Legkaart mense

DONDERDAG 17 JUNIE 2004

Sommige mense eindig op as karikature van die data wat hulle uit die omgewing kry oor wat hulle moet wees en hoe hulle moet optree. Hierdie legkaart karikature is oënskynlik onbewus van hoe duidelik die nate wys tussen die soms geykte onderdele waaruit hulle sosiaal funksionerende persona’s saamgestel is.

Ek? Ek is bewus van die legkaartstukke waaruit my eie sosiaal funksionerende persona saamgestel is. Ek weet ook dat ek kan kies om vele van hierdie brokkies data oor myself enige tyd te verwerp (of indien ek dan nie so radikaal wil wees nie, dit ten minste te verander).

As ek byvoorbeeld praat en skryf in Taal A, is dit nie omdat ek glo Taal A is ’n beter kommunikasiemedium as Taal B nie, dis omdat ek meer gemaklik is daarmee vanweë my agtergrond, en as gevolg van ’n leeftyd se blootstelling daaraan wat my meer bekwaam gelaat het om myself uit te druk in hierdie taal. My voorkeur vir Taal A is ’n keuse ter wille van effektiwiteit en tydsbesparing, met sentiment – wat ’n algemene gevoel is wanneer dit kom by die taal waarmee ’n mens grootgeword het – van sekondêre belang.

Is ons almal nie aan die einde tot ’n betekenisvolle graad legkaart karikature vir so lank as wat dit effektief is nie? Indien ons in ’n meer self-kritiese fase van ons lewens een stel legkaartstukke vervang met ’n ander stel wat beter pas, of beter lyk, is ons dalk nie meer karikature nie, maar bestaan ons nie steeds uit stukkies wat gesny en gevorm is deur mense wat voor ons hier was nie?

______________________

Eie spoor – trein insig

DINSDAG 15 JUNIE 2004

’n Goederetrein tref een wat te veel op sy eie spoor rondhang

Soos ’n goederetrein laat in die nag ’n dronke op ’n treinspoor nugter skrik, so’t ’n idee my onlangs getref: Sommige mense na aan my glo die hoofrede hoekom ek na al hierdie jare steeds in Taiwan is, is omdat ek volgens hulle … sal ons maar net sê, ’n “alternatiewe” seksuele oriëntasie het, en dat om hier te wees – weg van die nuuskierige oë van mense wat my ken, ek my seksualiteit kan uitleef soos ek dit goedvind.

Laat my toe om die volgende opmerkings te maak oor die onderwerp (met die betrokke mense baie na aan my die bedoelde lesers):

1) Ek is bewus van die feit dat hierdie tipe wanpersepsie jare vat om by mense se verbeeldings in te sluip, en dit word nie gewoonlik verjaag net omdat die persoon sê, “Julle is verkeerd” nie.

2) Julle is verkeerd.

3) As mense nie meer komplekse redes verstaan vir die besluite wat ander maak, of verstaan wat hulle motiveer nie, werk hulle verbeeldings gewoonlik oortyd om op te maak daarvoor.

4) Ek het geen probleem met homoseksualiteit nie, so moenie verwag dat ek ongemaklik moet wees wanneer die onderwerp aangeroer word nie.

5) Laastens, as, en wanneer ek ’n vrou ontmoet met wie ek ernstige tyd wil spandeer, sal dit nie wees om enige iemand anders as myself en hierdie spesiale persoon gelukkig te maak nie.

O ja, een laaste ding: dankie daarvoor dat my kant steeds gekies was teen dié wat miskien minder verdraagsaam is in sulke aangeleenthede, al het almal die pot ’n bietjie mis gesit.

WOENSDAG 16 JUNIE 2004

Nog ’n trein insig

Mense kyk om hulle rond en sien wat goed, en suksesvol en effektief vertoon as mens-modelle. Hulle kyk dan na hulself, sien waar hulle te kort skiet, en ontwikkel obsessies om op te maak vir wat hulle sien as tekortkominge.

