Weer tyd vir wiskunde | Oor aartappels en vrugte

VRYDAG 25 JULIE 2003

Ek het, lief vir somme soos ek is, my vriende in hierdie plek getel: “vier” is die getal waarmee ek vorendag gekom het. Van hierdie vier is twee mans, en twee vrouens. Ek het nie tans kontak met enige van hierdie mense nie.

Dis Vrydagaand, reeds vyf na middernag (Saterdagoggend, dus). ’n Verlate vlakte van ’n naweek staar my in die gesig. Ek reken my gemoed sal teen vroeg môre-aand in sy moer wees. Ek gaan die hele aand video’s wil kyk, terwyl ek deep-fried tofu en calamari in my keel afspoel met koue groen tee. Dan sal ek my metabolisme versnel met die een Nat Sherman na die ander in die vals oortuiging dat dit sal verhoed dat ek vet raak van al die olierige kos.

Ek sal moet weggaan. Stryd vir die Siel. Stryd om Oorlewing. Ek weet ek het ander mense nodig, maar soms is jy genoodsaak om ’n ander plan maak.

Die naweek is nog ’n leë doek, onbevlek met werklike gebeure. Tyd om kreatief te raak, anders raak die werklikheid dalk kreatief met my …

SATERDAG 26 JULIE 2003

Eet aartappels of vrek – dis my enigste twee keuses.

Ons almal weet hoe ’n gebalanseerde dieet lyk – proteïne, suiwelprodukte, ’n verskeidenheid groente en vrugte, ensovoorts. Maar wat doen jy as jy jouself in ’n situasie of omgewing bevind waar daar net aartappels is? Gaan sit jy op ’n klip en kerm, “Ek wil vrugte hê, en groente, en melk en vis en eiers …”?

Ons almal wil ’n gebalanseerde dieet volg! Ons almal wéét ons het dit nodig! Maar daar is nie nou vis of vrugte of ander groente nie! Daar’s net aartappels! So eet aartappels of vrek!

’n Ander gedagte: As jy ’n miljoenêr is, is die waarskynlikheid groot dat dit die gevolg is van dinge wat jy in jou verbeelding opgewek het, en aksies wat jy geneem het. Meeste “gewone” mense is oortuig daarvan dat hulle maar altyd swaar sal kry. As hulle gelukkig is, behou hulle hul werk tot hulle 65 tref, en tree dan af met hulle skete en pyne, en ’n aftree-polissie of twee. Feit is, as jy jouself die regte dinge voorstel, en die regte aksies neem, kan meer as genoeg geld een van die vrugte wees wat jy sal pluk.

______________________

Laaste uitbarsting (voor die einde van my vakansie)

VRYDAG 18 JULIE 2003

[Teen Vrydag 18 Julie 2003 was ek weer terug in wat voorheen bekend was as Johannesburg, maar nou ’n ander naam genoem word wat mens net mag gebruik as jy in (Johannesburg) woon. Snaaks, dié reëls van stamme en plek, en taal, en rituele van lidmaatskap aan ’n groep …

Die Vrydagoggend, vanaf kort voor 06:01 tot en met 06:24, het ek ’n laaste uitbarsting gehad van inspirasie en insig.]

Beginsels van ’n Betekenisvolle Lewe:

STRYD
PLEK
SKEPPING

en ook:

BASIC LEVEL OF EXISTENCE
INTERMEDIATE LEVEL OF EXISTENCE
HIGHER LEVEL OF EXISTENCE

Identiteit is die Sleutel tot Lidmaatskap.

Ek het die afgelope paar weke baie gesê oor die sogenaamde grootmenswêreld en hoe ek myself as onvolwasse beskou in hierdie wêreld (of so gedoen het, tot nou toe). Ek wil dit egter verander na die wêreld van geld. Ek is heeltemal volwasse genoeg om my plek as ’n volwassene vol te staan in die sogenaamde grootmenswêreld.

Die werklike probleem was nog altyd my onkunde oor, en gevolglike vrees vir die wêreld van geld. My lot, tot nou toe, was beklink omdat ek nie die “maklike” uitweg wou kies deur net êrens ’n werk te kry nie – of ten minste te probeer om een te vind. Dit is egter ononderhandelbaar dat mens steeds geld nodig het. Maar hoe nou gemaak as mens nie ’n formele betrekking of beroep wil hê nie, en jy weet ook nie hoe om andersins geld te maak in Suid-Afrika nie? Onkunde, vrees, Korea, toe Taiwan …

Ek het egter die afgelope drie weke agtergekom dat die gevreesde Wêreld van Geld ondersoek, bestudeer en bemeester kan word. Aan die einde is dit soos meeste dinge wat mens angstig maak – as onkunde vervang word met kennis, vlug die vrees.

Twee woorde:

VRYSKUT
ENTREPRENEUR

[En omdat ek dié groot woorde kwytgeraak het in die spaarkamer van ’n huis van ’n vriend van ’n vriend in ’n stad wat nie my eie is nie, het ek gemeen, ter afsluiting:]

MY HUIS IS WAAR MY NOTABOEK IS.

______________________

Woordspele

SATERDAG 12 JULIE 2003

[Die Irene Craft Market, veertig kilometer noord van Johannesburg, is ’n bedrywige toonbeeld van kreatiwiteit. Elke tweede Saterdag van die maand kom mense van orals in Gauteng (en verder) om hulle skilderye, handgemaakte juweliersware, tuisgemaakte klere, boereworsrolle, pannekoek, en limonade te verkwansel. My ouers maak ook van hierdie geleentheid gebruik om hulle unieke reeks pottebakkery te bemark, en hopelik genoeg geld te maak om petrol te kan koop om terug te kom in Middelburg.

