ’n e-pos aan ’n vriend

[Gedurende die Saterdagaand langs die rivier het ek ook ’n argument gehad met my nuwe vriende oor godsdiens. Dit het gelei tot die stuk “Om oor God te praat”.]


My hond, Jackie op pad berge toe (November 2001)
Berge, rivier, tent – Maolin, Taiwan (November 2001)
Berge – Maolin, Taiwan (November 2001)
Berge – Maolin, Taiwan (November 2001)
Bergpas – Maolin, Taiwan (November 2001)
Bont hemp kamoefleer man op rotse – Maolin, Taiwan (November 2001)
Nuwe en ou vriende – Maolin, Taiwan (November 2001)

______________________

Tel-die-voordele-minus-die-nadele No. 7542, oftewel … Ballingskap, deel viii

WOENSDAG 31 OKTOBER 2001

Die plan

Ek bly aan in Taiwan, tot voorlopig die einde van volgende jaar.

Die onmiddellike voordele

[…]

Wat is die langtermyn voordele?

[…]

Die derde faktor

’n Derde, maar nie minder belangrike faktor nie wat ook die heeltyd in ag geneem moes word, is die strewe om maksimum produktiwiteit te handhaaf met my skryfwerk (en ander projekte). Dit is hierdie saak waaraan ek vir die oomblik meer aandag wil gee.

Ek is, en was nooit bestem, om die hoof van een of ander maatskappy te word nie. Ek is ’n skepper gebore – dis in my bloed, en dis in my brein. Dis die een ding wat ek nie kan ontken sonder om myself ernstige persoonlike probleme op die hals te haal nie.

Die wêreld waarin ek grootgeword het, waarin my waardes gevorm is, waaruit meeste van die mense kom waarmee ek sosialiseer, beloon egter mense vir hul keuse om geld te verdien op meer konvensionele wyses – wat ’n bydrae lewer tot die handhawing en versterking van die ekonomiese en politieke orde van die dag. Persoonlike sukses word gemeet aan, en die hoeveelheid respek wat ander jou gee word bepaal volgens, die waarde van jou arbeid binne hierdie stelsel. ’n Man kan byvoorbeeld die mees komplekse, en mooiste musiek komponeer sedert Amadeus Mozart, maar as hy geld moet bedel vir koffie en op ’n vriend se sitkamervloer slaap, sal hy uit die vuis geag word as ’n mislukking.

In hierdie wêreld word mense uitgeken aan ’n reeks “kentekens” – nasionaliteit, sosio-ekonomiese agtergrond, ras, godsdiens, politieke oortuigings, statussimbole, gedrag en kleredrag, om ’n paar voorbeelde te noem. Nog ’n “kenteken”, wat oorvleuel met van die reeds genoemde items, is beroep. ’n Advokaat, byvoorbeeld, word met eerste ontmoeting met meer respek behandel as ’n straatveër, ’n bankbestuurder met meer respek as ’n kleuterskoolonderwyseres.

My ouer suster het gegradueer met ’n kwalifikasie wat haar na die toepaslike ondervinding die reg gegee het om haarself voor te stel as ’n “Geoktrooieerde Rekenmeester”. My een vriend is ’n gesertifiseerde “Landskapargitek”. Ek het na vyf jaar se tersiêre opleiding die wêreld in die gesig gestaar as ’n gekwalifiseerde “Hoërskoolonderwyser”.

Om ’n onderwyser te wees – selfs in ’n vak soos Geskiedenis waarvoor ek ’n sterk affiniteit het – was egter nog nooit die antwoord wat ek wou gee op die vraag van hoe ek ten minste agt ure per dag, jaar in en jaar uit, wou spandeer nie.

Hoe nou gemaak?

