Nog ’n stuk oor die regte stappe

SATERDAG 30 MAART 2019

Dink weer gisteraand daaraan: die indruk en gepaardgaande programmering wat ek gekry in my jeug, en tot onlangs nooit gekorrigeer het nie, dat geldmaak nie net ’n stryd moet wees nie, maar ook dat die resultaat van my pogings in elk geval nooit goed genoeg gaan wees nie. Toe ek argumentsonthalwe die vraag vra (aan wie? my onderbewuste?) van wanneer ek dit dan sou “maak”, het die antwoord onmiddellik en duidelik soos daglig deurgekom: Nooit.

’n Skrikwekkende insig, uiteindelik ontbloot toe ek toevallig die regte woorde in die regte volgorde dink.

Nodeloos teen hierdie tyd om te noem dat dit alles ’n misverstand was. Dit hóéf nie ’n stryd te wees om geld te maak nie. Jy kan, soos enige ander persoon wat die regte stappe neem, gepaste resultate kry. Dit werk immers vir my wanneer ek die regte stappe neem met my gesondheid, en dit het immers gewerk vir my toe ek die regte stappe geneem het toe ek iemand ontmoet het van wie ek baie gehou het.

Wat betref gesondheid en verhoudings het ek as jongmens redelike goeie programmering en blootstelling gekry, en weinig weerstand sou ek ’n ander rigting wou gaan – my ouer suster het byvoorbeeld kort na hoërskool vir ’n tyd lank besluit sy’s ’n vegetariër, en ek het waargeneem dat daar nie veel teëspraak van my ouers af was nie. My programmering oor persoonlike finansies en geldmaak was egter ’n teksboek fokop.

Goed, min hiervan is nog nie uitgespel nie, so laat ek by die eintlike punt kom: Neem die regte stappe, en kry die gepaste resultaat. Neem nóg van die regte stappe, en beweeg nóg verder in die rigting waarin jy wil gaan. Nog regte stappe, nog regte aksies, nog gepaste resultate … tot jy onvermydelik ’n punt bereik wat net beskryf kan word as dat jy deurgebreek het na die ander kant toe. Soos jy staan op wat duidelik die oorkantse oewer is, sal jy dalk nog wonder wanneer presies dit gebeur het. Maar daar sal geen twyfel wees nie: Jy hét dit gemaak.

En dit geld nie net vir geldmaak nie, maar ook vir verhoudings, en vir gesondheid.

DONDERDAG 4 APRIL 2019

Ek het gerook vir veertien jaar lank. Siende dat ek in ’n tabakwinkel gewerk het in my vroeë twintigs en omring was deur geurige tabak elke dag, het ek begin deur pyp te rook. Later het ek deur ’n reeks sigarethandelsmerke gegaan wat ek gereken het my persoonlike identiteit bevorder het. Eers was dit Camel Lights, toe Gauloises Blondes, toe Marlboro Lights en uiteindelik Craven “A”. En toe, nadat ek in 2002 vir ’n paar weke hard probeer het om op te hou, voort gestook met ’n beter klas sigaret genaamd Nat Sherman.

Soos meeste gewoonterokers het ek geweet ek moes een of ander tyd die gewoonte oorkom. Ek het geweet dit sou nie maklik wees nie. Ek het regtig gehou daarvan om te rook. Daar was iets omtrent lus wees vir ’n sigaret, en dan na ’n ruk kry jy ’n geleentheid om weg te breek … jy haal ’n sigaret uit; jy skud die tabak styf; jy steek jou aansteker aan, en jy trek daai eerste teug rook in jou longe in. Saligheid! Ek was ook verwaand genoeg om myself te sien as ietwat verhewe bo mense wat gewone kafee-sigarette gerook het – ek het selfs my eie sigarette gerol.

Ek was eenhonderdpersent roker; daaroor was daar geen twyfel nie.

