Net sodat die skare weet | Die lewe is ’n plesier-rit

DINSDAG 8 JUNIE 2004

Net sodat die skare weet

Om in ’n liefdevolle verhouding te wees, is wat die lewe die moeite werd maak vir vele mense. Ek is nie in ’n liefdevolle verhouding nie, so ek moet heelwat harder probeer om my lewe die moeite werd te maak. My pogings mag uiteindelik blyk onvoldoende te wees, maar tot daai dag kom, neem ek voor om my kraag teen die wind te hou. En aan te hou stap.

Die lewe is ’n plesier-rit

Ek reken ek gaan dit dalk nie maak nie.

Ek weet hoe was my tienerjare. Ek weet hoe was my twintigs, en ek draf die dertigs nou jaar-vir-jaar kaf. Hoe gaan my veertigs wees? My vyftigs? Gaan ek dit maak tot veertig? Wil ek dit maak?

Feit van die saak is dit, ek wed alles waarin ek glo, al my hoop, die waarde en betekenis van my lewe, en wat my lewe nog die moeite werd gaan maak, ek wed alles op die wonderwerk van betekenisvolle verhoudings met enkele ander mense!

* * *

Dit is hoe dit is: Adam het alleen in die Paradys gewoon. Hy’t gemeen dat dit ’n goeie plek was, maar tog het hy eensaam gevoel. Toe maak God vir hom ’n vrou. Toe’s hulle gelukkig, en dis waar die storie moes eindig.

Maar toe doen hulle iets verkeerd – hulle eet.

Van die boom.

Van kennis.

* * *

Op pad terug van die dorp af, en ek reken: ek sál dit maak. Baie van dié wat ek elke dag sien, gaan nie, maar ék sal dit maak.

______________________

Klein huis, groot wêreld

DINSDAG 8 JUNIE 2004

Wat relevant is, en wat nie relevant is vir die “eienaar” van die SELF, is een van die belangrikste oorwegings om in ag te neem in die SELF-definiëringsproses.

’n Voorbeeld hiervan is opinies. Watter aangeleenthede relevant genoeg is vir ’n persoon om ’n opinie oor te formuleer en watter nie, vereis kennis oor die SELF.

Dit volg dus dat hoe kleiner die omgewing waarvan jy bewus is, hoe minder die data wat jy ontvang, en hoe makliker dit derhalwe is om jou SELF te vind/te definieer.

As ek byvoorbeeld in ’n groot stad woon en gereeld omgaan met ’n wye verskeidenheid mense, en bewus is van politieke vraagstukke strekkend van Noordoos-Asië tot die Midde-Ooste tot Sentraal Afrika, Europa en Noord-Amerika, en van omgewingsvraagstukke, etiese vraagstukke, godsdienskwessies en vele ander onderwerpe waaroor mens ’n opinie kan hê, sal my proses van identiteitsdefiniëring aansienlik langer neem as wat die geval sal wees met ’n ou wat grootgeword het in ’n klein dorpie, daar woon as ’n volwassene, en uiteindelik daar sal sterf as ’n bejaarde.

Mens sou graag wou sê – want woon meeste van ons nie maar in die “groter” wêreld nie? – dat dit beter is om bewus te wees van meer, en dat dit vervelig is om jou hele lewe binne ’n beperkte omgewing te slyt. Argumente kan ook gemaak word oor “kennis is mag”, oor gebrek aan meer of beter inligting wat lei tot vrees vir dit waarvan sommige mense moontlik net vaagweg bewus is, en gebrekkige kennis wat lei tot misverstand en diskriminasie teenoor dié wat nie “soos ons” is nie.

Die onderwerp van groot wêreld versus klein dorpie is nie wat my op die oomblik interesseer nie; my huidige verhouding met die “groter” wêreld is ook van so ’n aard dat ek geen motivering het om ’n saak uit te maak vir deelname daaraan, al dan nie.

Die interessante vraag vir my op hierdie stadium is, kan jy jou SELF ooit volledig definieer in ’n “groot” omgewing waar nuwe verhoudings gereeld aangeknoop word, waar vraagstukke kom en gaan, en waar nuwe data invloei op ’n daaglikse basis terwyl jy nog nie eens verlede maand se koerante of Time magazines klaar gelees het nie? Ek glo nie.

Natuurlik is vraagstukke waaroor jy posisie moet inneem as deel van jou identiteit minder belangrik as verhoudings. Die waarde van minder, maar meer betekenisvolle verhoudings, insluitende positiewe familiebande, word dus weereens beklemtoon. (Ek het nie probeer om dit in te werk nie, dit het net as ’n voor die hand liggende antwoord na vore getree op wat vastigheid gee vir die SELF in ’n immerveranderende wêreld. Dit wil dus blyk dat ek weereens na ’n rondte van intellektuele bepeinsing op ’n brokkie insig afgekom het wat “almal weet”.)

’n Balans kan derhalwe voorgestel word tussen “klein” wêreld by die huis, en “groot” wêreld buite die tuinhekkie; voorkeur in prioriteit ten gunste van eersgenoemde gee aan die einde van die dag aan mense ’n duideliker definisie en sterker oortuiging van die SELF.

Maar nou dat ek daaraan dink … is dit nie wat meeste mense reeds doen nie? Natuurlik! Mense is briljant! (Net jammer hulle weet dit nie.)