Teen die begin van 1996 het ek gesit met duisende rande se studieskuld. Ek het ook die behoefte gehad om elke nou en dan ’n nuwe hemp te koop, miskien een keer elke twee jaar ’n nuwe paar skoene, en elke dan en wan ’n nuwe CD. En ek moes eet, en êrens woon. Ek wou nie ’n loopbaan begin as ’n “Hoërskoolonderwyser” nie. Ek wou definitief nie ’n “Administratiewe Klerk” word in ’n kantoor nie, en ek wou nie enige ander betrekking aanvaar waar ek elke dag agt plus ure moes doen wat ander vir my voorskryf nie. Maar geld móés ek verdien.

Om Korea toe te gaan, het my in staat gestel om tyd te wen. Ek kon ’n bietjie avontuur smaak deur in ’n vreemde land te woon, en terselfdertyd kon ek ’n inkomste genereer sonder dat te veel mense my gevra het wat ek met my lewe wil aanvang – of besig is om daarmee te doen. Na twee jaar in Korea was ek egter gevul met ’n begeerte om te “commit” tot iets, en êrens te “belong”.

Terug in Suid-Afrika is ek weer gekonfronteer met die probleem van watter kenteken ek vertoon in ’n omgewing waar mense beroep beskou as ’n primêre aanduiding van wie jy is, en hoe hulle teenoor jou moet optree.

’n Ambisie het jare tevore al begin groei in my binneste: Om ’n skrywer te wees. Dit was nie net ’n kenteken waarmee ek gemaklik was nie; dit het verteenwoordig hoe ek my tyd wou spandeer. Teen die einde van 1998 het die idee by my posgevat dat om te skryf meer kon wees as net iets waarin ek belangstel – dít kon my beroep wees!

Om ’n skrywer van beroep te wees is egter meer kompleks as om ’n Geoktrooieerde Rekenmeester te word. Om ’n G.R. te word moet jy ten minste vier jaar lank amper voltyds agter jou boeke deurbring om die regte tersiêre kwalifikasie te verwerf. Dan moet jy een of ander eksamen skryf, en drie jaar lank êrens ’n klerkskap doen. Uiteindelik, na hierdie uitgerekte proses, het jy die reg verdien om jouself ’n volwaardige “G. R.” te kan noem in beskaafde geselskap.

Die Pad na Geoktrooieerde Rekenmeesterskap ken ék, wat nooit eens sulke ambisies gekoester het nie. Hoekom weet ek dit? Dit is formeel uitgelê – en natuurlik het ek die merkers gesien soos my eie suster op die pad gevorder het.

Die Pad na die Eer om Jouself ’n Voltydse Skrywer te Noem is veel minder formeel. Daar’s nie ’n graad wat jy kan verwerf wat netjies geraam kan word, en wat aan alle belangstellendes sal sê, “Hierdie ou is ’n skrywer” nie. Jy kan nie vir maande lank jou senuwees rou studeer om ’n moeilike eksamen deur te kom, waarna ’n Raad van Skrywers jou amptelik verwelkom as een van hulle nie.

Daar is, helaas, net één ding wat jy kan doen om uiteindelik die Kenteken van die Skrywer te kan dra: skryf. Skryf bladsye vol; skryf boeke vol. Ontwikkel idees; lees, dink en skryf. Skryf gedigte, kortverhale, artikels, essays en briewe. Skryf gemors, en skryf goeie goed. Skryf oor die lewe. Skryf oor die dood. Skryf oor mense, diere, instellings en die natuur. Skryf oor berge, karre, beeste en blomme. Skryf oor liefde en haat. Skryf oor dorpe. Skryf oor stede. Skryf oor gutters en skryf oor paleise. En tussen al die geskrywery deur, stuur wat jy reken goed genoeg is, na uitgewers toe. Leer hoe om manuskripte voor te lê. Vind uit in watse tipe materiaal uitgewers of publikasies belangstel. Wees kreatief, maar leer die gewoontes van ’n professionele arbeider aan. Wees ’n kunstenaar, maar weet ook dat jy jou eie brood en komberse moet koop.