Wat lê agter dit? Ek glo, soos voorheen, wat agter dit lê is vrees. Die “potensiële” mens word, soos ’n Frankenstein karakter, lewendig geskok deur die bliksemstraal van vrees. Vrees vir wat? Vrees om te misluk as ’n mens, om ingesluk te word in die Groot Nietigheid in, en om vergeet te word asof hulle nooit enige voetspore getrap het op terra firma nie.

[Teks is teks, reg? Wat nie gelees kan word tussen die lyne van bostaande twee paragrawe nie, is dat ek amper my beursie verloor het, en ’n halfuur op ’n verlate treinstasie moes spandeer tussen Gebuigde Dorp Nommer Nege en my tuisdorp van Fengshan, as gevolg van my onwilligheid om te wag tot ek by die huis kom voordat ek gedagtes neerskryf.

Ek het op hierdie Woensdagoggend gewag vir ’n trein op Nommer Nege se stasie. Die spesifieke bewoording van bostaande teks het my grysstof binnegedring, ek het my klein pakkie papiertjies uit my boeksak gehaal, nie die ritssluiter toegemaak nie, en die nota begin maak. Die trein trek toe by die stasie in net soos ek die laaste sinne neerskryf. Ek gryp toe my sak, my papiertjies, my bottel water en my pen, en hardloop vir die naaste oop deur. Eers op die trein besef ek die sak was oop. Ek voel toe rond vir die beursie, en na ek in al die moontlike plekke rondgevroetel het, kom ek tot die konklusie dat die beursie uitgeval het.

Die stasiemeester op die volgende stasie – wat ek eers met die tweede probeerslag opgespoor het, telefoneer toe die ander stasiemeester, en ’n halfuur later was ek weer verenig met my beursie, my drie banknote en my bioskoop VIP-kaart.

Dit kon erger gewees het, het ek myself getroos: Ek kon dalk die bewoording van ’n interessante gedagte vergeet het.]

______________________

Identiteit, lewe, kennis, en skroewe

DINSDAG 15 JUNIE 2004

My identiteit, my lewe (I)

Ek weet nou wat my so rigting laat verander het op Sondag 2 Mei/Maandag 3 Mei. Ek het daai Sondagmiddag met my ouer suster en met my ou pêl in Johannesburg – en met albei se babas – gesels op die telefoon. Ek was diep beïndruk met hoe hulle lewens ’n definitiewe karakter vertoon, terwyl ek steeds “op pad is huis toe”. Ek het ’n punt bereik, daai middag, wat ek besef het dat ek ’n intense begeerte het om ook te kan sê: Hierdie is mý lewe, en ook mý lewe is goed.

* * *

Almal het hulle eie spesifieke lewens. Dan draai die kamera in jou rigting, die mikrofoon word in jou bakkies gedruk, en die onvermydelike uitdaging word gerig: Identifiseer jóú lewe.

En die antwoord: “Ek is Piet X wat woon in Stad Y, en ek vul my daaglikse bestaan met …”

Oorgelewerde kennis, en ou skroewe

Baie mense doen die “regte ding” sonder om te veel daaroor te besin. Vir my het dit lank gevat om sekere dinge te leer – die tipe dinge wat, as ek vir mense sal sê, “Hierdie is die gevolgtrekkings waartoe ek gekom het na jare se bepeinsing,” hulle sal reageer met, “Ons weet klaar hierdie dinge. Ons pas dit al vir jare in ons eie lewens toe. Het jy regtig nodig gehad om te sit en dink daaroor?”

Wat is verkeerd met my? Het ’n skroef jare gelede al losgegaan in my kop? Is ek onnosel? Nee (moes ek baie vinnig skryf voor ek die moontlikheid kon oorweeg).

Wat gebeur het was dat ek geloof verloor het in dit wat aangebied was as “die waarheid” en “die manier hoe dinge werk”. Ek het alles bevraagteken, en moes derhalwe van vooraf my eie wêreldbeeld en verwysingsraamwerk konstrueer, met behulp waarvan ek kon funksioneer as ’n volwassene buite die malhuis.