En toe, die dag na Kersfees 2008, het ek – weereens – stappe begin neem om die gewoonte af te skud. Ek het eers my oorblywende sigarette in ’n ou boeksak gegooi, saam met al my aanstekers, asbakkies, tabak, rollertjie, papiertjies, filters, en pype, en dit na my (toe) verloofde se woonstel geneem. Na ’n week, soos ek met myself ooreengekom het, het ek twee sigarette gerook. Toe twee weke niks, toe weer een (dalk twee). Ek het dalk weer teen die einde van Januarie ’n sigaret gerook, en toe het daar seker ses maande verbygegaan voor ek weer ’n pakkie gekoop het om ’n paar sigarette te geniet saam met vriende by ’n kuierplek een aand. Ek was egter streng oor een reël: Ek sou geen sigarette rook by die huis nie. Die pakkie sou in die yskas ingaan tot ’n volgende geleentheid. So het dit aangegaan – twee of drie sigarette wanneer ons elke paar weke saam met vriende uitgegaan het, maar niks op my eie by die huis nie.

Teen 2013 het daar ’n paar maande verloop wat ek geen sigarette gerook het nie. Toe ons weer een aand uitgaan, het ek besef ek het geen behoefte om saam met die rokers buite te staan en ’n dampie te slaan nie. Die idee aan die reuk aan my vingers, die smaak in my mond, die moontlike skielike styging van bloeddruk, die ligte gevoel in my kop – was net eenvoudig nie die ervaring werd wat ek voorheen so geniet het nie.

Dit was duidelik dat ek die ander kant bereik het. Ek was nie meer ’n roker nie. Die ander kant het my nuwe realiteit geword. Ek kon, as ek wou, verbaas gevra het: Wanneer het dit gebeur? Sou ek dit gevra het, sou ek kon antwoord: Onthou jy al daai stappe wat jy geneem sedert Kersdag 2008?

* * *

Nog een voorbeeld: Ek was vir ’n hele paar jare in my twintigs en vroeë dertigs op my eie – alleen, opgeskeep met my eie geselskap ook op tye wanneer ek regtig vroulike geselskap sou geniet het. Dit het gevoel asof dit my lot was in die lewe. Ek het so gewoond geraak daaraan dat ek myself nie kon verbeel dat ek ooit weer ’n vroulike teenwoordigheid in my lewe sou hê nie – met al die wonderlike voordele wat daarmee saamgaan. Ek het begin aanvaar dat ek aan een kant van die kloof was, en mense wat geluk gevind het met ’n ander persoon, aan die ander kant.

Toe ontmoet ek ’n vrou – ook van Suid-Afrika, ’n paar maande na sy in Taiwan aangekom het. Ek het van die eerste dag af geweet ek hou van haar. Maar sekerlik sou sy my nooit sien as enige iets meer as ’n vriend nie, het ek geglo.

Oor die volgende paar maande het ek haar nietemin beter leer ken, en tot my innige verbasing het ek tekens ontvang dat sy dalk net sou belangstel in meer as net vriendskap.

So het ek begin om stappe te neem om die konneksie tussen ons te omskep in iets meer. Soos enige iemand weet wat ooit gegaan het van “niks” na “definitief iets” met iemand anders, was daar ’n reeks “onderhandelinge”. Ek het die stappe gevolg en die onderhandelinge onderneem na die beste van my vermoëns.

En toe, eendag, was daar geen twyfel dat ek aan die ander kant van daai kloof was nie. Geen twyfel nie. Weereens kon ek na myself in die badkamerspieël kyk en vra: Wanneer het dit gebeur? Wanneer het hierdie my nuwe realiteit geword? Weereens sou ek kon antwoord: Onthou jy toe jy haar na ’n paar weke weer gesien het, en na die tyd gebel het en voorgestel het dat julle die volgende dag – ’n Sondag – ontmoet vir koffie? Onthou jy die ander afsprake en ontmoetings oor die volgende paar weke en maande? Onthou jy dat jy ’n reeks aksies onderneem het met ’n sekere hoop in gedagte?

______________________