VRYDAG 29 MAART 2019
’n Kort beskrywing van ons Sondag-tot-Woensdag reis deur Noord-Taiwan
Hoewel ek al twintig jaar in Taiwan is, en my lewensmaat, Natasja, amper vyftien jaar, het ons saam nog nooit meer as ’n paar ure in Taipei, die hoofstad van Taiwan, gespandeer nie. So’t ons toe laat verlede jaar besluit om vir haar verjaarsdag hierdie maand ’n paar dae af te vat en Noord-Taiwan vir onsself te ontdek.
Ons reis het vroeg Sondagoggend begin met ’n 360-kilometer, 100-minuut reis op die hoëspoedtrein na Taipei.
Ons eerste avontuur het gevolg kort na ons in Taipei gearriveer het: om ’n uitgang uit die tonnels onder die stasie te vind in minder as een uur. Na ons uiteindelik weer sonlig gesien het, het ons die tien minute gestap na ons hotel om ons bagasie daar te los. Op pad het ek ontdek dat ons hotel so te sê reg langs die National Taiwan Museum is – wat ons toe besoek het nadat ons ’n vinnige draai by die hotel gemaak het.
Van daar is ons terug na die tonnels onder Taipei Main Station. Twintig minute of so later is ons in Shilin, om te gaan kyk na die amptelike eertydse woning van Chiang Kai-shek en Soong Mei-ling (of Madame Chiang, soos sy beter bekend was aan buitelanders) tussen min of meer 1950 en 1975. Die gebou het tydens die Japannese Koloniale Era gedien as die Shilin Horticultural Experimental Station, maar is oorgeneem deur die regering van die Republiek van China na hulle onttrek het na Taiwan in 1949. Hier het “old dictator Chiang” – soos Roger Waters hom noem op Amused to Death – onder andere die Amerikaanse president Dwight D. Eisenhower ontvang, asook toekomstige presidente Richard Nixon en Ronald Reagan.
Ons kon nie foto’s neem binne die huis nie, maar ek was aangenaam verras deur die plek. Die vertrekke is min of meer soos dit was in die tyd toe die Chiangs daar gewoon het – meubels in die styl van die 1950’s, klere, boeke, en ook ’n paar skilderye deur Dame Chiang. Dit was ’n kouerige, triestige dag in Taipei. Dit, die gedempte atmosfeer, en die feit dat die huis omring is deur bome en plante, het bygedra tot die indruk dat dit die tipe woning was waar ’n politieke leier vrede kon vind vir sy siel aan die einde van nog ’n dag waartydens sy opponente en kritici alles behalwe geluk en welsyn ervaar het.
’n Uur of wat na ons deur die woning en tuine gewandel het, het ons gearriveer in Danshui – een van die oudste distrikte in Taipei. Die distrik is geleë waar die Danshui-rivier in die Straat van Taiwan vloei. Dit was een van die redes hoekom die Spanjaarde 400 jaar gelede besluit het om hulle fort daar te bou, en hoekom eers die Hollanders en toe die Britte ook bakstene op dieselfde stuk grond opmekaar gepak het. Die woning wat die Britte gebou het vir hul konsulaat in 1891 staan steeds. Die fort langsaan is op die plek waar die Spanjaarde ’n fort gebou het in 1628, voor hulle dit afgebreek het in 1642 om te verhoed dat die Hollanders dit kon gebruik. Die Hollanders het die fort herbou, amptenare van die Qing Ryk het dit gerestoureer in 1724, en vanaf 1868 het die Britte dit gehuur. ’n Paar van die vertrekke in die voormalige konsulaat het uitstallings, maar nie veel om oor te skryf nie. Die fort het wel ’n paar figure om ’n mens ’n idee te gee van die mense wat op ’n stadium daar tyd verwyl het.
Nadat ons ’n draai gemaak het by die rivier, het ons by die heuwel opgestap in die rigting van Aletheia University. Die nou strate het gelei verby ’n paar interessante geboue, eetplekke met tradisionele geregte soos “Ah-Gei” – ’n uitgeholde blok tofu volgestop met rysnoedels, tot in Danshui Old Street met dosyne winkels en stalletjies langs die pad.
Aandete is genuttig by die Shilin Nagmark, een metro-stasie nader aan Taipei as waar ons gestop het vir die Ou Diktator se huis. Die nagmark was beslis anders as die markte waaraan ons gewoond is in Kaohsiung. Stalletjies was ineengeryg langs die besige straat wat langs die mark verbygaan, maar die res van die mark is geleë in stegies wat kruis en dwars oor ’n hele buurt strek. Daar was ’n paar winkels met klere, en skoene, en elektroniese items, maar meeste stalletjies en winkels het kos en drinkgoed verkoop – alles van gestoomde kluitjies en versuikerde vrugte, tot roomys gemeng met grondboontjiebotter tussen twee plaatkoekies, en diepgebraaide seekat.