Laaste gedagte

’n Mens word soms maklik verlei deur die beeld van die boheemse kunstenaar – wat nie sy hande vuil maak met iets so vulgêr soos geld nie, wat nooit sy kuns kompromitteer ter wille van finansiële beloning nie, wat honger en vuil en moeg deur die strate strompel in ou, gehawende klere, en wat op weggegooide velle kantoorpapier woorde krabbel wat eers na ’n ontydige dood as “Briljant!” bestempel sal word.

Gelukkig is die kunstenaar wat ryk ouers het en steeds sakgeld kry al is hy of sy in hulle veertigs, of wat ’n vriend of beminde het wat vir hulle sorg sodat hulle ongesteurd kan werk aan hul artistieke skeppings, of wat nie van tyd tot tyd ’n nuwe broek of ’n rok of ’n nuwe paar skoene wil koop uit eie sak nie.

Voorwaar, voorwaar, gelukkig is die kunstenaar – of skrywer – wat nie studieskuld het nie …

______________________

Ballingskap 7/Die 22 Oktober 2001 deklarasie

MAANDAG 22 OKTOBER 2001

Ses duisend boksies groentee, ses honderd pakkies dried beancurd, sestig “Finale Planne!” en ses Ballingskap opstelle later is ek nog steeds hier, agter my komper, besig om te skryf oor hoekom ek wel in “ballingskap” is, en wat ek volgende gaan doen.

(Moet ek nou in detail ingaan oor my nuwe post-“Belonging & Commitment” teorie? Moet ek praat oor die boekprojekte wat ek hierdie jaar gedoen het, en die stories wat ek nog wil skryf? Moet ek praat oor die feit dat ek al Level C songs op my keyboard kan speel, en dat dit my twintig minute gevat het om “Battle Hymn of the Republic” uit my kop te leer speel? Moet ek praat oor al die mense wat ek ontmoet het die afgelope paar weke? Moet ek ’n lyn spaar oor die Boney M Gold CD wat ek gekoop het met die eerste geld wat ek as ’n vryskutskrywer verdien het?[1] Moet ek met slim draaie praat oor hoe ek voel dis my morele plig om my ouers met hulle besigheid te gaan help? Moet ek in detail die huidige reeks planne uiteenlê, netjies met kolomme vir voor- en nadele? Moet ek verduidelik hoe ek, as ek nog X-hoeveelheid maande hier bly, al my skuld kan afbetaal? Hoe ek my blou kitaar en ’n klomp boeke saam met my kan vat as ek in April huis toe gaan, en dan einde Augustus – wanneer my skuld afbetaal is – myself lock, stock en res van die boeke verskuif na die plaashuis buite Pongola? Of hoe ek sonder ’n sent op my naam einde Februarie kan teruggaan Suid-Afrika toe, in die goeie geloof dat “dinge sal uitwerk”? Wat van die nuutste een? Ja, al gehoor van hoe hulle teachers soek in Londen? Hoe hulle iets soos £100 per dag betaal word? Kan ek vertel hoe ek al my skuld kan afbetaal in moontlik ’n jaar se tyd, en gedurende vakansies enige Europese stad of enige Eerste Wêreldoorlog slagveld kan besoek? Hoe lekker dit sal wees om gereeld my ouer suster te sien, en ook meer gereeld my ouers en my jonger suster? Is dit werklik nodig om nóg ’n Ballingskap opstel te annekseer met planne, en visioene, en drome, en realiteit? Of kan ek sommer net sê, “Hoesit, hoe hang hulle? Woef.”)

“Uhm … toets-toets, een-twee-drie-vier … kan almal my hoor? Ek dink ek gaan einde Februarie volgende jaar terug Suid-Afrika toe op ’n enkel-kaartjie, dan gaan ek registreer by daai teacher’s agency, en dan einde April, na [M.] en daai ander perd se troue, gaan ek Londen toe vlug, uh … vlieg, en dan my agterent trek deur drie maande van Britse skoolgeëry, en dan Berlyn toe gaan vir ’n week … of ’n Eerste Wêreldoorlog slagveld besoek. Dis al.”

———————-

[1] Ek het vir ’n paar maande lank teks geskryf vir ’n Engelse opvoedkundige tydskrif.

______________________