Op dié spesifieke Saterdag het ek my jaarlikse verskyning gemaak, om almal se tuisgemaakte artikels te kom inspekteer, soveel as moontlik boereworsrolle vir kwaliteit te toets, koffie te drink teen R5 per koppie, en enige iets anders in my mond te stop wat naastenby eetbaar lyk en wat ek weet ek nie in Taiwan kry nie.

Tussendeur al die harde werk het ek ook foto’s geneem van kamele, en ’n brokkie wetenskaplike waarheid genoteer in my notaboek.]

STRUGGLE – CREATE – COMMIT – BELONG

STRUGGLE – COMMIT – BELONG – CREATE

Struggle precedes creation. Belonging is the result of commitment. But you also struggle whilst you create, and you create whilst belonging. The one feeds the other. But struggle must lead to creation, as commitment should lead to belonging.

______________________

Rede vir onsekerheid, en ’n nuwe mantra

DONDERDAG 10 JULIE 2003

Ek identifiseer ’n swakheid in my toekomsplanne. Finansieel kan dit werk, maar daar is steeds ’n onsekerheid wat deurskemer in my idee om miskien huis op te sit in Bronkhorstspruit, en dan eers weer vir ’n paar maande terug te keer na Taiwan.

Op my gebruiklik wetenskaplike manier werk ek toe uit dat dit te make het met identiteit. Ek weet wie ek is, hoe ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê. Solank ek in Taiwan bly, is hierdie dinge moontlik. Die oomblik as ek huis opsit in Bronkhorstspruit, so reken ek, gaan ek effens onseker wees of wie ek is, hoe ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê, nog steeds so geanker gaan wees in Eksterne Realiteit.

Ek vat toe ’n middagslapie, en die boodskap kom deur: Wees wie jy is – ’n skrywer.

Die onsekerheid verdwyn toe feitlik onmiddellik, soos ’n speelgrond boelie wat die pad sal vat as sy teiken se ouer, groter broer op die toneel verskyn.

Die rede vir die onsekerhede is omdat ek ’n bloedstollende angs daarvoor het om ’n doellose, betekenislose bestaan te voer. Om net in Bronkhorstspruit te woon en “genoeg” geld te maak, is nie goed genoeg vir my nie. In Taiwan is ek ’n onderwyser, ’n skrywer, en ’n student. As ek dit duidelik stel aan myself dat ek steeds ’n skrywer sal wees in Bronkhorstspruit, dan sê ek dat ek ook dáár sal weet wie ek is, hóé ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê. En ook dáár sal dit gegrond wees in Eksterne Realiteit.

* * *

Ek kyk deur my ou foto’s (1990, 1991, 1997), en ek lees deur ou joernale (1996, 1997) en ek begin wonder: Het ek darem iets met my lewe gedoen die afgelope sewe jaar, en miskien meer spesifiek die afgelope vier en ’n halwe jaar?

Die antwoord is, “Ja.” (Ek het ’n paar dae gelede ’n soortgelyke vraag gevra, so ek het gelukkig reeds die antwoord geken.) Ek het die afgelope sewe jaar geleer wie ek is, hoe ek wil leef, en wat ek uit die lewe wil hê (dankie vir Steven Burgess en sy boek SA Tribes: Who we are, how we live and what we want from life in the new South Africa vir hierdie reël wat ek deesdae soos ’n mantra opsê). Ek het ook spesifiek die afgelope vyf jaar daaraan gewerk om ’n skrywer te wees, en nie net te wil word nie.

______________________

Wat ek sien

VRYDAG 4 JULIE 2003

Ek glo altyd almal het drome wat verby die lewens strek wat hulle tans leef. En ek reken dat een of twee honderdduisend rand ’n ver ent sal gaan om hierdie drome te verwesenlik. Ek glo verder dat een of twee jaar in ’n plek soos Taiwan die ideale manier is om daai tipe kapitaal bymekaar te skraap.

Wat ek geneig is om te vergeet, is dat die lewe van ’n expat in vele gevalle wortelloos is, en dat vele mense ’n ander tipe lewe verkies. Hierdie mense het huise – ruimtes wat hulle ingerig het oor die jare presies soos hulle dit wil hê. Hulle het vriende, en miskien familie wat óf in dieselfde stad woon, óf in ’n naburige dorp. Hulle het troeteldiere. Hulle het pensioenfondse wat hulle al vir jare aan die opbou is. En hulle droom van kinders kry – as hulle nie reeds begin het met ’n gesin nie, en om hierdie kinders groot te maak in ’n omgewing wat aan húlle, die ouers, bekend is. Dis ’n lewe waaroor hierdie mense baie keer kla, maar dit is ook ’n lewe waarbinne hulle veilig voel. Dit is verder ’n lewe wat hulle reken hulle kan volhou, en wat hulle hoop hulle kan voortgaan om te leef tot hulle 60 of 65 tref, en daai pensioen uitbetaal.

Die feit is dit, nie almal weet wat hulle sal doen met ’n honderd of twee honderdduisend rand tussen wanneer hulle terugkeer van ’n plek soos Taiwan, en wanneer hulle aftree-ouderdom bereik nie. Mense is geneig om te kies wat aan hulle bekend is – al beteken dit dat jy jou tydkaart moet pons, dieselfde tyd elke oggend, vir veertig jaar lank.

______________________