Uiteindelik het ek wel sommige “ou” waarhede opnuut aanvaar – die verskil is dat ek wéét hoekom. En om te verstaan hoekom ek glo waarin ek glo, moet jare se lewe aan die “buitekant” die moeite werd maak.

WOENSDAG 16 JUNIE 2004

My identiteit, my lewe (II)

Ek het moeg geraak om te hoor hoe ander mense praat van hul eiesoortige lewens, maar as ek my mond oopmaak om te praat oor mý lewe, dan’s dit net vae planne en vae beloftes wat daarop neerkom dat ek nie tans ’n lewe het nie, “maar ek is op pad”.

Die waarheid is, ek hét ’n lewe! Dit is nie volmaak nie, maar dis goed! En dis mý lewe!

______________________

Resultate van ’n lewe

VRYDAG 11 JUNIE 2004

Die vraag bly, wat is die verskil tussen “my, nou” en “my, tien jaar gelede”? Watse verskil maak dit dat ek myself nou “beter” ken, of beter gedefinieer het?

Ook, wat is die verskil tussen my en iemand anders wat nie sy SELF so goed ken of gedefinieer het nie? Maak dit my gelukkiger? Meer tevrede met myself? Stel dit my in staat om makliker vrede te vind met ander mense in my omgewing?

Kyk ek ’n groot waarheid mis? Hoe belangrik is RESULTAAT? [Sien ook notas rakende “resultate van jou handewerk” in die stuk, “Die SELF word gebore” van Donderdag 8 April 2004.] Is dit wat die kunstenaar van die salaristrekker onderskei (as albei kinders het, wat kan tel as resultate van jou lewe, of albei nie kinders het nie)? Is dit wat die persoon wat tyd en geld opoffer vir ’n goeie saak onderskei van die persoon wat hoofsaaklik vir homself leef?

Ons kom uit Niks, en ons keer terug na Niks. Wat ons agterlaat is wat ons met ons lewens gedoen het – ons “handewerk”, dit wat aan ons lewens waarde gee, terwyl ons lewe. (Terloops, dis vreemd dat sommige mense die “Niks” verwysing as ateïsties beskou, en tog is die lyn “stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” sentraal aan die Christelike begrafnisritueel.)

Nog ’n vraag: Hoe beïnvloed die vlak van VERLIGTING wat ’n INDIVIDU bereik tydens sy of haar leeftyd, die RESULTATE wat hy of sy agterlaat?

* * *

Op Vrydagaand, 11 Junie 2004 om 23:15 ag ek die volgende twee vrae as van die belangrikste wat enige persoon hom- of haarself kan vra:

1. WAT MAAK JOU LEWE DIE MOEITE WERD?

2. WATSE RESULTATE LAAT JY (OP DIE HUIDIGE OOMBLIK) AGTER VAN JOU LEWE?

______________________

Wat is ’n boek sonder ’n leser …

WOENSDAG 9 JUNIE 2004

Ek noem myself ’n skrywer, maar gister toe dink ek, is ek nie in die eerste plek ’n “teacher” nie? Ek meen, soveel van my skryfwerk is ten minste veronderstel om opvoedkundig te wees. Ek kan nooit wegkom van die gedagte dat ek poog om aan die leser iets te verduidelik nie, dat ek besig is om aan ’n onsigbare gehoor dinge te leer – wat die helfte in elk geval reeds weet, en die ander helfte óf nie verstaan nie, óf geen begeerte het om wys te raak nie.

Skryf ek soms op ’n manier wat dit laat lyk asof ek myself vreeslik slim ag? Ek kan dit seker nie ontken nie. Vele bevraagteken sekerlik ook my bevoegdheid om aan húlle iets te leer.

Jy, die Leser, is egter meer as net die persoon aan die anderkant van my soms ongevraagde lesse. Jy is ook die verbintenis tussen wat ek hier staan en skryf in ’n halfdonker sitkamer, en die wêreld daar buite. Die feit dat jy hierdie woorde lees, op hierdie oomblik, maak die skryf van hierdie teks, en die aanmekaarsit van hierdie hele projek, definitief die moeite werd.

______________________