Die volgende oggend kort na ontbyt is ons per trein Ruifang toe – omtrent veertig minute van Taipei af. Daar’t ons eers warm drankies geniet, en so teen 11:00 het ons vertrek op die Pingxi Line – ’n spoorlyn van so dertien kilometer wat deur agt eertydse myndorpies gaan. Die dorpies en omliggende areas is nou hoofsaaklik toeriste-attraksies. Verversings en groot papierlanterns waarop mense boodskappe skryf en dan lugwaarts stuur, is groot besigheid.
Kort na ons terugkeer na Ruifang, vind ons onsself op ’n bus wat teen malle spoed teen ’n bergpas opjaag op pad na Jiufen – asof die bestuurder wou wegkom van die naderende mis wat spoedig ons uitsig oor die Stille Oseaan sou belemmer.
Digte mis het dit ook moeiliker gemaak om ons volgende slaapplek te vind. Jiufen was eens bekend vir sy goudmyn. Dekades nadat al die goud uitgemyn is, is die dorpie weer uit sy slaap geruk toe dit gebruik is vir die milieu vir ’n bekroonde film in die laat tagtigs. Ons het ’n kamer bespreek op Airbnb, en om die plek te vind, het ek selfs ’n kaart uitgedruk. In realiteit kronkel die strate deur die mis, en die gebou wat ons moes vind, was nie eens in een van die strate op die kaart nie. Ek moes noodgedwonge my rekenaar uithaal om die PDF te lees met instruksies oor hoe om die plek te vind.
In by Jiufen Old Street met ons bagasie…
Af in die nou straatjie vol Japannese en Koreaanse toeriste, om ’n paar hoeke, tot ons by ’n tradisionele wynwinkel kom. Langs die winkel is ’n uitgang, met ’n stel trappe af in die mis …
Nog trappe, ’n tuin, ’n voetpaadjie …
… en uiteindelik, ons snoesige kamer.
Die res van die middag en die aand het ons deur die nou stegies gestap, aandete geëet, tee gedrink, soetgoed geniet, en nog foto’s geneem van die mense en die stegies en die mis.
Die volgende oggend het ek kort na ses wakker geword. Die mis het intussen gelig, so ek het ’n ent gaan stap, foto’s geneem van die huise teen die heuwelhange, en die Stille Oseaan nie meer as ’n paar kilometers weg nie. Warm koffie en piesangs gekry by die Family Mart, nog ’n paar foto’s geneem, en teruggegaan na ons kamer toe.
Teen 08:30 was ons by die busstop om terug te gaan na Ruifang, en vandaar ’n trein te vang na Yilan, ’n stad van omtrent ’n halfmiljoen mense op die ooskus van Taiwan. Die treinspoor loop langs die kus af vir omtrent vyftig kilometer, met onder andere ’n uitsig oor die vulkaniese Skilpad-eiland in die verte (wat volgens een bron net besoek kan word met ’n permit, en vroegtydige reëlings met ’n booteienaar).
Yilan is die poort na Taipingshan Forest Recreation Area, en daar is ’n paar warmwaterbronne in die omgewing, maar siende dat ons tyd beperk was, het ons net ’n paar besienswaardighede in die stad self besoek. Minder as twee ure na ons in Yilan gestop het, vertrek ons weer – dié keer Hualien toe, omtrent 100 kilometer verder suid. Kort na ons ons Airbnb opgespoor het, het ons die pad gevat na die Hualien Railway Culture Park – ’n gerestoureerde 1932 trein-depot met ’n handige model van ’n groot deel van die stad, vir in geval jy nie meer as ’n middag en ’n aand het om in die stad te spandeer nie. Aandete is genuttig by die Dongdamen nagmark. (Hualien se bekendste toeriste-attraksie is Taroko National Park, wat ons besoek het in November 2013.)
Ek is weer vroeg die oggend op, dié keer om twee besienswaardighede te gaan soek waarvoor ons nie die vorige dag tyd gehad het nie. Albei plekke was nog toe, maar ek kon darem sien wat ek sou mis. Die eerste een was ’n ou Japannese-era militêre fasiliteit, waar sommige Kamikaze-vlieëniers volgens oorlewering hul laaste sopie ryswyn weggesluk het voor hulle hul vliegtuie in die naaste Amerikaanse skepe ingevlieg het. Die ander was die Manor House, amptelike woning van ’n belangrike militêre figuur tydens die Japannese koloniale tydperk.
Terug by die kamer het ons seker gemaak al ons besittings is bymekaar, en toe gestap tot by die naaste McDonald’s vir ontbyt. Met dertig minute om te spaar, het ons aangemeld by Hualien-stasie vir ons vyf-uur-lange reis terug na Kaohsiung – al langs die ooskus af, en deur die berge wat die ruggraat vorm van hierdie skone eiland.
______________________