SATERDAG 30 AUGUSTUS 2003
Almal maak foute, al probeer ons hoe hard om mekaar tegemoet te kom. Ontsteltenis was egter te verwagte toe die vrou vanaand by die deep fried stalletjie nie haarself kon indink wat ek bedoel toe ek vir haar in Chinees vra hoeveel kos die tofu-sosatie nie.
My Chinees is ver van vlot af, maar ek kry dit redelik goed reg om elke dag in uiteenlopende situasies te sê wat ek moet sê. Ek kan oor dit en dat gesels met kollegas by die werk; ek kan nuwe skedules bespreek met ’n skoolhoof, en ek kan maklik ’n halwe periode lank met sesjariges gesels en grappe maak (in Chinees, as ek eintlik betaal word om Engels te praat). “Hoeveel kos dit?” is ’n frase wat uitlanders gewoonlik onder die knie het na die eerste week in Taiwan. Om dan na ’n paar jaar nie verstaan te word nie wanneer jy ’n frase gebruik wat ten minste jyself gedink het jy bemeester het, is ontstellend vir die ernstige taalstudent.
My uitspraak van “Hoeveel kos hierdie ding?” was, soos meeste van my Chinees, waarskynlik nie 100% akkuraat nie. Maar watse ander inligting kan mens denkbaar by haar soek as jy die stokkie met blokkies ingerygde tofu optel, jou mond oopmaak en vraend in haar rigting sê, “blaf-blaf”? Om ’n bedrag te uiter, moes, in my opinie, ’n instinktiewe reaksie gewees het op enige klanke wat uit my mond gekom het! Maar in plaas daarvan om ’n prys te noem, verklaar sy dat sy my nie verstaan nie.
Rekende toe dat sy miskien nie enige klanke uit die mond van hulle gereelde en gewoonlik stom buitelandse kliënt verwag het nie, en dat sy moontlik ietwat verskrik was omdat sy gemeen het sy moes Engels praat, herhaal ek dit toe weer. Stadiger. Weereens glimlag sy asof ek simpel is, en vra vir die ouer dame wat langs haar die kos in die olie gooi, “Antie, die uitlander het nog nooit gepraat nie, nou praat hy. Wat sê hy?”
Ek probeer toe weer. En weereens kan sy nie uitpluis dat ek nie vir haar vra na die geskiedenis van olierige kos in Noordoos-Asië nie, maar net na die prys van die vervlakste tofu-sosatie. Toe sy my dus vir die derde keer aankyk met ’n goed bedoelde maar onbehulpsame glimlag, kook my eie olie genoeg om die sosatie daar en dan in die straat te verskroei.
Ek meen toe dat dit mag help om ’n muntstuk uit my broeksak te ruk, maar slaag toe net daarin om my sleutels in die bak hoenderpote te gooi.
Briesend en terselfdertyd verleë hou ek toe ’n oomblik later wel ’n muntstuk triomfantlik in die lug. “Qian, qian! Duo shao qian?!” pleit ek toe weer in frustrasie.
Die ouer tannie draai toe vir ’n oomblik weg van ’n ander ou se spek-en-weensie-worsie-sosatie wat besig was om te braai in die kokende olie, en vertaal my poging as “Duo shao qian?” in haar moedertaal-dialek, oftewel “Hoeveel geld?”.
“Dertig,” dui die jonger vrou toe aan met drie vingers in die lug.
Rooi in die gesig krap ek toe my sleutels tussen die hoenderpote uit, en begin my groen plastiekbakkie vol tofu-sosaties te pak. En omdat ek toe in ’n slegte bui was en dit nodig gehad het, ook ’n paar happe seekat.
“Haven’t you heard a foreigner speak Chinese before?” kap ek toe in my beste Engels oor die bondels boontjies en blomkool.
Maar ’n gloed het reeds oor die vrou se wange begin dans, en ek los toe maar my drama. Miskien, reken ek toe, was sy net ingedagte, en toe ek onverwags vreemde geluide begin maak, het sy haar bes probeer om te verstaan wat sy moontlik gedink het was Engels.
Die laaste glimlag was egter hare. Ek verkies my diep-gebraaide blomkool en tofu met net so ’n snarsie rooi peper, en ek het anderpad gekyk toe sy die speserye vasvat.
______________________