______________________

Nuwe benadering – toewyding – aanvaar jouself

MAANDAG 7 JUNIE 2004

’n Nuwe benadering?

Ek hoor daar’s cool Mexikaanse hip-hop, maar selfs al koop ek daarvan, is daar cool Oesbekiese musiek waarna ek nooit in my lewe sal luister nie. En selfs al luister ek eendag Oesbekiese musiek, sal ek nooit ’n Oesbeek wéés nie. En selfs al trou ek met ’n Oesbekiese vrou en ons gaan woon in Indië, sal ek nooit ’n Indiër wees nie. En selfs al emigreer ons Amerika toe, sal ek nooit ’n gebore en getoë Amerikaner wees nie. En selfs al woon ek in New York vir dertig jaar, sal ek nooit ’n Fransman wees nie. En al gaan woon ek in Parys, sal ek nooit in Swede woon nie. En al woon ek vir tien jaar lank in Stockholm, sal ek nooit in Japan woon tydens die veertiende eeu nie …

Voorwaarde vir toewyding: As jy eers aanvaar dat jy ’n spesifieke mens is, kan jy jouself verbind tot ’n spesifieke lewe.

DINSDAG 8 JUNIE 2004

Aanvaar jouself – al is dit net om tyd te spaar

Ek aanvaar die partikulariteit van my agtergrond. Ek dink en skryf meeste van die tyd in Afrikaans, my vel is “wit”, my gelaatstrekke gedikteer deur die gene afkomstig van my hoofsaaklik Germaanse voorouers.

Ek kan verander hoe ek lyk. Ek kan ook moeilik wees en my taalagtergrond verwerp – omdat ek dit nie gekies het nie, en myself dwing om net in Engels te dink en te skryf. Ek kan selfs meer radikaal wees en ’n ander taal (as Engels) kies, die taal bemeester, en uiteindelik net in daai taal dink en skryf. Aan die einde van so ’n proses – wat jare se harde werk sal verg – sal ek ’n pragtige illustrasie wees van ’n “self-made man”.

Ek is egter bereid om so ’n radikale illustrasie te laat vaar ter wille van tyd en energie, en bloot die partikulariteit van my fisiese voorkoms, en my moedertaal en kulturele agtergrond merendeels te aanvaar soos dit is, en as goed genoeg te ag as instrumente wat die proses van self-ontdekking en self-formulering fasiliteer.

______________________

Wat beteken daai woord?

SONDAG 6 JUNIE 2004

Vertrou in jouself
’n Goeie dunk van jouself
Ek het myself gevind
Ek voel nie soos myself nie
Wees jouself
Jy moet jou naaste liefhê soos jouself
Ken jouself
Onseker oor jouself
Ek lag vir myself

“Ky-malixino-wo.”

“Huh?”

“Ky-malixino-wo. Jy meen jy weet nie wat dit is nie?”

“Geen idee nie.”

“Dis ’n sentrale konsep in die begrip van wat die mens is!”

“Nog nooit daarvan gehoor nie.”

“Jy maak ’n grap, reg? Hoe op aarde kan jy funksioneer as ’n intelligente aardbewoner sonder om te weet wat die ky-malixino-wo is?”

“Wel, ek weet nie. En tog funksioneer ek …”

“Dit is Afrikaans, jy weet? Dis nie Russies of Spaans of Japannees nie!”

“Kan ons oor iets anders praat?”

Selfliefde
Selfstandigheid
Selfvernedering
Selfminagting
Selfbeheersing
Selfbewus
Selfondersoek
Selfopoffering
Selfrespek
Selfverheerliking
Selfverdediging
Selfbehoud
Selfverafgoding
Selfvertroue
Selfverwyt
Selfverloëning
Selfmoord

Glo in jouself
Bevry jouself

______________________

Kreatiewe profyt of nie – die mees onlangse opinie

SATERDAG 5 JUNIE 2004

Ek het die afgelope jaar baie rondgeval tussen besigheid en vrye kreatiwiteit, vrye kreatiwiteit en besigheid; baie besigheid, minder kreatiewe werk; meer kreatiewe werk, minder besigheid … [lees onder andere: Geld en kuns]

Wat ek nou sê is dat, vir my, die optimale doelwit vrye kreatiewe werk is.

Sommige mense sal voorstel dat dit dalk sal beteken dat jy agt ure per dag of selfs meer sal moet spandeer in ’n vervelige omgewing met weinig stimulasie om ’n salaris te verdien as jy nie ’n inkomste bewerkstellig met jou kreatiewe werk nie. Is dit dan nie beter om harder te probeer om geld te maak met jou kreatiewe werk nie?

My antwoord: As jou kreatiewe werk vry is, en jy kan steeds ’n profyt daaruit maak, goed so. Maar as jy die vrye uitdrukking van jou kreatiwiteit moet kompromitteer ten einde wins te maak daaruit, verloor jy te veel.

Dan sê ek, as dit nie anders kan nie, werk maar jou paar ure per dag vir ’n salaris in ’n omgewing waar jy nie sou wees as dit nie was vir jou finansiële behoeftes nie. As jou kreatiewe werk dan vrye uitdrukking is, is dit die moeite werd.

______________________